Foto's: Evan Naudé

Die stuk gras tussen die Touwrivier en my tent in die Ebb & Flow-ruskamp is so breed soos ’n sypaadjie. As dit enigsins smaller was, sou jy op ’n deurmekaar oggend ín die water beland het!

Dis vroegoggend en die stoom styg uit my koffiebeker én die rivier. ’n Visvanger hou eenkant op ’n riet dinge dop terwyl ’n kolgans met twee donsige kuikens in die vlak water waggel.

Oorkant die rivier klou inheemse bome aan ’n steil kranswand. Skaars ’n kilometer stroomaf mond dié rivier uit op die strand. Stroomop kronkel die rivier nog dieper die woud in terwyl die Serpentinerivier vertak en vloei na die Eilandmeer, Bo-Langvlei, Rondevlei en Swartvlei wat almal met waterkanale hande vashou tot by Sedgefield.

KRUISING. Die deel van Wildernis waar die Ebb & Flow-ruskamp is, was eens deel van die plaas Kleinkranz wat volgens geskiedenisboeke in 1818 uitgelê is. Die plaas was tot in die vroeë 1900’s in besit van die Gerber-familie tot dele daarvan verkoop is. Die deel noord van die treinbrug, waar jy vandag met ’n pont oor die Touwrivier op die Half Collared Kingfisher-staproete dryf, is deur George se munisipaliteit bestuur voordat Sanparke in die 1980’s oorgeneem het.

’n Mens vergeet die park is eintlik midde-in ’n dorp. Wildernis en Hoekwil se woonbuurte lê alom die park. Die ruskamp is net 2 km van die N2 af én ’n treinspoor sny daardeur. Of is die dorp eintlik binne-in die park?

Die Wildernisdeel van die Tuinroete- nasionale park strek van die monding van die Touwrivier op die dorp tot by die Swartvlei-riviermonding buite Sedgefield sowat 23 km oos.

Dié park het ook ’n Knysna- en Tsitsikammadeel. Die Wildernisdeel sluit ook ’n strook bewarea rondom die Sewepassepad, net noord van Wildernis in, wat tot digby Knysna strek. (Vir meer inligting oor dié deel van die park, lees die storie oor Knysna in Weg #152.)

Hoe ook al, hier’s genoeg “wildernis” om behoorlik weg te raak. Dit was ’n lang proses om die verskillende stukke grond, riviere en mere van die Wildernisdeel tot ’n beskermde gebied te verklaar, een wat in 1968 al begin het.

Hoe ook al, hier’s genoeg “wildernis” om behoorlik weg te raak

Eers in 1991 is Rondevlei ingesluit sodat die park ’n aaneenlopende eenheid van die Touwrivier- tot by die Swartvleimonding kon wees. Sanparke is steeds besig om grond, veral die ou bosbougebiede in die bergdele rondom die Sewepassepad, te rehabiliteer en by die bewarea in te sluit.

Met soveel uiteenlopende gebiede om te verken gaan jy waarskynlik ’n sleepwa moet haak vir al die speelgoed wat jy kan saambring: Onthou ’n sambreel en branderplank vir die strand, ’n sonhoed, swembroek, kano en kajak vir die riviere, ’n verkyker en gidsboek vir voëlskyk, en ’n stok en stewels vir die staproetes.

En ’n boot vir die meer, stokke vir hengel, ’n paraglider vir sweef en ’n bergfiets vir woudroetes. Of los die hele spulletjie by die huis en kom sit saam met daai visvanger in jou kampstoel langs die rivier.

Die Pied Kingfisher-roete

Waar kan ek gaan voetslaan?

Hier is roetes deur woude, langs riviere, om mere en strandlangs. In en om die Ebb & Flow is vier staproetes. Almal is halfdagroetes wat wissel tussen 1 en 4 uur se stap.

Die Half Collared Kingfisher-roete (7,2 km, 3 uur) begin net voor die treinbrug oor die Touwrivier in Watersidestraat. Die roete loop deur die woud rivierlangs tot by ’n pont waarmee jy jouself oor die rivier trek.

Van hier af volg jy ’n 2 km lange plankiespad tot by ’n waterval op private grond. Teen druktyd was die waterval gesluit vir besoekers, maar maak seker by ontvangs.

Stap terug met die Bosduifsirkelroete aan die westekant van die kloof. Dié steil paadjie toets jou kuitspiere se vermoë, maar jou beloning is ’n stiller roete en ’n uitsig oor die Touwrivierkloof en Ebb & Flow se noordkamp.

Die Pied Kingfisher-roete (10 km, 4 uur) is gewild onder voëlkykers, want jy stap verby verskillende habitatte: grasveld, vleiland en strand. Roofvoëls soos vleivalke en visarende is al opgemerk.

Dié roete loop met ’n draai uit die suidkamp rondom ’n deel van die Serpentinerivier, volg dan die noordelike oewer van die Touwrivier tot by die monding en swaai dan strandlangs terug.

Hier is min skaduwee op die roete; begin dus douvoordag of pak dit aan op ’n koeler dag.

Die Brown Hooded Kingfisher-roete (5 km, 3 uur) begin oorkant die noordoostelike hoek van die Eilandmeer en kruis die Duiwerivier ’n paar keer voordat jy in ’n swemgat by ’n klein waterval afkoel.

Op die Cape Dune Mole Rat-roete kan jy kies tussen ’n 3 km- of 6 km-sirkelroete (2 tot 3 uur) wat jou met ’n sandpaadjie tussen fynbos en proteas lei na uitsigte oor Rondevlei en ’n draai by Swartvlei maak – jy doen ook die Rondevlei-voëlskuiling aan.

Jy kan ’n kort 2 km-stappie by die Woodville Big Tree insit en in die Goudveld-gedeelte van die park sal jy nog roetes kry: Hier is die Kringe in ’n Bos-sirkelroete (3 km of 9 km) wat by die Krisjan-se-Nek-piekniekplek begin en eindig, asook die 3,2 km lange Drupkelders-roete.

By Jubilee Creek se piekniekplek is ’n 3,4 km-roete wat jou op ’n gedeelte van die ou mynroetes uit die 1880’s neem. Langs die pad sien jy van die ou myntonnels wat die delwers destyds met die hand uitgegrawe het op soek na goudkorrels. En hier is ’n swempoel aan die einde!

Woodville Big Tree

Wat kan ek nog doen?

Huur ’n kano (vanaf R80 per uur) by die Tarentaal-piekniekplek in die suidkamp.

Mik stroomaf vir ’n luilekker roei op die strandmeer tot by die riviermonding, of roei stroomop onderdeur die treinbrug verby die noordkamp dieper die kloof in. Jy sal uiteindelik by ’n plek kom waar die water te vlak is om verder te roei, maar jy los die kano hier en stap die laaste stukkie van die Half Collared Kingfisher-roete.

Of roei al langs die Serpentinerivier af tot in die Eilandmeer, sowat 5,5 km. Die rivier kerf heen en weer deur digte riete. En jy gewaar dalk riviervoëls soos kleinrietreiers en rietduikers.

Pak gerus ’n piekniekmandjie en span uit by die Eilandmeer voor julle terugroei. Jy kan nie van hier af verder roei na die ander twee mere, Bo-Langvlei en Rondevlei, nie. Die kanale is te smal en albei is beskermende broeigebiede waar watersport nie toegelaat word nie.

DAGSÊ. Maak seker jy is teen sonsopkoms op ’n duin vir ’n mooi foto van Gericke se Punt. Die goue uur gee jou die kans om panoramiese foto’s te neem terwyl die eerste sonstrale van die dag die kuslyn alkante van jou ontdooi.

Dit sal ’n sonde wees om Wildernis te besoek en nié tyd op die strand deur te bring nie. Die strand loop vir sowat 25 km byna ononderbroke tot anderkant Sedgefield. Kap jou sambreel in by die hoofstrand, ’n Blouvlagstrand, by Leentjiesklip (parkeer aan die einde van Sandsstraat) en bou sandkastele saam met die kleinspan.

Hoe verder oos jy stap, hoe hoër raak die duine. Later troon dit soos berge hoog bo die strand uit. Parkeer langs die Wilderness Beach Hotel (Sandsstraat 72), volg die trappe af see toe en mik oos langs die strand af vir 3 km.

Kom stap vroegoggend en neem foto’s van die son se strale wat ’n oranje gloed oor die eeue oue duine gooi. Dié kranse loop al die pad tot by Gericke se Punt buite Sedgefield, ’n indrukwekkende sandsteenkop wat see-in strek.

Pak toebies en soek ’n sitplek aan die voorkant van die duin sodat jy ’n 180°-uitsig oor die see het. Beplan jou besoek met laagwater, want met hoogwater sny die see die duin van die strand af.

Draai van die N2 af by die Sedge Links-gholfbaan en volg die pad tot by die see. Jy sien die kop van die parkterrein af – dis sowat 1,5 km se stap strandlangs tot daar. As jy lief is vir hengel, pak jou stokke in, want jy kan visvang by Leentjiesklipstrand, Kleinkranz, Sandhoogte (voor Buxton Close), Gericke se Punt, Swartvlei en Eilandmeer.

Kry jou hengellisensie by die poskantoor in die Milkwood Village. Jy kan aas en vis trek, en as jy jou storie ken, bring jy dalk ’n galjoen, stompneus of leervis terug vir die braai.

As jy jou bergfiets saamgebring het, pak die 18,5 km lange Homtiniroete aan of verken een van drie roetes (7,5 km, 20,1 km en 22,3 km) in die Farleighwoude noord van die Sewepassepad.

Ebb & Flow-kamp

Waar hou die voëls?

Vra jy die dorpenaars of besoekers wat die park spesiaal maak, is die antwoord altyd dieselfde: die ryk voëllewe. Wanneer jy in Ebb & Flow kamp opslaan, sien jy dadelik waarvan hulle praat. Loeries is so volop soos duiwe in die Tuine in Kaapstad, en visvangers duik gedurig in die Touwrivier vir ’n happie.

Maar as jy behoorlik aan jou voëllys wil werk, mik na die drie voëlskuilings in die park. Die skuilings word goed onderhou en binne-in is daar ’n voëllys en ’n besoekersboek met aantekeninge van watter spesies gesien is.

Die Gallinule-skuiling is die naaste aan Ebb & Flow, in Dumbletonstraat – kry die sleutel by die Fairy Knowe Hotel se ontvangs. Trek ’n paar waterdigte skoene aan, want die paadjie na die skuiling kan oorstroom raak as die rivier sterk afkom.

Loeries is so volop soos duiwe in die Tuine in Kaapstad, en visvangers duik gedurig in die Touwrivier vir ’n happie.

Die Malachite-skuiling is op die noordelike oewer van Bo-Langvlei, sowat 7,5 km van die Ebb & Flow-hek af. Die skuiling sit knus tussen die riete; dus is jy sommer tussen die bleshoenders!

Bring jou kamera vir mooi foto’s van rietduikers wat op ’n tak voor die skuiling met oop vlerke in die son sit en bak.

Hoogtepunte hier sluit in die Kaapse vleisanger, die grootriethaan en die kuifkopvisvanger. Die Rondevlei-skuiling is die verste van Ebb & Flow af, en ook die stilste van die lot. Die skouspelagtige sonsondergange is op sigself ’n besoek werd!

Die son wat sak en op die water weerkaats, verander dié vlei in ’n goue poel omring deur donker berge. Hier is ook ’n paar droë takke voor die skuiling – wees op die uitkyk vir witborsduikers en slanghalse wat oor ’n sitplek stry en geelbekeende en Kaapse slopeende wat tussen die riete skinder oor die dag se gebeure.

Ek wil piekniek hou

As jy net tyd het vir ’n dagbesoek aan die park, of bloot die kinders ’n bietjie uit die kampterrein wil kry, besoek een van die netjiese piekniekplekke. By Eilandmeer staan afdakke met braaiplekke byna op die water, ablusiegeriewe en ’n groot grasperk met sokkerpale vir balskop.

Jy kan ook jou eie boot bring en lyn natmaak. Die Touwriviermond-piekniekplek langs die snelweg is bedrywig, maar jy kan onderdeur die brug strand toe stap. Hierdie twee plekke is enkele minute van Ebb & Flow af, maar as jy meer tyd het, kan jy ook ’n draai maak by Krisjan-se-Nek, ’n piekniekplek onder die bome langs die Dalene Matthee-monument in die Goudveld-deel van die park.

Jubilee Creek-piekniekplek.

’n Entjie verder is die Jubilee Creek-piekniekplek onder die skadu van eeu oue bome met ’n stroompie wat verbykabbel. As jy die Sewepassepad gaan ry, is die Woodville Big Tree se piekniekplek ’n lekker aftrekplek vir ’n blaaskans. 

Bly hier

Selfsorghouthutte by Ebb & Flow

Die Ebb & Flow-ruskamp word in twee verdeel deur ’n treinspoor en die Serpentinerivier. Die Noordkamp was jare lank ’n openbare kampterrein en die Suidkamp is deur Jack Nixon in die sestiger- en sewentigerjare bedryf as die Siesta-woonwapark.

Vandag vorm hierdie twee dele saam die Wildernis Ebb & Flow-ruskamp. Albei dele is ruim met netjiese groen grasperke, koeltebome en staanplekke langs die Touwrivier.

Kamp kos R200 p.n. vir 2 mense (R89 per ekstra persoon, R45 per ekstra kind, slaapplek vir 6). Die Suidkamp is die hoofkamp met die ontvangskantoor, inligtingsentrum, ’n waskamer, konferensiesentrum en ’n wye verskeidenheid blyplek.

Hier is basiese selfsorghouthutte langs die rivier (slaapplek vir 2 of 4 mense) met ’n gemeenskaplike kombuis. Die hut het wel ’n mikrogolfoond en ’n paar kombuisgoed. Dit kos vanaf R782 p.n. vir 2 mense (R263 per ekstra persoon, R132 per ekstra kind).

Groter volledig toegeruste houthutte op stelte, ’n entjie weg van die rivier, kos R1 478 p.n. vir 4 mense. En die vyf volledig toegeruste gesinskothuise kos R1 534 p.n. vir 4 mense. Die Noordkamp sit dieper die kloof in.

Dis kleiner, stiller en meer afgesonder. Hier is staanplekke en 15 basiese rondawels (slaapplek vir 2). Dié met gemeenskaplike ablusies kos vanaf R429 p.n. en dié met ’n eie badkamer R485 p.n.

Hoe kom ek daar? Die afdraai na die Ebb & Flow-ruskamp is sowat 2 km oos van die Touwriviermonding op die N2.

Koste: Bewaringstarief vir dagbesoekers: R41 p.p. en R21 per kind. Gratis as jy ’n Wild Card het.

Kontak: 044 877 0046 (ontvangs); 012 428 9111; sanparks.org

Wat skud buite die park?

Milkwood Evening Market

Moeg gebraai?

Al die blyplekke in die park is selfsorg. Gelukkig is jy net ’n klipgooi van die village af, soos die plaaslike inwoners na die sakekern verwys, waar daar ’n verskeidenheid restaurante, koffiewinkels en pubs is.

Gooi ’n draai by die Milkwood Evening Market in Beaconstraat op ’n Vrydagaand tussen 4 nm. en 9 nm. en snuffel tussen die handgemaakte juweliersware, curio’s en tie-dye-hemde rond voor julle uiteet.

Op Saterdagoggende is die Wild Oats-plaasmark (082 376 5020; wildoatsmarket.co.za) op Sedgefield beslis ’n besoek werd. Dis ’n groot mark waar jy vars groente, vrugte, vleis, pannekoeke, brode en nog ’n hele lys handgemaakte produkte direk affie plaas kan koop.

Wild Oats-plaasmark

Kom sit op ’n hooibaal en geniet die plaaslike musikant wat heel luisterbare musiek maak. As jy lus het vir ’n ordentlike steak en tjips sonder fieterjasies, maak ’n draai by Joplins Steak Bar (073 347 8896) net na die Pirates Creek-afdraai langs die N2.

Dié restaurant het ’n eenvoudige spyskaart met die fokus op steaks. (Hier is net een opsie vir vegatariërs: quiche.)

Joplins Steak Bar

’n Vakansie langs die see loop hand aan hand met seekos eet en hiervoor is Salinas ( 044 877 0001; salinas.co.za) in Zundorflaan langs die N2 net die plek. Vra vir ’n tafel op die boonste verdieping vir die beste uitsig oor die strand.

Vir ontbyt en ligte etes loer in by Beejuice Café ( 044 877 0608; beejuicecafe.co.za). Die restaurant met speelplek vir die kinders is in die ou Wildernis-treinstasie in Sandsstraat en net ’n klipgooi van die strand af. Vir ’n besonderse Sondagmiddagete-ervaring, besoek Bistro Celeiro ( 044 850 1026), ’n huisrestaurant op die Sewepassepad sowat 19 km noord van Wildernis.

Bistro Celeiro

Die Agrella-familie – Julio, Susan en Julio Junior – kook en bedien “boerekos met ’n twist”. Die spyskaart wissel elke week. Die driegang-maaltyd (vanaf R185 p.p.) se bestanddele kom vars uit hulle tuin of van buurplase in die omgewing.

Susan en Julio Junior berei die maaltye voor in die oopplankombuis terwyl Julio sy lyf kelner, skottelgoedwasser en storieverteller hou. Verwag disse soos mossels met wasabisous, gebakte camembert, peri-peri-hoender, springbokskenkel, varksteak met kaiings en tuisgemaakte roomys. Die bistro het nie ’n dranklisensie nie, maar jy kan jou eie drinkgoed bring.

Die gesin se eetkamer is baie gewild – jy moet vooraf bespreek.

Wat nog?

Die seekant van die Map of Africa-uitkykpunt

Hier’s verskeie plekke in en om Wildernis waar jy wyd kan kyk. Volg die Hoogtepad uit die dorp, draai links op die Whitespad en weer links in Remskoenstraat.

By die Map of Africa-uitkykpunt (S33.992900 E22.560799) kyk jy uit oor ’n kinkel in die Kaaimansrivier wat die landskap soos die suidelike punt van die Afrika-vasteland laat lyk. Aan die oorkant van die uitkykpunt is daar ’n graspol van waar jy ’n wye uitsig oor die dorp, die Touwrivier en die strand het.

Hierdie is een van die gunstelingplekke vir skermswewers om op te styg en oor die N2 af strand toe te sweef. Hier kry jy dus ’n voorsmaak van die uitsig sonder die benoude ervaring!

Die Dolphin’s Point-uitkykpunt langs die N2 net wes van die dorp voor die Kaaimansrivierbrug. Van hier af kan jy sien hoe robbe, dolfyne en walvisse (in die wintermaande) doer onder in die Indiese Oseaan baljaar.

Van dié punt af kan jy ook die treinbrug oor die Kaaimans-riviermonding sien waar die Outeniqua Choo Tjoe-trein vroeër jare geloop het.

Kaaimansrivier

Terloops, die Kaaimansrivier, net wes van die dorp, is nóg ’n plek waar jy op ’n warm dag kan swem. Hier’s ’n piekniekplek – jy draai van die N2 af net voor die brug – en met laagwater kan jy onderdeur die treinbrug stap tot by die riviermonding. Jy kan ook ’n kano huur by Adventure Time (R200 per uur; 076 137 8557; adventuretimewilderness.co.za) en in die kloof op roei na ’n weggesteekte waterval.

’n Tikkie adrenalien

As stap, voëlskyk en roei nie vir jou opwindend genoeg klink nie, mik vir ’n adrenalien-aktiwiteit in en om Wildernis.

Vlieg met ’n sweefskerm van die Map of Africa-uitkykpunt af tot op die strand (044 877 1414 of dolphinparagliding.co.za; 072 199 0622). Eden Adventures ( 044 877 0179; eden.co.za) bied kloofing- en abseil-avonture in die Kaaimansrivierkloof aan. Verken die woude rondom die Sewepassepad te perd (blackhorsetrails.co.za; 082 494 5642 of garden routehorsetrails.co.za; 071 092 8888) of met vierwielmotorfietse (wildx.co.za; 074 646 9582).

Map of Africa-uitkykpunt