1. ZULUMOON- GONDELVAART

DURBAN POINT-WATERFRONTKANAAL

Wie sê jy moet Venesië toe gaan om op ’n gondel te vaar? Maak ’n draai by die Durban Point-waterfront in dié hawestad en sit agteroor terwyl julle in die maanlig op die kanale vaar. Anders as in die Italiaanse waterstad het die Durbanse gondels ’n elektriese enjin.

Ek het my dogter Sadie saamgebring op die uitstappie en nadat ons gondolier ons vriendelik verwelkom, val ons weg. Ons kan nie glo hoe stil dit op dié kanale is nie – dis immers in ’n stad! Die enigste geluid wat ’n mens kan hoor, is die klank van die boot wat deur die water klief (die enjin raas glad nie).

In ’n stadium vaar ons tussen woonstelgeboue in, maar dit voel amper soos ’n spookdorp (’n moderne een met geboue van sement, glas en vlekvrye staal!). Ons hoor net enkele stemme van mense wat bo-oor musiek praat, maar kan nie sien waar dit vandaan kom nie – wat ’n vreemde sensasie!

’n Entjie verder kyk ’n klompie kolganse ons grootoog aan toe ons verbygly. Hier is min visse en voëls ná donker, maar dis nietemin ’n interessante en vreedsame manier om die kanaal te verken.

Kyk tog of jy die klein hamerkophaaitjies kan sien wat uShaka Marine World hier in ’n deel van die kanaal aanhou – ’n mens vaar by dié kampie verby.

Waar? Timeballboulevard 39

Wanneer? Tussen 10.30 vm. en 5.45 nm. is hier vaarte van 15 of 30 minute, en om 6.30 nm., 7 nm. en 7.30 nm. is daar 30 minute-vaarte.

Koste: R60 p.p. (15 minute) en R120 p.p. (30 minute). Elke gondel het plek vir 4 passassiers, en geen kinders jonger as 2 word toegelaat nie.

Wat nog? ’n Piekniekrit van 40 minute kos R470 per paartjie en sluit peuselhappies en vrugtesap in.

Kontak: dpwbookings@gondolas.co.za; gondolas.co.za

– Rogan Ward

Lawrette McFarlane

2. VOLMAAN-KABELGLY

ADVENTURE ZONE, CULLINAN

Ek gly met die Superman-kabel oor die Muningi-ravyn – so vinnig dat die trane paadjies oor my slape waai. Doer onder in die vallei blink die Malanspruit, ’n sytak van die Elandsrivier. Rondom my is kranse net-net sigbaar in die byna spookagtige maanlig.

Die Superman is 570 m lank en 75 m hoog, en ’n mens kan teen tot 121 km/h hier af gly! Maar teen dié tyd is ek al gekonfyt: Dis die vierde van vier kabelglyspore wat die ravyn hier by Adventure Zone Cullinan oorkruis en ons het reeds die ander drie kafgedraf. Die kabelroete is altesame 1,5 km lank, en die kranse plek-plek tot hoër as 80 m!

Waar? Adventure Zone Cullinan se kantoor is op die hoek van die R513 en Olienhoutstraat op Cullinan. Mik egter reguit na die plaas waar die aktiwiteite aangebied word: sowat 14 km noordoos van Cullinan langs die Colinpad. Hou jou oë oop vir ’n bordjie op linkerhand waarop staan “Adventure Zone” en dan ’n groot hek, met “Muningi Gorge” bo die hek.

Wanneer? 18 Mei om 4 nm. Hou die Facebook-bladsy dop vir ander maande se datums en tye: facebook.com/azcullinan. Die kabelglybaan neem sowat twee uur, maar saam met die aktiwiteite duur die hele uitstappie tussen vyf en ses uur.

Koste: R890 p.p. Dit sluit ’n wildrit, skemerkelkie, braaivleis-aandete, veiligheidstoerusting en die kabel-glybaan in. Hier is ’n kontantkroeg by die braai.

Wat nog? Enigeen wat tussen 40 kg en 120 kg weeg, is welkom. Ook groepe van tot 13 mense. Trek gemaklik aan, met toe skoene waarmee jy die kort ente tussen die verskillende kabels kan loop. Bring ’n kopliggie en iets warms – dit raak koud bo-op die stellasies. Jy kan die glybaan ook bedags aandurf: R595 p.p., sonder die wildrit en braai.

Kontak: 012 734 0507; 012 734 0621; azcullinan.co.za

– Lawrette McFarlane

Jamie Thom

3. MAANLIGWANDELING

SWARTVLEISTRAND, SEDGEFIELD

Het jy geweet ’n seekat vervorm sy lyf só dat dit soos ’n net lyk en spring dan letterlik óp sy prooi? Of dat ’n seester homself weer regop kan kry as jy hom onderstebo in die water sit? Dis dié soort goed wat jy op ’n maanligwandeling naby Sedgefield kan leer én eerstehands ervaar.

Ons stap strandlangs tot by Gericke se Punt saam met ons gids, Mark Dixon, met die volmaan wat oor die Swartvleiduine opkom. Langs die pad sien ons spookkrappe, kussingseesterre en kuskrappe. Maar die werklike opwinding begin toe ons by die Punt aankom, ’n skiereiland wat na aan die einde van die strand die see in strek. Ons verken die rotspoeletjies in die maanlig met ons flitse: Die strale lok ’n yslike seekat uit sy wegkruipplek onder ’n rots – as ’n mens gelukkig is, sien jy dalk selfs hoe een jag!

Terwyl Mark brokkies met ons deel, sien ons ook harders, seekastaiings, anemone, yslike alikreukels, blennievisse en allerlei ander seediertjies wat bedags wegkruip, maar ná donker uitkom om te baljaar.

Hoe ver stap ’n mens? Dis sowat 1 km strandlangs tot by Gericke se Punt, waar ’n mens omdraai. Julle stop gereeld en dis nie ’n moeilike stap nie – jy gaan wel oor rotse moet loop om by die poele uit te kom.

Waar? Swartvleistrand, net buite Sedgefield op pad George toe. Draai by die Sedge Links-gholfbaan van die N2 af en hou sowat 2 km aan tot by die strand-parkeerterrein, waar die stap begin. Hier is ’n badkamer by die beginpunt.

Wanneer? Daar is ’n maanligstap op 18 Mei, en sterligstaptogte op 4 en 5 Mei. Die begintyd wissel – maak seker wanneer jy bespreek. Kry inligting oor ander maande se datums op die Facebook-blad

Koste: R150 p.p. Jy moet vooraf bespreek.

Wat nog? Trek warm aan – dit raak lekker koud saans. Bring ’n flits of kopliggie, en dra toe skoene wat kan nat word óf selfs reënstewels.

Kontak: 072 390 6667 (Mark of Judy Dixon)

– Matt Covarr

Toast Coetzer

4. VICTORIAWATERVAL

ZIMBABWE

As Suid-Afrikaners is ons soms blasé oor die Victoriawaterval, seker omdat dit so naby is en baie mense dit ’n hele paar keer in hulle lewe kan sien. Dié magtige gedruis van water is besonders, of jy nou van Zimbabwe of Zambië se kant af daarna kyk.

Dis boonop maklik om na Vic Falls (Zimbabwe) of Livingstone (Zambië) te vlieg; dus kan jy vir ’n vinnige langnaweek gaan. En daar’s geen beter verskoning as volmaan nie, want op volmaannagte (drie nagte per siklus) word begeleide wandelings na die waterval aangebied. Dis ’n goeie idee om die oggend of middag reeds jou kaartjie vir die aand te koop, want dit raak soms goed besig.

Jy moet by die groep bly omdat dit snags gevaarlik kan wees as iemand hier afdwaal en wegraak. Die toer duur sowat 90 minute en jy kom nie by al die uitkykpunte uit nie, maar wel by die bestes. Jy stap met ander woorde niks verder as wat jy bedags sou stap nie.

Foto’s neem is moeilik omdat die groep gedurig aan die beweeg is; dus sal jy vinnig moet werk met jou driepoot as jy iets wil afneem. Jy kan saans selfs ’n reënboog sien!

Indien jy volmaan misgeloop het, maar steeds die waterval in die nag wil sien, is dit elke aand oop van 6 nm. tot 10 nm. (Jy kan nie met jou dagkaartjie die aand ook doen nie – jy het ’n nuwe kaartjie nodig.)

Koste: Volmaan: US$30 (R425) p.p. Ander aande: US$40 (R565) p.p. Gewone dagtoegang: US$20 (R284) p.p. vir SAOG-burgers. Kinders 6-12 jaar oud betaal halfprys. Hierdie is Zim se pryse – in Zambië kos dit meestal presies dieselfde.

Wat nog? Onthou dat jy steeds ’n reënjas moet aantrek – en ’n kopliggie is belangrik sodat jy nie per ongeluk op ’n slak trap nie.

Kontak: 00 263 213 284 2204; victoriafalls-guide.net

– Toast Coetzer 

Shelley Christians

5. VOLMAANSTAP

INTAKA-EILAND, CENTURY CITY

Baie Kapenaars dink Leeukop of Tafelberg is die enigste plek waarheen jy ’n bietjie uit die stad uit kan ontsnap. Maar daar is heelwat minder bekende (en minder bedrywige) plekke om asem te skep – soos Intaka-eiland, ’n voël-en-natuurreservaat naby Century City in Kaapstad met meer as 120 voël- en 177 fynbosspesies.

Op ’n volmaanstap van 1,5 km kan ’n mens hierdie 16 ha-vleiland saam met ’n gids verken. Hemkala Daya bly hier naby in ’n aftreelandgoed en doen dit vir die tweede keer. “Ek sê vir al my vriende om dié plek te kom beleef,” sê sy.

Ons gids is Clint Williams, Intaka se bewaringsbeampte. Ná ’n glasie vonkelwyn saam met sonsondergang val ons weg. Stadsliggies van huise glinster op die buiterand van die reservaat, en in die verte steek Tafelberg se silhoeët agter geboue uit, maar hier in die reservaat is dinge dieprustig.

Langs die pad wys Clint verskillende soorte voëls uit – hier is onder meer bergeende, skoorsteenveërs en bosluisvoëls – en ander interessante spesies soos ’n Kaapse dwergverkleurmannetjie. Hy verduidelik ook hoe die reservaat fynbos kweek deur steggies te maak (tot 1 000 per dag!) uit die plante in die omgewing.

Waar? Intaka-eiland-ekosentrum, Parklaan 2, Grand Central Century City

Wanneer? Een keer per maand in die lente en somer. Die datums vir die res van 2019 is: 14 September, 13 Oktober, 12 November en 12 Desember. Die begintyd hang af van sonsondergang, maar dis rondom 7 nm. Bevestig wanneer jy bespreek.

Wat nog? Dra gemaklike skoene en bring iets warms vir ná donker. ’n Kopliggie sal nuttig wees. Jy kan ook eetgoed inpak vir saam met jou vonkelwyn. Jy kan die reservaat ook op jou eie verken.

Koste: R45 p.p. (dit sluit ’n glas vonkelwyn of koeldrank in). Jy moet vooraf bespreek. Pryse op ander tye: R22 per volwassene, R13 per kind jonger as 12; Oop: 7.30 vm.-7 nm. (Oktober-April); 7.30 vm.-5.30 nm. (Mei-September)

Kontak: 021 552 6889; info@centurycity.co.za

– Shelley Christians

Hier is die volmaandatums vir 2019:

• 18 Mei

• 17 Junie

• 16 Julie

• 15 Augustus

• 14 September

• 13 Oktober

• 12 November

• 12 Desember

Hier's nóg ses lekker volmaandoendinge!