Foto’s: Grobler Basson

Dis 5.45 vm. op ’n Apriloggend in 2018. Die koffiepot prut, en buite is dit nat en koud. Die reën loop strale teen die ruite en die kwik hier by die Afriski Lodge, sowat 3 000 m bo seespieël in die noorde van Lesotho, lees 5 °C. Ons moet aan die gang kom, want ’n lang dag lê voor.

Eers moet ons twee tot drie uur met ’n taai 4x4-roete sowat 900 m in die Khubelukloof af ry tot by koördinate A. Vandaar is dit drie tot vier uur se trek verder in die kloof op tot by ’n waterval: koördinate B. Dít is ons bestemming vir die aand en ons moet teen 4 nm. daar wees.

Want net ’n uur of twee verder lê ’n warm waterval, ons eintlike bestemming waar die wilde forelle van Lesotho volgens legende vir ons lê en wag. Die Land Rover en die Toyota Cruiser idle buite in die koue. Dis tyd dat die avontuur begin!

Want net ’n uur of twee verder lê ’n warm waterval, ons eintlike bestemming waar die wilde forelle van Lesotho volgens legende vir ons lê en wag

Die idee vir die soektog het begin met gerugte dat die bergriviere wat die Maluti’s opkerf, ook die tuiste is van reuse-bruinforelle so groot soos dies wat jy in Nieu-Seeland kan vang. Ek het ’n paar nagte gedroom oor slinkse forelle wat in kristalhelder poele hoog bo in die berge wegkruip.

Sonder die regte span is enige avontuur uit die staanspoor ’n mislukking. My vrou, Gitte, se enigste voorwaarde was dat die Basson-broers Gideo en Grobler (die Leathermans van avontuur) saamgaan. Die ander spanlede is: Christiaan Greyling, een van Suid Afrika se voorste veldatlete en koördineerder van hoë- liggingsoefenkampe in Lesotho); Niel Swanepoel, avonturier, sakeman en probleem-oplosser; en ek, ’n boer van die Karoo met ’n koelboks vol Karoo-tjops as my bydrae tot die span se talentpoel. Datums is gekoördineer, verlof ingesit en logistiek gereël.

lesotho
Foto: Grobler Basson

Kaarte en beplanning

Die plan is om almal by die Afriski Lodge by Oxbow bymekaar te kom, maar ek het vooraf ’n bietjie meer tyd en besluit om twee aande en een dag by Semonkong, ’n bekende bestemming vir forelhengelaars in die hoogland van Lesotho, te bly.

Ek kamp by die Semonkong Lodge aan die buitewyke van Semonkong, op die oewer van die Maletsunyanerivier, sowat 5 km stroomop van die skouspelagtige Maletsunyanewaterval.

Dis ongeveer 120 km en 2½ uur se ry van die Maseru-grenspos tot hier, al met ’n netjiese geteerde pad wat deur die berge en valleie van die Maluti’s kronkel. Dit volg later die Maletsunyanerivier, en op die oog af lyk dit na die paradys vir forelle.

Die eerste eienaars van die Semonkong Lodge het blykbaar ook so gedink, want in die 1950’s het hulle forelletjies van Jonkershoek buite Stellenbosch hierheen gebring. Ná 60 jaar en baie forelgeslagte later word vandag se nageslag as wilde forelle geklassifiseer.

Ná ’n knypende droogte het Lesotho goed reën gekry. Die grond is deurnat en soos ’n mosspons. Elke oppervlak lek water en voed die rivierstrome wat nou sterk loop. Gelukkig vir my is die waters verby en die rivier helder.

Ná 60 jaar en baie forelgeslagte later word vandag se nageslag as wilde forelle geklassifiseer.
lesotho
Neil en Christiaan brou ’n koppie koffie langs die Bokongrivier. Foto: Grobler Basson
lesotho
Foto: Grobler Basson

Ek gebruik die hele dag by Semonkong om die waters te toets en vang die middag ’n mooi bruinforel wat ek weer teruglaat in die water. Hierdie is maar net die begin! Die aand bederf ek myself in die Duck and Donkey, die lodge se restaurant, waar ek ’n Maluti Lager en forel met baba-aartappeltjies bestel. Dis die smaaklikste forel wat ek al ooit geëet het.

Dit neem my die volgende oggend amper ses uur om tot by Afriski te ry, maar teen middagete is al ons spanlede daar. Ons sit in een hoek van die eetsaal, met kaarte en GPS’e voor ons uitgesprei op die tafel.

Gideo het GPS-koördinate van ’n waterval, hoog op teen Khubelurivier, waar dit in ’n diep poel stort. Hierdie is blykbaar die poort na ’n forelparadys. Maar die pad moet uitgewerk en bespreek word.

Eers is daar ’n stukkie teerpad tot anderkant die Letseng-diamantmyne, daarna ’n 4x4-roete wat afdaal in die vallei, en dan ry jy langs die rivier tot by ’n verlate visvangkamp. Daar moet ons rugsakke pak en bokpaadjies volg tot by die waterval. Dis ons oornagbasis van waar ons verder kan ondersoek instel, nou met ’n stok in die hand. “Reg so, Menere, môre moet ons baie grond dek. Stel julle wekkers vir 5.30 vm. Lekker slaap.”

Die eerste sien

Die misreën val liggies met ons vertrek, maar met sonsopkoms trek die weer oop en die berge van Lesotho ontvou voor ons. Net anderkant die huisies by die Letseng-diamantmyne draai ons links. Die pad in die kloof af is in ’n verbasend goeie toestand. Naby aan die onderkant draai ons links terwyl die hoofpad aanhou tot by Maloraneng.

Met sonsopkoms trek die weer oop en die berge van Lesotho ontvou voor ons...

Ek skakel my Land Rover oor in kruiprat en aktiveer die ewenaarslot. Van hier af loop die pad al langs die Khubelurivier, hoër en hoër op, deur etlike rivierkruisings tot by die Maloraneng-hengelkamp.

Foto: Grobler Basson
Neil terg die forelle by die Bokong-inloop in die Katsedam. Foto: Grobler Basson

Die laaste rivierkruising net voor die kamp is aansienlik dieper met groot spoelklippe en ’n sterk stroom. Aan die ander kant wag Frank vir ons. Frank is ’n Basotho wat in ’n rondawel op die kampterrein bly. Christiaan kan Zoeloe praat en Gideo ’n paar sinne Sotho, en ons stamel voort in ’n mengsel van Zoeloe, Sotho en Engels. Dinge raak makliker toe ons uitvind Frank kan Afrikaans praat. Ons vra hom uit oor die vis en hoe dinge hierlangs lyk, en ons noem dat ons wil opstap tot by die waterval.

“Yes, waterfall, good. Big fish…” sê Frank terwyl hy ’n 60-80 cm lange vis met sy hande beduie. “Too many big fish,” sê hy en skud sy kop, asof die natuur swaar dra aan hierdie las van die vis wat sy moet onderhou.

Ons opgewondenheid skakel nou oor in angstigheid. Noem dit maar ’n angstige opgewondenheid wat nou nie meer geduld het nie. Ons eet vinnig middagete, toerusting word verdeel, die paklysie nagegaan en sakke gepak. Ons is so seker dat die natuur gaan voorsien dat ons net ’n pakkie basmatirys en ’n bottel rum vir aandete pak. “Too many big fish,” weerklink nog in ons ore.

Ons opgewondenheid skakel nou oor in angstigheid...

Daar is ’n staalvoetbrug oor die rivier, net ’n entjie van waar ons die voertuie los. Terwyl ons oorstap, sien Niel eerste ’n reuse-forel in die kristalhelder water onder ons dryf, die grootste wat ek nog gesien het. Haastig sit ons sakke neer en begin ons stokke aanmekaar slaan, maar die forel verdwyn vinnig wanneer ’n jong veewagter en sy beestrop opdaag om water te drink. Toemaar. Eers het ons net gehoor, maar nou het ons ook met ons eie oë gesien.

lesotho
Foto: Grobler Basson
lesotho
Foto: Grobler Basson

Die donkiepad wat ons volg, klim teen die steiltes uit en loop hoog teen die kranse, hoër en hoër op, al langs die Khubelurivier. Ons asem is kort en ons longe brand in die dun lug. Die groot forelle is in die bolope van die rivier, waar dit koeler is met minder mense. As ek ’n vis was, sou ek hier wou bly.

By die poel aan die voet van die waterval vind ons ’n plat stukkie aarde en slaan ons tente op. Die moontlikheid van laatmiddagreën hang swaar in die lug. Ons besluit om ’n ent verby die waterval te stap en van daar af die waters te begin toets, en dan stelselmatig hoër te beweeg tot by die warm waterval waarvan ons gehoor het. Stokke word aanmekaargesit, lyne opgestel en ’n kunsvlieg gekies. Ons is senuagtig. Die water is helder en as die visse ons eerste gewaar, gaan hulle ons geen kans gee nie.

Die oomblik is uiteindelik hier! Maar ons sien niks nie… heelmiddag nie ’n enkele vis nie. Die rivier kabbel by ons verby. Teen skemer keer ons terug na die kamp om die poel by die waterval te probeer. Ook niks nie. Teen sterk skemer is daar ligte lewe op die water. Dis klein forelle wat baljaar. By die uitloop van die poel vang ek een op ’n droë vlieg. Hy pas in my hand. Ek laat hom gaan. Waar is die grotes? 

Die legende is waar!

Terug by die kamp kry ons ’n paar droë stompies en maak ’n vuurtjie om warm te word. Ons is nat, koud en die temperatuur daal vinnig. Ons haal die rys uit. Gelukkig het iemand ’n blikkie tuna ingepak. Ons rook dit met ’n stukkie toiletpapier – ’n ou toorkunsie wat iemand êrens langs die pad geleer het. Dis maar ’n skraps ete aan die einde van ’n lang dag.

lesotho
NABETRAGTING. Christiaan, Neil en Gideo by ons kampplek langs die Khubelurivier. Die span kon darem ’n paar houtjies bymekaar kry vir ’n vuurtjie teen sonsondergang; ’n Blik stroomaf oor die paadjie al langs die Khubelu wat die manne gestap het. Foto: Grobler Basson

Die volgende dag besluit ons om die Bokongrivier, sowat 160 km en 6 uur se ry hiervandaan, te verken. Terug by ons voertuie vra Frank of ons iets gevang het. “Only one, net enetjie,” en ek beduie so groot soos my hand. “How? Big fish, too many. Julle stap verby waterval. Hoog, verby waterval. Ek sien hulle,” sê Frank.

Kan dit wees dat ons net ’n uur of wat te vroeg omgedraai het? Dit help nie om te treur oor dít wat kon wees nie. Daar is nie nou tyd om terug te draai nie. Ons pak alles op en neem die grondpad na die oostelike inloop van die Katsedam, na die fabelagtige Bokongrivier.

Die onlangse reën in Lesotho het baie van die brûe op die hooglandse verbindingspaaie verspoel. Die meeste is egter vinnig deur die plaaslike diamantmyne reggemaak, wat eintlik net behels dat ’n stootskraper die pad begaanbaar maak vir ’n viertrekryding.

Laatmiddag kom ons aan by Makhangoa Community Camp (MCC), ’n kamp vir vlieghengelaars wat deur Tourette Fishing in samewerking met die plaaslike gemeenskap bestuur word. MCC is gebou in ’n lus van die Bokongrivier waar dit in die Katsedam inloop.

Ons pak vinnig uit en ontmoet vir James, ons gasheer en gids, vir oriëntering en beplanning in ’n langwerpige kliphuis wat uitkyk oor die Bokong. Daar is ’n mooi skets van ’n massiewe bruinforel teen die yskas. “Jacques du Preez het dit geteken. Hy is ’n gids hier by ons. Dis so te sê op skaal,” sê James.

Ons kyk oorbluf na die skets. James sien hy moet verduidelik. “Dis ’n skets van ’n wilde bruinforel wat hier in die Bokong gevang is. Van die hoë kranse af kan jy die massiewe visse in die diep poele sien, maar hulle is wild en baie slim. Jy kry net een kans. Jy moet perfek toeslaan, anders verdwyn hy,” sê James.

Ons dink terug aan die Khubelu. Die aanvanklike teleurstelling sterf stil en nuwe hoop begin broei. Ons het net te vroeg omgedraai, die legende is waar! Lesotho bied geleenthede gelykstaande aan die beste ter wêreld. “Hoe lyk julle dinge vir later die jaar, ouens?” vra iemand.

Ons het net te vroeg omgedraai, die legende is waar!

Later die middag gaan toets ons die inloop van die Bokong by die Katsedam. Op pad sien ons baie rimpelings op die oppervlak, asof iemand voortdurend klippies in die water gooi. Ons het skaars aangekom toe Martin, die ander gids in die groep, ’n 60 cm lange vis uittrek. Daarna ’n groot kleinbekgeelvis wat hom heftig teësit. Die res van die middag is ’n fees. Ons vang geelvis op droë vlieë waar hulle onder die water wei in die gras, en forelle teen die oewers. Dit is al donker voordat die nat en koue ons terugdwing na die lodge toe.

Gitte vra my later die aand op WhatsApp of ek in die hemel is. Ek antwoord dat die pad hierheen lank en smal was, dus moet dit seker so wees. Dit voel so.

Die aand sit ons om die vuur en smul aan Karoo-tjops, knoffelbrood en groente, en proe aan ’n bottel brandewyn daar van Kakamas se wêreld. Ons praat oor die laaste paar dae en beplan reeds die volgende ekspedisie.

Lesotho herinner my aan ’n growwe man met ’n diepsinnige hart. Dalk is die eerste kennismaking ongemaklik, maar as jy deurdruk, smee jy gou ’n lewenslange vriendskap.

Weet voor jy waai

Wat kos dit? Sowat R5 500 (kos, verblyf en diesel)

Beste tyd om te hengel? Herfs of lente

Ons het hier gebly: Semonkong Lodge semonkonglodge.com; Afriski afriski.net, gekamp langs die Khubelu en Makhangoa Community Camp tourettefishing.com

Raad aan voornemende hengelaars? Onthou ’n tweede visstok, pak proviand vir afgeleë kampplekke, en doen jou navorsing oor riviere. Onthou jou paspoort, maar jy’t nie ’n visum nodig nie. 

Vertel ons van jou avontuur!

Was jy op ’n vakansie wat jy dink ander Weg-lesers ook sal geniet?

Skryf oor die ervaring en ons publiseer dalk jou storie. Hou dit asseblief kort (maksimum 1 500 woorde) en stuur ’n paar voorbeeldfoto’s. As ons wel besluit om die storie te gebruik, gaan ons oorspronklike hoëresolusie-foto’s nodig hê; maak dus seker jou kamera is op die regte verstelling. Stuur jou storie na redakteur@weg.co.za.

Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za