Ná haar dood vertrek hy, sy oom en sy neef op ’n road trip na ouma Sannie se verlede...

HY SKRYF: My ouma Sannie Conradie het een middag terloops genoem dat sy uit die Moordenaarskaroo kom, terwyl ek by haar kuier by Huis Ravenzicht in Kraaifontein. Ek het gevra hoe sy haar nek seergemaak het, want sy kla altyd oor ’n pyn. 

Sy het vertel die pyn kom van haar jongdae af, ná ’n donkiekarongeluk. Haar oudste broer het hulle by die skool kom haal vir die vakansie. Hy was haastig terug huis toe en wou nie stop by die donkies se gewone uitspanplek nie. Die steeks donkies wou nie hoor nie en haar broer het beheer verloor. Die donkiekar het omgeval in ’n sloot. 

“Waar het Ouma-hulle dan gebly?”

“Die Moordenaarskaroo, my kind. Spitskop en Knoffelkloof.”

En daar dink ek my hele lewe lank dat Ouma op Montagu groot geword het! 

Dis meer as drie jaar ná ouma se dood en ek, my oom Bernie Conradie (ouma se eerste kind) en my neef Ewald (sy seun) is op ’n roadtrip om te gaan kyk na Ouma se plase, kerk en skool. Ons het nou net buite Laingsburg die Moordenaarskaroo-afdraai geneem van die N1 af.

My ouma Susanna Catharina Bothma is gebore op 4 Augustus 1921 en het tot ongeveer 1933 op die plase Spitskop en Knoffelkloof in die Moordenaarskaroo, Laingsburgdistrik, gewoon. Nie een van ons was al in die geweste nie. 

Dis meer as drie jaar ná ouma se dood en ek, my oom Bernie Conradie en my neef Ewald is op ’n roadtrip om te gaan kyk na Ouma se plase, kerk en skool.

Hiervandaan is dit sowat 150 km se grondpad tot op Sutherland. 

“Sou dit nog dieselfde grondpad wees as wat Ouma-hulle met die donkiekar gery het?” wonder oom Bernie hardop. “Of sou hulle dié pad later gemaak het?

“Dit was twee dae se trek met ’n donkiekar vanaf die plaas tot op Laingsburg.”

“Nou waar sou hulle geslaap het?” vra ek.

“Onder die donkiekar!”

Ons ry verby bossies en doringbome, deur droë riviere, oor koppies vol leiklip, al langs plaasheinings af. Nou en dan ry ons verby ’n ou geroesde plaashek of ’n windpomp met sy dam.

Ons hou stil by iemand wat aan ’n windpomp werk. Dis ’n jong man met ’n vuil kakiehemp, denim kortbroek en stewels. 

“Ons kom maak nie moeilikheid nie, net kennis!” roep oom Bernie.

“Solank ek die moeilikheid kan reg sweis, gee ek nie om nie,” sê hy met ’n glimlag. “Pieter Esterhyse.” 

“Ek het skool op standerd ses gelos. Ek herstel windpompe vir ’n lewe,” gesels Pieter. Hy weet nie van die plase Rondawel (waar Ouma se skool was) en Spitskop nie, maar hy kuier op die plaas Boesmansfontein hiernaby, by ene Johan le Roux se dogter. 

 “O, jy vry daar!” skerts oom Bernie.

“Ja, maar ek vry in die nag, Oom, want ek is te vrek lelik.” 

Ons klim terug in ons bakkie en voor ons ons kom, kry sien ons net ’n stofwolk van Pieter se bakkie teen ’n heuwel. Ons volg hom so goed ons kan en sien later ’n opstal met ’n bordjie “Boesmansfontein”.

Johan le Roux en Phillip Bothma kom aangestap. Johan herken nie enige van die inligting of mense op die foto’s nie.

“Hier is báie Bothmas in die omgewing,” sê hy. Hy tik met sy vinger op die foto van ouma- en oupagrootjie. “Dit voel amper of ek hierdie mense moet ken.”
Ons sit vir ’n koppie koffie. Dis ’n regte Karoo-plaaswerf: Eenkant is ’n hoenderhok gebou met houtbalkies en ogiesdraad. Anderkant pomp ’n windpomp ’n dun straaltjie water in ’n dam met ’n skaap wat rondom wei. ’n Los hoender skrop doeriekant toe. 

Oom Bernie vertel van Ouma: “Sy het skoolgegaan op die plaas Rondawel. En kerk was op Koringplaas. Met nagmaal moes die boere die nag daar uitkamp, want die plase is wyd versprei en dis lank se ry met ’n donkiekar.”

Johan weet waar die plase is en teken ’n eenvoudige padkaart. 

Ek voel tevrede. Ons is op ouma se spoor. 

Ons hou ’n ruk later langs bouvalle stil, voor ’n bordjie “Koornplaatz”. Nie een lyk of dit ’n kerk kon gewees het nie. 

Eers sowat 200 m verder deur ’n laagwaterdrif, van agter ’n klomp doringbome verskyn die kerkie. Dis ’n eenvoudige gebou: Net reghoekig met ’n spitsdak, maar ’n mens kan sien dit word gebruik – die gebou het onlangs ’n nuwe dak gekry.

Waar sou almal jare gelede kamp opgeslaan het?

Die kerk is gesluit en hier is nie ’n siel in sig nie.

Aan die voorkant is ’n gedenkplaat wat in hoog Hollands sê: “DIT GEBOUW IS EEN GESCHENK VAN DE BR DIANKEN J.C BOTHMA. GAAN IN ZIJNE POORTEN MET LOF. PS 100:4. 20 SEPTEMBER 1917.”

“Kyk hier!” Oom Bernie wys na my oupagrootjie se name op die bladsy in sy lêer. Hy was ook J.C.Bothma.

“Nee Oom, ek dink hulle was bietjie te arm. Dit moes ’n ander J.C gewees het.”

“Oom dink dis die regte kerk dié? Ouma se kerk?”

“Beslis!”

Ouma sou dan seker hier gedoop gewees het. 

Ons drentel nog ’n tydjie om die kerkie rond en kry iets agter uit die bakkie om te drink voor ons weer pad vat.

Ons volgende stop is die plaas Rondawel. Oom Bernie het die boer, Alwyn Myburg, ontmoet toe hulle ’n paar weke gelede vleis verkoop het in Brackenfell. Ons hou voor ’n plaashuis stil met ’n roostuintjie. 

Die kombuis is koel. Dit is nou al baie warm buite. Alwyn se pa, Billy Myburg, boer op ’n plaas hier naby. Hy gaan nou-nou hier wees, hy lei net gou ’n dammetjie leeg.

Rae, Alwyn se vrou, is in haar skik met die inligting in oom Bernie se lêer en maak ook afskrifte. Sy versamel self so bietjie geskiedkundige inligting oor die Moordenaarskaroo wat sy in haar gastehuis wil uitstal.

Billy kom by die kombuisdeur ingestap. Hy vertel sy ma is in 1919 in die Moordenaarskaroo gebore.

 “Ouma Sannie se suster, Sophie, wat saam met haar hier op Rondawel skool gegaan het, het hier kom kuier. Weet oom daarvan?” vra ek.
“Ja, tannie Sophie en oom Gawie Botes was huisvriende van my ouers. Ek kan hulle en hul kinders nog onthou. My oudste broer, Jannie, is nog steeds vriende met hul oudste seun, Anton Botes.” 

Oom Bernie vertel oor die skoollewe. Die staat het kos na die skooltjie gestuur vir die kinders. Die skoolmeester het die kinders sleg behandel. Sodra die skoolinspekteur op pad was kry die kinders wit lakens en kussings. Maar as die inspekteur weer weg is, dan slaap hulle onder die kafsakke. Ouma-hulle het net een keer ’n jaar huis toe gegaan met ’n donkiekar. 

Hulle gaan wys ons die skuur wat staan waar die skooltjie was. “Dis basies net die vloer wat nog oorspronklik is. Die mure is verbreek en verbou om ’n skuur te maak wat dubbel die skooltjie se grote was, ” sê oom Billy.

Die vloer is omtrent ’n enkelgarage se grootte. Dit lyk na leiklip wat mooi reghoekig gekap en gepak is. “Ons het die griffels en leie nie te lank terug weggegooi. Dis nou waarmee die kinders geleer skryf en somme maak het.”

Ouma-hulle het net een keer ’n jaar huis toe gegaan met ’n donkiekar.

Ek staan weer by die deur en kyk buitentoe. Ouma-hulle het regtig in die middel van nêrens skoolgegaan. Vir iemand wat hier boer, is dit seker êrens.

Ons ry ’n ent terug soos ons gekom het en draai regs by die kruising na Sutherland. Die pad lei na Spitskop en Knoffelkloof. 

Ons hou voor die hek stil: “SPITSKOP N.J.M BRINK”. ’n Ander bordjie waarsku egter oortreders sal vervolg word.

Ek sien net heuwels met bossies en leiklip. ’n Eskom-hoogspanningslyn loop deur die plaas, maar dis al mensgemaakte goed wat jy sien. Dis stil en verlate.
Een dag in 1933 het my oupagrootjie-Bothma met sy vrou en kinders, Petrus, Johannes, Ben, Sophie en Sannie vir die laaste keer deur hierdie hekke gery. Ouma het nooit weer na die plase terug gekom nie. 

Hulle moes die plase opgee weens die droogte en runderpes. Oupa het gaan werk by die Gamkadam naby Ladismith en daarna werk gekry by ’n wynkelder op Montagu.

Ons ry verder aan, maar sien nêrens ’n bord “Knoffelkloof” nie. 

“Kom laat ons ry!” jaag oom Bernie ons aan. “Die winkels maak vroeg toe op Sutherland. Ek wil nie vanaand droëbek langs die vuur staan nie.”

Ewald dryf ons al met die grondpad langs. In my kop dwaal ek weer terug. Terug na die vriendelike mense wat ons in die Moordenaarskaroo ontmoet het. Terug na die plekke waar ouma gewoon, geleer en gebid het. Dit voel of ek haar vandag beter leer ken het. Dit voel asof ek haar weer vandag gekry het.

 Herman se storie het oorspronklik in Weg#142 (Augustus 2016) verskyn.