In September 2017 het Clive, sy seun Craig en ’n groep vriende ’n woeste 4x4-avontuur van Ongeluksnek in die suide van Lesotho deur die Senqunyanerivier en Katsedam tot by Sanipas in die ooste van die land aangedurf.

Omdat dit byna twee jaar was sedert hulle laaste besoek aan Lesotho, was dit tyd om weer in die bergkoninkryk ’n draai te gaan maak. Maar dié slag sou hulle minder reis en meer ontspan. Clive vertel...

Ons plan was om die eerste nag aan die bopunt van Sanipas deur te bring en die tweede en derde nag by Chalets in the Sky in die manjifieke Khubeluriviervallei.

As ons nie hier sou regkom nie, was die plan om in die Hamapoka-kamp uit te span, wat in die wandel as Mapoka-kamp bekend staan. Dit is ook in die Khubeluvallei. So vertrek ons op ’n Vrydagoggend in Junie verlede jaar uit Durban en reis deur Underberg na die Sanipas. Hulle is besig om te werk aan die pad, van die begin van die pas tot by die Suid-Afrikaanse grenspos, en daarom is dit in ’n goeie toestand (waarskynlik omdat dit voorberei word om geteer te word).

Die stempels in ons paspoorte is ’n blote formaliteit en ons vorder sonder voorval oor die grens. Ons reis verder teen die bekende pas tot by die Lesotho-grenspos en verkyk ons aan die uitsigte. Vir die grootste deel haak ons laestrekratte in en moet selfs op plekke waar die pad steil en klipperig raak, ons ewenaarslotte inspan, veral om die haarnaalddraaie. Hierdie deel van die pas is nog soos dit in die ou dae was en bied ’n strawwer 4x4-uitdaging. Dit wil voorkom of die boonste deel van die pad nie regtig onderhou word nie.

By die grenspos is Lesotho se doeanebeamptes vriendelik en hoflik en ons sake is kort voor lank afgehandel. Ons bring die nag by die Sani Stone-lodge deur, 8 km van die grens af. Die afdraai is na links by die wit kerk en ons het geen klagtes oor ons verblyf nie. Die geriewe is skoon en die tariewe billik.

Die Saterdagoggend volg ons die hoofpad, wat geteer is, tot op Mokhotlong. Dit neem ons ’n uur om dié klein dorpie in die hartjie van die berge te bereik. ’n Mens kan sê dis in die middel van nêrens, maar hier heers ’n feestelike atmosfeer. Die plaaslike mense is vriendelik en hulpvaardig en ons skaf in ’n japtrap ons gas, Maluti-biere en ys aan. Dis gaaf dat hier ’n Shoprite-winkel op die dorp is.

Met ons inkopies agter die rug klim ons terug op die geteerde hoofpad en mik noordweswaarts vir Chalets in the Sky. Ná sowat ’n uur se ry draai ons regs en volg die grondpad wat deur die Khubeluvallei met sy gelyknamige rivier vleg.

Die padtoestand is oorwegend goed, tot ons ’n veldpaadjie in die vallei teëkom waar ons weer op laestrek en ewenaarslotte moet staatmaak. Die veldpad kruis die Khubelurivier nie minder nie as sewe keer, en dit sorg natuurlik vir interessante en op plekke skouspelagtige 4x4-ervarings.

Teen 13:00 bereik ons uiteindelik die prentjiemooi Chalets in the Sky. Dit bestaan uit ’n konferensiesentrum en verskeie rondawels met klipmure en grasdakke wat oor die vallei uitkyk.

Alice en Claudia, onderskeidelik die kamp se bestuurder en opsigter, staan gereed om ons te verwelkom, maar sê net een van die selfsorgchalets is beskikbaar omdat werknemers van die Letseng- diamantmyn in die res woon.

Omdat net een chalet beskikbaar is, vra ons vir Claudia of dit moontlik is om ons tent in die kampterrein op te slaan. Verrassend genoeg sê sy dit kos maar R80 p.n. per staanplek, maar daar is nie water nie. Gelukkig ry ons ons eie water saam.

Omdat ons vooraf met die gedagte gespeel het om by Mapoka te kamp het ons ons RV 5 Oz-tent op ons dakrak, 30 l water en ’n halwe bakkievrag hout. Claudia sê die kamp se sekerheidswag, Frank, sal ons daar ontmoet en na ons omsien, en ons ry voort met die veldpaadjie na Mapoka.

Só skop ons avontuur in alle erns af tewyl ons al met die haglike veldpad langs in Mapoka se rigting ry. Die mynverkeer het basies die pad tot by die kampterrein verwoes (ook in dié gebied is die aarde omgedolwe op soek na diamante).

Gelukkig kom ons ’n stootskraper teë en die bestuurder help ons om weer op die regte pad na Mapoka te kom. Ek moet egter noem dat dié “pad” niks meer as ’n vae en onduidelike tweespoorbospaadjie is nie. Ons twyfel gereeld of ons nog op die regte pad is.

Clive en Craig het uiteindelik by die Mapoka-kampterrein aangekom, nadat hulle ’n uitdagende roete tot hier moes baasraak. Hulle het hulle tent so opgeslaan dat hulle oor die verlate Khubeluriviervallei onder hulle uitkyk – en die ervaring met ’n warm kampvuur en ’n klompie koue Maluti-biere gevier.
Mapoka-kampterrein
Mapoka-kampterrein

Die tweespoorpad kronkel bergop, verby klein dorpies waar ons stilhou en vir inwoners vra of ons nog op die regte pad is. Die meeste van hulle weet waar Mapoka is, maar dit verg kophou, want die pad vertak op verskeie plekke en ons is meer as een keer verward oor watter rigting ons moet inslaan. Die grootste deel van dié roete ry ons in laestrek, want die pad is steil en klipperig. Plek-plek moet ons ook die ewenaarslot inspan. Dit voel of die pad geen einde het nie en dit jaag ons angsvlakke verder op.

So hou dit aan tot Saterdagmiddag omstreeks 15:00. En dan, uit die bloute, net toe dit vir ons voel ons kan nie die adrenalienvlakkie nóg hoër opjaag nie, ry die Triton om ’n draai... en voor ons lê die Mapoka-kampterrein wat oor die verlate Khubeluriviervallei onder dit uitkyk.

Wat ’n ongelooflike gevoel is dit nie om uiteindelik hier by die kampterrein langs die hoë kranse aan te kom nie! Dit is ’n groot verligting. Frank is ook hier en staan gereed om ons te ontmoet.

Maar die laaste waterkruising oor die Khubelurivier is ’n goeie 50 m en ’n taamlike uitdaging. Frank beduie met handgebare van oorkant die rivier af, en Craig stuur die bakkie stadig die water in. Sommer dadelik voel jy hoe die voertuig in die sagte rivierbedding begin wegsak. Vir ’n oomblik is ons bang ons gaan vassit, maar Craig is ’n ervare bestuurder en hy gee liggies vet. Die Triton versnel en seil deur die rivier, anderkant uit.

Wat ’n ongelooflike gevoel is dit nie om uiteindelik hier by die kampterrein langs die hoë kranse aan te kom nie!

Dit is nogal iets om die magiese omgewing hier in die Khubeluriviervallei in te neem. (Terloops, dié vallei is steeds 2 250 m bo seespieël.) Hier heers ’n ongelooflike atmosfeer van afsondering en ’n kalmte wat jy nie sommer op enige plek kry nie. Ons stap vinnig deur die kampterrein en sien hier is vier storthokkies (sonder water), vier puttoilette, verskeie braaiplekke, Frank se chalet, ’n gemeenskaplike onthaalkamer/slaapsaal met ’n grasdak, en ’n ongebruikte waterverhittingskamer.

Ons stel ons voor aan Frank, en hoewel hy nie Engels magtig is nie, verstaan hy dele van ons gesprek. Ons kan ook uitmaak dat hy al 19 jaar as sekerheidswag by Mapoka werk. Verder vertel hy ons in gebroke Engels dat hy nie geld of ’n flits het nie. (Dis maar beter om nie hier vir Frank direk aan te haal nie. – Red.) Ons voel jammer vir Frank en gee vir hom van ons kos en ook ’n paar Maluti-biere.

Omdat ons die Oz-tent saamgebring het, besluit ons om nie in die gemeenskaplike slaapsaal te bly nie. Ons gaan slaan ons tent só op dat ons ’n uitsig oor die pragtige rivier het.

Dit is net ons in die kampterrein, en die enigste geluide wat ons hoor, is die vreedsame klank van die klokke om die nek van die skape wat in die omliggende berglandskap wei. Met dié rustigheid om ons steek ons die kampvuur aan en geniet ’n paar welkome Maluti-biere saam met ons braai. Ek en Craig stem saam hierdie is vreedsaamheid en ekslusiwiteit op sy allerbeste.

Dit het ons ses uur geneem om van die bokant van die Sanipas tot by die Mapoka- kampterrein te ry, en Craig het hom uitstekend van sy taak gekwyt agter die stuur. Ons gaan pootuit bed toe, maar ’n kort rukkie later word ons wakker gemaak deur die geluid van beesklokke wat klink of dit verby ons kampterrein jaag. Ons kan hoor hoe die klank deur die vallei trek tot dit uiteindelik verdoof en ons genadiglik weer aan die slaap raak.

Kort voor middernag word ons egter weer wakker geruk met dieselfde geluid naby ons tent. Craig gaan uit buitentoe om te sien wat aangaan, maar hy kan nie veel uitmaak nie. Die volgende oggend vertel Frank vir ons dit was ’n klomp plaaslike inwoners wat met hulle perde op pad was na ’n kuierplek. Die perde het beesklokke om hulle nekke gehad.

Sondag is ons laaste dag by Mapoka en ons besluit om die dag op die oewer van die Khubelurivier deur te bring. Die water is gevries nadat die kwik in die nag tot by -7 ºC gedaal het. Nadat ons vir ’n paar uur ontspan het, besluit ek en Craig om ’n entjie te gaan draf.

Hier heers ’n ongelooflike atmosfeer van afsondering en ’n kalmte wat jy nie sommer op enige plek kry nie.

Foto: Clive George
Foto: Clive George

Omdat ons die Maandagoggend vroeg al in die pad moet val, stel ek voor ons slaan ons tent op en gaan maak ons vir die laaste nag in die slaapsaal tuis. Só kan ons die bakkie vooraf laai met die tent op die dakrak. Ons het ook op die Triton se agtersitplek plek gemaak vir Frank, want hy het gekla van borspyn en moes by die dokter op die nabygeleë dorp Mapholaneng uitkom.

Ons plan werk goed en ons dra ons kampbeddens en ander besittings na die slaapsaal waarna ons die laaste kampvuur aansteek en ’n klompie Maluti-biere geniet. Ons slaap rustig, sonder enigiets wat pla, en teen 08:00 die Maandagoggend is ons saam met Frank in die bakkie en gereed vir die terugtog Durban toe.

Frank beduie vir ons hoe en waar om op die veldpaadjie te ry en sommer ook ’n kortpad tot by die Letseng-diamantmyn, wat beteken ons hoef nie by Chalets in the Sky verby te ry nie.

Ons laai vir Frank by Mapholaneng af, groet hom hartlik en klim dan op die teerpad, oor die Sanipas en tot in Durban waar ons kort voor 15:00 stilhou.

Ons het ’n paar lesse geleer op dié reis. In ’n poging om koste te bespaar het ons net met een voertuig gery. Ons sal voortaan altyd met twee kom (ongeag wat dit kos) omdat dit net veiliger is ingeval jou ryding onklaar raak. Ons sal ook nie weer sonder Tracks4Africa hierheen kom nie.

Dié kort uitstappie was ongetwyfeld een van ons beste besoeke aan Lesotho. Dit was ’n avontuur met ’n stewige skeut 4x4-uitdagings asook die prag, afsondering en skoonheid van die afgeleë Mapoka- kampterrein en die Khubeluriviervallei.

En nie vir een oomblik het ons onveilig gevoel nie. Ons sal beslis weer op dié spoor kom ry.


Clive wen ’n Camp Cover Bundu-sak ter waarde van R400

Dié veeldoelige sak is só ontwerp dat jy hom as ’n noodhulptas óf smuktas kan gebruik.

Gaan kyk na Camp Cover se beskermende oortreksels op die webwerf campcover.co.za.