Toe hulle Botswana in 2010 die eerste keer besoek het, was die Guma-strandmeer op die Henerys se kamplysie. Hulle het egter nooit daar uitgekom nie, want hulle seun, Wayne, het by die Tsodilokoppies malaria opgedoen en is in die Delta-hospitaal in Maun opgeneem vir behandeling.

Die Henerys moes noodgedwonge die bespreking by Guma kanselleer. Toe hulle egter in Desember verlede jaar saam met hulle vriende Hannes en Mary-Ann van den Berg van Carltonville weer na Namibië en Botswana mik, was die Guma-strandmeer opnuut op hulle lys. En dié slag sou niks hulle keer nie. Lettie vertel...

En daar sit ons...

Ons draai by Etsha 13 van die A35-pad af en volg die grondpad tot op die dorpie. Hier is geen duidelike aanwysings na Guma nie, en ek en Mike begin in ’n stadium erg redekawel oor die geloofwaardigheid van die GPS. Uiteindelik besluit ons om wel die GPS se aanwysings te volg... ons beur stadig vorentoe met ons oë gespits vir enige padpredikante of merkers wat vir ons die pad na die Guma-standmeer kan beduie.

Met dié dat ons oral kyk behalwe in die pad, sien ons nie die groot kol sagte sand voor ons nie. Die volgende oomblik sluit die sand sy kake om al ses ons bande – die vier van ons 2015-model Isuzu KB300 en die ander twee van die swaar Jurgens Safari Xcell-boswoonwa op die haak.

Omdat ons nie verwag het dat ons só vroeg al sandpad sou kry nie, het ons nie ons wiele afgeblaas of die Isuzu in viertrekmodus gesit nie. Maar hier sit ons nou, met die bloedige hitte van die son bo én die sand onder wat ons behoorlik laat les opsê.

Die soet en die suur. Dit is allermins maklik om by die Guma-strandmeer uit te kom, veral as jy ’n wa op die haak het. Hier is nie noemenswaardige padbordjies of aanwysings nie en die pad verander in ’n oogwink in ’n tweespoorpaadjie met diep sand. Maar die Henerys en hulle vriende het deurgedruk en is uiteindelik ryklik beloon vir hulle moeite.

Genadiglik ry Hannes en Mary-Ann ’n entjie agter ons in hulle Volkswagen Amarok met ’n Sprite Nomad op die haak. Hulle sien ons is in die moeilikheid en hou dadelik stil om te help.

Dit verg sowat ’n uur se gesukkel deur ons, Hannes-hulle en ’n klompie van die dorpie se inwoners om ons daar uit te kry. Ek het regtig nooit gedink warm sand kan ’n mens só laat bontstaan nie.

Die uitsig van ons kampplek af is iets ongeloofliks. Dis manjifiek, om die minste te sê.

Van hier af, neem ons ons voor, val ons nie wéér vas nie. Die ergste van alles is ek het die mense by Guma vooraf gebel om te hoor of ons met ons waens op die haak deur die sand sal kom, en hulle het my gerusgestel dit is wel doenbaar. Boonop het hulle belowe hulle sal ’n voertuig stuur om ons te kom haal ingeval die noodlot toeslaan.

Ek moet erken daardie sand was baie erger as wat enigeen van ons verwag het, en ’n mens moet kophou. Die tweespoorpaadjies vertak soos ’n wafferse Okavangodelta voor ons en ’n mens het skaars tyd om te kyk watter een na die beste opsie lyk.

As die Isuzu se neus in ’n rigting wys en ons het momentum, dan vat ons daardie pad. Veral met die wa op die haak wil ons nie die kans waag om momentum te verloor en weer in die diep sand vas te val nie.

Die paadjies vleg tussen droë boomstompe deur en ek knyp net my oë toe as ek hoor hoe die Isuzu en ons wa keer op keer teen die takke gekrap word.

Hannes vertel later Mary-Ann het ’n lappie beetgekry en dit in haar mond gestop om die gille te uit te doof wanneer die takke skade aanrig aan hulle sleepkombinasie. Die lappie was glo flenters gekou toe ons ná wat soos ’n ewigheid van bid voel, eindelik by die Guma-strandmeer indraai.

Tropiese eiland

My naarheid weens die spanning is gou vergete en ons mond hang behoorlik oop oor die paradys wat voor ons ontvou. By die ontvangskantoor spog Mike en Hannes breëbors en selfvoldaan toe die ontvangspersoon vertel dis ’n seldsame gebeurtenis as iemand met hulle wa deur daardie dik sand kom.

Ons kan nie wag om ons staanplek te sien nie en is gelukkig genoeg om die enigste staanplek op die oewer van die delta te kry. Die uitsig van ons kampplek af is iets ongeloofliks.

Dis manjifiek, om die minste te sê.

Dit voel behoorlik of ons op ons eie tropiese eiland is. Ons sien ’n krokodil wat op die water van die delta dryf en hoor ook by die oordpersoneel ons moet versigtig wees vir die seekoei wat lief is daarvoor om die omgewing – ook ons staanplek! – te verken.

Ons verkyk ons aan die voëllewe en onderneem selfs ’n ongelooflike bootrit wat ons nader aan die natuur bring as wat ons ooit tevore was.

Die terugtog

Die tyd vlieg en ons besef ons moes vir langer hier bespreek het. Dis tyd om die terugtog aan te durf en ons raak opnuut senuagtig oor die sandpaadjies wat vir ons voorlê.

Ons haak die waens en daar word beraadslag oor die beste plan van aksie om ons heelhuids hier uit te kry. Maar met al die vertakkings in die paaie en die haas onmoontlike taak om vooraf te beplan waar jy wil ry, is ons in ’n oogwink op ’n slegter tweespoorpad as die een waarmee ons hierheen gery het.

Die karre en waens skud met mening soos ons deur die diep sand sukkel, maar Mike en Hannes druk deur. Ons kan nie bekostig om hier spoed te verloor nie, want dan gaan ons ongetwyfeld weer in die middel van nêrens vasval.

In ’n stadium, terwyl ons tussen die bome en sand deur vleg, gaan die skerm van die trukamera op ons wa dood. Die enigste logiese verduideliking is dat die koppelprop tussen die wa en die Isuzu op ’n manier uitgeruk het, maar dit is heeltemal buite die kwessie om stil te hou en te kyk hoe erg die skade is.

Dit sal maar moet wag tot ons weer vaste grond onder ons wiele het. Onverwags raak die pad beter en ons ry die dorpie binne. Ons het dit uit ’n heel ander rigting benader as toe ons Guma toe gery het.

Dan tref dit my: Die nagmerriepad is verby!

Ons is uitbundig verlig om die sandpad uiteindelik agter ons te hê. Dit was ’n ervaring wat tegelykertyd ongelooflik en senutergend was en iets wat ons altyd sal bybly.

Sal ons weer gaan? Ongetwyfeld, maar dan doen ons dit sonder die waens. Daar is vandag nog krapmerke van ons Guma-ervaring op ons bakkies en waens. Soos Hannes sou sê: Dit was nou goeie pret!

Mike en Lettie wen ’n Camp Cover-Bundu-sak ter waarde van R500. Dié veeldoelige sak is só ontwerp dat jy hom as ’n noodhulp- óf smuktas kan gebruik. Gaan kyk na Camp Cover se puik beskermende oortreksels op die webwerf campcover.co.za