foto’s Evan Naudé
Kaart
Kaart

Die Klein-Karoo is een van ons land se beste langpadbestemmings. En met reg ook, want die bekende R62 vat jou verby oulike plattelandse dorpies, oor indrukwekkende bergpasse en deur uitgestrekte landskappe. Dan is daar boonop ’n netwerk van grondpaaie wat veel minder verkeer sien en vir jou om elke draai ’n ander gesig van die Klein-Karoo wys.

Langs die pad is daar selfs ’n natuurreservaat en ’n paar lekker gasteplase met kampplekke en 4x4-roetes waar jy in afsondering kan afsaal. By sommige van hulle is daar geen sprake van ’n selfoonsein nie.

As jy dus behoorlik wil wegkom en toegelaat word om jou te isoleer van die samelewing, is dié agterpaaie nét die regte medisyne.

Só ry jy

Draai 23 km buite Touwsrivier van die N1 af en ry suid met die R318 in die rigting van Montagu. Bly vir nagenoeg 27 km op die R318, tot net voor die Rooihoogtepas, voor jy afdraai op die Nougaspoortpad aan die linkerkant. Dié grondpad neem jou verby Leeuwenboschfontein, ’n ou gunsteling onder veldryers.

Hier is ’n 4x4-roete van 20 km waarop jy die omliggende berge verken, sowel as ’n hindernisbaan digby die kampeerplek.

’n Hanetree verder in die pad af (8,5 km) is die Gecko Rock- private natuurreservaat. Hier kan jy kamp en een van die twee veldryroetes verken.

Die rustige Bothashoekroete (12 km) kan jy sonder 4x4 pak, terwyl die meer uitdagende Seattle Trail jou tot by ’n uitstekende uitkykpunt bo-op die berg lei.

Ry anderkant Gecko Rock nog 20,5 km oos tot by die T-aansluiting met die P1432-grondpad. Draai hier links en ry 10,5 km tot by die volgende T-aansluiting, waar jy regs draai. Die westelike ingangshek na die Anysberg-natuurreservaat is 2 km hiervandaan. Dié reservaat van 790 km2 lê in ’n uitgestrekte vallei tussen die Kaapse Vouberg.

Vat jou tyd hier en wees op die uitkyk vir sebra, koedoe, gemsbok en eland. Bring ’n verkyker, want die reservaat het minstens 180 voëlspesies.

Die agterpaaie van die Klein-Karoo verras jou met ongerepte landskappe, ’n ryk dier-, voël- en plantlewe en in die winter selfs ’n bietjie sneeu op die bergspitse.

Min of meer in die middel van die reservaat is vyf kampplekke en vyf chalets met ’n lekker groot plaasdam waar jy op ’n warm Karoodag kan afkoel.

Buiten stap-, bergfiets- en perdryroetes het Anysberg ook ’n 4x4-roete, die Tapfontein-sirkelroete (21 km). En as jy behoorlik van die samelewing wil ontsnap, kan jy by Tapfontein oorslaap in een van vier weggesteekte wendyhuise. Dié huisies is slegs met ’n 4x4-voertuig bereikbaar.

Van Anysberg se kampplek af is dit 22 km tot by die oostelike hek. Draai buite die hek regs en mik oor die Klein-Swartberg- en Outolpas in Ladismith se rigting.

Sowat 36 km van die Anysberghek af kry jy die afdraai vir die R323 na Barrydale. Hou hier regs, maar hou jou oë oop vir ’n afdraai, weer na regs, skaars 4 km verder. Feitlik onmiddellik nadat jy afgedraai het, vurk die pad – hou links. Dié grondpad vat jou 10 km suidwaarts deur die Grootriviervallei tot by ’n aansluiting met die R62.

Ry reguit oor die teerpad en hou jou bakkie se neus suid vir ’n verdere 13 km tot jy weer by die R323 uitkom. Draai hier regs, in die rigting van Riversdal. Dit is teer vir 15 km tot by die Matjiesrivier-afdraai na regs. Hier vat jou wiele weer grondpad en jy kruis die Brandrivier vóór jy 15,5 km verder by ’n T-aansluiting kom.

Draai regs, maar soek dadelik die afdraai na links vir die Gysmanshoekpas. Dit is in die Boosmansbos-bewarea, ’n gebied met heelwat skaars fynbossoorte.

Volg die kronkelende pas suidwaarts oor die Langeberg. Aan die bopunt het jy ’n panoramiese uitsig oor die Tuinroete – op ’n mooi helder dag kan jy selfs die see sien. Van hier af sien jy ook jou eindbestemming, Heidelberg, langs die N2.

Wat jy moet weet

Hoe lank? Ongeveer 300 km (4x4-roetes uitgesluit); 6-8 uur.

4x4 / laestrek / ewenaarslot? Jy sal regkom met slegs 4x4.

Maksimum getal voertuie: Geen.

Kry ek ’n kaart? Nee, maar die paaie is duidelik op Tracks4Africa en Google Maps.

Sal my voertuig krap? Nee.

Moet ek my treeplanke afhaal? Nee.

Moet ek ’n kompressor saamneem? Dis nie broodnodig nie, maar jy wil tog jou bande effens afblaas vir grondpadry. Daar is vulstasies met kompressors op Touwsrivier, Ladismith en Heidelberg.

Kan ek halfpad omdraai? Ja.

Is daar selfoonsein? Grotendeels, ja, maar in die Anysberg-reservaat en die agterpaaie rondom die Gysmanshoekpas verdwyn die sein.

RONDOM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan? Herfs en lente wanneer die temperature matiger is.

Kan ek my gesin saamneem? Ja, beslis.

Net vir die dag of die naweek? Kom vir die naweek sodat jy genoeg tyd het om die streek te verken.

Is daar ablusiegeriewe op die roetes? Die roete is meestal op afgeleë agterpaaie. Net gasteplase en natuurreservate het ablusiegeriewe.

Wat kos dit? Gratis; hierdie is openbare paaie.

Kontak

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook.