Uganda is groot genoeg om in te verdwaal. Hier is berge, mere, watervalle, vleilande en savanne. ’n Maand lank het dié land ons verras.

Ek en Marie het ons seun, Callum (18), by die lughawe in Kigali, Rwanda, opgepik en noord na Uganda gery. Die klein Cyanika-grenspos is doeltreffend. Eerstens word ons nagegaan vir die ebola-virus: Jou liggaamstemperatuur word geneem en jy moet jou hande was en skoene ontsmet.

Gou was ons in Uganda en op pad na ons eerste bestemming: die Mgahinga-gorilla- nasionale park.

Gorillas en swamme

Die Mgahinga-gorilla- nasionale park vorm ’n oorgrenspark met sy eweknieë in Rwanda en die Demokratiese Republiek van die Kongo. In die bekende Bwindi- ondeurdringbare nasionale park is 12 groepe berggorillas wat deur toeriste besoek mag word, maar in Mgahinga is net een so ’n groep. Ons het egter Mgahinga gekies, want die terrein is platter en meer oop, en hier is minder toeriste.

Die pad na Mgahinga is vol slaggate en dit het ons langer as verwag geneem om daar uit te kom. Ná drie uur (100 km) is ons uiteindelik in die park en begin kamp opslaan – vir Callum bespreek ons ’n kamer.

Die volgende dag kom ons om 7.30 vm. bymekaar, luister na die reëls en vertrek in ’n groep van net ses toeriste. Die gidse en spoorsnyers was waarskynlik twee keer soveel.

Ná net 35 minute se stap het ons die inwonende groep van 10 gorillas gesien waar hulle kos soek, speel en mekaar versorg. Dié diere is baie groter as wat ’n mens dink. Die hoofman, ’n silwerruggorilla, se skouers was ’n volle meter breed. Hulle lywe is die ene spiere en hulle besef self nie eens hoe sterk hulle is nie.

Callum is aan die groot kant, en kon sy man staan toe ’n mannetjie liggies aan hom stamp, maar een van die vroue in die groep is per ongeluk omgestamp. Ons gids het vertel dat toe die gorillas oor ’n tydperk van drie jaar hier aan mense gewoond gemaak is, het dié spesifieke mannetjie, Mafia, gereeld gidse rondgestamp.

Die ander ster op ons uitstappie was ’n Jackson se driehoring-verkleurmannetjie – hy lyk wraggies soos ’n klein dinosourus. Ons het ’n paar foto’s geneem en is terug na ons kampplek vir middagete.

Ná die geskud Uganda-in moes ek eers kyk of ons dakrakklampe nog heel is. Drie was stukkend en net een nog heel! Daai enkele een het die hele spul deur genade aan mekaar gehou.

Berggorillas, Mgahinga
Mgahinga-gorilla- nasionale park
Mgahinga-gorilla- nasionale park
Jackson se driehoringverkleurmannetjie
Patrick maak dakrakklampe reg

Ek is met ’n motorfietstaxi na die naaste dorp (12 km ver), en het ’n boswerktuigkundige opgespoor – ook genoem ’n foendi, soos enige “vakmanspesialis” hier genoem word. Hy kon darem vier klampe uit ’n ou stuk hoekyster prakseer. Terug by die kampplek het ons die klampe gemonteer, en sedertdien het hulle 2 500 km se slegte paaie getrotseer.

Ons is van Mgahinga na Bwindi op ’n nimmereindigende kronkelpad wat ons deur bergdorpies en teeplantasies geneem het. Die 50 km het byna 3 uur geneem!

Die Bwindi- ondeurdringbare woud is een van Afrika se oudste habitatte en nou die tuiste van die grootste bevolking – ongeveer 400 – van die wêreld se oorblywende berggorillas. Hier is ook 350 voëlspesies, 11 aapspesies, woudolifante en wildevarke.

Ek en Marie, en veral Callum, wou egter ook kleiner goed sien, soos insekte, swamme en plante. Dis gidse was verstom – hulle opleiding het nie gefokus op die kleiner lewende wesens nie en hulle kon die meeste van ons vrae nie beantwoord nie. Hulle was net so geboei soos ons.

Ons het twee natuurstappe in Bwindi gedoen (US$70 p.p.; R1 025 p.p.) en in die suide gebly net buite die Rushaga-hek by die Ichumbi Gorilla Lodge. Die lodge was ’n welkome – maar duur – verposing ná die gekamp.

Ons het ook baie oor die Batwa-stam geleer. Hulle is klein en skraal mense en aangewese op jag en kos versamel in die woud. In die 1990’s het die regering al die Batwas uit reservate verban. Vandag woon net ’n paar mense in die Ugandese woude en die meeste woon aan die buitewyke van hulle voorvaders se grond. Sedertdien is die regering die Batwa-mense goedgunstig en van die parkwinste word bewillig vir Batwa-projekte. Ongelukkig kon die meeste van die stamlede nie by die samelewing buite die woude inskakel nie en word nou geteister deur depressie, drankmisbruik en die stam mag dalk selfs uitsterf.

Ná ons besoek aan Bwindi is ons vinnig weer na Kigali, Rwanda, waarvandaan Callum na die Verenigde Koninkryk moes vlieg – hy studeer aan die Universiteit van Bristol. Weer het ons na Uganda gemik, of so het ons gedink...

Swam, Bwindi
Patrick gee Callum ’n hupstoot vir ’n foto
Swam, Bwindi

Is dit reën of piepie?

Van die grens af het ons 230 km (4 uur) noord gereis tot by die Koningin Elizabeth- nasionale park. Die plan om ’n kampplek in die park te kry is laat vaar as gevolg van die turfgrond. Ons het lelik vasgeval, maar van die locals het ons gehelp. Min het ons geweet dis standaard om vas te val in Uganda.

Ons het net buite die park gekamp en die volgende oggend 100 km noord gereis; sommer direk na die Kibale- nasionale park. ’n Paar aande was ons die eerste gaste van ’n halfvoltooide gemeenskapskamp. Ons wou graag op ’n aandstaptog gaan, maar die reën was te swaar.

Op pad na die kampplek het ons weer vasgeval. Dit was agtuur die aand en ons het besluit om maar ’n ongemaklike nag in die Hilux deur te bring. Die nag had wel ’n hoogtepunt: Een van die ontwykende woudolifante het kom gesig wys.

Sjimpanseekyk is ’n groot bedryf in Uganda, veral Kibale. Dit kos US$150 p.p. (R2 200 met toegangstarief) en nadat ons ingelig is, is ons verdeel in twee groepe van sowat sewe elk. Ek en Marie is in die jonger groep geplaas, wat beteken ons gaan vinnig stap.

Ons het in die voertuie gespring en is woud-in, waar ons staptog begin. Die sjimpansees was op hulle eie (baie vinnige) middagstappie en min gepla met ons.

Vir ’n paar stil oomblikke kon ons hulle ongesteurd dophou, en een slag het ek en ’n alfamannetjie stip na mekaar gekyk. Meer as een keer moes ’n gids iemand waarsku om uit die pad te kom sodat ’n aap nie op hom/haar piepie van waar hulle hoog in die boomtoppe na wilde vye soek nie.

Bwindi-ondeurdringbare woud
Gewapende wag, Bwindi

’n Paar mense het ons teen Kampala se verkeer gewaarsku en ons het besluit om net vinnig aan te doen. Ons het by die Red Chilli Hideaway gebly, ’n backpackershostel net buite die besige stadskern. Hier is ’n gratis busdiens wat ons twee keer gebruik het vir inkopies en om die stad te verken. Kampala is ’n mooi smeltkroes van straatverkopers en groot inkopiesentrums. Van die koffiewinkels en restaurante hoef nie terug te staan vir soortgelyke plekke in Kaapstad en Johannesburg nie. Dis smaakvol ingerig en die diens is goed.

Ons het inkopies gedoen by Shoprite en geëet by Meza, wat shawarmas verkoop, en agterna is ons oorkant die straat vir koffie en nagereg by die luukse Cafesserie. Daarna is ons na die (stowwerige) Nasionale Museum wat nie goed onderhou word nie, maar ons verkyk ons aan ’n interessante swart-wit-fotouitstalling oor Idi Amin.

Dit het ons twee uur geneem om uit die stad te kom – en dít op ’n Sondagoggend!

’n Skoenbekooievaar?

Ons ry van Kampala noordwaarts vir 170 km (4 uur) tot by die Ziwa Rhino Sanctuary. Vroegoggend het die wekker reeds om 6.30 vm. gelui en ons het net tyd vir ’n vinnige koffie en ’n sny roosterbrood voordat ons ons waterstewels en ’n gids toegesê word. En nee, ons soek nie renosters nie, maar skoenbekooievaars. Dié voël met die vreemde bek se vlerkspan is meer as 2 m.

Die gids is saam met ons in ons Hilux en ons het vir ’n paar kilometer na ’n moerasagtige omgewing gery. Ons gids het gesê normaalweg sien toeriste een of twee voëls, maar ons het vyf gesien! Skoenbekooievaars is skugter, en ons eerste twee probeerslae om nader te gaan was nie suksesvol nie.

skoenbek
Op soek na ’n skoenbek
Marie wag in die Lugogo-moeras vir skoenbekooievaars
Skoenbekooievaar

Sonder ’n 500 mm-zoemlens sou ons nooit daai foto neem waar-oor voëlkykers droom nie. Ons het met verkykers dopgehou hoe hulle vroegoggend jag maak op longvisse en selfs ’n babakrokodil. Die US$30 p.p. (R440) is wraggies die geld werd.

Die volgende dag het ons ’n 200 km lange agterpad gevat na die suidelikste punt van die Murchisonwaterval- nasionale park. Dit het vyf uur geneem. Die dag daarna is ons die park in (toegang is US$40 p.p. en US$50 vir jou voertuig, R1 900 altesaam) om die waterval te sien. ’n Ravyn druk die polsende water voort wat oor ’n afgrond tuimel om die bruisende Murchisonwaterval te vorm.

Ná twee uur van dié skouspel bekyk, is ons met ’n veerboot oor die Victoria-Nyl (Witnyl) na die wildkykdeel van die park. Die plek vir wildkamp (US$50 p.p.; R730) op die rand van die Albertmeer is gaaf. Ons het een nag hier deurgebring. Van ons kamp af het ons ’n groep van sowat 80 Rothschild se kameelperde gesien, en olifante en leeus het kom groet. Dit was ’n fantastiese ervaring en ons was spyt ons het nie eerder drie aande hier gebly nie.

Kibale- nasionale park
Sjimpansee, Kibale- nasionale park
Kibale
Rooistertaap, Kibale
Sjimpanseespoorsny, Kibale

Van Kidepo na Kumi na Kenya

Die Kidepovallei- nasionale park is volgens locals een van die moetsien-plekke in Uganda. Dié afgeleë mooi park moet egter in die reënseisoen vermy word.

Dis in die verre noorde van die land, op die grens met Suid-Soedan. Dit het ons 10 uur geneem om die 390 km van die Murchisonwaterval af te reis. Ons het wel op die dorp Kitgum oornag.

Kidepo is wild met net ’n basiese padnetwerk en geriewe. Ons het drie aande in die park gebly (US$40 toegang p.p., US$50 vir jou voertuig en US$30 p.p. vir kamp; R2 780 vir ons twee per dag) in een van die twee kampplekke.

’n Wildernisgebied is ekstra-spesiaal wanneer dit reën, en om te ry op die gladde, nat paaie in Kidepo was avontuurlik... En toe val ons vas. Dit was ongeveer 3 km van ons kampplek af.

Met ons staatmaker-panga het ons groot takke afgesny, dit onder die Hilux se wiele geplaas en sodoende het ons losgekom. Die paaie het gemaak dat ons net twee keer op wildritte gegaan het, maar ons het steeds heelwat leeus gesien, en ’n baie ougat babaskilpad.

Maanhaar, Kidepovallei- nasionale park
Kidepovallei- nasionale park
Wildkamp, Kidepo

Hiervandaan mik ons na Kenia deur Uganda se Karamoja-streek waar nomadiese krygers woon. Die stamlede dra eienaardige hoede wat herinner aan Dr Seuss se Cat In The Hat.

Maar wees gewaarsku – dis ’n gevaarlike gebied. Van die locals het ons vertel dat ’n mens hier ’n koei vir ’n AK47 kan verruil!

Hier was al ’n paar ontwapeningsooreenkomste sedert die middel 2000’s en dis nou veiliger om in die gebied te reis. Nodeloos om te sê het ons nie hier wild gekamp nie en is voort met die Ngorapad waarop ons 340 km binne 8 uur afgelê het.

Uit die bloute het ons by die dorpie Kumi ’n bord gesien wat lees: “Nyero Rock Painting Site.” Ons was op pad na die Keniaanse grens, maar ons sou dit nie voor donker haal nie.

Die terrein by Nyero dateer terug na die Steentydperk en is van Uganda se oudste en belangrikste rotskunsterreine. Ons het ’n gids gehuur wat saam met ons rondom ’n groot dagsoom van graniet-inselberge geklouter het om die drie hoofpanele te verken. Mense, diere, kano’s en vreemde sirkels word uitgebeeld.

Vroegaand is ons saam met G&T’s by een van die groter inselberge op om die sonsondergang te geniet. Die einde van ons epiese tog was in sig...

Ná Uganda was ons op pad huis toe. Van hier af ry ons deur Kenia, Tanzanië, Malawi, Zambië en Zimbabwe om betyds te wees vir Kersfees in Suid-Afrika.

Rothschild se kameelperde
Rothschild se kameelperde, Murchisonwaterval- nasionale park

Doeanefiasko (’n kort toneelstuk)

Toneel 1: Dit stortreën terwyl Patrick en Marie by die besige Rwandese Gatuna- grenspos aankom. Hier is een klein gebou met ’n nog kleiner onderdaklokaal waar ’n mens uit die gietende reën kan staan. Ongeveer 30 mense stoei om uit die nattigheid te bly.

Rwandese immigrasiebeampte (RIB): “Julle moet US$30 p.p. (R440) betaal om Rwanda binne te kom.”

Marie: “Hoe nou?”

RIB: “Jou Oos-Afrika-gemeenskaps-visum het verval. Toe jy uit Kenia na Tanzanië gereis het, het jy die Oos-Afrika-gemeenskap verlaat.”

Marie: “Wat?!”

RIB: “Jou OAG-visum het verval in Tanzanië.”

Marie: “Maar die visum is geldig vir 90 dae en dit sluit in Rwanda, Uganda en Kenia?”

RIB: “Dis nou nietig; jy moet weer betaal.”

Toneel 2: Patrick staan en kyk hoe Marie die RIB aanvat. Die omstanders volg terwyl die bekgeveg voortduur. In die eindronde staan Patrick nader – hierdie is immers ’n spanpoging. Albei partye verlaat die kryt gekneus.

Ons het nie besef dat die visum ’n mens net toelaat om in ’n bepaalde rigting te reis nie.

Kortom: Van Kenia af moes ons na Uganda, en dan Rwanda reis. En nie Tanzanië – wat nie ’n OAG-land is nie – binnegaan soos wat ons gedoen het nie. Ons visum het tussen Kenia en Tanzanië verval en geen beampte het dit vir ons gesê nie. Ons kon nie verder reis nie!

Die gestry het voortgeduur en die beampte het ons paspoorte gekonfiskeer. Benoude oproepe is gemaak na die Suid-Afrikaanse (Patrick) en Franse ambassade (Marie).

Die Suid-Afrikaanse ambassade het ons aangeraai om op te dok en vinnig uit die land te kom. Ek het teruggegaan om te betaal, maar die beampte het geweier: “Julle is onwettig in die land. Julle paspoorte sal na Kigali gestuur word.”

Ons was baie traag om die 150 km- (5-10 uur) ompad te vat om die drama uit te sorteer.

Die Franse ambassade het ’n paar toutjies getrek en gesê dat die beampte ons paspoorte sal teruggee as ons US$30 p.p. betaal.

Ons het betaal en so gou moontlik die pad gevat. Die Uganda-kant van die grenspos het nog gewag en dit sou waarskynlik dieselfde storie wees. Maar daar is ons sonder enige vrae deurgelaat.

Lelwelhartbees, Murchison
Foto: Verskaf
’N KARAMOJA-STAMLID MET SY KENMERKENDE KODDIGE HOED
Nyero-rotskuns
Die Gurneys se epiese reis

Patrick en Marie het op 3 Junie 2018 uit Marie se tuisdorp, Valence, Frankryk, vertrek met die doel om binne 18 maande terug te reis na hulle huis in Johannesburg.

Teen die tyd dat hulle Uganda bereik het, was hulle reeds 16 maande op die pad. Hulle het gereis deur Frankryk, Switserland, Italië, Kroasië, Slowenië, Hongarye, Roemenië, Bulgarye, Griekeland, Turkye, Israel, Palestina, Jordanië, Egipte, die Soedan, Ethiopië, Kenia, Tanzanië en Rwanda.

MEER INLIGTING

Kontak die Gurneys by info@skultcha.com of besoek skultcha.com

Facebook: “skultcha” Instagram: @skulcha