Die grootste rede hoekom ons so graag by die Montagu-woonwapark kom uitspan, is omdat ons worshond, Trixie, kan saamkom.

Vertel ons meer van die oord…

Dit is ’n gewilde en gesinsvriendelike oord, en daarom kan jy nie sommer net hier opdaag en hoop jy kry plek nie – dit is altyd beter om vooruit te bespreek. Dit is ’n bietjie meer as twee uur se ry van ons af, wat beteken Kapenaars kan maklik net vir die naweek kom uitspan omdat dit naby genoeg is.

Ons geniet dit hier omdat ’n mens presies weet wat die oordreëls is en dit streng toegepas word.

Ons én ons kampvriende hou daarvan om in só ’n omgewing te kamp. Alles in die oord word goed versorg en die ganse wat hier rondstap, sorg vir ’n gawe plaasatmosfeer.

Hoe lyk die kampterrein?

Hier is meer as 80 staanplekke wat op drie terrasse uitgelê is. Die staanplekke is groot genoeg vir jou wa en tent, en hier is ’n baksteenbraaier. Bring net jou eie rooster saam.

Elke staanplek het krag en hier is krane deur die kampterrein versprei. ’n Mens hoef darem nie té ver te stap om koffiewater te tap nie. Gepraat van water: Weens die onlangse droogtekrisis in die Wes-Kaap het die oordbestuur begin om plaveiblaaie op al hoe meer van die staanplekke aan te bring.

Wat is jou indrukke van die ablusiegeriewe?

Ek het nog nooit in een van die kere wat ons al hier gekamp het, ’n vuil ablusieblok teëgekom nie. Die geriewe word deurgaans skoongehou en hier is genoeg warm water vir almal omdat elke stort sy eie gasgeiser het.

Die kampplek het altesame ses ablusieblokke waarvan twee aparte geriewe vir mans en vroue het. Die res is almal vir albei se gebruik. Elke ablusieblok het ook opwasgeriewe vir jou skottelgoed en hier is selfs ’n bak vir oorskietkos wat na die Dierebeskermingsvereniging gaan.

Watter aktiwiteite is hier?

Hier is swembaddens (warm en koud), ’n waterwurm, klimrame en trampoliens en dié klas van dinge vir die kinders, en as jy jou hengelgerei saambring, kan jy in die oord se dam probeer om ’n karp, baber of bloukurper aan jou hoek te probeer kry.

Onthou net om die vis weer te laat gaan. Hier is ook ’n ontspanningskamer met ’n grootskermtelevisie en ’n pool-tafel.

Is hier ’n oordwinkel?

Hier is ’n kafee wat dinge soos roomys, koeldrank en wegneemetes verkoop, en by die ontvangskantoor is hout en ys beskikbaar.

Inligting

Kontak: 082 920 7863; montagucaravanpark.co.zamontagucp@gmail.com

GPS: S33.787500 E20.113056

Erika wen ’n Camp Cover Bundu-sak van R400. Gaan kyk na hulle puik beskermende oortreksels op die webwerf campcover.co.za

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook