Die voertuig wat ek ry, ruik nog soos nuut. Ek verlaat die Koning Sjaka- internasionale lughawe met ’n vol tenk petrol en stuur die neus in die rigting van Ballito, die Tugelariviermonding, Mtunzini... My opdrag is om met die mense in daai geweste te gesels. Ek was nog altyd ’n introvert, en dié storie gaan oor mense eerder as plekke. Ek sal dus moet vriende maak... Maar gou het ek besef my bekommernis was ongegrond.

In dié deel noord van Durban maak selfs ’n introvert in ’n japtrap vriende. Dalk het die eindelose suikerrietlande, inheemse woude vol dierasies en lang wit strande iets daarmee te doen. Of miskien is dit die gematigde klimaat, maar almal hier rond is ontspanne én energiek. Die meeste mense dink nie twee keer om voor ontbyt ’n halwe Dusi-marathon in ’n kajak af te lê of om soos Cindy Valayadam van donkeroggend af kerrie te kook vir haar legendariese bunny chows nie.

Miskien is dit die gematigde klimaat, maar almal hier rond is ontspanne én energiek

Dis doenmense hierdie, en hulle gesels graag. Hulle lewe na aan die natuur: Ek en Junior Gabela het gefluisterpraat in ’n vleiland op soek na waadvoëls; ek en Michy Morris het in die see gestaan en gesels met die koraal wat onder ons voete dans. In die skaduwee van ’n piesangboom het ek geluister hoe Josh Falconer die beginsels van organiese boerdery verduidelik.

Ja wat, langs die Noordkus word ’n vreemdeling sommer gou ’n vriend. 

DIE ENTREPRENEUR

Cindy Valayadam; Eienaar van Cindy’s Fresh Produce, Umhlali

Ek het as ’n apteek-assistent gewerk voordat ek dié winkeltjie oopgemaak het. Ek het aanhou geld instoot en saam met die gemeenskap gewerk; ek sou nie die winkel kon opbou sonder die gemeenskap se ondersteuning nie.

Ek het ook baie geleer by Mauritiane wat gereeld hier kom kuier. ’n Mauritiaanse klant het my eenkeer gewys hoe om atjar en mazavaroo – ’n rissiesmeer – te maak en nou maak ek dit self.

Ons meng ’n veeldoelige kerriepoeier vir klante – sommer een kerriepoeier vir alles. Jy kan maklik daarmee kook. Geur beteken baie, weet jy. Sonder geur smaak dinge na niks. Dít maak dat mense terugkom.

Ons boer in tonnels op ’n plasie. Die vars goed in die winkel is meestal organies. Dis sonder chemikalieë, en dit maak ’n groot verskil.

As jy allergieë het, help dit om organies te eet.

Dis nie ’n luukse winkel nie, weet jy. Maar wat ook al hier is, is topgehalte. As jy op Umhlali ’n lewe wil maak, kan jy nie net een ding verkoop nie. Jy’ t verskeidenheid nodig. Ons verkoop vis, kerrie, garnale... sommer allerlei ditjies en datjies. Hierdie is die enigste winkel wat iets van alles verkoop.

Dis nie ’n luukse winkel nie, weet jy. Maar wat ook al hier is, is topgehalte

Ons is oop van halfses in die oggend tot ses in die aand. Dis ’n lang dag.

My klante beveel ons aan vir vriende en familie: “Jy móét die samoesas proe,” sê hulle. “Dis die beste langs die Noordkus.” En hulle bring weer hulle mense; dis hoe my winkel van krag tot krag gegaan het.

Ek het nie geld om te adverteer nie. Maar mense praat, en ander hoor van die winkel. Die beste ding omtrent hierdie winkel is dat almal my ken, en ek ken almal.

Wil jy Cindy se kerriepoeier proe?

Sy kan vir jou pos. Kontak haar by 032 947 1495.

DIE VOËLKENNER

Junior Gabela; Voëlgids, KwaDukuza

My pa was ’n visserman. Wanneer hy visvang, het ek die kusvoëls bestudeer. Ek het later tuinvoëls dopgehou met ’n ou Newman-gidsboek.

Wanneer ek voëls in vlug aanskou – met hulle verskillende vereklede en kenmerkende geluide – vra ek myself af: “Wat kan ek by dié voëls leer? Wat doen hulle? Hoe vlieg hulle? Hoekom is hulle so kleurryk? Hoekom tree hulle so op? Dís hoe ’n mens leer; hoe jou passie toeneem.

Later het ek ’n voëlgids ontmoet wat opgelei is deur BirdLife South Africa. Hy’ t my passie raakgesien en namens my aansoek gedoen by dié bewaringsorganisasie. BirdLife het my toe genooi vir opleiding op Wakkerstroom, en hier is ek nou!

Dis raadsaam om ’n plaaslike gids te huur, veral as jy skaars voëls wil afmerk – dit spaar tyd. My kliënte soek dikwels spesifieke voëls. Ek vra hulle om ’n lysie te stuur sodat ek kan seker maak ek kan wel die voëls opspoor. Daar’s natuurlik geen waarborg nie, maar ek weet wat waar hou in die omgewing. Hier hou byna 700 spesies langs die ooskus, van Port Elizabeth tot by die grens van Mosambiek. Dis ongelooflik! Ek wil graag die kennis wat ek oor die jare versamel het, oordra.

Ek wil graag die jong klomp op my dorpie, Amatikulu, ook leer van voëlbewaring. En nie net van voëls nie, maar habitatte ook. Jy kan nie mense losmaak van bewaring nie. Julle moet saamwerk. Ek is lief vir my werk; ek is ’n stem vir die voëls, en hulle woonplekke.

Voëlskyk is maklik. Jy kort net ’n verkyker en ’n voëlboek. Natuurlik gaan jy hulp nodig hê van ’n kenner, gesels met die plaaslike voëlkykers om jou kennis uit te brei; sluit aan by jou dorp se voëlklub.

Ek het vele mentors en hou nooit op leer nie. Ek het al saam met professore, spesialiste en universiteite gewerk... Dis ongelooflik – daar is soveel om te leer! Junior werk in Durban, KwaDukuza (Stanger), Eshowe, Nkandla, Amatikulu, Umlalazi, St. Lucia, Hluhluwe en omliggende gebiede.

Kontak: 082 667 3704; juniorgabela@yahoo.com

DIE DIEREREDDER

Genevieve Chisholm Flag Animal Farm, Sheffield Beach

Ons het die plaas 17 jaar gelede gekoop. Dit was aan die toemaak en vreeslik verwaarloos. Die opbou daarvan het ons baie geleer.

Ons kry heeltyd diere. Ons kry gemiddeld tussen 5 en 8 per dag, en eenkeer het ons 85 gekry! Baie word net in die nag hier gelos – in bokse by die hek of sommer net deur die heining gegooi.

Dis duur om ’n tuiste te skep vir verwaarloosde diere. Ons betaal die volle tariewe en ons veeartsrekening is astronomies. Een rekening was R80 000 verlede jaar. Hierdie soort werk is ’n passie en ’n opoffering.

Ek werk baie spaarsaam – dis hoe ek grootgemaak is. ’n Emmer verf is goud werd.

Ek doen die bemarking self. Ons het ’n boorgat nodig gehad, toe hou ons ’n karnavalnaweek. Hier was ouens op stelte, mense wat gesigte verf, glybane en ritte – en sodoende het ons betaal vir die boorgat. Mense het geweet ons het dit nodig, en hulle het ons ondersteun.

Met die droogte het ons saam met die nie-regeringsorganisasie Gift of the Givers water bymekaargemaak vir Kaapstad. Ons werk ook saam met Cupcakes of Hope, die Reach For A Dream-stigting en Kinderwelsyn Suid-Afrika.

Verlede jaar het ons geld ingesamel vir Eli, ’n seuntjie met met spina bifida.

Ek leer baie by my koei, Bella. Sy ontferm haar oor enige dier. Sy het al ’n speenvarkie, ’n kalfie, ’n bokkie en vele ander grootgemaak. Sy oordeel nie, sy aanvaar net. Sy leer my elke dag iets nuuts oor genade.

Dan is daar ook Al Capony. Sjoe, hy was ’n aggressiewe perdjie. Hy het almal gebyt; jy kon nie aan hom raak nie.

Dan is daar ook Al Capony. Sjoe, hy was ’n aggressiewe perdjie...

Ek het ure lank by die perde gesit en hulle toegelaat om aan my te snuffel. Dit het ’n hele rukkie geduur, maar uiteindelik het Al ook kom snuffel.

En dít was die oomblik toe hy besluit het: “Jy’s okei, ek aanvaar jou”.

Ek noem dit ’n sielsverbinding. Dis die oomblik waarvoor ek wag. Ses maande later het kinders op hom begin ry en hy het nog nie ’n voet verkeerd gesit nie.

Die Coastal Horse Care Unit stuur vir my die uitdagendste gevalle, want hulle weet ek sal na hulle omsien. Perde is my passie, maar ek’s mal oor alle diere. Ek het grootgeword met ’n haan onder my arm in plaas van ’n pop.

Jy moet hulle ’n kans gee. Ek sê altyd: “Solank daar asem is, is daar hoop.” Hier het al diere gesond geword wat by die dood omgedraai het. Jy gaan lê nie. Jy veg tot die laaste asem saam met hulle. Die Flag-diereplaas is elke dag oop van 9 vm.-4.30 nm.

032 947 2018; flaganimalfarm.co.za

DIE TUINIER

Josh Falconer Organiese boerderykonsultant, Tugelariviermonding

Ná vyf jaar van koffie rooster het ek ’n nuwe uitdaging gesoek. Ek het op ’n plaas in die Balgowanvallei in die KwaZulu-Natalse Middelland gaan werk. Ek het baie geleer en ’n passie vir voedselverbouing ontdek.

Voorheen het ek in my mou gelag as mense sê om organies te eet is ’n “leefstyl”. Maar nadat ek ’n paar maande streng organies geëet het, het my wese verander. Van my vel tot my kop was gesonder, helderder. My lyf was meer veerkragtig.

Met organiese kos is jy baie meer bewus van wat jy eet.

Daarby is dit ’n poort na ander dinge. Om vir jouself te kan sorg maak allerlei deure oop. Wat is nou lekkerder as om jou aandete in jou tuin te pluk?

Álle mense moet toegang hê tot gesonde kos. Die eerste stap is om jou grond te versterk. Ek voed die grond vir ’n gesonde ekostelsel. Baie ouens gooi kunsmis, maar ek hou verby. As ’n mens biodinamies boer, probeer jy om die grond in ’n beter toestand te laat as wat jy dit gekry het.

’n Mens leer heeltyd. Ek het dikwels ’n rowwe idee van hoe ek iets wil aanpak... maar dan wys die natuur vir my iets anders. Dis ’n soort simbiose waar jy en die natuur ’n middeweg vind.

Mense moet seisoens- en plaaslike produkte koop. Moenie Spaanse appels in die winkel koop nie; koop dié wat in die omgewing gekweek word.

Tuinprojekte in gemeenskappe is een van die beste maniere om mense te help. Ek wil graag die spreekwoordelike saadjie plant en mense inspireer om dinge anders te doen. Want volgende week kom kuier daai persoon se vriend en neem die kennis huis toe, en sy vriend uit die vallei kom kuier en só versprei ’n nuwe manier van dinge doen. Dís hoe ’n mens ’n vreedsame revolusie begin.

In ’n mate moet ons eers agteruit boer om vooruit te kan boer – ons moet opnuut leer hoe die lewe, en die skep van lewe, werk. Mense moet bemagtig voel. As iets breek, is daar die verwagting dat iemand anders dit moet regmaak. Dit moet verander. Daar is so ’n groot klem op gemak dat mense vergeet het om óm te gee.

Jy het net een liggaam, en met gesonde, vars kos kan jy goed daarna kyk.

DIE KORAALKURATOR

Michy Morris Snorkelgids, Tidal Tao, Ballito

Ek het ses jaar gelede die eerste keer behoorlik in die Salt Rock-getypoel genorkelduik. Ek was mal daaroor! Jy sien net 5% van ’n getypoel van bo af. Sodra jy onder die water swem, word ’n hele nuwe wêreld ontsluit.

Die tussengetysone – waar die strand en die see ontmoet – is soos ’n speelskool. Die kleintjies bly hier en dis waar jy die mooiste koraal sien. Allerlei dierasies vreet hier. Die kleintjies kruip weg en word hier groot. Sodra hulle volwasse is, trek hulle weg; na ’n ander ekostelsel toe.

Ons wou ’n opwindende snorkeltoer skep; ’n toer wat álmal wil doen. Ek en my vennoot het ’n jaar lank die kus verken. Elke naweek was ons by ’n ander kol. Ons het aantekeninge gemaak van die gety, die wind, die deining, die beste toestande...

Ons wil mense laat verstaan hoekom die tussengetysone belangrik is; en watter rol elke diertjie speel.

Ek hou van die jonger geslag – dit is immers hulle erfenis en hulle moet dit eendag oppas. ’n Persentasie van elke snorkelsessie se prys word gebruik om snorkel-uitstappies vir minderbevoorregte kinders te reël. Hulle moet ook die geleentheid kry om die strand en die seelewe te ervaar.

Dis ’n werk wat jou laat goed voel. Ek het iewers gelees selfs al kyk jy net elke dag vyf minute na die see, maak dit jou gelukkiger. Elke keer as ek strand toe kom, gesels ek met mense oor my passie en leer hulle iets van die see.

Baie mense haal goed uit die see uit vir hulle vistenks, hulle oes mossels of vang vis. Dikwels is hulle onbewus van die negatiewe uitwerking hiervan.

Die hele gemeenskap moet waaksaam wees: as jy iemand sien wat iets verkeerds doen, knoop ’n geselsie aan. Jy hoef nie aggressief te wees nie. Gesels net; hopelik steek iets vas en verander hulle hulle houding.

Maak net seker van jou feite. Elke diertjie het sy rol. As jy iets uithaal, kan dit die hele ekostelsel benadeel. Indien ons op dié trant voortgaan, gaan ons visvoorraad oor 20 jaar uitgeput wees.

Een van my grootste vrese is dat my dogtertjie Gaia eendag vra: “Mamma, waar is die visse? Hoekom het jy niks gedoen nie?”

Wees bewus van die seekos op jou bord, dink oor die plastiek wat jy gebruik en maak ’n verandering. Ek kan nie die wêreld red nie, maar ek kan ’n goeie voorbeeld stel en ’n kettingreaksie begin. Tidal Tao bied beginner-, gevorderde en nag-snorkel-sessies aan 079 307 0608; tidaltao.com