Die blog-reeks is deur Trappers,Canon en Hi-Tec moontlik gemaak.

By Weg weet ons al: Die beste reise is dié waar dinge nie heeltemal volgens plan verloop nie. Hiram Bingham, die ou wat die krediet kry dat hy Machu Picchu in Peru in Julie 1911 “ontdek” het, is een so ’n storie. Die “ontdek” is in aanhalingstekens omdat die Peruane al die jare geweet het waar Machu Picchu is – dis nie asof die terrein ooit weg was nie.

Dit was trouens ’n local wat Bingham daarvan vertel het en op sy heel eerste foto’s kan jy Peruane op die terrasse van die antieke stad sien sit. Maar Bingham word erken as die ou wat Machu Picchu spreekwoordelik “op die kaart” gesit het. 

Die beste reise is dié waar dinge nie heeltemal volgens plan verloop nie.

Hugh Thomson skryf: “When Hiram Bingham arrived in the Peruvian Andes in July 1911, he was ready for what was to be the climatic achievement of his life: the exploration of the remote hinterland to the west of Cuzco, the old Inca capital. He had every advantage on his side, with his charisma, opportunism, knowledge of bibliographical sources and driving, restless energy. Above all he had what every explorer needs – luck and the ability to explore it.”

Blote toeval

Hiram Bingham, ’n akademikus van Yale in Amerika, was reeds in 1909 in Peru om oor die Spaanse geskiedenies navorsing te doen, toe ’n kerkman hom op ’n ekspedisie na ’n Inka-ruïne nooi.

Dit het Bingham se belangstelling so geprikkel dat hy in 1911 teruggekeer het om na Vitcos, wat beskou is as die laaste Inka-hoofstad, te gaan soek. Bingham was dus salig onbewus van die bestaan van Machu Picchu toe hy in Julie 1911 uit Cusco vertrek het.

Sy plan was om al op die platorand langs te loop en dan af te daal na die Urubambavallei, en van daar af Vitcos te probeer opspoor. Hy was nog slegs enkele dae uit Cusco toe sy span die aand van 23 Julie ’n kamp ingerig en ’n local met die naam Melchor Arteaga ontmoet het. Toe Arteaga hoor dat hulle na Vitcos soek, het hy vir hulle gesê daar is ’n ander Inka-terrein in die omgewing van Machu Picchu (die naam beteken “ou berg” in Kechua). 

Machu Picchu lê regs van my skouer.
As jy jou rug draai ... My stapmaats (Ryan links en Simon agter) het my by die Sonvalleipoort gefotobom.

Op die oggend van 24 Julie 1911 het Bingham vir Arteaga betaal om hom na die ruïnes te neem. Net een van sy ses stapmaats het lus gehad om saam te gaan en die groep het ná 10 die oggend in die reën in die pad geval – sonder om middagete in te pak.

Ná ’n moeilike stap deur riviere, ’n wankelrige brug en ’n toiingrige touleer, het Bingham die laaste bult na die Sonvalleipoort (wat stappers op die Inka-roete vandag nog gebruik) begin klim sonder enige verwagting. Stel jou sy verbasing voor toe die stad onder uit die misnewels verrys het. “It fairly took my breath away . . . The sight held me spellbound.”

Stel jou sy verbasing voor toe die stad onder uit die misnewels verrys het...

“What could this place be?” skryf hy in Lost City of the Incas.

So wat was Machu Picchu?

Daar is nog ’n groot klomp uhm’s en aah’s oor Machu Picchu omdat die Inka nie ’n geskrewe taal gehad het nie. Die Inka het belangrike boodskappe aan mekaar oorgedra deur ’n stelsel van knope in toue (weefwerk is steeds ’n belangrike deel van hul kultuur).

Navorsing oor Machu Picchu gaan dus sedert 1911 nog onverpoos voort, en volgens bewyse wat in 1983 gevind is, is Machu Picchu deur die Inka-opperheer Pachacuti gebou. Pachacuti was ’n vindingryke regeerder wat ook baie gedoen het om Cusco uit te bou.

Die kompleks by Machu Picchu is moontlik rondom 1450 gebou as ’n soort “somerpaleis” met 140 geboue waarheen Pachacuti en sy gevolg ter wille van warmer weer gevlug het. Die kompleks is vir minder as honderd jaar gebruik, maar is nie ontruim weens die Spaanse verowering nie. Trouens, die Spanjaarde het nooit Machu Picchu gevind nie. 

Inka
Lenin, ons stap- en toergids, gesels oor die boustyl.
Inka
Die terrasse by Machu Picchu.

Een van die teorieë is dat die terrein weens ’n pokke-epidemie ontruim is, en nog een dat die watervoorraad nie voldoende was om soveel mense daar te huisves nie.

Ander bronne meen weer die gebruik was vir elke Inka-opperheer om sy eie paleiskompleks te bou, en het Machu Picchu bloot in onbruik verval omdat Pachacuti se opvolger reeds sy eie kompleks gehad het. Wat ook al die rede, teen die tyd dat die Spanjaarde hul vernietiging in die streek begin het, was Machu Picchu reeds ’n spookdorp. 

Inka
Decklin, een van my stapmaats, stap verby die trapesiumvormige deurkosyn.
Inka
Die kosyn raak nouer aan die bokant en is met 'n drabalk versterk.

Hoewel die Inka nie ’n amptelike skryfstelsel gehad het nie, was hulle argitektuur en landboumetodes glad nie primitief nie. Baie van hul bouwerk staan steeds. (In Cusco is moderne geboue op Inka-fondamente gebou wat al eeue lank aardbewings deurstaan.) Die Inka het ’n vormklipboustyl gebruik (sogenaamde “ashlar”).

Hoewel die Inka nie ’n amptelike skryfstelsel gehad het nie, was hulle argitektuur en landboumetodes glad nie primitief nie.

Stene is dus uit ’n klip gekap en sonder messelwerk so dig op mekaar gestapel dat jy sal sukkel om ’n lem tussen die stene in te druk. Tydens ’n aardbewing kan die stene as ’n eenheid saam beweeg en weer “in plek val”.

Die muur kan dus buig en meegee sonder om te breek. Die Peruane glo die “mure dans”. Vensters en deure is ook in die vorm van ’n trapesium gebou – wat kleiner raak na bo – om die druk van ’n aardbewing te weerstaan.

Inka
Die stene pas dig op mekaar en is nie vasgemessel nie, wat die muur laat dans.

Die ‘pinup’ van argeologie

Daarna volg ongelukkig die omstrede deel van die storie. In 1912 het Bingham en ’n navorsingsgroep met pikke na Machu Picchu teruggekeer en uitgrawings gedoen met die sensitiwiteit en panache van ’n olifant in ’n kruietuin. Honderde artefakte is uitgekap en in kratte na Yale weggery.

Die versameling is eers in 2012, na ’n groot baklei en politieke ingryping, aan Peru terugbesorg. Vir hierdie uitstappie het Bingham egter ekstra kameratoerusting saamgeneem en foto’s geneem wat sedertdien legendaries geword het.

Inka
Die uitsig op Machu Picchu soos Bingham dit op daardie eerste oggend gesien het.

National Geographic het sy hele uitgawe van April 1913 aan Macchu Picchu gewy – onder meer met ’n foto van die terrein wat oor ’n driedubbele-uitvoublad gestrek het.

Dié foto is van min of meer op dieselfde plek by die Sonvalleipoort geneem waar ek in Desember by Machu Picchu aangekom het. Daardie artikel het van Bingham oornag ’n baanbreker-ontdekker en volksheld gemaak en baie gedoen om die Hollywood-beeld van die avontuurlike argeoloog te vestig. Bingham dra op sy foto’s ’n Indiana Jones-hoed en hoë leerstewels. Ook Machu Picchu was nou bekend.

“Machu Picchu had begun its role as the pinup of the twentieth-century archaeology,” skryf Hugh Thomson. 

Die Kodak en die Canon

As verslaggewer wat skaamteloos foto- en kamerabetotteld is, het ek veral belanggestel in die toerusting wat Bingham op sy ekspedisies saamgedra het. Bingham gee in Lost City of the Incas breedvoerig detail oor die foto’s wat hy aanvanklik by Machu Picchu geneem het, en die toerusting wat hy daarvoor gebruik het. 

Inka
Die Kodak 3A Special. Foto: WikiCamera
Inka
No 4 Panoram Kodak. Foto: eBay

Met sy eerste besoek in 1911 het Bingham 31 foto’s met sy Kodak Special 3A geneem, maar sy kamera tydens die ekspedisie verloor. Met sy tuiskoms het hy aan George Eastman van Kodak geskryf en gevra of Kodak nie drie kameras sal borg wat “minstens so goed soos die Kodak 3A is nie”.

Daarmee saam het hy vir 3500 negatiewe gevra, tien houtdriepote en leertasse wat sy toerusting sal beskerm. Eastman moes ook sy sak skud sodat Bingham 2 000 van sy foto’s kon laat druk ná sy reis. Hiervan het National Geographic uiteindelik 250 in die April-uitgawe gepubliseer. 

Jy kan hier ’n paar van hulle sien.

Eastman het aan Bingham die No. 4 Panoram Kodak gegee vir sy foto-artikel, wat Thomson beskryf as “a dauntingly advanced piece of equipment which demanded considerable technical and composition skill . . . The No. 4 achieved its panoramic wide angle of view by having a lens on a vertical pivot which swung right across the film during exposure.” 

Ek kan nie agterkom wat die Panoram geweeg het nie, maar dit word as ’n “monster of a camera” beskryf en lyk omtrent so groot soos die boksie-skooltas wat ek destyds in Sub. A gehad het.

Oor sy eie foto’s skryf Bingham:“Would anyone believe what I had found? Fortunately, ... I had a good camera and the sun was shining.”

Inka
Die Canon M50 was perfek vir my reis.

Die Canon M50: Báie ligter, báie beter...

Gelukkig kon ek in Desember 2018 óók sê: “I had a good camera and the sun was shining.”

Canon het vir my die spieëllose Canon M50 geleen vir my staptog op die Inka. Die Canon weeg minder as 400 gram en ek het dit vier dae lank om my nek gedra. Boonop het ek meer as 500 foto’s met een battery geneem gekry!

Ek het ’n mini-driepoot ingepak vir nagfotografie, maar nooit gebruik nie omdat dit snags meestal toegetrek was. Ek het ook ’n 11-22 mm-wyehoeklens saamgeneem, maar dit ook min gebruik omdat die “kit lens” op 18 mm wyd genoeg was om byvoorbeeld die hele Machu Picchu in die foto kry.

Op die nippertjie het ek my kamerasak uit my Terra Firma-rugsak gehaal (sodat ek minder gewig saamdra) en sommer die ekstra lens in sokkies toegedraai. Ek het wel ’n goeie plastiek-omhulsel gehad wat ek in reën kon gebruik. 

Inka
Bo-op Dead Woman's Pass met die Canon m50 om die nek.
Inka
Die Canon M50 het selfs 'n selfie-funksie.

Jy kan die foto’s in die res van my blogs dophou (wat tot einde Maart op Weg se webwerf verskyn), maar ek is in my skik daarmee. Die Canon M50 is ’n lieflike kamera wat reg kon laat geskied aan ’n epiese reis.

Dankie, Bingham, maar...

 Oral tydens die Inka-staptog wys die Peruaanse gidse ook die ander ruïnes uit wat Bingham gevind het, en word Bingham sonder skroom as die “ontdekker” van Machu Picchu voorgehou.

In die trein agterna na Cusco, vra Simon, ’n mede-Kapenaar wat ook in my stapgroep was, ons toergids Cris van Intrepid Travel hoe die Peruane daaroor voel dat Bingham dié eer kry.

Cris tel haar woorde voor sy antwoord: “Die Peruane is baie dankbaar dat Bingham Machu Picchu op die kaart gesit het. Ons is afhanklik van die toerismebedryf en ek weet nie of Machu Picchu so bekend sou wees sonder Bingham se bydrae nie. Ons is dankbaar daarvoor.”

Dan bly sy ’n ruk stil, en ek kan sien sy huiwer voordat sy byvoeg: “Maar baie Peruane glo dat daar goue skatte by Machu Picchu was en dat Bingham dit tydens die 1912-ekspedisie weggedra het... And we want it back.”   

Bingham het ná Machu Picchu ’n kleurryke lewe gehad. Hy was ’n vegvlieënier in die Eerste Wêreldoorlog en later ’n senator in Washington, hoewel sy politieke loopbaan in ’n skandaal geëindig het. Die ironie is dat Bingham wel later vir Vitcos opgespoor het, die terrein waarna hy eintlik gesoek het toe hy Arteaga hom na Machu Picchu gelei het. Hierdie prestasie het egter heeltemal in die skadu van Machu Picchu verdwyn.

Bronne

  • Lost City of the Incas is meer as 40 jaar ná die ontdekking gepubliseer, in 1948, en Hugh Thomson wys in die voorwoord uit hoe Bingham die gebeure romantiseer en selfs aandik om dit soos ’n avontuurroman te laat klink. Thomson skryf half tong in die kies: “In Lost City of the Incas, rivers are always raging, paths treacherous and mountains precipitous.” Dis beslis met flair geskryf, maar ek het dit geniet om dit lees. Ek het my uitgawe vir minder as $5 op Kindle afgelaai. 
  • Sommige feite kom uit 14 Fun Facts About Machu Picchu deur Jeannie Meekins (minder as $2 op Kindle).

Alle foto’s is met die Canon M50 geneem – uiteraard tensy die kamera om my nek hang. Hierdie reeks is moontlik gemaak deur Hi-Tec, Trappersen Canon.