Hier deel hy meer oor die spesiale middag saam met ’n puik gids.

Ek was in Julie verlede jaar effens aan die diep kant ingegooi toe ek die Mapungubwe- nasionale park, die mees noordelike park in Suid-Afrika, besoek het. Dalk het dit ook te doen gehad met die feit dat ek in byna ’n dekade se Weg-reise selde in die Limpopo-provinsie gaan draai het. 

Soms, wanneer ek ’n artikel oor ’n reservaat of ’n park benader, kan die inligting baie feitelik en prakties raak. Dit is natuurlik ’n goeie ding, aangesien lesers dikwels Weg-artikels as ’n bloudruk gebruik om hul eie vakansies te beplan.

Maar ek hou die meeste van mensestories en ek probeer altyd kyk of ek iewers ’n interessante karakter raakloop wat al die nuttige wenke en advies ’n bietjie kan inkleur. 

So was dit dan ook met my besoek aan Mapungubwe. Reeds op Dag 1, toe ek by die samevloeiing van die Shashe- en Limpoporivier staan, het die Kieser-gesin van Centurion my vertel van ene Johannes Masalesa, wat hulle gids was op die erfenistoer van Mapungubwe-heuwel.

Ek vertrou ander Weg-lesers se raad wanneer ek op reis is en het toe seker gemaak dat ek die Sondagmiddag in Johannes se groep is. Wel, dit was slegs ek en ’n Britse egpaar wat hom na Mapungubwe-heuwel vergesel het. Dit is iets wat Mapungubwe besonders maak – die park is heerlik stil. 

Johannes (50) het in hierdie geweste grootgeword en dit is juis hierdie agtergrond en sy belangstelling in geskiedenis wat hom voorberei het vir sy werk as gids – iets wat hy al 14 jaar lank doen. 

Ons toer het by die opgrawingsterrein aan die voet van die heuwel begin waar Johannes vir ons die geskiedenis van hierdie destydsde koninkryk uit die 13de eeu vertel het. 

Johannes is nogal ’n formele, waardige kêrel. Ek was aanvanklik bekommerd dat sy geskiedenisles effens formeel gaan wees, soos ’n rympie wat hy daagliks op toere herhaal.

Maar gou het ek besef dat hy ’n besonderse liefde en ’n familieverbintenis het met die hele verhaal van Mapungubwe-heuwel. Veral toe hy vir ons vertel dat dit sy oupa, Chewana Mokwena was, wat in 1932 vir ene Van Graan gewys het waar presies hierdie heuwel vol skatte geleë was. 

Maar gou het ek besef dat hy ’n besonderse liefde en ’n familieverbintenis het met die hele verhaal van Mapungubwe-heuwel.

Hierdie inligting was Van Graan se paspoort tot die skatte wat later bo-op die heuwel gevind is, waarvan die kosbaarstes vandag steeds bewaar word. 

Om die toer saam met Johannes te doen, het my weer bewus gemaak van hoe belangrik die verteltradisie is in ons geskiedenis. Baie van Johannes se kennis gaan jy nie in boeke of biblioteke of selfs op die internet vind nie, dit is oorgedra van geslag tot geslag. 

Ek was ook beïndruk met die boek wat Johannes self geskryf het – Mapungubwe – Place of Ancestors. Dit is ’n opsomming van sy toer en sluit baie ekstra inligting in oor Mapungubwe-heuwel se geskiedenis. Koop dit gerus direk by hom na afloop van die toer. 

Johannes en sy storie het so ’n groot indruk op my gemaak dat ek sy toer uiteindelik ’n baie groter deel van die Mapungubwe-artikel gemaak het as wat ek aanvanklik beplan het. 

Dit was ’n voorreg om ’n middag te kon deurbring met ’n passievolle gids wat op sy unieke manier help om die geskiedenis lewendig te hou. 


Lees Erns se volledige storie oor Mapungubwe hier.