Wanneer diere deur die veld beweeg, los hulle tekens dat hulle daar was. Om hierdie “leidrade” te lees voel ’n bietjie soos om speurder te speel. As jy weet waaroor elkeen gaan, kan jy uitwerk wat gebeur het kort voor jy op die toneel gekom het en op ongelooflike natuurwonders afkom. Hier is ’n paar wenke om die geheime van die bos te ontrafel…




1. Mis

Een van die voor die hand liggendste “leidrade”wat ’n mens sien terwyl jy rondry, is mis in ’n verskeidenheid vorms en groottes – van enorme bolle olifantmis tot die klein kutteltjies wat ’n trop rooibokke agterlaat. Vars mis is gewoonlik klam met ’n reuk – dit kan aandui dat die diere nog naby is. Gebruik jou oë en neus om die diere op te spoor wat op die spesifieke plek gemis het. ’n Goeie veldgids met illustrasies sal jou help om die verskillende soorte mis te identifiseer.


2. Spore

Dít is volgende op die lysie van voor die hand liggende tekens. ’n Mens kan dierespore natuurlik net op die grondpaaie sien, en die varsste spore sal bo-oor die voertuigspore wees. Hou jou oë wyd oop as jy byvoorbeeld vars leeuspore bo-op vars voertuigspore sien – die koning van die diereryk staan dalk net om die volgende draai. As jy meer oor spoorsny wil leer, kan jy gerus ’n veldgids by een van die kampwinkels koop – die verskille tussen die diere se spore word duidelik uiteengesit.


3. Skuurpale

Diere soos olifante, buffels, renosters en blouwildebeeste hou nie net van ’n modderbad om af te koel nie, maar ook om van parasiete soos bosluise ontslae te raak. Ná ’n modderbad sal die diere teen ’n rots of boomstam gaan skuur om van die modder en bosluise ontslae te raak. Wees op die uitkyk vir dié skuurpale naby riviere, damme, watergate en veral kleinerige natuurlike poele modderwater.


4. Gepoleerde skuurpale

Soms word ’n spesifieke skuurpaal oor en oor gebruik totdat dit ’n gladde, amper blinkgevryfde implement word wat volgende geslagte diere sal gebruik. Die sterk, digte hout van hardekoolbome is ’n gunsteling omdat groot diere dit nie kan beskadig nie.
Gepoleerde skuurpale is ’n algemene gesig naby seisoenale modderpoele en word meestal deur olifante en renosters gebruik.







5. Neste

’n Mens sien ’n groot verskeidenheid voëlneste wanneer jy deur die wildtuin ry, soos dié enorme nes wat deur ’n hamerkoppaartjie gebou is. Daar is gewoonlik baie aktiwiteit rondom neste, soos ’n ouerpaar wat kos vir die kroos aandra of ’n paar verstellings aan die struktuur van die nes doen. Jy sal nou en dan sien hoe voëls ander neste oorneem, of dalk gewaar jy ’n slang, akkedis of roofvoël wat ’n nes plunder op soek na ’n snoephappie soos eiers of kuikens.


6. Grawery

Erdvarke, ystervarke, ratels, vlakvarke en nog ’n paar ander diere grawe van tyd tot tyd gate omkos in die hande te kry. Sekere spesies, soos gevlekte hiënas, grawe weer soms ou erdvarkgate oop sodat hulle dit as lêplek kan gebruik. ’n Mens sien dus partykeer kolle waar die grond omgedolwe is omdat die diere op soek was na kos of ’n tydelike slaapplek wou inrig.

Wees op die uitkyk vir spore om uit te werk watter diere hier gegrawe het. Een van die beste maniere om tekens van ’n grawery te sien is om op ’n begeleide wildernisstaproete te gaan.


7. Sleepmerke

Roofdiere sleep dikwels hulle prooi na ’n plek waar dit veiliger en koeler is – veral luiperds is bekend daarvoor dat hulle groot diere soos ’n volwasse rooibok tot 100 m ver kan sleep tot by die naaste groot boom.

Die prooi los in die proses ’n sleepmerk op die grond wat ’n mens soms sien waar die roofdier die pad oorgesteek het. As jy luiperdspore gewaar, kan jy kyk of jy iewers in ’n boomtop ’n karkas gewaar.

8. Groot troppe buffels

Dié massavreters kom voor in habitatte met baie water, gras en skuiling. Hulle wei in digte gras en langs die groot riviere word troppe – soms met meer as 300 buffels – gereeld gesien. Dis baie maklik om te sien waar ’n groot trop die pad oorgesteek het.

Omdat hulle gewoonlik vreet so ver as wat hulle stap, los hulle ook ’n streep mis, wat amper soos koeke beesmis lyk.

As jy dus kom by ’n stuk pad vol mis wat jy 1015 m ver kan ruik, is die moontlikheid goed dat ’n trop buffels baie onlangs hier verby is. Onthou, buffels is baie gevaarlik wanneer hulle bedreig voel.


9. Krapmerke

Territoriale diere soos luiperds, leeus en renosters gebruik dikwels hulle agterpote om krapmerke te maak op die paaie waar hulle gereeld stap.

Soms laat van die spesies ook ’n chemiese reuk agter.

As ’n mens gelukkig is, sien jy soms sulke krapmerke langs die pad – ’n aanduiding dat ’n spesifieke dier die pad gereeld patrolleer. Wees op die uitkyk vir spore by die krapmerke wat verklap watter dier dit is.


10. Slangsleepsels

’n Mens sien soms vroegoggend slangsleepsels op die grondpaaie. Baie slange is snags aktief, en die eerste mense wat soggens in die pad val, kan die sleepsels sien waar die slange die vorige nag die pad oorgesteek het. Slangsleepsels lyk amper soos fietsspore.

’n S-vorm word gemaak deur slange soos kobras wat letterlik oor die grond gly, terwyl reguit sleepsels die werk is van slange soos adders wat weer met behulp van hulle spiere oor die grond“kruip”.


11. Bronstige bulle

Bronstige olifantbulle is diere wat gereed is om te paar – weens verhoogde testosteroonvlakke is hulle gewoonlik aggressiewer as ander bulle. Wees op die uitkyk vir ’n vloeistof wat die temporale kliere aan die kant van hulle kop afskei.

Dié bulle laat ook ’n afskeiding agter wat baie skerp ruik – ’n mens sien dit dikwels op die pad (dit lyk soos ’n spoor water wat uit ’n tuinslang gedrup het).

As jy ’n streep sulke klam kolle op die pad sien – of, belangriker, ruik – moet jy die spesifieke bul uitken en hom dan respekteer deur op ’n (groot) afstand te bly.

Bly altyd ’n ent weg met jou voertuig wanneer jy ’n olifanttrop raakloop, maar wees veral versigtig vir ’n bronstige bul, selfs al lyk hy hoe ontspanne. Sulke bulle het in die verlede al groot skade aan voertuie aangerig en mense ernstig beseer.


12. Mishope

Sekere spesies, veral territoriale diere, mis oor en oor by dieselfde – en spesifieke – mishope. By dié “reukstasies” kry verskillende diere meer inligting oor die status en bewegings van ander. Langs die paaie in die suidelike dele van die Krugerwildtuin sien ’n mens gereeld die enorme mishope (3 x 5m) van witrenosters.

Witrenosters gebruik graag paaie as patrollieroetes en daar is gewoonlik etlike mishope langs dieselfde pad.


13. Slurpmerke

Grootvoete maak dikwels slurpmerke op grondpaaie wat lyk asof iemand onvoltooide prentjies in die sand geteken het, of asof ’n reus ’n groot rots agter hom aangesleep en heen en weer gepluk het. Olifante met ’n baie lang slurp (meestal groot bulle) is vir dié merke verantwoordelik – hulle speel letterlik met die sand terwyl hulle aanstap, en die merke kan vir kilometers aanhou. ’n Bul weeg tot 5000 kg en in die somer kan ’n groot bul tot 300 kg se plantegroei per dag inneem.


14. Wildspaaie

Dít is paaie wat die diere self maak om van een plek tot by ’n ander te kom sonder om deur hoë, welige gras, ruigtes of digtewoude te stap. Hierdie roetes is ’n bietjie soos paaie – dit kan verbasend oop, skoon en sonder los klippe wees. Die diere skop die klippe uit die pad en soms tel olifante dit op en gooi dit eenkant.

Baie wildspaaie lei na water, en as ’n mens ’n watergat of dam uit die lug bekyk, sien jy ’n netwerk van paaie uit alle rigtings wat na die water lei. Veldwagters gebruik dikwels hierdie roetes op begeleide toere, maar ongelukkig is dit ook waar wildstropers strikke stel.

Teenstroop-eenhede patrolleer dié paaie gereeld om draadstrikke te verwyder.