Toe die Van Rensburgs as deel van ’n konvooi van drie karre by die voet van die beroemde Van Zylspas in Namibië aantree, was die spannings- en opgewondenheidsvlakke hemelhoog.

Hulle het dié deel van ons buurland in “Little Suzie”, hulle 15-jarige Isuzu KB280 met ’n abbawa, aangedurf. Saam met hulle was hulle vriende Hennie en Brenda Beukes van Vaaloewer in ’n Toyota Hilux 3.0 (dubbelkajuit) en Johan en Janet Borman van Rustenburg in hulle Fortuner 3.0 D-4D. Min het dié toergroepie geweet van die drama wat vir hulle sou voorlê. Gallie vertel…

Van Zyl se baas

Ons is uiteindelik by die begin van die Van Zylspas en Hennie en Brenda bied aan om die voortou te neem. Ek en Johan stap vooruit om die veiligste lyn tussen die klippe en rotse vas te stel en die Hilux kom sonder moeite deur.

Johan en Janet is tweede aan die beurt, en omdat hulle Fortuner die jongste model onder ons voertuie is en dus met die nuutste tegnologie toegerus is, kruie hulle heel gemaklik en sonder probleme teen die pas af.

Dan is dit ons beurt. Ons is vier in Little Suzie – ek, Liz, my dogter, Lindie, en ons woef, Oscar. Met daardie abbawa agterop die Isuzu, wat al klaar nie meer vandag se kind is nie, voel dit amper of ek ’n tenk bestuur.

Op plekke ry ek net op drie wiele en dit voel vir my of ek die bakkie gaan omgooi as ek ’n bietjie in my sitplek gaan skuif. Maar ons maak dit uiteindelik, en ná ’n uur of twee is ons almal met vlieënde vaandels by die pas af.

Ons vaar Koakoland met verligting binne en slaan kamp op in die duine in die Hartmannsvallei tussen die jakkalse. Van hier af toer ons deur die Marienfluss en besoek onder meer bekende bakens soos die groen drom, die oranje drom en toe die blou drom.

Op pad na die rooi drom ry ons verby ’n ou groen handwaterpomp. Ek wil nog stilhou om te kyk of hy inderdaad water pomp, maar besluit daarteen omdat ek nie ons reis wil vertraag nie.

Skade!

In ’n stadium ry ons deur ’n droë rivierbedding. Met die uitgaanslag teen die wal op swik ons bakkie regs agter... en die volgende oomblik staan ons. By nader ondersoek sien ons een van die U-boute wat die agteras aan die regterkant aan die blad en kronkelvere vashou, het afgeval terwyl die ander een verwronge vas aan die kronkelveer gefrommel is.

’n Vorige eienaar het vir die KB280 twee bykomende bladvere laat aanbring, maar die installeerder het nie langer U-boute gebruik om dit vas te trek nie.

Sommer met die eerste oogopslag is dit duidelik: Ons is gestrand, want ons het nie twee U-boute óf die gereedskap om die besigheid te herstel nie. Ons het ook nie ’n satellietfoon nie en dus geen manier om hulp te ontbied nie.

Ons besluit die beste plan is om vir Hennie- en Johan-hulle vooruit te stuur sodat hulle op die naaste plek hulp kan soek. Hulle vorder tot by ’n vulstasie en insleepdiens op Kamanjab, maar dié wil vooraf R40 000 kontant hê voor hulle ’n vinger verroer.

Op Opuwu vind hulle ’n alternatiewe opsie, maar dié mense wil R15 000 hê om na ons te te ry om die bakkie te herstel. Johan-hulle besluit om dié kwotasie te aanvaar, maar hy het net R4 000 kontant by hom en sit dit neer as ’n deposito.

Die eienaar bevestig hulle het ’n 4x4- voertuig, ’n GPS-toestel en ’n satellietfoon en dat hulle ons met die GPS-koördinate van waar ons gestrand is, sal opspoor. Johan-hulle is daar weg met die geloof dat ons binne die volgende dag of twee weer by hulle gaan aansluit. Ek het kort voor ons vertrek uit Suid-Afrika vir Little Suzie ’n uitvoudak laat aanbring en terwyl ons hier in Kaokoland gestrand is, is ek maar te dankbaar daarvoor.

Ons kosvoorraad is voldoende, maar ek is effens bekommerd oor ons watersituasie. In hierdie versengende hitte het ons net genoeg vir drie, dalk vier dae.

Gelukkig sorg die sonpanele vir krag om die vrieskas en ligte aan die gang te hou. Ek gaan stap in die omliggende berge en droë rivierlope en kom tot die gevolgtrekking dat hier wel leeus en luiperds kan wees. Ons gaan dus versigtig moet wees. Veral Lindie en Oscar wat elke oggend gaan draf.

Hier lê die fout

Dit was aand en dit was môre. Dag twee.

Ek het met nuwe verwagtinge opgestaan. Ek wil die probleem van nader bekyk, maar ek wil ook vir Lindie oortuig om eerder nie te draf nie. Maar sy luister nie en sy en Oscar is daar weg om in die droë rivierbedding litte los te maak. Sy het darem ’n skokstok by haar. Omtrent ’n halfuur later is sy terug – oë so groot soos pierings. Sy gaan wys my die spoor van ’n luiperd wat met haar welpie verbygeloop het – skaars 100 m van ons kampplek af.

Ek skuif intussen weer onder Little Suzie in om deeglik ondersoek in te stel. En dan sien ek wat fout is: Die vorige eienaar het twee ekstra bladvere laat aanbring, maar die installeerder het nie langer U-boute gebruik om die besigheid vas te trek nie.

Dit beteken hy het net 60% van die moer se breedte ingedraai en dit laat mý moermeter die hoogte inskiet. Veral omdat ek voor ons reis die bakkie by ’n bekende nasionale motorwerkswinkel laat nagaan het, en hulle my die versekering gegee het hulle het elke skroefie en moertjie nagegaan.

Tyd om ’n plan te maak

Dit was aand en dit was môre. Dag drie.

Lindie het weer gaan hardloop. Ek het besluit vandag moet ek konsentreer om te kyk of ek nie net met my 10 duime iets kan doen om ons uit hierdie penarie te red nie.

Ek stap met die pad terug soos  ons gekom het tot by die handwaterpomp. Ek sien hier is twee U-boute wat die ysterpaal aan die pomp vashou. Ek haal hulle af om te gaan kyk of ek ’n plan met hulle kan prakseer.

Ek gebruik Little Suzie se trekstang om die U-boute te buig sodat hulle op die as kan pas, maar dan duik ’n groot probleem op wat my vordering kniehalter. Die as het skuins gedraai en die kronkelveer is op die punt om uit te spring.

As ek nou daarmee peuter en ek probeer die spul met draad inmekaar trek en iets gaan fout, kan iemand lelik seerkry. Omdat ek onder die bakwerk moet inkruip om naby genoeg te kom, beteken dit ’n mens kan ’n vinger of selfs ’n hand verloor as die veer daar uitspring.

Om nie eens van die moontlike skade aan jou gesig te praat nie. Ek sal nog die kans waag, maar ek dobbel nie met by vrou en kind se veiligheid nie. Ons gaan die hitte en spanning nog vir ’n wyle moet verduur. Maar ons hou aan glo ons uitkoms is naby.

‘Hulle is hier!’

Dit was aand en dit was môre. Dag vier.

Ek is vroeg op en bekyk weer die probleem en klim die berg langsaan uit om te soek na ’n stukkie bloudraad wat my dalk inspirasie sal gee om tog die kronkelveer te pak sonder dat die vrouens sal agterkom. Maar ek kry niks nie.

Ek sien ook ’n vliegtuig hoog bo ons verby vlieg en vermoed hulle het dalk ’n ekspedisie uitgestuur het om na ons te soek. Ek waai vir die vliegtuig, maar kry geen reaksie nie. Ons water begin baie laag raak en die miere en insekte probeer alles in hulle vermoë om Oscar se drinkwater en kos te steel.

Ons sit op die wiel en noodwiel van die bakkie om weg te bly van skerpioene en insekte. Ek dink aan ’n artikel wat ek gelees het oor iemand wat in dieselfde situasie in die woestyn gesit het. Hy het gelukkig ’n satellietfoon gehad en kon reël dat hulle met ’n vliegtuig die onderdeel vir hom afgooi. Dit sou ’n gawe oplossing vir ons kon wees, maar helaas.

Lindie klim die middag weer teen die berg uit en skielik weergalm haar gille. “Hulle is hier! Hulle is hier!” Almal hardloop die berg op en ’n kort rukkie later hou ’n Land Rover stil met twee onderwysers van Nederland wat vra of hulle vir ons hulp kan aanbied.

Ons vertel hulle van ons dilemma en hulle besluit om sowat 50 m van ons af kamp op te slaan tot hulp opdaag. Ons gee vir hulle eg Suid-Afrikaanse kos en wyn en hulle teenwoordigheid laat ons ’n rukkie ontspan tot ons gaan slaap. Tot ons redding

Die Van Rensburgs moes vir langer as vier dae in Kaokoland wag vir hulp toe hulle toerwa met hulle gaan staan het. Uit radeloosheid het Gallie in ’n stadium die U-boute van ’n nabygeleë handwaterpomp verwyder in die hoop dat hy ’n plan daarmee kon prakseer, maar die plan was uiteindelik onsuksesvol. Gendaglik het hulle vriende later met die onderdele en gereedskap opgedaag.

Om 1 vm. verblind ’n skielike lig ons waar ons in Little Suzie lê. Lindie se jubelende stem maak die hele Kaokoland wakker. “Hulle is hier!” Ons klim in ons nagklere uit om vir Johan en Janet te verwelkom.

Hulle is pootuit en wil nie eens koffie drink nie. Trouens, hulle klim nie eens uit nie; slaan net sitplekke plat en sê hulle sien ons teen sesuur se kant.

Vroegoggend maak ons hulle wakker met koffie en beskuit. Die Nederlanders staan ook nader om in ons uitbundige vreugde te deel.

Ek gaan stap in die omliggende berge en droë rivierlope en kom tot die gevolgtrekking dat hier wel leeus en luiperds kan wees.

Johan het die onderdele en gereedskap gebring en ons spring aan die werk. ’n Skamele twee uur later is Little Suzie weer reg vir die pad. Johan en Janet vertel hulle het ná vier dae niks van die insleepdiens se eienaar gehoor nie en toe teruggery Opuwo toe om te hoor wat aangaan.

Die eienaar het hulle vertel hy kon ons nie opspoor nie en dat ons nie meer op dieselfde plek was nie. Wat ’n klomp bog!

Ek het die waterpomp se U-boute weer reggebuig en dit gaan terugsit. As jy dus weer daar verbyry, dink aan ons storie en onthou daar is ’n paar spaarboute as die nood druk. Ek was ook bang die Namibiese polisie sou my soek as ek dit nie terugsit nie.

Ons het die insleepdiens se eienaar gaan konfronteer. Ek was taamlik warm om die kraag vir die man wat my gesin se lewe in gevaar gestel het vir ’n paar ekstra rand en het hom goed die Leviete voorgelees. Hy wou egter nie besgee nie, en met al sy personeel teenwoordig, was ons in die minderheid en ek moes die knie buig, die deposito net daar los en wegstap.

Hy het toe nie ’n 4x4-voertuig, satellietfoon óf GPS gehad nie. Hy het net ons geld gesteel. Ek kon net my kop skud. Ons het nietemin ’n groot les geleer met dié ervaring. Al is julle meer as twee voertuie op só ’n afgeleë reis, is dit steeds belangrik om ’n satellietfoon saam te neem om met die buitewêreld te kommunikeer in geval van nood.

Ons is dankbaar vir vriende soos Johan en Janet. Hulle het geen moeite ontsien om deur die nag deur daardie passe – en sonder behoorlike paaie – te ry om ons te kom red nie. Vir beter vriende kan ’n mens skaars vra.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg Ry & Sleep #15 (Oktober 2018) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.