Foto's Evan Naudé

Die wind steek sy ysvingers in die holte van my nek en waai traanstrepe tot agter my ore in. Ek kan nie meer my tone voel nie, maar wie gee om? Voor my lê ry op ry berg tot op die horison. Ek is ’n moderne ontdekker tussen berge en valleie waar bittermin toeristestewels trap.

In Lesotho is ’n plat stukkie aarde so skaars soos glutenvrye brood op Brandvlei, en byna elke pad is ’n kronkelende bergpas. Jy moet jou voertuig se remme én jou kuitspiere toets voordat jy hier kom vakansie hou. Want jy gaan stáp om by die mooiste plekke uit te kom. Vir ’n klein land het Lesotho verbasend baie indrukwekkende uitsigte. Jy moet minstens twee keer in jou lewe hier kom draai om die metamorfose van somer na winter te aanskou.

In die somer lê die landjie soos ’n verfrommelde groen wolkombers so te sê in die middel van Suid-Afrika. Wintermaande verander die koue dié groen grasvelde in goudgeel, bedek die bergpieke met sneeu en vries watervalle in skouspelagtige yskolomme.

Die beste plek om die Bergkoninkryk in al sy glorie te sien is in die land se amptelike groen kolle (twee nasionale parke en ’n natuurreservaat). Maar moenie Sanparke verwag nie.

Dinge hier is meer, um, informeel. By die hek stof die wag dikwels die spinnerakke van die permitboek af. Jy sal waarskynlik meer oor die parke se plant- en dierelewe kan Google as wat die personeel kan vertel. En jy moet meestal self uitpluis hoe die staproetes werk.

Maar as dit by natuurskoon kom, kan hierdie drie maar spog. Elkeen het sy troefkaart: Die Bokong-natuurreservaat sit hoog tussen bergpieke aan die bopunt van ’n 3 000 m hoë pas, Ts’ehlanyane lê tussen valleie met inheemse fynbos en bergbamboeswoude om te verken, en Sehlabathebe se grasvlaktes, rotspoele en sandsteenformasies herinner aan ’n David Attenborough-dokumentêr.

Maar as dit by natuurskoon kom, kan hierdie drie maar spog. Elkeen het sy troefkaart.

Al drie is aan die klein kant – teen 65 km² is Sehlabathebe die grootste. Maar Lesotho ís ’n klein land – dis skaars groter as Gauteng. In ’n land waar die meerderheid mense op bestaansboerdery staatmaak, is dié drie beskermde gebiede belangrik vir die voortbestaan van die inheemse plant- en dierespesies. Die Maluti-rooivlerkie – ’n hoogs bedreigde visspesie – kom byvoorbeeld net hier voor.

Die parke is nie omhein nie – ek het hier en daar ponieruiters wat kortpad vat, aangetref – maar dis van die enigste plekke in die land waar jy nie skaap- of beesklokke hoor lui of ’n mielieland sal aantref nie.

In die ou dae was dit moeilik om die parke te verken sonder ’n taai 4x4, of ’n perd. Gelukkig het Chinese ingenieurs honderde kilometers van Lesotho se grondpaaie met gladde teerlinte vervang.

Jy kan deesdae met ’n Ford Fiesta tot by Bokong en Ts’ehlanyane ry.

Die Maliba Lodge in die Ts’ehlanyane- nasionale park sit knus tussen die berge van die Hlotsevallei.
In die Sehlabathebe- nasionale park is ’n 8 km lange 4x4-paadjie wat rondom die Devil’s Knuckles-berg kronkel na ’n grasvlakte met sandsteenformasies

Trouens, as jy vroeg genoeg wegtrek uit die Oos-Vrystaat, kan jy jou lyf dagbesoeker hou in een van die twee. Bokong is sowat 80 km van Ficksburg af en Ts’ehlanyane sowat 55 km van Fouriesburg af.

Sehlabathebe is egter ’n ander storie. Die grondpaaie soontoe is in ’n beter toestand as in die verlede, maar dit neem minstens 6 tot 8 uur om by die hek uit te kom, en jy moet ry met ’n voertuig met hoë grondvryhoogte.

Maar die beloning is groot. In Sehlabathebe sien ’n mens die wind se aanloop oor die landskap: van sy snelle vaart deur die grasvelde en kabbelspore oor die rotspoele tot dit loei om die sandsteenformasies en uiteindelik in die berge wegraak. 

In Sehlabathebe sal jy nog ou klipgeboutjies aantref, soos dié herdershut en kraal.
Naby die Black Pool op die Upper Trail in die Ts’ehlanyane- nasionale park toring die bergbamboes alkant van die staproete


En die Groot Vyf...?

Jy gaan nie die Groot óf die Klein Vyf hier afmerk nie.

Hier is wel ’n paar wildbokspesies soos elande en duikers, klein roofdiere soos rooikatte en swartrugjakkalse, en verskeie roofvoëls soos lammergeiers en kransaasvoëls.

En ook ’n paar unieke skepsels soos Sehlabathebe se riviervisse of Bokong se ysrotte.

TS’EHLANYANE- NASIONALE PARK

Die mak een, wel, soort van...

Die Upper Trail in die Ts’ehlanyane- nasionale park lei jou met ‘n kontoerpad diep tussen die voue van die Malutiberg in.

Of dit jou gesin se eerste besoek aan Lesotho is en of jy die soort stapper is wat snags tussen wit linne wil slaap, mik vir Ts’ehlanyane. Dié park se geriewe en bestuur is puik. Dit is grootliks te danke aan die vyfster-Maliba Lodge. Dié lodge is op die oewer van die Hlotserivier. Van die houtdek af kyk jy uit oor die dramatiese Hlotsevallei – dis soos om tussen ’n skare berge te wees!

Die Lower Trail waar jy kan besluit of jy lus is vir afkoel in die Black Lake of die Valley of the Pools.

Ek wil stap. Die Hlotserivier is net ’n paar minute se stap van die chalets af met ’n rotspoel waar jy kan uitspan. In die somer is jy bederf met swemplekke, want Ts’ehlanyane het vier riviere en verskeie watervalle.

Die vyf staproetes wissel van maklike halfdagroetes tot taaier dagroetes.

As jy net ’n dag het, pak ’n piekniekmandjie en maak ’n draai by die Valley of the Pools, ’n 5 km-stuk rivier met 16 poele. Volg die Upper of Lower Trail tot by die Black Lake en wees op die uitkyk vir die Valley of the Pools-bordjie. Dis 5,6 km van die lodge af.

Die Upper Trail (3,2 km) klim geleidelik na ’n kontoerpad met uitsigte oor die Hlotsevallei en daal af tot by die Black Lake, ’n donker swemgat in die rivier. Van hier af kan jy kies om deur bergbamboesruigtes verder bergop te stap tot by Matsa-Mararo, ’n waterval met drie vlakke.

Die Lower Trail (3,1 km) loop ook tot by die Black Lake, maar rivierlangs tussen inheemse woude vol voëls. Maliba het ’n lys van minstens 57 spesies, van hamerkoppe en swartkopreiers tot gevlekte ooruile en bruinjakkalsvoëls.

Jou kans is ook goed om bosbokke en elande tussen die riete teë te kom. Dis ’n maklike roete vir die hele gesin. Op warm dae is hier oorgenoeg skadu en plekke om in die rivier af te koel.

Jou kans is ook goed om bosbokke en elande tussen die riete teë te kom. Dis ’n maklike roete vir die hele gesin.

Die Litsumi Cave-roete (8,4 km vir die fikses) klim na ’n grot waarin ystervarke glo soms rondhang.

Ts’ehlanyane se Waterfall-roete (4,7 km) en die Circular Route (13 km) is ook vir gesoute stappers en as jy ’n uitdaging soek, kan jy die oornagroete stap na die Bokong-natuurreservaat (32 km).

Saans ontspan jy in ’n chalet

Wat nog? Hier’s die Maliba Bana Club, ’n dagsorgplek vir kinders tussen 3 en 12 jaar oud, waar die jongspan paddavisse vang, leer kook en perdry. Jy kan boogskiet, saam met ’n gids na rotstekeninge en dinosourus-voetspore gaan kyk, ’n Basotho-gemeenskap besoek, ’n sangoma ontmoet en die park te perd verken. Maliba bied ook vyf 4x4-roetes in die omgewing aan. Hier is ’n spa as jy net wil ontspan.

Geriewe en koste ’n Basiese rugsaklodge by die hek met gemeenskaplike ablusies: vanaf R150 p.p. (dis nie deel van Maliba nie). Die Maliba Lodge bied drie verblyfopsies: ’n Selfsorgrondawel langs die rivier: vanaf R750 p.p. (slaapplek vir 2). Netjiese selfsorghuis: vanaf R1 632 p.n. vir 4 mense (slaapplek vir 8 mense). Luukse chalet (met etes ingesluit): vanaf R1 430 p.p. (slaapplek vir 2 mense ). Die rondawels is nie beskikbaar van Junie tot Augustus nie en hier is tans geen kampplek in die park nie. Parktariewe: R30 p.p. en R10 per voertuig (eenmalig).

Hoe kom ek daar? Ts’ehlanyane is sowat 45 km van die Calendonspoort-grenspos af. Ry tot by Butha-Buthe en klim op die A1. Draai ná sowat 5 km links af op ’n teerpad na die dorpie Khabo. Hou aan met hierdie pad vir 32 km en wees op die uitkyk vir Maliba Lodge se bord.

Wat pla? Min. Die twee ander parke kan gerus by Ts’ehlanyane leer.

Kontak Maliba Lodge 031 702 8791; maliba-lodge.com; Park 00 266 6858 4740. 

Hardloop bo seespieël
Superfikses kan die Lesotho Ultratrail – die jaarlikse 50 km ultramarathon – in November hardloop. Die roete is op ou herderspaadjies in die park uitgelê. Die resies vorm deel van die Suid-Afrikaanse Skyrunner Series (wedlope wat hoër as 2 000 m bo seespieël plaasvind). lesothoultratrail.com.

Klik hier om 'n ekstra fotogalery van dié park te sien.

Bokong-natuurreservaat

Die hoogste een

Die skouspelagtige Mafika Lisiupas is jou oprit uit die ooste na die Bokong- natuurreservaat.

Teen 3 000 m bo seespieël is Bokong een van die hoogste reservate in Afrika. Die besoekersentrum sit op die rand van ’n 100 m hoë krans digby die ingang. Met my aankoms wonder ek of die reservaat oop is, want die ontvangskantoor en die besoekersentrum is leeg.

Toe ek verby die venster van een van die selfsorghuise stap, skrik ’n beampte aan die binnekant hom byna van sy stoel af. Hy beduie ek moet by die kombuisdeur inkom. In die leefkamer staan ’n lessenaar met ’n mengelmoes brosjures en ou kalenders. ’n Paar plakkate klou aan die mure en in een hoek staan ’n droewige opgestopte luiperd.

’n Tweede beampte verskyn, krap ’n permitboek uit en gee my kleingeld uit haar eie sak. Wanneer ek by die ander huise inloer, sien ek dis gesluit, maar die kamers is skoon en netjies. Die beamptes verseker my dat alles in ’n werkende toestand is en ek kan enige tyd oorslaap. Naas die huise is hier selfs ’n waskamer met nuwe wasmasjiene en tuimeldroërs.

Bokongnatuurreservaat se besoekersentrum en chalets wat soos dassies aan die bopunt van ’n 100 m hoë krans klou.

Ek wil stap. Bokong is een van die min plekke in Lesotho waar jy hoër as die omliggende berge is en nie andersom nie. Die reservaat se staproetes wissel van kort uur lange wandelinge tot strawwer agt uur lange sirkelroetes.

As jy net hier is vir ’n dag, mik vir die Lepaqua-waterval net sowat 1½ km van die besoekersentrum af. Dis ’n kort stappie, maar jy voel hoe die dun lug jou asem steel terwyl ’n yswind jou oordromme probeer vries. Volg die voetpaadjie na die rand van die waterval en kyk hoe die water oor die krans tuimel en ’n reënboog in die sproei kaats. In die hartjie van die winter is die waterval in ’n yspilaar gevries.

Het jy geweet daar is iets soos ’n ysrot (Otomys sloggetti)? Dié knaagdier kom net in Lesotho en Suid-Afrika voor, en net teen 2 000 m bo seespieël of hoër. Hulle is skugter, maar wie kan hulle kwalik neem met roofvoëls soos lammergeiers en witkruisarende wat tussen die bergpieke rondsweef? Verder is daar min wild in die reservaat, maar jy mag dalk ’n ribbok teëkom.

Wat nog? Jy kan ook van diékant af die 32 km-staproete tot by Ts’ehlanyane aandurf of die park te perd verken. Die bekende Katsedam is ’n hanetree van Bokong af (13 km) en die enorme damwal is 60 km ver.

Doen een van die daaglikse toere om 9 vm. of 2 nm. na die binnekant van die damwal.Toere kos R20 p.p.

Kontak Katse se inligtingskantoor by 00 266 229 10808/9.

Geriewe en koste Vyf ten volle toegeruste selfsorghuise: R500 p.n. vir 6 mense (slaapplek vir 10 mense). Parktariewe is R40 p.p. (eenmalig).

Wat pla? Die besoekersentrum is leeg en die personeel is nie juis kundig oor die reservaat nie. Die staproetes is nie duidelik gemerk nie en die staphutte naby die waterval is verwaarloos.

Hoe kom ek daar? Bokong lê aan die bopunt van die Mafika Lisiupas. Dié steil teerpadpas is ’n avontuur op sy eie, veral as daar iemand in die kar is met hoogtevrees. Die naaste grensposte is Ficksburg (77 km) en Caledonspoort (94 km).

Kontak 00 266 5849 8769 (Jy sal waarskynlik slaapplek kry as jy net opdaag ook.)

In die winter vries byna al wat ’n waterval is in yskolomme.

Klik hier om 'n ekstra fotogalery van dié reservaat te sien.

Sehlabathebe- nasionale park

Die oudste en verste

Die grondpaaie na die Sehlabathebe- nasionale park is net vir taai rygoed.

Die “maklikste” manier om hier uit te kom is op ’n klipperige pad van die Ramatseliso’s Gate-grenspos af (sowat 6 uur). Dit verg bloedsweet om hier te kom, maar die stilte is ’n groot beloning.

Ook hier is die geboue nuut – hier is ’n groot ontvangskantoor, netjiese huise vir die parkbeamptes, ’n groentetuin en selfs ’n motorwerkswinkel. Net soos by Bokong staan die meeste geboue leeg en in die ontvangskantoor moet die beampte eers die permitboek in ’n ander kamer gaan opspoor.

Sehlabathebe- nasionale park se lodge is tans gesluit.

’n Paar jaar gelede is die nuwe Sehlabathebe Lodge en ’n besoekersentrum sowat 2 km van die hek af in die park gebou. Die plek word nog onderhou, maar al wat ek by die parkbeamptes kon aflei, is dat dit vir opknappings gesluit is. Ná ’n lang dag se ry gaan jy dus in ’n basiese (dog netjies) rondawel langs die ontvangskantoor bly of tent opslaan langs die lodge.

Nadat ek in die rondawel afgepak het, gaan maak ek ’n draai binne die park. As jy met ’n 4x4 gekom het, kan jy met ’n grondpad ry tot by die ’n verlate veldwagtershuisie (die ou Jonathan’s Lodge) sowat 8 km van die hek af, anders moet jy by die lodge parkeer en veld-in stap.

Van die park se mooiste sandsteenformasies, rotspoele en rotsboë is ’n kort stappie van die veldwagtershuisie af. Dis dan ook hier waar jy daai ikoniese landskapsfoto’s van die Devil’s Knuckles-berg kan neem. Kom vroeg en kyk hoe die eerste sonstrale die donker pieke tref en begin inkleur in warm oranje en rooi.

Van die park se mooiste sandsteenformasies, rotspoele en rotsboë is ’n kort stappie van die veldwagtershuisie af.

Verskeie rotspoele lê oor die grasveld gestrooi en op ’n windstil dag weerkaats die landskap in dié poele – onthou tog jou kamera!

Wanneer jy die landskap te voet verken verstaan jy dat die afgesonderdheid dié park spesiaal maak.

Ek wil stap. Die staproetes is ongelukkig nie behoorlik gemerk nie, en brosjures is net so skaars soos toeriste. Op die korter roetes kan jy self regkom deur die paadjies te volg, maar kry ’n gids vir die langer roetes (R40 per groep).

’n Gids kan jou neem na een van die 130 (!) rotskunskolle, die mooiste van die honderde grotte of na die Tsoelikana-waterval met ’n swemgat. As julle nie wil stap nie, huur ’n ponie teen R100 p.p.

Kan ek diere sien? Volgens die park se inligtingsbrosjure is hier swartrugjakkalse, bobbejane, elande en selfs otters, maar ek het net ’n paar bergribbokke gesien. Voëlkykers kan kom soek na onder meer lammergeiers, witkruisarende en lelkraanvoëls. Die park se mees unieke inwoner is egter die Pseudobarbus quathlambae, oftewel die Malutirooivlerkie, ’n varswatervisspesie wat voorheen as uitgesterf beskou is totdat hulle in 1971 in die ysige waters van die Tsoelikana-rivier herontdek is.

Geriewe en koste Twee selfsorgrondawels met gemeenskaplike kombuis en badkamer: R250 p.p. (slegs kontant). Hier is beddegoed, maar bring jou eie kos, drinkgoed en braaihout. Parktariewe is R30 p.p. (eenmalig). Jy kan ook kamp (met eie ablusies) teen R80 p.p. naby die lodge.

Hoe kom ek daar? Die naaste grensposte is Ramatseliso’s Gate (33 km) en Qachasnek (80 km) suid van die park. Jy kan die park van dié grensposte af bereik met ’n voertuig met goeie grondvryhoogte. Jy kan Sehlabathebe ook van die noorde af bereik met die Matebengpas, maar hiervoor het jy ’n 4x4 met laestrek nodig. Dié pas is erg klipperig, veral ná reëns, en in die winter is jou kans goed om ys en sneeu op die berg te kry. As jy van Sanipas (197 km) in die noorde af wil ry, gaan dit minstens 8 uur duur.

Wat pla? Dis jammer dat die lodge binne die park verlate staan. Die geriewe lyk netjies en dis baie nader aan die besienswaardighede.

Kontak 00 266 6253 7565 of 00 266 5853 7565 of bel die parkbeampte Sefali Lesansana op 00 266 638 68034 vir besprekings of om oor padtoestande uit te vind. Los ’n boodskap as hy nie antwoord nie – selfoonontvangs is skraps. Teen druktyd was die Sethlabathebe Lodge nog gesluit, maar kontak Zambezi Kanyemba Safaris op 076 640 3653 om te hoor wat die stand van sake is.

Klik hier om 'n ekstra fotogalery van dié park te sien.

Stap of galop

Jy kan te voet of te perd van Suid-Afrika af na Sethlabathebe reis.

Kontak Khotso Lodge & Horse Trails (082 412 5540: khotso.co.za) op die Drakensberg Gardens-pad buite Underberg, of Sani Lodge Backpackers (033 702 0330; sanilodge.co.za) aan die voet van die Sanipas.