Johannesburg Fourways-boeremark

Hierdie mark is ’n prettige gesinsuitstappie: Oumas ruil doeke om op piekniekkomberse, hip jong mense soek babelasmedisyne en Parkrun-deelnemers kuier om ’n koppie koffie terwyl hulle kleuters op fietse rondja. Hier en daar neem iemand ’n selfie, maar dis eerder vir die gesin se plakboek as vir Instagram.

Dit voel byna asof ’n mens by ’n feestelike tuinpartytjie is. Kleurryke vlaggies wapper in die bries, hier’s hoë bome en houtspaanders, en dennebolle lê gestrooi op die loopvlak tussen afgekampte graskolle waar jy jou piekniekkombers kan oopgooi en heeloggend uitspan. Hier is hooibale en houtstompe om op te sit, en ons almal weet baie sitplek is een van die tekens van ’n goeie mark.

En hier is kos – o, so baie kos! As jy dit stadig vat, kan jy ontbyt, brunch én middagete inpas! Ons kan Woodstock Waffle se “Joplin” (R65) aanbeveel – ’n wafel met witsjokoladesous, geroosterde peer, kaneel en pekanneute.

Kinders sal gaande wees oor dié mark. Hier’s ’n kulkunstenaar, melkskommels in elke kleur van die reënboog en oorgenoeg plek om rond te jol.

Wenk Kom tienuur, dan is daar nog genoeg parkeerplek en jy kan die middagete-stormloop by die gewilde SumTing Fresh voorspring (hulle verkoop gourmetkos – kry byvoorbeeld geroosterde hoender en vistaco’s.)

Gooi op pad uit kleingeld in Arthur se vioolkis. Hy speel by hierdie mark, asook ’n paar ander in die stad. Staan vir ’n minuut stil en luister – hy is ’n virtuoos!

Wanneer? Sondag 9 vm.-4 nm.

Koste R10 toegangsgeld

Waar? Oorkant Montecasino langs William Nicol-rylaan.

Nog inligting ffmarket.co.za 


Lees hier oor nog van ons gunsteling-markte in Gauteng: die Bryanston- organiese mark, die Johannesburgse Neighbourgoods-mark, Rosebank-Sondagmark en die Boeremark in Pretoria.