Montagu is daai skoolmaat wat mooi én slim is, provinsiale kleure het in elke sport én boonop gaaf. 

Dié dorp in die Klein-Karoo bied berge, grondpaaie, blomme, ou geboue, restaurante... En dus voel álmal welkom! Stappers, bergfietsryers, motorfietsryers, rotsklimmers, geskiedenisboffins, smulpape, de lot. 

As jy van die Kaap se kant af met Roete 62 in Montagu se Langstraat afry, let jy eerste die goed bewaarde huise en netjiese tuine op. Kaap-Hollandse opstalle staan statig tussen wingerde en boorde. Kerkstraat se Victoriaanse huise vertel die verhaal van die Britse invloed.

 Tussen die opstalle wei skape en perde, en leiwater kabbel onderdeur sypaadjies. Donker- en Badskloof in die Langeberg noord van die dorp se strome voed die leidam in die middel van die dorp. 

In die broeiseisoen is dié dam ’n regte nes soos al wat gevlerkte is, hier neerstryk, veral ibisse broei by dosyne! (Wees gewaarsku: ’n Mens ruik hulle voor jy hulle sien.) Een van die voëlkykplatforms langs die leidam is ’n goeie plek om die bene te rus. Jy kan selfs ’n visvanger of ’n visarend gewaar. En snags is die kans goed dat jy ’n uil of drie sal hoor. Sien, tot voëls voel welkom op Montagu!

Waar die berge antwoord gee

Montagu is aan drie kante beskut deur berge. Die oop kant is na die ooste wanneer jy jou karneus op die R62 Barrydale se kant toe stoot. Dis ’n golwende koppielandskap wat jou op en af vat soos enige fietsryer sal bevestig.

Toe D.F. Malan in 1906 hier as jong dominee aangekom het, is hy oorweldig deur die gas-vryheid van die mense. Die dorpenaars het hom al in Ashton met ’n kavalkade van sowat 70 motors begroet. Hy beskryf Montagu só in ’n brief: “Montagu is mooi, zeer beslist mooi. Prachtige bergen rondom. Aarde buitengewoon vrugbaar. Water in oorvloed. De bergen, water en lucerne geven my recht om Montagu te noemen het Zwitserland van Z.A.” Dis dalk oordrewe, maar die man het ’n punt beet.

Rotsklimmers en stappers stroom hierheen. Tony Lourens, een van Suid-Afrika se voorste klimmers en skrywer van talle rotsklim- en stapboeke, klim reeds jare in dié berge en het vanjaar van Kaapstad af hierheen getrek. Dis nie net hy nie. “Daar is sowat vier van ons goeie vriende wat ook hierheen getrek het.”

Die rotsklimgids Tony Lourens

Ek en Tony sukkel om bymekaar uit te kom. Hy laat boodskappe: “Dit het gesneeu en ons gaan ’n piek klim,” of “Ek is in Kogmanskloof. Ons werk ’n nuwe roete uit.” Later stuur hy foto’s wat lyk asof dit in die Alpe geneem is.

Uiteindelik neem Tony my na Legoland – ’n gewilde klimplek langs die ou tolhuis in Kogmanskloof. Al hou jy jou voete op die grond en hou net die klimmers bo se toue vas of maak tee, kom jy by mooiste plekke uit: Klowe, langs riviere, bo in die berge, onder in die dale. By klimplekke met name soos Heaven, Lost World, Castles in the Sky.

Wat Montagu só gewild onder avontuurlustiges maak, is dat alles so na aan die dorp is. Jy kan na baie van die klimroetes stap, en die staproetes begin teenaan die dorp. Die bergfietsroetes begin óp die dorp.

Die Montagu Moutain Meanders-stapgroepie hou bekende wandelpaaie in stand en vry van indringerplante, en sit sandsakke neer ná erge reën. Vakansiegangers wat ’n maand lank kom kamp, raak dikwels deel van dié WhatsApp-groep en stap elke oggend saam. Al is dit net ’n stappie deur Badskloof (2,5 km) op die westelike grens van die dorp vir ’n koppie koffie by die Avalon Springs-oord.

Jy hoef ook nie die berge in te vaar nie – jy kan sommer net in die Natuurtuin wandel. Of kom loer in vir koek en tee – tussen April en Oktober kuier die locals elke Dinsdagoggend om 10 vm. en samel geld in vir die instandhouding van dié openbare tuin.

Nóg ’n geliefde tuin is Jouberthuis se kruietuin. Ná die verwoestende vloed van 1981 het die Montagu-museum ’n kruietuin aangelê om fondse in te samel vir die herstel van Jouberthuis, die oudste huis op die dorp.

“Alles is saamgevat in die tuin: fynbos, Karoo, tuinkruie,” vertel Hennah Flesch, die bestuurder van Jouberthuis. “Besoekers kan hier kom stap. Dis ’n miniatuurtuin van ons streek en dorp,” verduidelik sy.

Medisinale kruie word uit die tuin en die omliggende klowe geoes en gedroog, en dan in spesiale mengsels verpak en verkoop. Hier is doepas vir “skeelhoofpyn, winderigheid, vrouekwale, slaaploosheid” en nog vele meer.

“Dié pakkies is meer as net kruie,” sê Hennah. “Van die mengsels is ’n samevoeging van San- en boererate wat as Montagu se eie kultuurmengsel beskou word. Die kruie word gepos.”

“Die gewildste mengsels is dié met wilde-als vir die longe en kankerbossie vir die immuunstelsel,” vertel Anneline Mohammedt, die kruiekoördineerder van die museum.

Jy kan saam met ’n museumgids in die klowe gaan stap wat die kruie in hulle natuurlike habitat uitwys. Dis ’n sonderlinge ervaring wat jou diep in Donkerkloof neem waar die kruie ruig groei langs kabbelende rivierstrome en die kranse jou omgolf.

Montagu is lank reeds sinoniem met gesondheid. In die Montagu Country Hotel hang ’n ou plakkaat: Die plooiberge van Kog-manskloof troon bo die pad uit net soos jy uit die tonneltjie uitry op pad Montagu toe. ’n Ou spoorwegbus kom om die draai aangery om passasiers op Ashton se spoorwegstasie te gaan haal en Avalon Springs toe te neem. Bo staan groot: “Montagu: Op die pad na gesondheid.”

Party mense glo dis waar. “Dis die skoon lug en die berge wat jou hier omarm,” sê sommige. “Nee,” sê ander, “dis die grense tussen historiese strukture en bakens wat vir die genesende en positiewe energie sorg.” Party glo weer dis die bymekaarkomplek van Karoo en fynbos, van vlakte en berge, kruie en warmwater.

“Dis die skoon lug en die berge wat jou hier omarm,” sê sommige. “Nee,” sê ander, “dis die grense tussen historiese strukture en bakens wat vir die genesende en positiewe energie sorg.”

Dis reeds só van die begin van die 20ste eeu af, toe Montagu met haar warmwaterbronne, droë lug en matige klimaat ’n gewilde bestemming was vir gesondheidstoeriste.

Reisigers uit Europa het hier kom aansterk, veral diegene met “huid- en borskwale”.

Sommige is nie weer huis toe nie, soos vandag steeds gebeur.

Gert Lubbe het besef dié gesondheidstoeriste bestaan steeds. Tot sy afsterwe verlede jaar was dit sy lewenstaak om Montagu en Roete 62 weer op die map te sit. Hy het die Montagu Country Hotel tot sy art deco-glorie herstel. Hy het vir gaste ’n ouwêreldse tuiste geskep waar hulle kan ontspan kompleet met mineraalborrelbaddens en ’n gesondheidsentrum. P.J. Basson, die nuwe mede-eienaar van dié hotel, meen Montagu se ligging is een van die pluspunte.

“Montagu is in die middel van Roete 62 tussen sy twee belangrike punte: Kaapstad en die Tuinroete.

Dis die hart van Roete 62. Dis 2½ uur van die Kaap af en 2½ uur van Oudtshoorn af. “Dis een van die bes bewaarde dorpies in die Wes-Kaap wat estetika betref. Dis ’n skoon dorp.” Ja, die dorp is mooi, maar almal is dit eens: Die mense maak die dorp.

“Die mense gee om vir mekaar. Mense is bewus van mekaar en mense is afhanklik van mekaar,” glo P.J.

Kerkstraat en sy goed versorgde Victoriaanse huise

Dis die mense

Kort nadat ek na die dorp getrek het, het ek dié uitsonderlike mense leer ken. Eendag het ’n man uit die bloute homself kom voorstel – Richard Knipe. Hy het my in sy kar gelaai, toe in sy private vliegtuigie my op ’n plesierrit oor die dorp geneem sodat “my voete kan vlieg”.

“Ek dink vreemdelinge voel welkom,” beaam Hennah. “Dís hoekom die Oudam-woonbuurt só vol buitelanders is. Montagu lok mense.”

Mandy en Alfred Henry van The Pastry Place.

The Pastry Shop se mede-eienaar, Mandy Henry, beaam dit. Sy en haar man het net voor die nasionale inperking uit Kaapstad hiernatoe getrek en ’n nuwe besigheid oopgemaak.

“Ons besigheid sou dit nie in dié tyd in die Kaap gemaak het nie. Maar hier het die hele gemeenskap ons ondersteun.”

Jacomi van Rooyen, destydse matrone van die skoolkoshuis en later droëvrugteverkoper, is bekend vir haar program Nuwe Intrekker. In samewerking met die NG kerk organiseer sy uitstappies vir nuwe intrekkers. Sy ken amper almal op die dorp, dus loop sy jou sommer trompop in die slaghuis en hoor of jy ’n besoeker of ’n nuwe intrekker is. “Ek vra nie aan watter kerk hulle behoort nie. Dis nie vir my belangrik nie. Ek vra net: Cope jy?”

Jacomi het die nieamptelike ambassadeur van die dorp geword: In die winter is dit ’n uitstappie na Piet Nel se plaas om na sy indrukwekkende aalwyntuin te kyk en in die lente sy malvas.

In die somer besoek hulle plase om te sien hoe appelkose en perskes gedroog word. In die bloeiseltyd besoek hulle een van die grootste amandelplase in die land.

Dis ’n dorp wat almal aanvaar: Inkommers, families wat generasies lank hier woon, afgetredenes, jonges, aktiewes. En hier is iets vir almal, van boekklubs en bergfiets tot tuinbou- en stapklubs. Hier’s ’n dam vir elke gans.

Bronne: Die lewe van D.F. Malan deur prof. B. Booyens, Bronwaters van genesing deur prof. B. Booyens

Hennah Flesch, die bestuurder van Jouberthuis
Die “ambassadeur” Jacomi van Rooyen

DOEN DIÉ 4 DINGE

1. Stap of draf die dorp plat

Hier is gemerkte roetes van verskillende moeilikheidsgrade op die dorp en omliggende berge. Stap die maklike Badskloof- (2,5 km) of Kogmanskloofroete (12 km). Hardebaarde kan mik vir die Bloupuntroete van sowat 16 km.

Kry kaarte en permitte by die Montagu-natuurreservaatkantoor ( 023 614 8000) aan die einde van Tannerstraat. Laai ’n kaart van die staproetes af by montagu-ashton.info.

Bel Richard Hicks 082 453 4255 of Willie Long 082 256 7160 as jy saam met die Montagu Mountain Meanders-groepie wil stap.

2. Proteaplaas se trekkerritte

Foto: Verskaf

Die Burgers neem al sedert 1985 besoekers met ’n trekker tot bo-op die Langeberg.

Op pad het jy ’n arendsuitsig oor die Koo-vallei. Ná die tyd kan julle aansit vir ’n heerlike bord potjiekos. Hier is selfsorghuise en ’n kampterrein op die plaas.

Waar? 29 km noord van Montagu op die R318.

Koste: ’n Trekkerrit is R150 p.p. en R150 p.p. vir potjiekos (spesiale tariewe vir kinders).

Bespreek vir ’n rit enige Woensdag of Saterdag.

Kontak: 023 614 3012; proteafarm.co.za

3. Ry in styl

Hou jou lyf Elvis en doen ’n wyntoer deur die Robert-sonvallei in ’n 1956 of 1964 Cadillac Sedan DeVille.

Of verbeel jou jy is famous en ry ’n draai deur die dorp. Ja, mét ’n bestuurder.

Waar? Montagu Country Hotel, Badstraat 27.

Koste: R695 per uur (maksimum 4 mense)

Kontak: 023 614 3125; montagucountryhotel.co.za

4. Proe forel in die Karoo

Doen iets nuuts en bespreek ’n forelproesessie (R250 p.p.) by die Two Dam Sustainable-forelplaas (net Vrydae en Saterdae). Die plaas gebruik net hernubare krag en g’n Eskom-krag nie. Bespreek die Maandag voor jou besoek. Jy kan ook hengel vir ’n reënboogforel vir die rooster.

Waar? Langhoogte, Pietersfontein. Jy draai af van die R318, rigting Touwsrivier. Laai die kaart af terwyl jy op die dorp is. Selfoonontvangs is skraps.

Kontak: 082 748 6448; twodam.co.za

Wat nog?

Die Montagu-museum bestaan uit Jouberthuis by Langstraat 25 en die Sendingkerk ’n entjie verder, by Langstraat 41. Toegang vir albei is R15 p.p.

023 614 1774; montagumuseum.co.za

Stuur ’n e-pos na mmuseumherbs@gmail.com of kontak Anneline by 072 288 4498 om die kruiestaptoer in die kloof (sowat 6 km) te bespreek (R200p.p).

Moenie die dorp verlaat sonder muskadel en droëvrugte in die kattebak nie. Hier is vier kelders (Montagu Wine & Spirits, Montagu Winery, Mimosa Wines en Drie Berge Winery) en drie groot droëvrugtemaatskappye (Capedry, Montagu Snacks en Locarno).

Besoek Capedry se fabriekswinkel by Badstraat 102.

Die wynwinkel verkoop die meeste van die omgewing se wyn en muskadel.

023 614 1134; montagufarmstall.co.za

Baai in ’n warmwaterbron. By Avalon Springs word die water uit die oog in die swembaddens gepomp. Dit kos tussen R80-R150p.p. afhangende van die dag van die week en tyd van die jaar. Dit raak goed besig op vakansiedae.

 023 614 1150; 072 623 0560; avalonsprings.co.za.

Die Montagu Country Hotel het ’n borrelbad met mineraalwater waar jy en jou geliefde in privaatheid kan baai. Dit kos R200 vir 30 minute (2 mense).

023 614 3125; montagucountryhotel.co.za

Die Parkiemarkie vind elke Saterdag plaas van 8 vm. tot 12 nm. in Euvrard-park in Badstraat. Kanse is goed dat ’n paar mense met ’n pannekoek in die kies en een van Farhat Amod se samoesas in die vuis vertel hoe hulle kom vakansie hou het en toe op ’n Saterdagmiddag by die eiendomsagente Christine Laubscher of Nelda Wiese ingeloer en ’n huisie gekoop het.

Kry ’n gratis dorpskaart by die Montagu-toerismekantoor by Badstraat 24 (023 614 2471; montagu-ashton.info) en verken die dorp. Die kaart het inligting oor die dorp se geskiedenis.

Lus vir perdry? Klim op ’n saal by Heidiland op die Klipheuwelplaas sowat 15 km uit op die R62 rigting Barrydale. ’n Rit van sowat 90 minute kos R250 p.p. 073 033 5560; heidilandha.business.site

Fliek by die Odeon in die ou KWVgebou. Twee Woensdagaande ’n maand wys Hennie Kok kunsflieks uit lande soos Noorweë, Frankryk of selfs Japan. Jy sit op ’n regte Ster-Kinekor-stoel met ’n glasie plaaslike wyn in die hand.

Kaartjies is R50 p.p.; montagufs@gmail.com.

Hier’s baie fietsroetes op gronden teerpaaie in die omgewing. Gaan loer by montagu.org.za/what-to-do/mountain-biking vir roetebeskrywings en ’n kaart. In Maart vind die Eroica- klassieke fietsresies (eroica.cc/en/southafrica) plaas – jou fiets moet verkieslik ouer as 40 jaar wees.

Leer ken die dorp se steil kranse saam met Tony Lourens ( 082 550 6819; tony@samountain.co.zabluemountainadventures.co.za). Hy bied abseil- en rotsklimtoere aan vir beginners en ervare klimmers. Pryse vanaf R650 p.p. vir ’n halfdag (minimum 2 mense)

Sendingkerk
Jouberthuis

WAT SÊ DIE MENSE?

Anneline Mohammedt
“Hier is ’n energy op die dorp. Ek dink dít is wat mense hierheen bring – dat hulle dink en voel dat hier ’n soort healing gaan wees. Montagu maak jou heel.”
- Anneline Mohammedt
Jannie Hanepoot van Tonder
“Die Aasvoëlkransroete (3,2 km) is die bevredigendste staproete. Dis net 90 minute op en af.”
- Jannie Hanepoot van Tonder
Irma Jordaan
“Die Rambling Rose se vis-en-tjips is die beste. Die kos is lekker en jy kry waarde vir jou geld. As ek mense kry, vat ek hulle vir aandete na die Montagu Country Hotel. Dit het ’n ouwêreldse atmosfeer.”
- Irma Jordaan
Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook