Wenfoto: Michaela Barrett

@mbarrettphotography
Nikon D90
Nikon 18-105 mm-lens

https://www.instagram.com/mbarrettphotography/ Hierdie foto is teen sonsondergang geneem in die Moremi-wildreservaat. Dit was winter en wanneer die son sak, daal die temperatuur nogal vinnig by die Okavangodelta – ek dink dit is dié verandering van temperatuur wat die mistigheid veroorsaak wat ’n mens op die foto kan sien.

Dié rooibokke het uit die niet verskyn en deur my raam gehardloop terwyl ek die sonsondergang afneem. Afrika bly maar ’n plek van uitsonderlike natuurskoon – én verrassings!

TOAST SÊ: Fotografie is ’n eindelose soektog na dáái oomblik: Die breukdeel van ’n sekonde waarin elke element saamsnoer om ’n besonderse foto te skep. Jy het goeie beligting en komposisie nodig, maar jy het ook die X-faktor nodig. Die X-faktor in Michaela se foto is die rooibokke wat onverwags deur haar andersins stil Botswana-toneel hardloop.

Dis spesifiek die rooibokooitjie wat aan die spring is wat haar foto ons wenfoto van die maand maak. Dit lyk boonop asof die bok bo-oor ’n “bal” spring! Hierdie “bal” is lensfraksie, wat veroorsaak word deur die son wat by die lens inskyn. Lensfraksie is nie altyd iets wat jy op jou foto’s wil hê nie, maar dit kan soms treffend wees omdat dit ’n tikkie ekstra atmosfeer kan bydra, en hierdie klassieke foto is ’n voorbeeld van waar dit werk!

’n Goue oomblik van hoek tot kant. Welgedaan, Michaela, jy wen ’n Stevenson-Hamilton-leerhoed!


Mariet Lambrechts

Nikon D7000
Nikon 70-300 mm-lens

TOAST SÊ: Mariet en haar man, Nollie (sien sy foto onder), was in Maart 2018 saam met my op ’n Weg-fototoer deur Botswana.

Op dié toer doen ons van die mooiste plekke in Botswana, en die Zambesistreek in Namibië aan.

Die toer begin gewoonlik op Kubu-eiland, maar in Maart was dit te nat om op die Makgadikgadipan te ry; dus het ons by Tiaan’s Camp langs die Botetirivier begin.

Die volgende oggend het ons toerleier, Douwe Vlok van Mpafa Travel, die toerplan aangepas en ons groep het deur die Makgadikgadipanne- nasionale park gery, wat direk oorkant die rivier van Tiaan’s Camp lê.

Dié onbekende park was vol verrassings, want ons het groot getalle olifante langs die rivier gesien, en toe seker 40 kameelperde by ’n enkele watergat diep bos-in.

Soos dit op ’n fototoer gaan, het almal vervaard die perfekte foto probeer neem – jy hoop maar jou voertuig staan op die regte plek! Mariet se weerkaatsings is perfek, en ek hou ook van die linkerkantste kameelperd wat sy tong uitsteek. Seker vir ons klomp fotograwe!


Nollie Lambrechts

Nikon D7100
Sigma 150-600 mm-lens

TOAST SÊ: Nollie het ’n klomp mooi foto’s op Weg se fototoer deur Botswana geneem. Hy sal seker wonder hoekom ek dié een gekies het vir “Mense se lense,” maar dis omdat ’n mens hier waardering kry vir ’n voëltjie wat die meeste fotograwe gaan miskyk omdat hulle besig is om dieper in die bos na leeus en luiperds te soek.

Op Weg se fototoer bring jy nie elke liewe dag in ’n wildtuin deur nie. Sommige dae ry jy bloot van punt A na punt B, of span uit in ’n gawe kampterrein. Voëltjies is oral, en as jy wakker sit, gaan jy sommer langs jou tent besonderse foto’s kan neem, soos Nollie s’n hier van die rooibekvuurvinkie.

Goeie foto’s gaan nie oor waar jy is nie, maar oor wat jy raaksien. Jy kan ’n week lank in die Kruger rondry en honderde foto’s neem waarvan nie een spesiaal is nie. Of jy kan ’n agtermiddag in die kampterrein rondstap – en iets ongewoons afneem bloot omdat jy die wêreld op ’n ánderster manier bekyk as die fotograaf langs jou.Dankie, Nollie, vir ánderster kyk! 


Marietjie Barkhuizen

Canon EOS 60D
Tamron 18-400 mm-lens

TOAST SÊ: Een van ons gereelde kampplekke op Weg se fototoer deur Botswana is Drifter’s Maun, ’n ent oos van die deltadorp Maun. Dié kamp lê langs die Botetirivier en ons vergader gewoonlik laatmiddag op hierdie kaaitjie om die sonsondergang oor die rivier af te neem. Soms, as ons gelukkig is, roei ’n man op ’n mokoro verby...

Marietjie se foto wys egter iets heel anders. Hierdie is ’n vakansiefoto so na my hart. Dit wys hoe jy jou kan transformeer – en ordentlik begin ontspan – wanneer jy iets eenvoudigs doen soos jou skoene uitskop en weer grasperk, sand of houtkaai onder jou voete voel.

Weg se fototoere bied vir jou meer as genoeg geleentheid hiervoor. Padlangs help ons jou ook om beter foto’s te neem, ongeag van die soort kamera waarmee jy skiet – selfs al is dit ’n selfoon.

Ywerig om jou fotografiekennis te verbreed?
Gaan na neembeterfotos.weg.co.za vir ons gewilde aanlynfotokursus. Dit kos R950 eenmalig.


Todd Mozzer

@tooltimetodd

Nikon D5600
Nikon 70-300 mm-lens

TOAST SÊ: Todd is ’n Amerikaner wat danksy ’n Suid-Afrikaanse vriend, Carel Pretorius, vroeër vanjaar op ’n Weg-Botswana-fototoer beland het. Hy was pure plesier vir sy toermaats, want vir Todd was áls interessant.

Todd het heeltyd vir Carel gevra om die bakkie te stop sodat hy foto’s kan neem van donkies, groot slaggate, vroue wat houtbondels op hulle kop dra, ngunibeeste... Dis dinge waaraan Suid-Afrikaners lankal gewoond is, maar wat vir Todd se oë nuut was.

Reisfoto’s is ’n kuns. Mense val soms vas met die idee dat hulle net foto’s van “mooi” landskappe of wilde diere moet neem wanneer hulle deur Afrika toer. Maar dan mis jy als tussenin – dit wat lewe gee aan ’n streek, soos vrugteverkopers langs die pad, of veewagtertjies op pad iewers heen met ’n kudde bok.

Dié pont by Mohembo in die noorde van die Okavango-pypsteel gaan nie meer lank in aksie wees nie – die regering bou tans ’n brug. Daarom is dit goed dat Todd dié toneel vasgevang het. Binnekort gaan hierdie foto deel wees van Botswana se geskiedenis.

Was jy al op die Mohembopont? Dalk is dit tyd om daar te gaan draai voor die wêreld makker raak...


Jacques de Jongh

Canon EOS 6D
Sigma 150-600 mm-lens

JACQUES SKRYF: Ons was in die Mabuasehube-deel van die Kgalagadi-oorgrenspark. Tussen die Mpayathutlwa- en Bosobogolo-pan het ons dié twee leeus in die pad gekry. Die mannetjie het opgestaan en aan die wyfie geruik. Sy het ook opgestaan en eers effens geïrriteerd ’n draai gestap voordat sy omgedraai en hom mooi laat verstaan het dat sy nie lus is vir hom nie. Hierdie was sy reaksie!

Mabuasehube is wonderlik vir dierefoto’s omdat dit nie so bedrywig is soos die meeste parke in Suid-Afrika nie. Daar is geleenthede om diere in en om jou kampplek te sien: Ons het byvoorbeeld ’n luiperd gesien wat by ons stort kom water drink het.

TOAST SÊ: Hierdie foto het hope skop! Tussen die stof, tande, kloue en maanhare is daar meer as genoeg om na te kyk, én Jacques het alles netjies in sy raam ingepas. Sy lang Sigma-zoemlens bied goeie waarde vir geld. Die lens is op sy beste in die middel van die dag wanneer daar sterk sonlig is.

Jacques se sluiterspoed was 1/250ste van ’n sekonde, wat eintlik stadig is vir aksiefoto’s met so ’n lang zoemlens. Vir aksiefoto’s moet jou sluiterspoed altyd so vinnig as moontlik wees. Gebruik die volgende as gids: As jy byvoorbeeld die Sigma 150-600-lens gebruik en ingezoem is tot op 400 mm, gebruik dan ’n sluiterspoed van minstens 1/400ste van ’n sekonde. Ingezoem tot 600 mm: minstens 1/600ste van ’n sekonde, ensovoorts.

Hoe verder jy inzoem, hoe groter word die gevaar dat jy kameraskud-blur gaan kry. Die enigste manier om dit te keer is om jouself te stut wanneer jy die foto neem (deur dalk jou elmboë op die karvenster te laat rus, of ’n een- of driepoot te gebruik) en jou sluiterspoed vinnig te maak. Goeie werk, Jacques! 


Marie Griesel

Nikon D3100 Nikon 70-300 mm-lens

MARIE VERTEL: Ons het in Februarie 2018 sewe dae by Mpayathutlwa (staanplek 2) in Mabuasehube gekamp. Elke dag het begin met leeus wat brul – hulle wou dalk seker maak ons is bewus van hulle.

Een oggend is ons bederf toe dié luiperdwyfie om 9.30 vm. kom water drink het. Wat ’n ongelooflike ervaring en voorreg – die kraan was skaars 12 m van ons kampplek af! Ons kamp al baie jare in Mabuasehube, maar dit was die eerste keer dat ’n luiperd helder oordag kom water drink het.

Die volgende oggend het sowat agt leeus oor die pan na ons aangehardloop gekom. Wat ’n gesig. Hulle het die hele dag in die koelte van die kampplek se A-raamhuisie gelê. Dit was warm – sowat 38 ºC – en hulle het die hele tyd water gedrink. Hulle het gelukkig toe dit donker begin raak, besluit om te gaan jag.

TOAST SÊ: Mabuasehube is die leeus s’n. En naas die leeus die luiperds s’n. Dít moet jy weet wanneer jy daar gaan kuier. Dis wilde, woeste wêreld en jy moet gedurig oor jou skouer kyk, selfs al stap jy net badkamer toe. Goeters met tande is óral.

Tog is dit dié nabyheid aan die groot roofdiere wat hardebaard veldliefhebbers (dis nou julle, Weg-lesers!) na Mabua lok. Marie se luiperdfoto is mooi om drie redes: Sy kon dit in helder daglig afneem (als is duidelik), die agtergrond is ongewoon (die see van geel duwweltjieblomme) en dan is daar die oogkontak (wat jou broek effe laat bewe, of hoe?).

Goeie werk, Marie.

Stuur jou beste reis- en natuurfoto’s vir ons!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Die fynskrif Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za