Johannesburg Fourways-boeremark

Hierdie mark is ’n prettige gesinsuitstappie: Oumas ruil doeke om op piekniekkomberse, hip jong mense soek babelasmedisyne en Parkrun-deelnemers kuier om ’n koppie koffie terwyl hulle kleuters op fietse rondja. Hier en daar neem iemand ’n selfie, maar dis eerder vir die gesin se plakboek as vir Instagram.

Dit voel byna asof ’n mens by ’n feestelike tuinpartytjie is. Kleurryke vlaggies wapper in die bries, hier’s hoë bome en houtspaanders, en dennebolle lê gestrooi op die loopvlak tussen afgekampte graskolle waar jy jou piekniekkombers kan oopgooi en heeloggend uitspan. Hier is hooibale en houtstompe om op te sit, en ons almal weet baie sitplek is een van die tekens van ’n goeie mark.

En hier is kos – o, so baie kos! As jy dit stadig vat, kan jy ontbyt, brunch én middagete inpas! Ons kan Woodstock Waffle se “Joplin” (R65) aanbeveel – ’n wafel met witsjokoladesous, geroosterde peer, kaneel en pekanneute.

Kinders sal gaande wees oor dié mark. Hier’s ’n kulkunstenaar, melkskommels in elke kleur van die reënboog en oorgenoeg plek om rond te jol.

Wenk Kom tienuur, dan is daar nog genoeg parkeerplek en jy kan die middagete-stormloop by die gewilde SumTing Fresh voorspring (hulle verkoop gourmetkos – kry byvoorbeeld geroosterde hoender en vistaco’s.)

Gooi op pad uit kleingeld in Arthur se vioolkis. Hy speel by hierdie mark, asook ’n paar ander in die stad. Staan vir ’n minuut stil en luister – hy is ’n virtuoos!

Wanneer? Sondag 9 vm.-4 nm.

Koste R10 toegangsgeld

Waar? Oorkant Montecasino langs William Nicol-rylaan.

Nog inligting ffmarket.co.za 

Bryanston- organiese mark

Hierdie mark is op twee maniere organies: Dit was een van Johannesburg se eerste markte – lank voordat Saterdagmarkte mode was – en hier’s heelwat kos waaaraan jy met ’n skoon gewete kan smul.

Probeer een van Raw Wizard se streng vegetariese produkte (van suurkool tot smeerkaas gemaak van neute) of gaan groet vir Dalia Tzror – ook bekend as Mrs Bread Care, die naam van haar broodreeks – wat al twee dekades ’n stalletjie by die mark het. Proe een van haar glutenvrye brode en jy sal sien: Sy ken van!

Die stalletjies is semi-permanent en het dakkies, wat beteken dié mark is een van die beste opsies op ’n reënerige Saterdagoggend in die somer. Dit verander ook die gevoel hier: Dit lyk asof almal mekaar ken en baie mense kom vul weekliks hulle voorraad aan. Bring vir Wagter saam as hy aan ’n leiband is.

Die mark werk met ’n slim sentrale kasregisterstelsel. Loop jou rondes en elke stalletjie-eienaar gee jou ’n faktuur. Vat jou fakture na een van die kasregisterpunte en betaal met kontant, kaart of SnapScan en gaan dan terug na die stalletjie toe met jou gestempelde faktuur om jou aankope te kry. (Party stalletjies het bordjies wat wys hulle aanvaar kontant; hier is nie ’n OTM nie.)

Koop of probeer dít Baie stalletjies verkoop handgemaakte produkte en klere van ’n hoë gehalte. Wees op die uitkyk vir Chappy Holtzhausen se mooi handgemaakte penne en sout- en pepermeule van hout. En moenie huis toe gaan voordat jy ’n koppie chai-tee gedrink het by Meera’s vir net R10 nie – dis die geurigste tee wat ek nog buite Indië gedrink het.

Wanneer? Donderdag, Saterdag en openbare vakansiedae: 9 vm.-3 nm. Hier is ook maanligmarkte rondom die Kerstyd.

Waar? Culrossweg 40 (draai van Hoofweg af) in Bryanston, by die Michael Mount Waldorf-skool.

Nog inligting 011 706 3671; bryanstonorganicmarket.co.za

Johannesburgse Neighbourgoods-mark

Die Neighbourgoods-mark het begin as die kleinboet van die gelyknamige mark in Kaapstad. Maar soos alle kleinboeties het dit in ’n oogwink grootgeword. Die atmosfeer (en van die verkopers) is dieselfde by albei markte.

By Neighbourgoods gebeur dinge teen ’n vinnige pas, dis stedelik en koel. Verwag hoogmode en hipster-hoede. Hier is ’n hand vol stalletjies wat vintageklere en bybehore verkoop en selfs ’n stalletjie met die naam Plato’s Beard met allerlei olies om jou baard te versorg.

Dis egter die kos en die pret wat hierdie mark so gewild maak. Op ’n bedrywige dag wedywer meer as 4 000 mense vir ’n plek in een van die kosrye. (As julle in ’n groep is, beweeg strategies: Laat een mens sitplek soek terwyl die ander kos koop.)

Van die gunstelinge sluit in: oesters (maklik om af te slurp terwyl jy ’n glas vonkelwyn vashou; bestel vroeg, dit verkoop gou uit), paella (gemaak in panne wat so groot soos planete is) en geroosterde gourmet-kaastoebroodjies (probeer die “Kevin Bacon” – ’n nederige kaastoebroodjie het nog nooit só lekker gesmaak nie).

Proe ’n wye verskeidenheid boetiekbier en mengeldrankies – bedien in Consol-flesse of selfs vars kokosneute.

Die meeste van die kos is gemaak om hier te eet, maar jy kan ook kolwyntjies en ander lekkernye koop om huis toe te vat. Maak seker jy doen Victoria Meat aan vir die beste Poolse wors suid van, wel, Pole.

Neighbourgoods is meestal binnenshuis en dit sál gons hier, maak nie saak hoe die weer lyk nie.

Wenk Skrikkerig vir Johannesburg se middestad? Moenie wees nie: Dinge is aan ’ t woel in Braamfontein – gaan loer gerus ná die mark in by die omliggende koffiewinkels en kunsgalerye.

Wanneer? Saterdag 9 vm.-3 nm. en saans op die eerste Donderdag van elke maand.

Koste Toegang tot die mark is gratis, maar die beste en naaste parkeerplekke kom teen ’n prys – enigiets van R10 tot R40.

Waar? 73 Jutastraat, Braamfontein

Nog inligting neighbourgoodsmarket.co.za 

Johannesburg: Rosebank-Sondagmark

’n Mark op die vyfde verdieping van ’n parkeergarage klink dalk nie baie aanloklik nie, maar dié mark sal jou verras. En omdat dit in ’n winkelsentrum is, kan jy sommer jou weeklikse inkopies doen of ’n fliek gaan kyk.

Hier is sowat 250 stalletjies, maar dinge is goed georden. Elke deel is apart – oudhede, handgemaakte goedere, vlooimark, kos en klere – wat dit maklik maak om iets te soek. Dit maak ook die kans dat jy jou man, ma of kinders verloor, kleiner. (Ja, ons weet dit gebeur!)

Vergeet van ontwerpersprodukte – hierdie mark gaan oor goeters. Jy kan enigiets van ’n etswerk op olifantmispapier tot prinses Diana-gedenkwaardighede, tweedehandse boeke, ou ammunisiekiste of ’n plastiekgeraamte koop – selfs ’n tikmasjien wat nog werk (vir slegs R300).

Maar hier’s nie nét goeters nie Die kinders sal die springkasteel geniet en jy kan jou palm laat lees of een van die beste Thaise voetmasserings van jou lewe kry (15 minute, R70).

Hier is ook baie kosstalletjies met lang tafels vir die hele gesin. Of skuif langs iemand in en maak vriende.

Wenk Moeg gery ná ’n week in die verkeer? Geen problem nie: die Gautrein hou stil by die winkelsentrum.

Wanneer? Sondag 9 vm.-4 nm.

Waar? Boonste vlak, Rosebank-winkelsentrum

Nog inligting rosebanksundaymarket.co.za

Pretoria: Boeremark

Dis 5.30 vm. op ’n Saterdagoggend. ’n Paar mense gewapen met ’n koplampie snuister in die donker vir kraakvars produkte. En terwyl die son begin gesig wys, kom staan mense in toue vir die ou gunstelinge soos pap-en-kaiings, moerkoffie en melkkos.

Nadat die huurkontrak by die Pioniersmuseum verstryk het, het dié 20 jaar oue mark na ’n ander perseel geskuif, ook in Silverton. Behalwe vir die ligging is dinge nog dieselfde: Tafels kreun onder vars groente, vleis, handgemaakte items, ingemaakte produkte, gebak, blomme en plante.

“Nie net het ons nagenoeg 250 stalletjies geskuif nie, die vibe het ook saamgetrek,” sê Johan van Wyk, bestuurder van die mark.

Joao da Silva-boerdery is al van 1999 af by die boeremark.

“Dit is lekker om die ou gesigte hier raak te loop,” sê Da Silva, wat op Cullinan boer. Mandjies vol groente word flink gepak – klante het dit vooraf bespreek op WhatsApp (082 265 0459). Jy kan dus rustig ronddrentel, die stalletjies verken of ’n koppie koffie geniet en net jou pakkie optel voor jy vertrek.

Japie van Staden, die Da Silvas se buurman op Cullinan, verkoop proteas ’n klipgooi van die stalletjie af. Cullinan word goed verteenwoordig by die mark en die dorp se Nederlandse kaas en melk doen ook fluks sake.

Dis nie net die kos wat klante lok nie. Helder, bont klere en lappe is te koop, hier is handgemaakte pepermeule van hout en ’n goudsmid wat juwele regmaak en verkoop.

Een van die stalletjies verkoop selfs die Boereplaas-bordspeletjie. Oom Kallie, die lamsakkige voorman, word deesdae vervang met oom Sakkie, maar “hy is nog net so lui en skelm,” skerts Bernice Fourie wat pas vir haar dogter dié bordspel gekoop het.

Teen 9.30 vm. begin van die stalletjiemense oppak en ’n uur later is dit bykans verlate. Om te dink party mense staan nou eers op!

Oop Saterdae van 5.30 vm. tot 10.30 vm.

Waar? Moreletastraat 665, Silverton, sowat 1,5 km van die vorige perseel by die Pioniersmusem.

Nog inligting 079 987 1025; pretoriaboeremark.co.za