Wat het jou en jou man, Douwe, laat besluit om hierdie staproete te begin? 

Friedrich Nietzche het gesê: “All true great thoughts are conceived while walking.” Ons wou die Karoo op ’n intieme, tasbare manier aan mense bekendstel. Stap is mos maar ’n gelykmakertjie op alle vlakke. As ’n mens gestroop word van jou daaglikse roetine en gemak en net jou een voet voor die ander sit, word al jou sintuie weer wakker. Dis dan wanneer jy die eerlike oorvloed van die Karoo regtig sien, hoor, voel, proe en ruik. 

Honderd kilometer oor vier dae is ver. Wat sou jy sê vir mense wat wil stap, maar bang is vir die afstand?

 ’n Mens het soms ’n avontuur nodig om die bitter smaak wat die lewe op jou siel los weer skoon te maak en stap is altyd die antwoord – dit maak nie regtig saak wat die vraag is nie. Ek sal ook vir hulle sê: Jou lyf sal dit verseker kan doen, dis jou kop wat jy sal moet ompraat. Dis nie ’n begeleide stap nie, en niemand jaag jou dus aan nie – jy bepaal jou eie spoed. Die terrein is nie moeilik nie en die ongereptheid en eenvoud van die omgewing sal jou inspireer en elke tree ondersteun. 

HEUNINGLANDFAMILIE. Die Vlok-gesin sorg vir alles - van logistiek en etes tot hope gasvryheid. Van links is Douwe-Tempel, Liezl en Douwe. Anan, die windhond, en Jasper, die skaaphond, is deel van die span.

Wie dink jy sal hierdie staproete veral geniet, en hoekom?

As jy ’n behoefte het aan ruimte, eenvoud, stilte en geen selfoonsein... Kom!

Jy en Douwe doen al die logistiek, en jy sorg veral vir die heerlike kos. Waarna kan stappers saans uitsien?

Goeie heilsame boerekos! Kyk, hier in die Karoo eet ons hoender as ons lus raak vir groente. Ons kyk darem ook na ons vegetariese stappers. Met ontbyt is daar altyd pap, vrugte, jogurt en volgraanbrood. Die middagetes is lig maar voedsaam met dadelballetjies en muffins vir teetyd langs die pad. Saans word daar gesellig om die vuur gekuier met ’n bord kos wat jou troos ná die dag se harde werk. Van die disse sluit in: Gebraaide hoender met ’n aartappelgereg, Ouma se tamatiebredie op basmatirys, steak met ’n sampioensousie en ’n ou gunsteling: spaghetti bolognese met roosterkoek. Douwe bak ook ’n “lipaflek”-lekker potbroodjie in die swartpot – sommer so op die vuur.

As jy ’n behoefte het aan ruimte, eenvoud, stilte en geen selfoonsein... Kom!

Wat is die belangrikste raad wat jy vir voornemende stappers sal gee? 

Jou voete is die belangrikste. Goeie staptekkies met ’n goeie binnesool gaan vir jou die beste diens lewer, nie stapstewels nie. Dra die regte sokkies, nylon is nie jou vriend op dié roete nie. Kom met ’n oop gemoed en met ’n groot verwagting. Op elke stap kry ’n mens altyd meer as wat jy verwag het en die Karoo stel nooit teleur nie.

Dink jy Sylvester se storie dra by tot die staproete se gewildheid?


Ja verseker, die liewe dier met sy onblusbare lus vir vryheid het ons as mens weer laat dink oor die geskenk van grenslose ruimte. Hy het dié deel van die Karoo baie goeie blootstelling gegee en almal wil weet waar het hy uitgekom.  

Enige interessante staaltjie of herinnering van die eerste paar stappe sover?

Hier gee ons elkeen toestemming om ten alle tye, met oorgawe, jou oorspronklike self te wees. Sonder enige pretensie of voorbehoud. So wat hier op die Leeuloop in die Karoo gebeur... bly net hier!

Wat maak hierdie stap anders as die meeste ander bekende staproetes? 

Carrie Latet het gesê: “Walking: The most ancient exercise and still the best modern exercise.” Hier gaan jy vir vier dae stap en die kanse is baie goed dat jy nooit ander mense as jou medestappers gaan sien nie. Die stap gee jou die geleentheid om weg te raak in die natuur, heeltemal af te skakel en weer jou eie ritme te vind. Saans voor die bos-TV (kampvuur) vertel Douwe stories oor die omgewing en legendariese karakters wat eens hier geleef het. Hy deel ook graag sy kennis van die veld en die sterre met die wat belangstel.  

Wat is jou gunstelingdag op die stap en hoekom? 

Dag vier. Die roete begin dan sak van die Nuveldberge af weer die laagtes in en  ’n mens kan jou verkyk aan die panoramiese uitsigte oor die verskillende terasse van die Karoo.

Hoe sal jy die Karoo vir iemand beskryf wat dit glad nie ken nie? 

“Om ’n Karoo te skep het jy nodig ’n by, ’n vygie en ’n mymering. As die bye skaars is... dan net die mymering.” – DJ Opperman (verwerking van ’n gedig deur Emily Dickson).

Die Karoo is magies, vol spookstories en oerherinneringe, ’n plek van uiterstes. Mens en dier moet hardekwas en diep gewortel wees om hier te leef en te oorleef. Die hart en siel van dié besonderse plek kan nie oorvertel word nie, die mooie Karoo wil ervaar word.  Dit is ’n “kom-kyk-besigheid.”

Weet voor jy waai

Wanneer? Die 2018-datums is 5-10 Mei en 12-17 September.

Hoeveel kos dit? R3 250 p.p. (dit sluit vyf nagte en drie etes per dag in)

Wat is nog ingesluit in die prys? Drie etes per dag, en koffie en tee met ontbyt en aandete. Vir middagete bou jy jou eie toebroodjie. Vervoer van tente, klere en kampstoele na volgende oornagplek.

Wat sluit die prys uit? Drankies en peuselhappies. Jy mag ’n koelboks saambring.

Waar slaap jy? Almal kamp met beddegoed en tente.

Wat moet jy inpak? Elke stapper mag slegs twee medium-grootte PEP-plastieksakke met ritssluiters saambring. Hierin moet al jou klere, tent, beddegoed en matras pas. Opvoustoele. Dra veldloopskoene (trail running) eerder as stapstewels. Sonhoed, warm mus, waterbottel, koplig, eetgerei, handdoekm toiletsakkie, kamera, verkyker, drankies en peuselhappies. Wet wipes en Ziplock-sakkies.

Kontak: heuningland.com; 072 243 5251

Lees Erns Grundling se storie oor die Heuningland-slenterstaproete hier.