Esma Marnewick mis die...

KOGELBERG-NATUURRESERVAAT

Groen berge wat golf tot op die gesigseinder besprinkel met pienk-en-wit sewejaartjies, rooi heide en pienk botrivierproteas. Plek-plek is nog ’n laaste kolletjie inheemse woud. Paadjies kronkel tot op hoë spitse met wye seeuitsigte, en na donkerbruin poele tussen palmiet en dekriet waar naaldekokers oor die watervlak sweefhang terwyl bloureiers in stilte op ’n vis wag.

Klink dit na ’n onbereikbare plek, diep versteek in ’n wildernisgebied net vir ouens met 4x4’s of fikses? Nee, dié natuurreservaat is sommer op die Overberg se voorstoep en een van my en my gesin se gunstelingplekke.

Die reservaat is tussen Bettysbaai en Kleinmond. Jy draai van die R44 af op ’n 3 km-gruispad tot by die ontvangskantoor in ’n vallei. En ná skaars nog 1,5 km se stap laat jy die beskawing agter.

Tydens die nasionale inperking was daar twee kolle in dié 180 km²-reservaat wat ek veral gemis het: Sowat 5 km ver op die Palmietrivierroete lê ’n sandstrandjie langs die rivier omring deur die berge. Dis groot genoeg dat die kinders kan sandkastele bou. Heng, jy sou selfs ’n vlugbalwedstryd kon speel!

Die ander plekkie is op die 6 km lange Oudebosch-Leopard’s Gorge-roete, wat van die reservaat af oor die hange van Elephant Rock- en Plateau-berg na die Harold Porter- botaniese tuin loop. Bo-op die berg sluit ’n sytakkie uit die weste by die roete aan. In dié riviertjie lê ’n koel, donker poel. Ek kan nie wag om weer in dié poel te klim nie. Vir ’n oomblik slaan die yskoue water jou asem weg. Rondom jou is dit doodstil. Die enigste geluid is ’n Kaapse rivierpadda wat langbeen in die water plons.

Koste: Bewaringstarief R50 p.p. (Gratis met ’n Wild Card.) Teen druktyd was Kaapse Natuurbewaring-reservate oop vir stap.

Kontak: 087 087 8250; 028 271 5138; capenature.co.za

WAT NOG?

Ons het ’n paar nagte in die Tankwa- nasionale park se Perdekloof-kampterrein bespreek.

Die kampplekke is in die middel van nêrens, maar met die nodige luukses soos ’n eie opwasplek en badkamer met spoeltoilette en warm storte. 


In sy drome draf Pierre Steyn deur die...

GOLDEN GATE-HOOGLAND- NASIONALE PARK

Ek het oor die jare heen ’n truuk geleer om my te help slaap wanneer my kop ná middernag steeds maal: Ek dink aan die plekke waar ek al in my lewe gedraf het, en ek probeer elke kilometer van die omgewing in my gedagtes herroep. Baiekeer is dit die Twee Oseane-halfmarathon omdat ek die roete só goed ken. Die ritmiese slag van my voete en asemhaling maak my rustig, en teen die tyd dat ek Constantia se Southern Cross-rylaan by die 11 km-merk moet begin klim, is ek in droomland.

Maar as ek die oggend met ’n salige glimlag wil wakker word, draf ek voor droomtyd ’n 8-formasie deur die Golden Gate-Hoogland- nasionale park. Herfs is my gunstelingtyd van die jaar in die voue van die Malutiberg, diep in die noordoostelike hoek van die Vrystaat.

Volgende jaar in Maartmaand slaan ek in die skadu van die bekende Brandwagrots my tent op in die Glen Reenen-ruskamp (teen R265 vir ’n kampplek is dit verreweg die goedkoopste verblyf in die park).

My wekker sal my 5 vm. wakker maak. Die eerste kilometer is koud en steil, maar die sliert van ’n maan en die miljarde sterre bo my bied net genoeg lig om my bewus te maak van die enorme sandsteenkranse aan my linkerkant. Die skerp roep van ’n vleiuil skeur dalk deur die donker.

Foto: Willem van der Berg
Foto: Willem van der Berg

Ná drie kilometer is ek klaar geklim (vir eers) en ek mik links, weg van die hoofpad af in die rigting van die aasvoëlskuiling. ’n Harde gekug-kug uit die grasvlaktes wat nou weerskante van my lê, sal my in my spore laat vassteek. Dis okei, sal ek my troos. In die park is daar tog niks wat my wil vang nie. Dis net swartwildebeeste wat mekaar waarsku hier het nou iets eienaardigs deur hulle agterplaas gedraf.

Eers stadig, en dan al dringender word dit lig. Ná agt kilometer het ek die eerste lus van my 8-formasie voltooi, en die mooi van suurveld-grasvlakte en sandsteen lê oral om my.

Ek steek die R712 weer oor en begin klim, reguit op en dan die nek oor, daar waar sebras van die hoogste hange af terugstaar.

Nou is dit afdraand huis toe en as ek nog asem oor het, draai ek op 14 km af na die Langtoondam om grootstreepswaels te sien vergader. Van die dam af is dit nog 2 km met die grootpad langs terug Glen Reenen toe waar die Brandwag nou al son vang.

Ek kan nie wág nie.

Koste: Bewaringstarief R56 p.p. (Gratis met ’n Wild Card.)

Kontak: 058 255 1000 (Golden Gate); 012 428 9111 (besprekings); sanparks.org 

WAT NOG?
Ek wil terug Rhodes toe in die middel van winter wanneer die stoom soggens vroeg uit die Bellrivier opslaan en ek saans voor die kaggel in die Walkerbouts Inn se kroeg kan kuier. 


Toast Coetzer se kop staan hiérheen:

BLOUBERG-NATUURRESERVAAT

Ek hou van mense, maar ek is nie altyd lus vir hulle nie. Heimlik is dit een van die lekker dinge van die afgelope maande se inperking: minder mense. Ek sou eerder mense wou vervang met koedoes, en die wispelturigheid van beurtkrag met die betroubaarheid van ’n houtvuur, en die vervelige mure van my stadswoonstel met die silhoeëtte van bosveldbome, ver, ver van my huis af, in die Blouberg-natuurreservaat in Limpopo.

Dáár kan ek teen sononder by die Mashatu-kamp braaivuur aansteek terwyl ’n koedoe iewers naby takke breek met sy horings. Dáár gaan ek minder mense sien, en die volgende oggend die veld kan inry met die wete dat ’n byna vergete provinsiale park, wat met liefde en toewyding deur die veldwagter Johan van Wyk en sy span opgepas word, vir die dag omtrent net myne gaan wees.

Dié reservaat is 18 km noordwes van Vivo – sowat vier uur van Pretoria indien jy mooi ry. Die Blouberg self staan wes van die Soutpansberg bo die landskap uit en is bekend vir die kolonie kransaasvoëls van meer as 1 000 broeipare. Maar hier is ook buffels, swartwitpense en meer ongewone boksoorte soos rooiribbokke. Roofdiere sluit luiperd, rooikat en hiëna in. Een van die reservaat se strikkameras het selfs onlangs ’n rondloper-wildehond gekiek!

Boomliefhebbers gaan lank wil vertoef: Behalwe die paar groot kremetartbome is hier ook ’n wildevywoud waar jy op ’n kort wandelpad dié reuse met ’n palm teen die stam kan gaan groet.

Koste 

  • Dagbesoekers: R50 p.p.; R25 vir kinders.
  • Molope-kamp: R270 p.n. vir 2 mense, R90 per ekstra persoon, R45 per ekstra kind.
  • Modumele Wilderness: (1 eksklusiewe kampplek geen krag, puttoilet): R340 p.n. vir tot 2 mense, R160 per ekstra persoon, R80 per ekstra kind (slaapplek vir 10).
  • Tamboti-tentkamp met gemeenskaplike ablusie: R850 p.n. vir 4 mense (slaapplek vir 8), R160 per ekstra persoon, R80 per kind.
  • Mashatu-selfsorghuis: R950 p.n. vir 4 mense.

Kontak: 073 068 3180 (Shadrack); bloubergreserve.co.za

WAT NOG?
Wanneer jy nie in Namibië mag kuier nie, is die naaste, beste plek aan ons kant van die draad sekerlik die Richtersveld. Hierdie klipwoestyn is perfek vir diegene wat smag na stiltes, ruwe rante en kokerboomkimme. Sien jou daar!


Marcelle van Niekerk verlang na die...

SANDDRIF-VAKANSIEOORD, SEDERBERG

Jillende kinders speel touchies op ’n oop stuk veld terwyl die grootmense naby hulle kampstoele om ’n knetterende braaivuur uitpak. Dís Sanddrif.

Ons uitgebreide familie bespreek dikwels vir ’n Paasnaweek twee of drie van hulle knus kothuise wat ’n entjie weg van die touchies-veld staan. Soms moet ons ’n jaar vooruit bespreek, want Sanddrif is baie gewild. Maar ’n mens verstaan ook hoekom – hier is vir elkeen iets te doen: Ywerige stappers kan mik na die Wolfbergskeure en -boog (uit en tuis sowat agt uur se stap).

Hierdie gewilde dagstap lei jou op, en nog óp, om die rand van kranse, deur smal klipgange, tot binne-in die bekende skeure waar jy jou vergaap aan hoe hoog die rotswande alkant opstrek. Stap anderkant die skeure aan tot by die Wolfbergboog en word beloon met ’n uitsig oor die ganse Sederbergreeks. G’n van die Netflix-reekse wat ek tydens inperking deurgedraf het, se tonele kan hierby kers vashou nie!

Vir ’n korter staproete na ’n ewe indrukwekkende rotsformasie, kan ’n mens by die Maltese Kruis (vier uur se stap) gaan piekniek nou. En wanneer jy weer lekker tam terugkom by jou kothuis, wag Sanddrif se Maalgate net ’n kort entjie se stap weg vir jou om ’n bommie te kom maak!

In my verbeelding is dit nou vroegoggend. Ons het by die plaaswinkel varsgebakte brood bestel.

Iewers roep ’n bobbejaan, en dit is amper tyd om my veters te knoop vir ’n bieliestaptog...

Koste

  • Kamp: R320 p.n. vir 4 mense, R80 per ekstra persoon.
  • Selfsorgkothuis: R1 360 p.n. 4 mense, R340 per ekstra persoon, R220 per kind.
  • Stappermitte Wolfbergskeure: R70 p.p. (R40 per kind).
  • Wolfberg-skeure én -boog: R100 p.p. (R60 per kind).
  • Die Maltese Kruis: R70 p.p. (R40 per kind).
  • Maalgate: R40 p.p vir dagbesoekers (R25 per kind) en gratis vir oornaggaste. Dagbesoekers word nie toegelaat oor langnaweke en skoolvakansies nie.

Kontak: 027 482 2825; sanddrif.com; capenature.co.za

WAT NOG?
Onderneem ’n daguitstappie na Kaappunt in die Tafelberg- nasionale park vir ’n blik oor die Atlantiese Oseaan wat só blou voor jou uitstrek dat jy – as die wind nie waai nie! – ure hier kan vertoef. Onthou jou kamera! 
Foto: Ronel Steyn
Foto: Ronel Steyn


Martinette Louw wens sy was nou in die...

KGALAGADI-OORGRENSPARK

Ek het tydens die nasionale inperking – wat ek in my grootworddorp, Upington, deurgebring het – gereeld oor ’n wildkykrit in die Kgalagadi-oorgrenspark gedagdroom: Voor my geestesoog kon ek sien hoe ek by die Twee-Rivieren-ruskamp se vulstasie aftrek om my banddruk te verlaag, my selfoon afskakel en my verkyker uithaal. Ek wou met alle mag die duineveld invaar en van al die stres en onsekerheid wegkom.

Die Kgalagadi lê in die boonste hoekie van die Noord-Kaap, sowat 255 km van Upington af, en is bekend vir sy rooi duine, groot katte en troppe springbokke, blouwildebeeste en gemsbokke.

Die lewe in die park wentel meestal om die droë lope van die Auob- en die Nossobrivier, en die twee duinepaaie wat die twee verbind. As jy die rivierlope en paadjies op ’n kaart natrek, val die mooi name van die watergate en kampe jou op: Kij Kij, Kieliekrankie, Gnus Gnus, Gharagab...

Ek hou daarvan om stadig langs die rivierlope aan te kruie met net die knars van die bande op die gruispad vir geselskap. Rol jou ruit effens af en jy hoor dalk die skor kraak-kraak van ’n witvlerkkorhaan of die dreunende roep van ’n gompou. Loer skuins oor die kantspieëltjie vir spore in die sand en trek jou oë op skrefies om elke skadukol te fynkam – wat staan daar anderkant? ’n Koedoe of ’n klip?

As jy gelukkig is, sien jy dalk hoe ’n jagluiperd haar welpies touwys maak in die Auob-rivierbedding, of ’n leeu brul jou wakker in jou tent in die Nossob-ruskamp.

Maar die park skitter ook in sy kleiner oomblikke: ’n Rooijakkals wat duiwe by die Cubitje Quap-watergat jag, die roep van ’n reuse-ooruil in die Twee-Rivieren-ruskamp, ’n knetterende kampvuurtjie terwyl blafgeitjies in die verte roep...

Koste: Bewaringstarief R96 p.p., R48 per kind (Gratis met ’n Wild Card.)

Kontak: 054 561 2000 (Twee-Rivieren); 012 428 9111 (besprekings); sanparks.org

WAT NOG?

Ek wil in die Augrabies-waterval- nasionale park se Oranjekom-kothuis oorslaap. Dié oopplanhuisie sit alleen op die rand van ’n diep ravyn sowat 10 km van die ruskamp af.

As die park se hekke saans sluit, is dit net jy, die Oranjerivier doer onder en die sterre doer bo. 


Kyra Tarr wil ’n bietjie asem skep langs die...

SANIPAS

Wanneer ’n mens by The Highest Pub in Africa (2 874 m bo seespieël) die eerste teug van ’n Maluti-bier vat, voel jy sommer jy het dit verdien. Want om hier uit te kom moes jy eers die Sanipas baasraak – ’n rit waar jou hart telkemale uit jou borskas uit wil bons!

Dié 10 km lange optog deur ’n strook niemandsland uit KwaZulu-Natal tot in die bergkoninkryk van Lesotho geskied langs die steilste 4x4-roete in ons land. Knap draaitjies swenk hulle weg in ’n vallei op en die padoppervlak is plek-plek só smal ek het al gesien hoe minibustaxi’s met ‘n swaargelaaide dakrak om elke kinkel omtrent ’n driepuntdraai moet uitvoer om bo te kom!

Foto: Willem van der Berg
Foto: Willem van der Berg

In die somer kan die pad modderig en seepglad raak; en in die winter is die temperature weer genadeloos, maar dan sien ’n mens uit jou motor watervalle wat soos glinsterende linte teen die landskap se kaalgestroopte kontoere geys het.

Wanneer ons weer mag ry, gaan ek by die veilige aftrekplek sowat halfpad vir my pa vra om stil te hou. Ek gaan uitklim en vér kyk. Die afgelope paar maande voel dit asof ’n mens heeldag net teen ’n skerm vaskyk: vir werk, vir sosiaal wees en series kyk.

Maar daai dag gaan ek die lyn van die draak se rug volg tot doer onder waar dit ingeweef word in die tapisserie van valleie wat so ver as wat die oog kan sien, opmekaar volg. Dan gaan ek omdraai en opkyk – na daardie kolossale sandsteenkranse wat net aanhou boontoe beur, na ’n spits ver buite die bereik van jou verbeelding.

Die pas se laaste paar draaie lyk soos ’n konsertina en jy begin bid dat jou ryding in ’n parmantige bergbok verander. Maar dan is jy uiteindelik bo en nádat jou paspoort (ja, onthou tog om dit saam te neem!) by die Lesotho-grenspos gestempel is, kan jy ontspan. En oorstap kroeg toe. En daai bier (of iets sterkers) bestel. Van die dek af het ’n mens ’n uitsig oor die ganse pas. Jislaaik, het ons regtig dáár opgery?

Nie ’n 4x4 nie? Bespreek ’n Sanipas-dagtoer by Major Adventures (R925 p.p., halfprys vir kinders) Afslag geld vir groepe van meer as 4.

majoradventures.com 

WAT NOG?

Ek het heeltemal te lanklaas by Injisuthi in die Sentraal- Drakensberg gaan voetslaan. Dis ’n lekker bestemming vir ’n meerdagstap tot bo-op die plato.

’n Mens kan jou kar by die oord los; onthou net om die bergregister by die kantoor in te vul voordat julle die pad vat. 

Foto: Lawrette McFarlane
Foto: Lawrette McFarlane


François Haasbroek wil gaan stilte soek by...

DIEPWALLE

Ek hou nie van groot groepe mense nie. My kop staan altyd eerder gramadoelas toe as ’n bedrywige oord by ’n stranddorp. Ek wil eerder berg-, veld- of bos-in verdwyn. Sodra ons weer enige rigting mag inslaan, mik ek reguit na Diepwalle in die Knysnawoud. Ek mis die klam reuk van kreupelbos onder die digte blaredak, en die gekabbel van water wat lyk soos rooibostee.

Dis altyd die moeite werd om by dié bosboustasie in die hart van die Knysnawoud te draai as jy in die Tuinroete kuier. Hier is ’n klein teetuin en ’n museum waar jy meer leer oor die geskiedenis van Dalene Matthee se houtkappers en die grootvoete wat steeds in die woude wegkruip. Jy kan selfs by die Diepwalle-kwekery ’n paar inheemse plante koop.

Ek wil ook in die bos kamp. By Diepwalle is vier dekke op die randjie van die bos waar jy jou tent kan staanmaak. Hier’s kragpunte, ’n afdak en ’n vuurmaakplek.

Die afdak is vir reën, nie vir skaduwee nie – daarvoor het jy die woud se blaredak. En as ’n mens die dag nie lus is vir kosmaak nie, gaan sit jy aan vir ’n kerrievetkoek by die teetuin.

Van Diepwalle af kan jy ’n paar plekke verken: Knysna en Noetzie is sowat ’n halfuur weg. Die Jubilee Creek-piekniekplek, Millwood en die groot boom vernoem na Dalene Matthee is ook naby.

Maar as ek by Diepwalle afsaal, klim ek nie weer in my kar nie. Ek en my vrou, Marilize, en ons eenjarige dogtertjie, Essie, sal dalk die Elephant Trail stap, ons nekke rek vir die hoë stinkhout- en geelhoutbome en in rivierpoele swem.

Eintlik wil ek net op die dek sit en luister na bosgeluide. Hoe wonderlik gaan dit nie wees om iets anders te hoor as die kolganse en hadidas van die Kaapstad se noordelike voorstede.

Koste

  • Bewaringstarief: R38 p.p., R19 per kind (gratis met ’n Wild Card). 
  • Kamp: vanaf R230 p.n. vir 2 mense, R94 per ekstra persoon, R47 per kind.

Kontak: 044 302 5606 (Tuinroete- nasionale park); 012 428 9111 (besprekings); sanparks.org

WAT NOG?
Wanneer die inperking gelig word, gaan dit waarskynlik reeds strandweer wees. Kaap Vidal voel vir my soos ’n buiteposstrand; wild en ver. 



Sophia van Taak mis die gevoel van die...

KRUGERWILDTUIN

In die Covid-19-wêreld is ’n mens se dae saai en lyk die vooruitsigte maar vaal. Daarom wens ek my terug in die Kruger. Want in die Kruger kan énigiets gebeur. Die een oomblik staan ’n rooibok nog en dagdroom met ’n klontjie gras in sy kies, dan gee sy makker ’n wekfluit en alle hel bars los!

Daar heers pal ’n afwagting wat jou heeltemal beset. Dalk het die ligging – reg aan die noordelikste einder van ons land – ook iets daarmee te doen: Die Kruger het steeds daardie onvoorspelbare grensgevoel wat jy op ’n uiterste plek ervaar.

Ek sê nie sulke belewenisse is nié in ander reservate te vind nie. Maar die Kruger het klas, karakter en waardigheid. Terwyl ’n mens in die Kruger is, praat jy bykans net oor Krugerdinge: “Het julle laasnag die leeus gehoor?”, “Watter kant toe ry julle vanoggend?”, “Hulle sê die wildehonde het vanoggend nét buite Pretoriuskop se hek ’n jong waterbok platgetrek!” (Dink net hoe lekker sal dit wees om vir ’n slag nié oor Die Virus te gesels nie.)

ESMA MARNEWICK

En my gunsteling: Wanneer jy by ’n opeenhoping stilhou en jou nek rek, maar steeds nie kan uitmaak waarna almal kyk nie, en ’n vreemdeling in die motor langsaan hang so ’n bietjie by sy venster uit en fluister: “Kyk net regs van die gebrande mopanie, daar sit ’n breëkoparend ’n luislang se derms en uitryg.” Of so iets.

In die Kruger gee jy nie om vir vroeg opstaan en in die ysige oggendkoue met afgedraaide ruite rond te kruie nie. Dis ’n plesier om heeldag in ’n motor deur te bring en in fluisterstemme te praat.

En leeus wat in die middel van die pad ’n skadukol gekry het en die verkeer ure lank ophou, is ’n hoogtepunt. Want sien, in die Kruger gaan dit nie meer oor ons, die mense, nie. Hier is ons die verveligste spesie. En dít kan ons nie skeel nie. Om die waarheid te sê: Wanneer ’n mens in die Kruger is, kan niks jou werklik skeel nie.

Koste: Bewaringstarief R100 p.p., R50 per kind (Gratis met ’n Wild Card.)

Kontak: 012 428 9111 (besprekings); sanparks.org

WAT NOG

Ek sal graag uit die stad wil wegkom om ’n “veldkerk” se aanddiens by te woon.

Bykans enige klip of koppie in die Karoo kan só ’n veldkerk wees – daar waar jy met die laaste skaap se blêr alleen ’n ent bossies-in stap om te gaan sit en kyk hoe die dag kwyn, die maan kom gesig wys en daardie onnoembaarheid van ’n groot oopte jou gemoed vul. 

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook