W es van Vanderbijlpark, waar die R54 en die R500 kruis, is die Lekkerbek-padstal. Ek sien ’n bakkie, ’n Ventertjie en ’n strandsambreel, en mielieplante as baniere. Dis Sondag. Die radio speel Overvaal Stereo hard en duidelik; die prediker se stem toornig en beklemmend. Ek het stilgehou om pad te vra; én uit nuuskierigheid.

“Goeiemiddag!” groet ek.

Steve Albertus verkoop waatlemoene, heuning, konfyt en mielies. Dis nie ’n fênsie padstal waar jy koffie met amandelmelk bestel nie. Dié oudmyn-werker het 36 jaar lank platinum en goud uit die aarde help haal.

Steve Albertus
Steve Albertus se plaasstalletjie naby Vanderbijlpark is dalk klein, maar trek af vir mielies om te braai of konfyt om huis toe te neem.

Ek vra hoe ver ons van Potchefstroom is. “Vier-en-sestig kilometer,” sê Steve. Ek probeer ’n geselsie aanknoop, maar Steve luister vasgenael na die kerkdiens. “Ek moet Kimberley toe ry,” sê ek. Ek groet sonder om soos gewoonlik blad te skud. Moenie onnodig aan mekaar raak nie, het hulle gewaarsku.

Planne gepypkan

Ek woon in die Strand en was in Gauteng om saam met die avonturier Anton Poplett en die oogkundige Karl Danneberg na Botswana te reis. Hulle toets kinders se sig in afgeleë dele van die buurland.

Die Covid-19-pandemie het ons plan beduiwel. Nou sit ek gestrand met ’n Hyundai Tucson met ’n daktent, en ’n opdrag van pres. Cyril om mense te vermy. Die verantwoordelike ding sou wees om op agterpaaie deur die meer yl bevolkte dele van die land huis toe te ry.

Die plan is dus om van Vanderbijlpark af noord te ry en wes te draai op die N12, rigting Bloemhof, Kimberley, Victoria-Wes, Laingsburg... Dit gaan lekker wees om weer ’n slag op dié plekke te kom. Op pad raak die wispelturige reënwolke verveeld in die lugruim en wyk. In hulle plek skyn die Hoëveldson amber en heuning. Vir ’n oomblik voel alles nuut.

Selfs Eskom se spantorings en die ertshope lyk vandag mooi. Die gryspers lugruim vorm ’n kontras met die geel savanne en groen doringbome.

Op Potchefstroom kyk ek verlangend na kitskosplekke. Ek lus vir iets ongesonds, maar ai, daar’s baie mense. Ek hou op die N12. Klerksdorp en Wolmaransstad gly verby.

Ek draai op Bloemhof links na die R34 vir ’n mooi uitsig oor die Bloemhofdam; in Hoopstad se rigting. Die brug oor die dam is net ’n hanetree verder. Voor die brug is jy in die Noordwes-provinsie en aan die ander kant in die Vrystaat.

Vroeg verlede jaar was die dam halfvol, maar nou is dit amper tot oorlopens toe vol. Ek staar na die uitspansel water en voel soos ’n boer wie se skuur propvol graan is. Ek draai die Tucson terug en sluit weer aan by die N12 na Kimberley, verby Christiana.

Vroeg verlede jaar was die dam halfvol, maar nou is dit amper tot oorlopens toe vol. Ek staar na die uitspansel water en voel soos ’n boer wie se skuur propvol graan is.

“Sy kom van Christiana, lief vir limonade, pap en bitter koffie, vis en marmelade…” sing my ma ’n ou onderwyskollegeliedjie in my gedagtes. Dan ry ek Kimberley van die noordekant af binne.

Ek was meer as 20 jaar gelede hier om ’n radioprogram oor Kimberley se spookroete te maak. Die gids en vertellers was nugter en uiters oortuigend, en het my laat wonder of spoke nie tog bestaan nie.

Vandag lyk Kimberly wel soos ’n spookdorp. Aan die suidekant is darem lewe, veral by die Spar, waar ek versigtig proviand koop.

Die pad na Mokala

Die Mokala- nasionale park is kompak met baie wild, onder meer hartbeeste.

Dit reën katte en honde oor die 85 km tussen Kimberley en die afdraaipad na die Mokala- nasionale park se suidelike ingang. Die grondpad se oppervlak is gruis, maar as jy daarop trap – met jou tekkies of jou kar s’n – breek jy gou deur na die laag slymgladde modder daaronder.

Dis steeds bewolk, maar naby die horison skyn goue strale soos soekligte deur ’n plaat wolke. Plek-plek het die pad weggespoel, of daar lê plasse water, 15 of 20 m lank.

Die grondpad na die suidelike ingang van Mokala was ten tyde die besoek ’n modderbad.

Ná omtrent 20 km se ry en gly meld ek by die hoofhek aan. Solomon Madebe is aan diens. Ons is half katvoet vir mekaar, maar dan glimlag hy innemend.

“Wat omtrent jou werk geniet jy die meeste,” vra ek. “Die bewaring van die diere,” antwoord hy.

Dis omtrent halfses die aand en ek volg die rooi grondpad na die Mosu Lodge. Die kampplekke in die park is volbespreek; ek slaap dus in ’n chalet. Wie’s in elk geval lus om ’n nuwe tent in die skemer uit te pluis?

Die Swart-gesin van Klerksdorp bly in ’n chalet naby myne. Natie en Anri Swart was in 2008 die eerste keer in Mokala. Intussen het Thea (8) en Retief (6) hulle opwagting gemaak.

Anri en Natie Swart van Klerksdorp het saam met hulle kinders Retief en Thea die park besoek.

“Van hier net tot by die skuiling het ons al ’n eland, hartbees, renoster, blouwildebeeste, gemsbokke en springbokke gesien,” vertel die kinders opgewonde. “En ons was omtrent vyf meter van ’n buffel af!” Die volgende middag ry ek in die park rond – van die suidweste na die noordooste wat sowat 284 km² beslaan. Dis warm en die klammigheid slaan op uit die grond.

’n Trop springbokke wei rustig. Naaste aan die kar staan ’n groot ram. Sy jas blink in die son.

Die reën het insekte gebring en die bokke se stertjies waai verwoed om hulle weg te hou. ’n Astrante waaierstertgrondeekhoring staan kiertsregop naby die pad. Sy dik stert, wat ’n sierlike boog na sy agterkop span, laat hom soos ’n koffiepot lyk. 

Die pad swenk en draai tussen rotsagtige koppies. ’n Trop van 30 gemsbokke skrik vir die kar wat om ’n draai te voorskyn kom en laat spaander. Dan gaan staan hulle en kyk verleë terug na die kar.

Tien minute later draai ek af na die Stofdamskuiling. Ek parkeer en sluip na die skuiling se uitkykplek. Dis egter net ’n tortelduif en ’n kolgans wat gesig wys.

Van Stofdam af mik ek noordoos na die Lilydale-ruskamp. Die koppies en bome raak yl en die gras dig, so asof ek skielik in die Serengeti beland het.

Dié ruskamp is waar die Rietrivier ’n beboste vallei deur die landskap gekerf het. As jy hier ’n huisie bespreek, het jy ’n uitsig oor die rivier, wat doer onder kronkel.

Later, terug by Mosu, gesels ek met Neville en Sylvia Wandrag van Langebaan. “Dis ons derde besoek, en ’n mens maak nie twee keer dieselfde fout nie,” sê Neville grappenderwys. Hulle hou van die park se grootte.

“ ’n Mens kan dit rustig in ’n dag verken en jy sien ál die wild in die park.”

Transkaroo snel oor die spore

Vanoggend ry ek terug na die N12 en draai suid na Hopetown, Strydenburg, en Britstown – waar ek my neus by die imposante Transkaroo Country Lodge indruk. Ek het al in die verlede hier koffie gedrink, maar nou’s ek lugtig om enigiets te bestel wat vars gemaak is. Die soel binnehof en swembad lyk steeds aanloklik en die mooi koffiewinkel kan net sowel in Pretoria-Oos wees.

Tussen Britstown en Victoria-Wes is die Karoobossies wat die droogte oorleef het, groen ná die reën. Maar hulle is yl. Die veld het heelwat hersteltyd nodig.

Op Victoria-Wes draai ek regs in Kerkstraat. Dis 40 km ver op die R63 na Melton Wold, ’n veeplaas waar ook met gaste geboer word – al van 1935 af. “Die oudste gasteplaas in Suid-Afrika,” sê die webblad.

Melton Wold tussen Victoria-Wes en Loxton is een van die oudste gasteplase in Suid-Afrika. Hier is uitstekende geriewe en ’n ruim kampplek.

Die grasperk van die statige ou huis waar ek aanmeld, is pynlik netjies en daar’s ’n rolbalbaan waar ’n mens croquet kan speel. Ek koop ’n sak hout en vind my weg na die kampplek.

Hoe lyk ’n woonwapark net voor die land sluit? Leeg. As jy reeds taamlik besluiteloos van aard is, is dit moeilik om die beste staanplek te kies, want jy kan enigeen kies. Waarvoor kyk ’n mens dus? Waar die son opkom of wat in die bome skuil? Ek kamp een keer elke 15 jaar... ek weet nie.

Eenkant staan ’n ietwat droewige gebou: die ablusieblok. Die binnekant herinner egter aan iets tussen Virgin Active se kleedkamer en ’n spa. Dis netjies en skoon, goed belig, met genoeg geriewe, en alles werk soos dit moet.

Ná ’n goeie nagrus wil ek gaan soek na die plek waar fossiele van belang gevind is. Dié plek is sowat 8 km van die kampterrein af.

Een van die trekpleisters is fossiele wat in die omgewing voorkom, veral die skedel van ’n soogdieragtige reptiel wat 260 miljoen jaar gelede op die Karoovlaktes rondgeloop het.

Ronél Vorster, die eienaar van die gastehuis, sê kinders wat in oerdiere belang stel, raak histeries wanneer hulle die fossielvertoonkas sien. “Hulle loop ook graag by die ou diamantmyn rond en droom daarvan om ’n blink klippe op te tel,” sê sy.

Een van die fossiele wat hier gevind is, is die skedel van ’n vleisetende soogdieragtige reptiel, Eriphostoma microdon, wat ongeveer 260 miljoen jaar gelede die Karoo-vlaktes bewandel het, lank voor die dinosourusse.

Prof. Roger Smith, ’n paleontoloog aan die Iziko Museum van Suid-Afrika, sê alle soogdiere, insluitend mense, is afstammelinge van dié groep diere, ook bekend as therapsids. Melton Wold stal ’n replika uit van die Eriphostoma microdon-kopbeen wat hier ontdek is.

Dit het egter soveel gereën dat die pad na die plek waar die opgrawings gedoen is, onbegaanbaar is.

Ongelukkig was die pad na die fossielterrein onbegaanbaar vanweë diep modderpoele in die pad..

In ’n modderbad van omtrent liniaaldiepte, begin die Tucson gly. Ek ry terug tot op droë grond. Ek klim uit en beskou die hindernis. Met genoeg momentum sou ek dit maak, maar dis nie ’n Avis-kar nie. Terug na die R63, rigting Victoria-Wes.

Ek vermy steeds restaurante, maar die helder kleure van die Karoo Deli in Willowstraat, Victoria-Wes, is onweerstaanbaar. Ek stap in en bestel ’n wegneem-Americano.

Ná omtrent 50 km vloei die N12 en die N1 ineen. Beaufort-Wes na Laingsburg op Suid-Afrika se hoofpad kan sieldodend wees, maar dit het soveel gereën dat die veld groen is.

Op Laingsburg draai ek suid na die R323 en die Rooinekpas. Die reën moes duskant die dorp opgehou het, want hier lê net ’n dor maar skouspelagtige halfwoestyn. Ná sowat 15 km draai ek regs en ry al in die skadu van die Anysberg.

Die pad kronkel en verander deurentyd van hoogte bo seespieël. Plek-plek is dit smal, en ’n bakkie wat van voor af kom, moet versigtig verby skuur. Dis die enigste voertuig wat ek teëkom.

Ek hou stil, klim uit en bekyk die laatmiddagligspel, en hoe die wêreld rondom my versag. Wanneer gaan ’n mens weer die voorreg hê om dit te sien? In China, Italië en Spanje is die mense al maande lank in hulle huise vasgekeer...

Op Barrydale het die son al gesak en ek kyk verlangend na Diesel & Crème, wat die beste double-thick milkshakes suid van die Limpopo maak. Die prentjiemooi Tradouwpas op die R324 is in donkerte gehul.

Ná net meer as twee uur ry ek oor die kruin van Sir Lowry’s-pas, en sien die Kaap se liggies uitgestrek lê tot by Bloubergstrand.

Môre sluit die land.

Bly hier

MOKALA- NASIONALE PARK

Mokala het ’n verskeidenheid blyplekke: die Motswedi-kampterrein met ses privaatkampplekke, die Lilydale- en Mosu Lodge-ruskamp en Haak-en-Steek-kamp met selfsorgchalets en die romantiese Kameeldoring-, Motswedi- en Dinokeng-boomhuis.

Die chalets het slaapplek vir twee tot vyf mense, lugversorging en ’n oopplan-kombuisie. Die lekkerste plek vir eet en kuier is by die tafel onder ’n grasdak. Jy kan met ’n gewone kar hier ry en hier is 4x4-paadjies vir Prado-pappas.

Koste

Kamp: R490 p.n. vir 2 mense, R160 per ekstra persoon (slaapplek vir 6).

Selfsorgchalets: vanaf R955 p.n. vir 2 mense, R280 per ekstra persoon. Selfsorgboomhuis: vanaf R1 750 p.n. vir 2 mense.

012 428 9111; sanparks.org

MELTON WOLD

Die kampterrein van dié gewilde gasteplaas tussen Loxton en Victoria-Wes is ’n lushof. Hier is selfs ’n landingstrook vir ligte vliegtuie.

Koste

Kamp R270 p.n. vir 2 mense, R50 per ekstra persoon. Gastekamers: R420 p.p. of R720 p.p. met ontbyt en aandete.

053 621 1912; meltonwold.co.za

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook.