Forever Badplaas, Barberton

Badplaas, so te sê halfpad tussen Barberton en Carolina, is ’n gesinsoord soos min. Hier is 289 staanplekke wat elkeen tot agt mense kan huisves. Byna elke staanplek het koelte en is uitgelê op die rand van ’n koppie, op terrasse waarvan die laaste ry ’n lieflike uitsig oor die Hlumuhlumuberg het.

Al die pret gebeur skuins oorkant die ontvangskantoor by al die swembaddens. Kom gly by die waterwurm af!

Koste: R120-R180 per staanplek p.n. Kinders jonger as drie bly gratis.

Aankoms- en vertrektyd: 3 nm. en 11 vm.

Kontak: 017 844 8000; www.foreverbadplaas.co.za

GPS: S25.57241 E30.33464

Merry Pebbles, Sabie

As jy van Lydenburg af Sabie toe mik oor die Long Tom-pas, is dit nie lank nie voor die plantasies al die teerpaaie opslurp. Die slim mense reken hierdie bome wat almal een of ander tyd papier gaan word, is een van die grootste mensgemaakte woude ter wêreld. Merry Pebbles is op Sabie, en die kampplekke strek al langs die Sabierivier af. Die kampplek laat ’n mens dink aan ’n klein stedelike uitbreiding vir tent- en woonwabewoners.

Die staanplekke is lekker groot – die kleinste is 10 x 10 m - en by elkeen staan ’n stuk betonwaterpyp wat bobeenhoogte in die grond geplant is. Hulle is driekwart gevul met sand, en dis jou braaiplek. Jy moet wel jou eie rooster saambring. 

Elke staanplek het sy eie kragpunt.

Die oord is een van daai plekke waar jy alles by die huis kan vergeet, want die winkeltjie is goed toegerus.

Kampplek: 180 groot staanplekke waarvan omtrent 18 teen die rivier lê. Die staanplekke is op gras met redelike koelte, maar die krane is skaars.

Koste: R150-R260 p.p.p.n. 

Aankoms- en vertrektyd: Enige tyd tussen 8 vm. en 6 nm.

Kontak: 013 764 2266 of 013 764 1502; info@merrypebbles.co.za; merrypebbles.co.za

GPS: S25.094595 E30.766730

Mankele, Nelspruit

Dis geen nuus dat avontuurlustiges vir die heuwels en berge in die Nelspruit-omgewing mik nie. Hier kan jonk en oud sy sit op ’n quadfiets kry, daardie hol gevoel op jou maag ervaar op die foefieslaaid, of in die plantasies koes vir verfballe. 

Dis ook bergfietswêreld en Mankele pas fietsryers wat wil kamp beter as ’n handskoen. Nie-trappers wat kamp is ewe welkom. Jou staanplek is op ’n groen grasperk en hier is geen probleem met spasie nie – die staanplekke is ook nie afgebaken nie.

Hier is krane, kragpunte (gewone huisprop) en braaiplekke en die badkamers is in die middel van die kampplek sodat niemand te ver hoef te stap nie. 

As jy nie jou eie bergfiets saambring nie, kan jy een huur. Dit kos R175-R300 (halfdag tot voldag, fietshelm ingesluit). Gaan wys vir die jonges hoe om ’n kurper, swartbaars of geelvis te vang – hier is damme en ’n rivierloop. 

Kampplek: Jy kan kamp op gras of in die meer afgesonderde bosveldkamp.

Koste: R110 p.p.p.n. Kinders tussen 2 – 16 betaal R80 per nag.  

Aankoms- en vertrektyd: 1 nm. en 11 vm.

Kontak: 078 801 0453; mankele.co.za; ride@mankele.co.za

GPS: S25.388127 E30.712597