Vriende van ons, Gert en Renate Heese, boer naby die Augrabies-waterval- nasionale park. In Desember 2016 verdrink een van hulle werkers, Freddy Soda, van Malawi in ’n fratsongeluk in die Oranjerivier. Dit was in oestyd en hulle kon ongelukkig nie sy begrafnis in Malawi bywoon nie.

’n Paar maande later stem ons in om saam met hulle Freddy se ouers en graf te besoek, en ook ’n paar lande aan te doen. Die plan was om met ons Audi Q5 3.0 TDI en ’n gehuurde boswoonwa vir drie weke te ry deur Etosha, die Caprivi, Zambië, Malawi en Botswana – altesame sowat 11 500 km!

Op 6 Mei gooi ons diesel in op Upington én maak vier jerrykanne vol. Die eerste aand slaap ons in Windhoek by vriende van Gert, en die tweede aand in die Okaukuejo-ruskamp in die Etosha- nasionale park. Hier is die eerste plek waar die dieselpomp se pyp te dun is en die klappie van die tenk nie oopmaak nie. Gelukkig het ek die regte grootte pyp in my noodkissie. Ons sien springbokke, gemsbokke, sebras, kameelperde en bloukraanvoëls op pad na die Namutoni-ruskamp.

Die plan was om met ons Audi Q5 3.0 TDI en ’n gehuurde boswoonwa vir drie weke te ry deur Etosha, die Caprivi, Zambië, Malawi en Botswana – altesame sowat 11 500 km!

By die veeartsenybeheerpunt buite dié hek word ons woonwa deursoek, “to see whether you hide a giraffe in the van”. Die aand kamp ons op groen gras sowat 100 km voor Rundu by die netjiese Mururani-kampplek ( 00 264 67 240 355; 00 264 81 295 7585). Die volgende aand kamp ons 5 m van die Zambesirivier af by die Island View Lodge (islandview-lodge.com) naby Katima Mulilo. Die plek is pragtig en die sonsondergang oor die Zambesi slaan ons asem weg.

Philip-hulle het die Zambesirivier met die Kazungula-pont oorgesteek. Dis hier waar Zimbabwe, Botswana en Zambië bymekaarkom.
Die groep vriende vaar by Sengabaai op die Malawimeer.
Ons slaan kamp op by die Okaukuejo-ruskamp in die Etosha- nasionale park in Namibië

Zambië toe

Ons kom net ná 11 vm. by die bedrywige Kazungula-grenspos aan. Dinge loop nie glad nie en ons kom eers halfvier in Zambië aan. Ons kry die eerste van tientalle padblokkades in Zambië en Malawi. By die meeste van hulle is daar geen probleme nie en ons betaal ook nêrens omkoopgeld nie.

Die Zambesi is in vloed en die Victoriawaterval aanskoulik. Ons het vooraf ’n wenk gekry om met ’n taxi na die waterval te ry pleks van ons eie voertuig. Dis stil buite seisoen en voertuie wat alleen staan, word glo maklik die teiken van diewe. Die retoertaxirit kos US$20 (R246) en toegang nog US$10 p.p.

Ons kom laatmiddag in Lusaka aan. Dit neem ons twee uur om uit die stadsverkeer te ontsnap, en ons soek later blyplek by die Malangano Camp sowat 40 km buite die stad. Die kamp se geriewe is egter uitstekend – hier is elektrisiteit, warm storte en ’n goedtoegeruste kroeg ( 00 260 96 348 5833).

By die stalletjies in Lilongwe se arm buurte kan ’n mens van klein sakkies kookolie tot meubels koop
Jy kan ook hier ’n fietstaxi na ’n nuwe bestemming haal.
Adri verkyk haar aan die mooi Anglikaanse katedraal in Blantyre
Hier deel sy rosyntjies en skryfbehoeftes aan die kinders uit by Freddy se ouerhuis.

’n Seun om op trots te wees

Die volgende aand slaap ons by die Barefoot Safari Lodge ( barefoot-safaris.co.za) net voor Malawi se hoofstad, Lilongwe. Die geriewe is oud, maar dis ’n mooi plek. Ons vra die bestuurder om te help om Freddy se ouers op te spoor. Hy bel Freddy se pa en terwyl dié verduidelik, teken hy ’n kaart in my dagboek.

Die Soda-familie waardeer ons besoek vreeslik. ’n Hele afvaardiging ontvang ons hartlik en saam besoek ons Freddy se graf. Daar is ’n pastoor en twee stamhoofde van die omgewing wat goed Engels praat. Hulle vra vrae oor Freddy en die plaas. “Freddy was ’n uitstekende werker en het die plaaswerk geniet. Hy het baie las van my afgehaal,” vertel Gert. Toe ek my weer kom kry, het Freddy se jonger broer die kar en die woonwa gewas... Adri deel rosyntjies (van Gert-hulle se plaas) en skryfbehoeftes uit.

Renate op die woudpad op die Lujeri-teeplaas aan die hange van Berg Mulanje.

Ons vertrek namiddag na Sengabaai langs die Malawimeer en kamp by die Sunbird Livingstonia Beach Hotel (sunbirdmalawi.com). Hier’s krag, warm water en puik diens. Laatmiddag neem ’n plaaslike entrepreneur ons om te gaan snorkelduik by die nabygeleë Namalenje-eiland.

Ons sien onder meer kleurryke varswatervissies. Ons eet die aand by die hotel ’n tradisionele Malawiese gereg teen ’n billike prys (R150 p.p. drinkgoed ingesluit): vars vis en speseryhoender. Die volgende oggend ry ons na Blantyre.

Oral langs die pad is stalletjies met stapels vars groente en vrugte. Sommige stalletjies verkoop heel gaar muise op stokkies. Gert se neef Johann van der Ham en sy vrou, Retha, doen al 18 jaar sendingwerk by Crown Ministries in Blantyre en leer mense basiese volhoubare boerderymetodes, maak flieks, bou organiese toilette en nog wat. Hulle het ook ’n kaasfabriek op die plot waar hulle bly. Ons kuier vir twee dae by Johann en Retha. Hulle neem ons na teeplantasies, koffieplase en Berg Mulanje (3 002 m).

Oral langs die pad is stalletjies met stapels vars groente en vrugte

Hier sien ons dat private instansies baie doen vir die bewaring van die kolle inheemse bosse op die teeplantasies. Johann vertel hoe skaars boomsoorte soos byvoorbeeld die Mulanjeseder, Malawi se nasionale boom, geword het – hier is glo net sewe op die berg oor.

Vir die res van die reis boikot ons die aankoop van houtsneeprodukte van dié skaars boomsoort – dis ’n geel hout met fyn bruin strepies. Verduidelik gerus vir stalletjie-eienaars hoekom jy nie sekere artikels koop nie.

Dié herehuis uit 1923 huisves ’n boetiekhotel op die Satemwa Tea & Coffee Estate in die suide van Malawi.
Dis weinig dat ’n mens ’n Audi Q5 so gepak sien.

Ons glip laatmiddag deur die Mwami-grenspos na Zambië. Garmin en Google dui nie veel blyplek aan nie en ons slaan ná donker kamp op by ’n sendingstasietjie net wes van die dorpie Katete. Die volgende middag kom ons in Lusaka aan en gaan draai by ’n nuwe mall – ons sien minstens vier nuwe malls in die stad!

Ons verlaat Lusaka op die Groot Noordelike Pad en sien voor sononder ’n groen kol – die Fringilla Lodge ( fringillalodge.com). Ons slaan kamp op en vra die volgende oggend of ons die woonwa daar kan los terwyl ons kuier by vriende by die Kalumbila-kopermyn, naby die dorp Mwinilunga. Die pad is sleg, maar ons ry sonder voorval. Ons kuier by Colin en Jo-Anne du Plessis. Weer is ons beïndruk met die omgewingsbewaring. Die mynmaatskappy verbied byvoorbeeld die aankoop van die houtskool wat die plaaslike mense maak.

’n Teeplantasie in die voorgrond en berg Mulanje agter.

Ons laaste land

Vroeg Sondagoggend begin ons die terugtog na Lusaka. Die pad tussen die dorpe Solwezi en Kitwe is in ’n slegte toestand. Ons slaap Sondagaand weer by die Frin-gilla Lodge en mik die volgende oggend vir die Kazungula-grenspos. Dié keer glip ons – heelwat wyser – in minder as ’n uur oor.

In Botswana slaap ons by die Kwalape Safari Lodge (kwalapesafarilodge.co.bw) en Swamp Stop (sepopa-swampstop.com). Teen sowat 200 pula (R250) p.p. is die kampplekke in Botswana duurder as die ander plekke waar ons was. Ook die brandhout teen 50 pula (R63) vir ’n klein kruiwa is rof.

Woensdagoggend besluit ons dis tyd om huiswaarts te keer. Ná net meer as 1 800 km se aaneen ry hou ons Donderdagoggend drieuur stil op die plaas. Sonder ernstige voorvalle – nie eens ’n pap wiel nie – én ons is nog goeie vriende!

WEET VOOR JY WAAI

Hoe het die sagte 4x4 gevaar?

Verbasend goed. Dis moeilik om “skoon” diesel te kry weg van die hoofroetes – ons het sowat 90 liter diesel saamgery. Ons het twee noodwiele gehad, maar dit nooit gebruik nie.

Wenke vir grensposte?

Sorg dat jou dokumentasie agtermekaar is. Hou genoeg van die land se kontant by jou – Malawi en Zambië aanvaar net hulle eie kwacha. By Kazungula is twee ponte wat elk ’n lorrie en ’n motor met sleepwa of twee motors oplaai. Daar is baie meer lorries as motors. As jy met ’n motor opdaag, doen jy die kantoor-ding en ry tot heel voor. Ek beskou die US$20 om op die pont te kom nie as omkoopgeld nie. Sonder dit ignoreer hulle jou. Moenie haastig lyk nie – ontspan, jy’s in Afrika.

Raadpleeg

zambiatourism.com vir grensposinligting. drivesouth africa.co.za en tracks4africa.co.za se blog-bladsy het ons ook gehelp.

Waar het julle gebly?

Ons het geen blyplek bespreek nie. Ons het die nuutse Tracks4Africa-sagteware op ’n Garmin GPS gelaai, en elke middag vieruur se kant na blyplek begin soek. Die GPS dui slaapplekke binne ’n 200 km-radius aan.

Hou kontak.

Neem ’n Wi-Fi-router saam en koop ’n plaaslike SIM-kaart – data is goedkoop.