’n Mens kry ’n besonderse gevoel wanneer jy die eerste oggend op ’n vakansie- of naweekplek wakkerword: die bevrydende wete dat jy nie vandag werk toe hoef te gaan, gras te sny, huis skoon te maak of enigsins jou gewone roetine te volg nie. Jy kan luilekker opstaan (en selfs eers inlê as jy wil) en die res van die dag so veel of so min doen as wat jy wil. 

’n Mens kry ’n besonderse gevoel wanneer jy die eerste oggend op ’n vakansie- of naweekplek wakkerword...

Wanneer ’n mens dan wel opstaan en die gordyne gaan oopmaak, groet ’n splinternuwe omgewing buite die venster jou. Daar is egter een ding wat al dié lekker gevoelens sommer gou laat verdwyn: as jy pleks van sonlig digte mis en reën sien.

Die Huis van die Klip

Toe CapeNature my onlangs nooi om ’n naweek by Kliphuis in die Sederberg te kom bly, en dat ek boonop iemand kan saambring, was ek in die wolke dat ek en my meisie, Sam, nog ’n naweek-wegbreek kan inpas voor die winter behoorlik hier is. 

Ek was al ’n paar keer in die Sederberg, maar dit was by Algeria en van die ander kampplekke verder suid in die kloof. Trouens, toe ek die uitnodiging kry, moes ek eers gou op Google vasstel presies waar Kliphuis is. 

Dit lê naby aan die bopunt van die Pakhuispas, vind ek toe uit, op die noordelike grens van CapeNature se Sederberg-wildernisgebied (#CederbergWildernessArea). Ek het al oor die Pakhuispas gery en my vergaap aan al die rotsformasies weerskante van die pad – ek was dus opgewonde om die gebied te verken. 

Met ons aankoms het ek’n ou kliphuis van een of ander aard verwag, maar toe ek sien dat die chalets óók met rotsformasies omring is, het ek begin dink die plek is eerder so genoem omdat hierdie hele gebied die Huis van die Klippe is. 

Hier is twee sirkelroetes by Kliphuis en die plan was om vroegoggend die 13 km lange Perdefontein-staproete aan te pak, maar die reënweer stel dié plan uit tot laatoggend. Toe die druppels uiteindelik teen 11 vm. ophou val en die mis effens ooptrek, val ons weg met ’n rugsak vol padkos. 

Die roete begin agter die personeel se huise oorkant die pad en klim onmiddellik steil teen die berg op. Van hier af kan ons die kampplek en die pad doer onder ons sien en kry ons opnuut ’n perspektief van presies hoe baie rotse daar aan die suidekant van die pad, die sogenaamde Rocklands-gebied, is. Dis asof ’n reuse-baba sy speelgoed-blokkies hier rondgestrooi het.

Aan die bokant van die berg loop die paadjie oor ’n wye plat vlakte wat omring is deur grys torings – dit lyk soos geboue in ’n klipstad. Dit lyk asof die veld onlangs gebrand het: Oral om ons staan pikswart geraamtes van proteas wat met swart takvingers hemel toe strek en ons skoene skop aswolkies op in die paadjie. 

Maar die reën doen sy werk, want hier is reeds tekens van nuwe lewe as ’n mens fyner kyk. Blommetjies, vars groen spriete en piepklein vetplantjies begin stadig maar seker ’n nuwe lewenssiklus.

Rotswesens, sonskyn en buite braai

As jy ’n kunstenaar, fotograaf of bloot iemand met ’n lewendige verbeelding is kan jy jou weke lank vermaak met al die Sederberg se rotsformasies.

Ons bly vir mekaar nuwe rotswesens uitwys: Hier is ’n meerkat, daar is ’n ou man met ’n krom neus, daar anderkant staan ’n baba-drakie op ’n krans, en doer is ’n skilpad met ’n kat op sy rug.

Dis ’n lekker speletjie wat my so baie foto’s laat neem dat Sam my moet bly herinner dat ons nog ’n ent het om te stap voor dit te laat raak. 

Ons ontdek ’n paar rotstekeninge, klouter op rotse en maak ’n duik in ons padkos voordat die roete ons weer begin ondertoe neem, terug na die vallei waarin ons begin het. Dis steeds koel en bewolk terwyl ons afsak, maar toe ons onder kom, trek die wolke skielik oop – net betyds vir die sonsondergang.

“Kyk nou net,” sê ek, “dis asof dié sonsondergang aan ’n ander dag behoort as die een wat ons gehad het!”

En sowaar, die wolke verkleur pienk, die kranse goudgeel en die sonstrale is vir die eerste keer só warm dat ons ons baadjies uittrek. Nou lyk dinge aansienlik meer rooskleurig (letterlik en figuurlik!) as vanoggend toe ek die gordyn oopgemaak het. Op die ou end is dit so ’n lekker aand dat ons buite kan braai. Bonus!

C. Louis Leipoldt se nagklub

Ons wil Sondagoggend net ’n gedeelte van die ander sirkelroete deur Rocklands stap, want ons moet nog huis toe ry ná middagete. Ons staan weer in koue misweer op, maar dit reën gelukkig nie en teen 8 vm. is ons reg vir stap. 

Ons ry tot by die parkeerplek by die skrywer C. Louis Leipoldt se graf, sowat 1 km wes van Kliphuis in Clanwilliam se rigting. Ons wil ons bakkie hier los en van hier af ’n ent in op die roete stap. Maar ons is ongelukkig nie eerste op die toneel nie… 

Ek hoor die musiek al van die pad af, nog voor ek die kar met oop deure in die parkeerplek sien. Rondom die kar dans twee meisies met twee ouens, almal met drankies in die hand. Eenkant staan ’n vyfde wiel wat alleen heen en weer wieg.

’n Uitgerekte “Whoo-hoo!”-kreet weergalm elke nou en dan saam met die doef-doef teen die kranse van hulle impromptu-nagklub. Hulle groet ons half verleë, maar is duidelik onbewus van hoe ’n groot steurnis hulle is.

Ons gaan loer vinnig na Leipoldt se graf en besluit om maar tot by die bopunt van die Pakhuispas te ry en van daar af ’n draai te gaan stap. Ons is nie lus om met ’n klankbaan te stap nie.

Ons hou stil voor ’n bordjie waarop “Heuningvlei” staan. Jy kan van hier af al die pad tot by die nedersetting Heuningvlei stap, maar die deel net agter die parkeerterrein, Rocklands, is ideaal vir ’n kort wandeling tussen die rotse deur. Dis ’n groot oop vlakte met formasies reg rondom – soos ’n amfiteater.

Ek vind later uit dat Rocklands ’n wêreldbekende plek is vir bouldering, ’n soort rotsklim sonder toue op relatief lae rotse.

Dis nog vroeg en ons is die enigste mense hier, en hierdie keer is dit doodstil. Ná slegs ’n paar minute se stap, is dit asof Moeder Natuur ons seën: ’n Helder, volledige reënboog strek ’n hele ruk lank voor ons oor die paadjie. Rocklands hou ons tot middagete besig voor ons huiswaarts moet begin keer. 

Pleks van weer deur Clanwilliam en met die N7 Kaap toe te ry, besluit ons om oor die pas te ry en via Wupperthal en Eselbank tot by Matjiesrivier te ry en van daar af tot in Ceres.

Vir die stukkie pad tussen Wupperthal en Matjiesrivier het ’n mens ’n 4x4 nodig, maar dit is beslis die moeite werd as jy nog nie dié deel van die Sederberg gesien het nie. Gaan maak ook ’n draai by Wupperthal se bekende velskoenfabriek en op ’n warm dag kan jy afkoel in die swemgat bo die waterval buite Eselbank. 

By Matjiesrivier kan ’n mens weer wes draai en na die Stadsaalgrotte gaan loer, of na die rotsformasies van Truitjieskraal. Of ’n burger eet by Kromrivier se restaurant en wynproe by Dwarsrivier… Maar hiervoor het ons nie vandag tyd nie en ons sit dit maar op ons “volgende keer”-lysie – die huis roep. 

By Matjiesrivier kan ’n mens weer wes draai en na die Stadsaalgrotte gaan loer, of na die rotsformasies van Truitjieskraal

Toe ek Maandagoggend my Kaapstad-woonstel se gordyne ooptrek, is dit wraggies so. Nes ek gedink het: ’n pragtige sonkyndag. Maar ek het die naweek geleer dat ’n bietjie onweer net so mooi kan wees. Dit hang net af van waar jy jou bevind. 

Ek wil ook gaan

Dagbesoekers is welkom, maar jy moet ’n bewaringstariefvan R60 per volwassene en R35 vir kinders betaal.

As jy wil rotsklim by Rocklands moet jy ook ’n permit (R60 per dag) uitneem – koop dit vooraf aanlyn by Quicket of by Kliphuis se ontvangskantoor. As jy by Kliphuis oorslaap, kan jy daar rotsklim – jou verblyf sluit ’n permit in.

Kliphuis het 14 staanplekke (6 mense elk) vir jou woonwa of tent, teen R120 p.p, buiteseisoen. R260 binne-seisoen. Hier is nie kragpunte nie, maar wel skaduwee, ablusiegeriewe met warm storte en braaiplekke.

Jy kan hier hout koop, maar moet jou eie toiletpapier bring. Geen troeteldiere word toegelaat nie.

Kliphuis het drie netjiese selfsorghuise met drie slaapkamers elk.

Rhino Boulder, Cedar Rouge en Leopard Cave kan elk tot 8 mense huisves: Die hoofslaapkamer het ’n dubbelbed, die ander twee het stapelbeddens en daar is ’n slaapbank in die sitkamer. R840 buiteseisoen (1 - 6 mense), R1020 (binne-seisoen). R90 per ekstra persoon.

Beddegoed en handdoeke word verskaf en die kombuis is volledig toegerus.

Die huise is met sonkrag toegerus en die yskas en stoof werk met gas. In die sitkamer is daar ’n kaggel vir koue aande en ’n braairooster word voorsien vir die buitebraai.

Daar is nie ’n winkel by Kliphuis nie – doen dus al jou inkopies vooraf op Clanwilliam.

Hoe kom ek daar?

Kliphuis is sowat 3 uur se ry van Kaapstad af. Volg die N7 tot op Clanwilliam, draai oos op die R364 en mik vir die Pakhuispas. Die ingang is 17 km verder aan jou regterkant. 

Klik hier vir nog inligting of om te bespreek.