Koop douvoordag vrugte en groente van die plaas af of ontmoet jou vriende vir ’n laatontbyt en ’n glas vonkelwyn. Lekker kos en lekker mense is gewaarborg.  

Hierdie mark is op twee maniere organies: Dit was een van Johannesburg se eerste markte – lank voordat Saterdagmarkte mode was – en hier’s heelwat kos waaaraan jy met ’n skoon gewete kan smul.

Probeer een van Raw Wizard se streng vegetariese produkte (van suurkool tot smeerkaas gemaak van neute) of gaan groet vir Dalia Tzror – ook bekend as Mrs Bread Care, die naam van haar broodreeks – wat al twee dekades ’n stalletjie by die mark het. Proe een van haar glutenvrye brode en jy sal sien: Sy ken van!

Die stalletjies is semi-permanent en het dakkies, wat beteken dié mark is een van die beste opsies op ’n reënerige Saterdagoggend in die somer. Dit verander ook die gevoel hier: Dit lyk asof almal mekaar ken en baie mense kom vul weekliks hulle voorraad aan. Bring vir Wagter saam as hy aan ’n leiband is.

Die mark werk met ’n slim sentrale kasregisterstelsel. Loop jou rondes en elke stalletjie-eienaar gee jou ’n faktuur. Vat jou fakture na een van die kasregisterpunte en betaal met kontant, kaart of SnapScan en gaan dan terug na die stalletjie toe met jou gestempelde faktuur om jou aankope te kry. (Party stalletjies het bordjies wat wys hulle aanvaar kontant; hier is nie ’n OTM nie.)

Koop of probeer dít Baie stalletjies verkoop handgemaakte produkte en klere van ’n hoë gehalte. Wees op die uitkyk vir Chappy Holtzhausen se mooi handgemaakte penne en sout- en pepermeule van hout. En moenie huis toe gaan voordat jy ’n koppie chai-tee gedrink het by Meera’s vir net R10 nie – dis die geurigste tee wat ek nog buite Indië gedrink het.

Wanneer? Donderdag, Saterdag en openbare vakansiedae: 9 vm.-3 nm. Hier is ook maanligmarkte rondom die Kerstyd.

Waar? Culrossweg 40 (draai van Hoofweg af) in Bryanston, by die Michael Mount Waldorf-skool.

Nog inligting 011 706 3671; bryanstonorganicmarket.co.za


Lees hier oor nog van ons gunsteling-markte in Gauteng: die Johannesburg Fourways-boeremark, die Neighbourgoods-mark, Rosebank-Sondagmark en die Boeremark in Pretoria.