Kamp
Kaart

Visvangoord

UITHOEK-VAKANSIEOORD

Vis en veld

Die Oos-Vrystaat is seker die bekendste wegkomplek in dié provinsie, en dit is waar ’n nuwe kampplek op die been gebring is. Die Uithoek-vakansieoord lê tussen Fouriesburg en Bethlehem en is nét die plek om ’n stukkie vrede in die natuur op te soek.

Die kampplek lê aan die noordelike voet van die Ventersberg, en jy ry die kampplek binne met ’n netjiese plaveipad. In die middel van die kampplek, tussen die staanplekke, is twee ablusieblokke.

Dit is sandsteenwêreld dié, en ’n mens sien dit ook as jy na die badkamers kyk, want dit is met soliede blokke gebou. Hier is ook warm water en ’n opwasplek.

Die swembad is op die verste punt en hier is ook drie lapas vir koelte. Die kampplek self is een groot grasperk met verskeie mooi koeltebome.

Elkeen van die 60 afgebakende staanplekke is 12 x 12 m groot en het sy eie driepuntkragpunt, kraan en losstaande braaier.

Links van die kampterrein is twee damme. Dit is hier waar jy kan kyk of jy ’n swartbaars of karp kan uittrek, maar onthou, die vis moet teruggegooi word. Die damme se watervlak is afhanklik van die reënval, wat beteken dit is beter om in die somermaande lyn nat te maak. As die visse effens traag is, kan jy aan jou dryfhoue skaaf. In die middel van die eerste dam is ’n eiland met ’n gholfputjie. Jy hoef darem nie jou gholfstel saam te piekel nie, want die oordmense sorg vir ’n stok en balle.

As jy deur die plaashek is, is die kans goed dat jy wilde diere gaan sien – dié vlaktes is natuurlik swartwildebeeswêreld, maar jy kan ook springbok, volstruis, gemsbok, waterbok en sebra te wagte wees.

Buiten hengel en wildkyk is hier meer as genoeg om jou besig te hou. Stap die rantjie uit op een van die twee staproetes of spring in jou veldryer en durf die 4x4-roete aan. Jou voertuig moet laestrekratte hê en die rit neem sowat 1½ uur. Terwyl jy in die veld is, hou sommer jou oë oop vir die omgewing se spesiale voëls – dalk sien jy die statige mahem of die hadida se skaars broerskind, die kalkoenibis.

Vir die meer avontuurlustiges is hier ’n kabelglybaan met bane wat altesame 1,1 km lank is. Dit kos R500 p.p. en sluit die rit berg toe en terug in.

Kortliks | Uithoek- vakansieoord

Vis: Swartbaars en karp.

Kampplek: 60 staanplekke op ’n grasperk met heelwat koeltebome.

Ablusiegeriewe: 2 netjiese badkamergeboue tussen die staanplekke.

Prys: R100 p.n. per staanplek plus R100 p.p.p.n.

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00.

Kontak: 072 660 0840 of 079 525 0401; uithoek.com; info@uithoek.com

Naaste dorp: Fouriesburg 11 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 2,5 km is ’n skaflike grondpad waarop jy ’n gewone padwa kan sleep.

GPS: S28.542495 E28.213146

Ry & Sleep Honde van 15 kg en minder word hier toegelaat.

HENGELTOERUSTING

Hou kop met jou aas

Min dinge is so frustrerend as om jou aas te verloor wanneer jy ingooi. Jy ken daai gevoel... jy het pas die sardyn of makrielkop netjies aan die hoek, en met die ingooi trek die hoek en sinker soos ’n bom... maar die aas kom los en dis die einde van jou gooi.

Een oplossing hiervoor is die Dingle Dangle, wat ontwerp is om saam met ’n sirkelhoek gebruik te word. Jy kan dit as ’n verlenging beskou van die hoek waaroor die aas pas, én daar’s ’n deel waaraan ’n sinker kan inhaak.

Twee soorte is beskikbaar: die een is ’n kaal draad met ’n lussie aan die een kant wat oor die weerhaak van die hoek pas, en die ander het ’n dobbergedeelte oor die draad sodat die aas nie op die bodem lê nie, maar effens hoër wegdryf daarvan.

Die hoek self is dus omtrent heeltemal oop en gereed om sy werk te doen as die vis byt. Laasgenoemde is in vier groottes beskikbaar en nommerpas vir enigiets van kabeljou tot haaie.

Die kleiner soort werk goed vir aas soos viskoppe – harder of makriel – en het uiteraard ’n kleiner vlotvermoë as die groter weergawes. Omdat die aas aan die Dingle Dangle vasgemaak is, kan jy dieselfde aas heelwat verder gooi as op die konvensionele manier.

Die Dingle Dangle is ook sterk genoeg sodat dit met die trefslag met die water nie aan flarde skiet nie.

Prys: Vanaf R35 per pakkie (wat wissel van 3 to 10 Dingle Dangles, in verskillende groottes).

Beskikbaar by hengelwinkels landwyd en in Namibië.

Kontak: Adrenalin Importers & Distributors (invoerders); 021 982 1510; catches@4adrenalin.co.za; adrenalinfishing.co.za

SWARTMOSSELS MET KNOFFELROOMSOUS

Resep: Johané Neilson; Foto: Ed O’Riley

’n Mosseltjie vir voorgereg

Maak die mossels goed skoon en verwyder die baard – indien nie, beland daar dalk ’n sandkorrel of drie in die pot.

Jy benodig

(genoeg vir 4 as voorgereg)

  • 300 ml droë witwyn
  • 1,5 kg vars swartmossels, skoongeskrop en baard verwyder
  • 3 eetlepels knoffelbotter
  • 1 eetlepel olyfolie
  • 1 klein witui, fyngekap of gerasper
  • 1 teelepel meel (opsioneel)
  • 1 koppie room 1 suurlemoen
  • 1 ciabatta, in skywe gesny

Só maak jy

1. Gooi die wyn in ’n swartpotjie en verhit dit tot kookpunt. Voeg al die mossels by, sit die deksel op en stoom dit vir 5-6 minute tot al die mossels oopgegaan het – gooi dié weg wat nie oopmaak nie.

2. Skep die mossels uit en behou 1 koppie van die kookvloeistof. Breek die mossels oop en pak die skulpe met die mossels plat in ’n vuurvaste skottel – gebruik sommer foelie as jy nie skottelgoed wil vuilmaak nie.

3. Smelt die knoffelbotter en olie in ’n skoon potjie en soteer die ui stadig tot sag en glansend. Roer die meel by as jy van ’n dikker sous hou en braai dit vir ’n minuut.

4. Klits die koppie kookvloeistof by – ’n vurk werk net so goed as jy nie ’n  ballonklitser het nie – gevolg deur die room. Geur die sous na smaak met gerasperde suurlemoenskil en prut dit oor lae hitte tot dik, gaar en geurig. Proe en geur dit na smaak met sout en peper.

5. Drup die sous oor die mossels – moenie skaam wees nie! – en verhit die bord weer oor die kole as dit dalk te veel afgekoel het. Geniet die mossels saam met suurlemoenwiggies en ’n lekker sny ciabatta.

Ry & Sleep sê
Die mossels is net die antwoord vir ’n heerlike deelbord langs die kampvuur.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook