Waarom nóg ’n lang toer?

Ons was reeds in al ons buurlande, Angola en Tanzanië (ook by die Serengeti en Ngorongoro). Dit was nog op ons bucket list om ons “familie” te besoek – die berggorillas in Uganda! En om Nylbaars te vang by die Murchisonwaterval.

Juniemaand is ’n stiller tyd op die plaas in Robertson en ons seun Kobus kon die leisels hou. Ons verkies om in ’n konvooi van net drie voertuie te toer, want jy beweeg vinniger en jy kan gewoonlik drie voertuie op een kampplek parkeer – én ses mense se vleis pas presies op ons rooster!

Ben se broer, Jacques Kriel, en sy vrou, Johanna (ook van Robertson) en vriende Francois en Isabel Marais (van Worcester) het saam getoer. Ons het al baie saam gereis en verstaan mekaar dus goed.

Boskamp naby Tarangire, Tanzanië

Hoe beplan julle?

Ons begin lank voor die tyd en gebruik nooit ’n reisgids nie, maar Google help baie! Ons oudste seun, Pieter-Ben, het in 2010 saam met vier vriende in ’n stokou Land Cruiser van Londen na Kaapstad gery, en hy het ook nuttige inligting gedeel.

Met Google Maps kon ek die afstande en geraamde reistyd bepaal. In Tanzanië kan jy nie vinnig vorder nie, want vir groot afstande ry jy deur beboude gebiede waar die spoedperk tussen 50 km/h en 80 km/h wissel. En die verkeerspolisie wag om elke hoek en draai (begroot vir boetes!).

Ons beplan ons roete, maar bespreek byna niks vooraf nie. Ons moes wel die berggorillapermitte bespreek, asook die visvangekskursie by die Murchison-waterval. Die permitte het ons aanlyn betaal by Uganda Wildlife (ugandawildlife.org) en dit toe by hulle kantore in Kampala gaan optel. Ons moes dus rofweg op ’n skedule bly.

Ben Kriel met 'n nylbaars, Murchisonwaterval, Uganda

Wat was julle roete? Ons het die mees direkte roete deur Botswana en Zambië (die Great Northern-pad) gevolg tot by Kapishya Hot Springs noord van Mpika in Zambië.

Daarna het ons die hoofpad na Tanzanië gevolg tot by Iringa, waar ons noord gedraai het in die rigting van Dodoma, en toe verder noord tot by Arusha. Van Robertson tot Arusha het ons net nege dae gevat!

Van dié punt af was alles nuut en het ons dit rustiger gevat, maar die ry was hárd. Ons is toe na Nairobi, Kenia, en het ook die wildebeesmigrasie in die Maasai Mara- nasionale reservaat gaan kyk. Volgende was Uganda, waar ons onder meer ’n ballonvlug oor die Queen Elizabeth- nasionale park onderneem het om ons 60ste verjaarsdae te vier!

Toe was dit tyd vir die gorillas! Ons het permitte gekry vir Rushaga, wat in die suidelike deel van die Bwindi- nasionale park lê. Aangesien ons die mees senior stappers was, het hulle ons ingedeel om na die naaste gorillafamilie te stap. Binne twee uur was ons by hulle. Ons sal nog lank daardie eerste geluide en die oogkontak onthou!

Groentestal by Kapiri Mposhi, Zambië

Rwanda was die grootste verrassing van die toer. Daar lê geen vullis rond nie! In Kigali het ons die Genocide Memorial besoek en besef hoe ’n land weer herstel kan word. Van Kigali af is ons by Rusumo oor die grens, terug na Tanzanië waar ons al langs die Tanganjikameer suidwaarts gery het en toe Zambië by die klein Kasesya-grenspos binnegaan het. Presies ’n maand nadat ons laas daar was, was ons terug by Kapishya Hot Springs.

Met die terugreis het ons noord van Lusaka wes gedraai na die Kafue- nasionale park. Daarna is ons Namibië binne by Katima Mulilo en het deur Namibië terug Suid-Afrika toe gery.

Groot getalle

Afstand gereis: 15 000 km

Duur van reis: 42 dae 

Aantal lande besoek: 7

Waarmee het julle gery?

Ons ry ’n 2005 Toyota Land Cruiser 2.4 Diesel Pickup. Die ander voertuie was ’n 1996 Land Cruiser 80-reeks stasiewa en ’n 2017 Ford Ranger-dubbelkajuit.

Ons Cruiser se kap is ingerig deur JW Swart van Infanta Trailers (infantatrailers.co.za): kombuisie, klerekas, Honiball-daktent, ensovoorts. Die groot voordeel van só ’n ingerigte kappie is dat – behalwe vir jou stoele – jy niks hoef af te pak wanneer jy by jou kampplek kom nie. Jy bly dus skoon en kan vinnig begin kos maak, water kook of gaan slaap. Binne minute kan jy weer oppak en verder ry.

Die Cruiser het ’n ekstra langafstanddieseltenk: in totaal kan ons dus 210 liter diesel ingooi. Ons ry ook 80 liter drinkwater saam.

Ons het ’n wenas en ’n hoogligdomkrag vir noodgevalle. Ons neem ook ekstra diesel- en lugfilters saam en diens dit self soos nodig. Skoon diesel is nie oral ’n gegewe nie, en stofpaaie bepaal hoe gereeld lugfilters skoongeblaas of vervang moet word.

Ons was gelukkig deurdat ons reis voorspoedig afgeloop het – die paar pap wiele kon ons self herstel. Ons ry altyd twee noodwiele saam.

Berggorilla in Bwindi, Uganda

Watter dokumente was nodig?

Afskrifte van die voertuig se registrasiesertifikaat is noodsaaklik. ’n Carnet de Passage et Douane (CPD) is ’n vereiste vir Kenia. Dit het R3 500 gekos waarvan ons R1 500 teruggekry het.

Ons neem elke keer derdepartyversekering uit op die grensposte, maar kon nou by Tanzanië se Tunduma-grens versekering uitneem wat vir Tanzanië, Kenia, Uganda én Rwanda geldig was. Ons het al ons visums by die grensposte gekoop. Ons neem Amerikaanse dollar saam omdat jy op baie plekke daarmee kan betaal. Verder word geld geruil voor ons in ’n nuwe land ingaan, maar ons maak eers seker van die verskillende wisselkoerse sodat jy nie ingeloop word nie.

Het julle baie kos van die huis af saamgery?

Ja, ons het vir 42 dae op pad beplan. Die hoofmaaltyd was in die aand. Ons neem die kos in flesse (beetslaai, wortels, kwepers, ensovoorts) of in die vrieskas óf ons berei vars groente. Ons pak die droë rantsoene in ammokiste of kartondose wat jy kan weggooi om plek te maak in die kar.

Ontbyt is enigiets van spek en eiers tot vrugte, muesli en jogurt. Dit hang net af hoe haastig jy is: soms is dit net graanvlokkies. Middagetes is vir padlangs eet: gerookte snoek of hamburgerpatties op ’n broodrolletjie.

Saans braai ons vleis of maak ’n potjie en sit dit voor met groente en slaai. ’n Ander egpaar was elke aand “aan diens” sodat die res kan ontspan. Padlangs word soms op mooi plekke stilgehou vir tee of ontbyt – en soms gooi ons ’n worsie op die kole.

Ons neem al ons bevrore vleis in ’n 80 liter-National Luna-vrieskas saam. Ons het nog nooit enige probleme daarmee gehad nie. Dis eers wanneer jy suid ry deur Botswana en Namibië dat jy deursoek word. Teen daardie tyd is die meeste vleis al verorber. Ons koop wel vars produkte soos vrugte, groente en eiers by markies en jogurt by ’n supermark. V

erder neem ons ook ons eie wyn in papsakke saam. Ons is immers wynboere...

Vloedskade naby Maasai Mara, Kenia

Wat pak julle nog in?

Ek het ’n volledige paklys. Belangrike goed sluit in ons vrieskas, GPS, stort, ’n omsetter om 220 V vir die haardroër te kry, en die voertuig se volledige recovery kit. Ons neem ook ’n klompie Bybels en traktaatjies in verskillende tale saam.

Ons was meestal self klere – danksy die warm klimaat raak dit gou droog. Wanneer ons twee nagte op een plek slaap, laat ons soms ons wasgoed daar doen.

Waar kan ’n mens bespaar?

Brandstof bly die grootste uitgawe. Ons verblyfkoste was minimaal omdat ons byna elke aand kamp – dit maak die groot verskil. Ons verblyf vir die 42 nagte het uitgewerk op gemiddeld R124 p.p.p.n. (soms het ons boskampe gemaak).

Verder hang dit af wat jy wil doen en sien. Die toegang tot parke in Oos-Afrika bly meestal baie duur – besluit dus vooraf watter parke en attraksies jy wil besoek.

Is julle gesout by grensposte?

Dit bly ’n uitdaging. Onthou dat jy in Afrika is: Vat dit rustig. Ons stres glad nie en ruim genoeg tyd daarvoor in. Ons besluit elke keer ons sal sonder “hulp” deurgaan, maar betaal partykeer by ’n besige grenspos ’n runner. Op heelwat grense (soos Rusumo tussen Rwanda en Tanzanië) is eenstopgrensposte wat die hele proses aansienlik makliker maak.

Skoenbekooievaar, Uganda

Ben en Iza se 5 gunstelingplekke

1. Maasai Mara-nasionale reservaat, Kenia. Dit was ’n belewenis om die migrasie te kon sien!

2. Murchison Falls- nasionale park, Uganda. Ons het ’n bootvaart gedoen op die Nyl, die skaars skoen-bekooievaar gesien en Nyl-baars gevang.

3. Rushaga, Bwindi- nasionale park, Uganda. Die berggorillas!

4. Jinja, Uganda. Hier kon ons rustig raak op die oewers van die Nyl.

5. Nambwa-kampterrein, Caprivistrook, Namibië. Dis ’n moet op al ons toere: om langs die Kwandorivier te kamp tussen die olifante.

Hoe lyk die paaie? 

In die algemeen is die hoofpaaie in ’n goeie toestand. Jy kan met ’n gewone motor daar ry. Swak teerpaaie is daar wel ook... Daar is gedeeltes wat vol slaggate is en dan verkies ons eerder ’n grondpad.

Die meeste lande spandeer tans baie om hulle paaie op te gradeer. GPS met Tracks4Africa en kaarte is noodsaaklik.

Het julle ooit onveilig gevoel?

Nee, ons voel veiliger sodra ons Suid-Afrika verlaat. In Kimberley het iemand Isabel se deur oopgeruk en haar selfoon gegryp.

Enige mediese noodgevalle?

Ons is deeglik toegerus met die belangrikste medisyne en “naalde” – soos Buscopan en adrenalieninspuitings (Ben is allergies vir bysteek).

Ons het nog nooit ernstige noodgevalle gehad nie, en neem geen versekering uit nie – ons stel ons vertroue in die Hoër Hand.

Vir malaria gebruik ons soms voorkomende medikasie (Malanil) en het hierdie keer die malaria-toetsstel gehad. Verder spuit ons maar ons enkels en die tent met Peaceful Sleep teen skemer – en drink tonic!

Hoe hou julle kontak?

Ons selfone was op roaming en met MTN het ons wyd reggekom. Wi-Fi is beskikbaar by heelwat van die plekke waar ons gekamp het.

Wat het al julle reise deur Afrika julle oor die jare heen geleer?

Dit bly ’n voorreg om saam te kan toer. Ons sal dit altyd koester. Afrika het ongelooflike natuurskoon en vriendelike mense. Op landbougebied is daar geweldig baie potensiaal om vir die hele wêreld kos te produseer. Ons besef elke keer wanneer ons terugkeer: Ons woon in ’n baie mooi vallei, maar ons sal altyd ’n sagte plekkie hê vir Afrika en sy mense, en maar weer noord ry terwyl dit ons beskore bly!

Enige raad aan Weg-lesers?

Beplan goed – en doen dit net!