Weg se reis is moontlik gemaak deur Hi-Tec, Trappers en Canon

“As jy ver wil reis, reis lig” is ’n ou sêding waarvan rugsakstappers die waarheid goed besef. As jy die legendariese vier-dag-roete na Machu Picchu aandurf, sal jy aan die waarde daarvan herinner word.

Die Peruaanse regering vereis sedert 2002 dat stappers via ’n goedgekeurde agentskap vir die staptog registreer. Jy kan nie jou toegangsgeld betaal en “jou eie ding doen nie”. Al hierdie agentskappe bied ’n volledige (en semi-luukse) diens aan: Portiere om die vrag te help dra en die kamp op te slaan, sjefs wat maaltye kook, en gidse wat jou langs die pad bystaan. Dis manna uit die hemel!

Flight Site in Suid-Afrika het vir my ’n plek in ’n groep van Intrepid Travel bespreek, en die diens was puik. 

“As jy ver wil reis, reis lig” is ’n ou sêding waarvan rugsakstappers die waarheid goed besef.
Inka
Met sole wat kan vastrap.

Dinge waarmee ek my misgis het 

Ek het al meer as een keer die Camino gestap en was gewoond daaraan om op die Camino smiddae my hemp en onderklere uit te spoel en die volgende dag dieselfde stel weer te dra. Op die Inka is jy egter langer ure op die pad, en saans is die lug vogtig. Vergeet dus van goed uitspoel. Jy sukkel om enige klam ding droog te kry, en snags bibber jy. 

Inka
My dagrugsak is 'n Terra Firma van Trappers.
Inka
Die rugsak móét 'n reënoortreksel hê.

Jou agentskap sal die volgende vir jou reël:

  • Toegang tot die Inka-staproete (slegs 200 stappers per dag word toegelaat)
  • ’n Tent en dun matrassie
  • Al jou maaltye
  • Ablusiegeriewe

Jou agentskap kan ook reël (teen ekstra betaling):

  • ’n Slaapsak wat geskik is vir minus-temperature
  • Stapstokke

Die portiere dra elke dag vir jou die volgende:

  • Jou tent en matrassie
  • Die gemeenskaplike eettent, tafels en stoele
  • Ablusietente
  • Al die kos
  • ’n Toksak met 6 kg van jou persoonlike items – hierdie 6 kg moet egter jou slaapsak insluit. (Dus: Hoe swaarder die slaapsak, hoe minder klere kan jy neem.) 

Jou paklys

  • ’n Skoon hemp per dag (myne was almal van Hi-Tec
  • Langmou-T-hemp (ook van Hi-Tec)
  • Twee broeke (een aan die bas, een in die tas)
  • Onderklere vir vyf dae
  • Reënbaadjie 
  • Vliesstofbaadjie (ek het Hi-Tec se Lady Orion-3-in-een-baadjie ingepak. Die voering van die baadjie kan as ’n aparte vliesstofbaadjie gedra word. Dit het fantasties gewerk.)
Inka
Hi-Tec se Lady Orion kan as twee aparte baadjies gedra word.
Inka
Die buitelaag is 'n goeie reënbaadjie.
Inka
Die kappie vou weg in die nek.
Inka
Die baadjie het 'n hoë gradering vir waterdigtheid.
      
  • Stapkouse
  • Hi-Tec Altitude-stapstewels – jy stap oor skerp klippe en teen steil op- en afdraandes. Dis regtig die soort roete waarvoor jy stewels nodig het. Die skoene moet waterdig wees en jou enkels beskerm op ongelyke terrein. Ek verkies dit om in stewels te stap, maar as jy ’n tekkiestyl skoen verkies, kies steeds iets met ’n stewige sool wat jou op gladde oppervlakke vastrap sal gee. Hi-Tec het ’n Camino-versameling ontwikkel wat iets vir elke smaak, geslag en begroting insluit. Ek het al met die meeste van hierdie skoene geloop en is gemaklik daarmee om dit vir ’n Inka of ’n Camino aan te beveel. 

Hi-Tec Altitude en Ula-sandale.
Inka
Met sole wat kan vastrap.
  • Plakkies vir die kampterrein – ek het Hi-Tec se Ula-sandale ingepak 
  • Nekserp (“buff”) 
Inka
Jy het 'n breërandhoed en mus nodig
  • Breërandhoed 
  • Mus (“beanie”) 
  • Lang-onderbroek en frokkie (ek het sommer daarin geslaap)
  • Badsakkie (onthou die oorpluisies)
  • ’n Slaapsak-voering (veral as jy ’n slaapsak gaan huur)

Bedags het ek my Terra Firma-rugsak van Trappers by my gedra. Die rugsak het sy eie reënoortreksel, wat onder agter ’n ritssluiter weggevou kan word.

Die Terra Firma is 30 + 5 liter groot, wat beteken die sak het ’n kompartement wat jy kan ooprits vir ekstra pakplek. Op die heupband is twee sakkies, waar jy pleisters en lekkergoed byderhand kan hou.   

Inka
Waterdigte sakkies soos hierdie kos R16-R39 by Dis-Cem.

Items in jou dagsak:

  • Jou paspoort (in ’n waterdigte plastiekomhulsel)
  • Sonbrandroom
  • Insekweerder – Intrepid se lys het gevra vir “tropical strength insect repellant” (die muskiete pak jou bedags)
  • Medikasie 

   - Gaan spreek jou dokter oor middels teen hoogtesiekte

   - Imodium

   - Pleisters

   - Rehidrasiemiddel

   - Room vir seer spiere

   - Pynmiddels

   - Buscopan of iets vir maagkrampe – ’n simptoom van hoogtesiekte

   - Antiseptiese handewasmiddel

   - Weggooi-lappies (“wet wipes”) vir jou lyf 

  • Versnaperinge 
  • Waterbottels – die Peruaanse regering verbied weggooi-plastiekbottels op die Inka.
  • Notaboek en pen
  • Kontant vir noodgevalle
  • Speelkaarte (ons groep het saans kaart gespeel)
  • Toiletpapier (hulle noem dit witgoud om ’n rede...)
  • Plastieksak vir vullis (alles wat jy saamneem op die berg, moet jy terugneem)
  • Koplig (veral vir die toilette snags) 
Inka
Die Canon M50

Tegnologie by my: 

  • Canon M50, met ’n 18-150 mm-lens (ekstra battery, kamerakaarte in die sak). Ek het hierdie kamera al in September in Spanje gebruik en is versot daarop. Dit is lig genoeg dat dit heeldag om jou nek kan hang.
Inka
Die CAT S41 kan ook as 'n kragbank ingespan word.
  • Selfoon – ek het die CAT S41 geneem omdat die foon ook as ’n kragbank gebruik kan word. Die foon kan dus my Suunto-oefenhorlosie laai.
  • Suunto Spartan-GPS-horlosie (om my roete en stats vas te lê). Myne kom van Trappers af. Dit was veral nuttig om die hoogte bo seespieël dop te hou.
Inka
My Suunto Spartan kom van Trappers af.
Inka
Die Suunto Spartan wys hoogte bo seespieël

Onthou:

  • Jy is op ’n berg. Daar is geen winkels langs die pad nie. Moenie afskeep op jou noodhulpsakkie nie.
  • Daar is geen kragpunte (en uiteraard geen wifi) in die kampe nie. As jy iets moet laai, moet jy ’n kragbank (“powerbank”) inpak. 
  • Intrepid het voorsiening gemaak dat jy ’n sak/tas by die hotel kon los. Ek het dus my ekstra vakansieklere uitgepak en nét die allernodigste saamgeneem.
Inka
Moenie baie goed inpak nie

Goed wat ek ingepak het, wat onnodig was:

  • Ek is vol kosfiemies en het sakkies met proteïenryke kosaanvullings saamgeneem. Dit was heeltemal onnodig. Die kos is fantasties en die maaltye word beplan met die oog op stappers. (Plaatkoekies met karamelstroop vir ontbyt; sop met noedels of quinoa in; steak-repies en aartappel; gebakte vla. Jy kan nie glo wat daardie sjefs in die berge kan optower nie.)
  • Ek het hopeloos te veel versnaperinge ingepak. Jy kry 3 stewige maaltye bedags, en die sjefs deel soggens sjokoladestafies, vrugte en neute uit vir die dag. Jy het regtig nie baie ander eetgoed nodig nie. Ek vermoed ek is die eerste een wat die Inka gaan stap en gewig aangesit het.
Jy kan nie glo wat daardie sjefs in die berge kan optower nie.

  • Ek is kameraverslaaf en het twéé ekstra Canon-batterye ingepak vir die Canon M50. Jy sal dit nie glo nie, maar ek het  met die oorspronklike battery by Machu Picchu aangekom! Die litiumbattery het 5 dae en meer as 500 foto’s gehou! Maar ... as ek weer stap, sal ek wéér ’n ekstra battery inpak. Jy kan nie daarmee kanse waag nie. 
  • Ek het watersuiweringstablette ingepak, maar ons sjefs het saans vir ons water gekook wat ons die volgende dag in ons bottels kon gooi. Ek het dus nie myne gebruik nie, maar dit weeg enkele gramme en kan jou uit die nood red as jou sjefs dit nié doen nie.

Weg se reis is moontlik gemaak deur Canon, Trappers en Hi-Tec. Alle foto’s is met die Canon M50 geneem.