Ontmoet die leser:

Johan Wahl is ’n siviele ingenieur van Kaapstad. Langs hom staan sy vrou, Jana.

Dis vroegoggend. Ons stap met swaar rugsakke deur Lichinga se agterstraatjies na die treinstasie. (Gaan kyk op ’n kaart – dié dorpie is diep in die noorde van Mosambiek). Elkeen het ’n klip in die hand, net vir die wis en die onwis... Ons mae grom behoorlik, gisteraand se kitsmieliepap kon nie al die gate toestop nie. Maar teen dié tyd weet ons by die stasie sal talle smouse allerlei eetgoed verkwansel: brode, eiers en gebraaide mielies...

Ek en my vrou, Jana, het ’n paar maande gelede getrou, ons werk bedank en op ’n sakpaswittebroodreis om die wêreld vertrek. Vir hoe lank? Wie weet...

Afrika was eerste op die lys: Ons wou met openbare vervoer reis deur Oos-Afrika, van Kaapstad tot by Kampala, die hoofstad van Uganda, en terug.

Ek en my vrou, Jana, het ’n paar maande gelede getrou, ons werk bedank en op ’n sakpaswittebroodreis om die wêreld vertrek. Vir hoe lank? Wie weet...

Ons sou op die ou einde meer as 13 000 km aflê, maar my storie begin op die dorpie Cobué, in die noorde van Mosambiek. Dis ’n deel van Afrika wat my heeltemal onkant betrap het.

Ons reis reeds ongeveer ses weke en het ’n week gelede afgeklim op Cobué van die MV Chambo, die goedkoper en heelwat minder betroubaar van die twee passasiersveerbote wat vaar op die Malawimeer (of die Niassameer soos die Mosambiekers dit noem).

Reeds op die veerboot het ons besef hierdie is ’n avontuur: Die Mosambiekse kant van die Malawimeer is yl bevolk met min of amper geen paaie nie. Van Cobué af het ons nog dieper die boendoes in gereis na die dorpie Lichinga.

Die kaptein van die MV Chambo het ons genooi om op die boonste dek te sit. Dié twee mans op die onderste dek het – nes ons – oor die blou water uitgekyk.

Vanoggend reis ons per trein na Cuamba en dan voorwaarts na Nampula. Ons is gelukkig – hulle het bykans tien jaar aan die treinspoor tussen Lichinga en Cuamba gebou en die trein het ’n paar weke tevore begin loop! Die treinrit voel soos ’n vyfster-limousinerit in vergelyking met die chapas waarmee ons meestal ry. ’n Chapa (minibustaxi) is jou voorland as jy in die afgeleë dele reis (sien "Weet voor jy waai" onderaan die storie). Op die trein het elke passasier sy eie sitplek. Hier’s selfs toilette!

Op die eerste skof van die treinrit ry ons verby mooi berge – enorme granietspitse wat bo die landskap uittroon. Op plekke staan dit so hoog en fors dit lyk soos die Yosemite- nasionale park in Kalifornië! Die Paarlberg kan gaan slaap. Ná sowat ’n week se reis bereik ons Mosambiek-eiland (Ilha de Mocambique). Dis ’n halfmaanvormige eiland, omtrent 3 km lank en ’n halwe kilometer breed, wat met ’n 2,5 km lange padbrug aan die vasteland verbind is.

Dit was destyds die hoofstad van Portugese Oos-Afrika en tot 1898 die administratiewe hoofstad van Mosambiek. Deesdae woon hier sowat 14 000 mense, meestal vissermanne.

Die eiland herinner steeds aan ’n klassieke Europese kusdorpie met pastelkleurige geboue, groot kerke, keisteenstrate en die reuk van vars broodrolletjies wat in die lug hang. Kinders hardloop in die strate, vroue was saam wasgoed by die openbare krane en mans speel bordspeletjies in die markies.

Ons trein het stilgehou by dié “stasie” tussen Cuamba en Nampula – dis eintlik net ’n stilhouplek in die bos
’n Verlate stegie op Mosambiek-eiland

Groete van eiland tot eiland

Ons volgende bestemming is die Quirimba-eilandgroep sowat 200 km verder noord. Ons ry van Mosambiek-eiland tot by die kusstad Pemba en tot by ’n klein dorpie, Tandanhangue. Die rit tussen die twee laasgenoemde plekke verkort my lewe met ’n paar jaar: 13 mense agterop ’n dubbelkajuitbakkie én hulle bagasie, elkeen so groot soos ’n propvol mieliesak, in die reën, vir ágt uur! En het ek genoem dat die pad flenters was?

Die rit tussen die twee laasgenoemde plekke verkort my lewe met ’n paar jaar

Van Tandanhangue af vaar ons op ’n klein seilboot tot op Ibo-eiland, een van die grootstes in die groep – ons kamp hier vir ’n week. Die geskiedkundige eiland met verskeie ou ruïnes is poskaartmooi (cliché maar waar). In die 1600’s was Ibo beset deur die Portugese en later jare ’n slawehandelstasie. Maar selfs hier sien jy net ’n toeris of twee. Bygesê, daar is net twee maniere om hier uit te kom: peperduur vlugte of daai hellerit.

Op pad na Pangane van Ibo-eiland af het die dau só gelek ons moes konstant water uitskep – hierdie is Alfani, ons “kaptein”, en sy assistent
Jana in ’n manglietwoud op Ibo-eiland.

Die eilandgroep bestaan uit sowat 30 eilandjies – die meeste is deel van die Quirimbas- nasionale park (geen bewaringstariewe nie!). Jy kan eenvoudig nie die eilande beskryf sonder geykte uitdrukkings nie: spierwit strande, turkoois water, wortelboomwoude so groot soos Kaapstad, kleurryke koraalriwwe en die visse: Nemo, Dory... hulle is almal hier!

Ons sien eenvoudig nie kans vir die terugtog padlangs nie en onderhandel met twee plaaslike vissermanne, Alfani en Benjami, om ons na die kusdorp Pangane nog verder noord te neem in ’n tradisionele dau.

Die twee dae op die dau is tegelykertyd verskriklik én wonderlik: Ons moet ’n paar kilometer oor ’n vlak rif stap om by die boot uit te kom, ons het nie genoeg kos ingepak nie, en die boot lek! Maar jy’s midde-in die see op ’n boot waarvan die ontwerp eeue oud is met g’n ander mens in sig nie – ons gooi selfs anker vir ’n nag op ’n verlate eiland.

Vir die volgende twee weke sien ons nie ’n enkele toeris nie. Die noorde van Mosambiek is beeldskoon: Ongerepte strande en vriendelike mense. Nie een keer probeer iemand ons swendel nie.

Die twee dae op die dau is tegelykertyd verskriklik én wonderlik: Ons moet ’n paar kilometer oor ’n vlak rif stap om by die boot uit te kom, ons het nie genoeg kos ingepak nie, en die boot lek!

Dié granietspits is naby Cuamba – ons kon dié foto van ’n uitkykpunt af neem. Daar is nog vele meer indrukwekkende spitse soos dié in Mosambiek.

Ons bring ’n paar dae deur in Pangane, ’n groterige vissersdorp. Behalwe vir die enkele pensao (’n goedkoop herberg of gastehuis) waar ons bly, is hier geen ander geriewe vir toeriste nie, maar hier is van die mooiste strande in die ganse Mosambiek. Van Pangane af ry ons met ’n lorrie en toe agterop motorfietse tot by die Ruvumarivier, die grens met Tanzanië. Die avontuur duur natuurlik voort tot die bittereinde toe. Die veerboot vaar net met hoogwater. Ons mis die gety en moet iemand betaal om ons met ’n kleiner boot oor te neem. Dié gaan sit enkele meter van ’n badsel seekoeie af vas in ’n sandbank... Maar dis ’n storie vir ’n ander dag.

Kyk, dié deel van Mosambiek is nie vir elke Jan Rap en sy maat nie, maar as jy lus het vir avontuur en plekke wil sien wat jy nie eens geweet het bestaan nie, mik noord.

Weet voor jy waai

Waar slaap ’n mens? Ons het sover moontlik in ’n klein tweemantent gekamp. Anders bly ons in ’n klein plaaslike pensao. Dis gewoonlik vuil, ongemaklik en raserig, maar dis spotgoedkoop en vol karakter. En met ’n bietjie geluk kry jy ’n skoon kamer en lekker kos.

Hoe lyk die vervoer? Chapas is oorvol minibustaxi’s in ’n slegte toestand wat gans te vinnig ry. Dan is die meeste van die paaie ook in ’n verskriklike toestand. Ná elke rit het ons gesê nooit weer nie, maar ’n chapa is meestal die enigste opsie. Die chapas vertrek nie voordat daar 25 mense én hulle bagasie in is nie.

Bagasie is enigiets van groot sakke houtskool en hoenders tot ’n polisieman gewapen met ’n panga, en sy gevangene.

Wat kos dit? Dit hang af hoe luuks of rof jy reis, maar ons reis (rof) het uitgewerk op sowat R150 p.p.p.d. Waar kan ek nog inligting kry? Die Lonely Planet Zambia, Mozambique & Malawi- en Bradt Mozambique-gids het nuttige inligting, maar is glad nie volledig oor die noorde van die land nie.

Die beste is om ander reisigers se blogs te lees. Die beste van die lot is beslis mozguide.com.

Uganda, Zanzibar, Malawi, Tanzanië, Indië... Dis maar van die lande wat Johan en Jana Wahl op hulle wittebroodsreis om die wêreld verken het. Ons gesels met hulle oor hoe om dié droom te bewaarheid. 

Volg Johan op Instagram by @a.whale.away of facebook.com/a.whale.away.