Sukkel jy om voor te bly met al die reëls as jy gaan visvang? Hier is ’n handige hengelgids.


Skywer en foto’s: François Haasbroek


Dit is somervakansie en tyd om see toe te gaan. Die res van die gesin pak hulle sonskerm en polyotters in, maar die eerste ding wat jy inpak is jou visstok – hierdie is die vakansie wat jy die grote gaan inkatrol. Soms is dit egter moeilik vir hengelaars om by te bly met al die reëls. Wat mag jy vang? Hoeveel van hulle? Hoe groot moet hy wees? Wat kos dit? Hier is ’n kort gids vir hengelaars asook ’n lys van alles wat jy uit die see mag vat en wat jy daar moet los. 


Waar mag ek hengel?


Daar is ’n hele paar areas langs die Suid-Afrikaanse kus waar jy nie mag hengel nie, of waar dit beperk is. Bewaarde marinegebiede, geslote gebiede, nasionale parke en die iSimangaliso-vleilandpark het almal hulle eie reëls. Laai SANparke se volledige gids hier af om te sien presies waar dié gebied is en wat die reëls vir elkeen is. 


Wanneer mag ek hengel?


Jy kan enige tyd van die jaar visvang, met die uitsondering van sekere visse: 

• Elwe mag nie tussen 1 Oktober en 30 November gevang word nie.

• Galjoen mag nie tussen 15 Oktober en 28 Februarie gevang word nie.

• Die uithaal van skulpvisse, aas en weekdiere word ook verbied tussen sonsondergang en sonsopkoms. 


Wat is die reëls?


• Jy moet ’n ontspanningshengelpermit hê. Dit stel jou in staat om enige vis op die lys (laai dit hier onder af) met ’n visstok te vang. 
• Jy mag nie meer as 10 hoeke aan jou vislyn hê nie. 
• Jy mag nie die vis wat jy gevang het, verkoop nie. 
• Jy mag nie enige ander asemhalingsapparate as ’n snorkel gebruik nie.
• Jy mag nie ’n harpoen of ’n net gebruik nie. Hiervoor het jy ’n ander soort permit nodig.
• Elke vis wat ’n minimumlengte moet hê, moet in ’n reguit lyn van die neus tot by die stert gemeet word. 
• Enige vis wat nie op enige lys verskyn nie, mag jy nie meer as een op ’n dag van vang nie.
• Jy mag nie meer as altesame 10 visse per dag vang nie, tensy die spesie nie ’n maksimum- daaglikse hoeveelheid (sakbeperking) het nie, of as die sakberperking meer as 10 is.
• Jy het aparte permitte nodig om Weskus- of Ooskus-kreef te vang.


Wat gaan dit my kos?


Die aansoek kos R7, en die hengelpermit self R69. Die permit is geldig vir ’n hele jaar, maar jy kan ook vir ’n korttermynpermit aansoek doen (geldig vir 4 weke) wat R45 kos. 

Daar is aparte permitte vir die vang van ander seediere (skulpvisse, aas en weekdiere), Reuse-modderkrap, Weskus-kreef en Ooskus-kreef.  Elk van die permitte kos R87.


Waar kan ek die permitte kry?


Permitte word deur enige natuurbewaringskantoor en poskantoor uitgereik.


Wat mag ek nie vang nie?


Seediere soos walvisse, seeskilpaaie, dolfyne, robbe en seevoëls is beskermde spesies en mag nie gevang word nie. Jy mag nie eers nader as 300 m van ’n walvis af kom met jou bootjie nie. Anders spesies wat jy nie mag vang nie is:


• Koesterhaai
• Briekwabaars
• Selakant
• Witdoodshaai
• Natalse Lipvis
• Pypvisse en seeperdjies
• Aartappel-baars
• Rooisteenbras
• Saagvisse
• Vier-en-Sewentig
• Walvishaai
• Perlemoen


Wat mag ek vang?


Hier is ’n lys van al die visspesies wat jy mag vang, asook hulle minimumgrootte en hulle sakbeperking. Klik hier om ’n groter weergawe in PDF-formaat af te laai.


Bronne en handige dokumente


Al die inligting in hierdie storie kom van die departement van landbou, bosbou en visserye af. Klik hier vir nog inligting (die volledige brosjure, foto’s van verbode en toegelate visspesies).