foto’s Cyril Klopper
4x4-bestemming
4x4-Bestemming

Die roete begin teenaan die Olifantsrivier op die klein Weskusdorpie Koekenaap in die Wes-Kaap, en eindig 235 km verder op Hondeklipbaai in die Noord-Kaap.

As jy van Kaapstad af hierheen reis, gaan jy kort voor middagete op die dorp aankom, en daarom is daar op jou eerste dag net genoeg tyd om ’n kwart van die roete te verken.

Koekenaap het ’n algemene handelaar waar jy basiese proviand kan koop; as jy varsgebakte brood of groente soek, is daar groter winkels op Vredendal, 30 km terug met die pad waarmee jy gekom het. (Terloops, as ’n kêrel met rooi hare, ’n kakiehemp en klinknaelkortbroek op Vredendal jou oortuig die korrekte uitspraak is “Koek-en-aaaap” – ja, die “aap” moet uitgerek word – moenie hom glo nie!Die vrou by die kasregister in die algemene handelaar gaan jou woedend aangluur as jy die dorpsnaam só uitspreek. Ons praat uit ondervinding.)

Minder as ’n kilometer noord van Koekenaap loop jy ’n rigtingwyser vir die MSR Tormin-myn raak. Draai hier links en volg ’n uitstekende grondpad vir presies 23 km, verby ’n Eskom-windplaas, tot waar die pad vurk (S31.49390 E18.06061).

Die grondpad swenk hier links na die Tormin-myn en na regs loop ’n kleiner sandpaadjie. Dié paadjie gaan jou seelangs neem en uiteindelik by Hondeklipbaai uitbring.

Onthou jou kamera, want oor die volgende twee dae ry jy teenaan ’n prentjiemooi kuslyn met spierwit strande en verskeie beskutte baaitjies – en sekere tye van die jaar ook mooi blomme. 

Kort nadat jy by die vurk regs gedraai het, wag die eerste van vele plaashekke op jou. ’n Kennisgewing op die hek lig jou in dat jy nou private eiendom betree. Die streng boodskap verbied jou egter nie om in te ry nie, want die pad is immers ’n servituut wat al die plase hier teen die kus bedien.

Nadat jy die hek agter jou toegemaak het, ry jy met ’n lang, slap draai op ’n grondpad af see toe. Jy kan die grondpad met ’n gewone sedanmotor baasraak, maar plek-plek is daar lappies los sand en dis raadsaam om jou Toyota Corolla se banddruk te verlaag tot sowat 1,8 bar – net ingeval.

Hier is ’n hele paar tweespoorpaadjies wat afdraai strand toe, en vir hulle gaan jy wel ’n 4x4-ryding nodig hê, want die sand is diep en los. Daarom is dit sinloos om met ’n sedanmotor hierheen te reis, want die harde grondpad kom nooit nader as 200 m aan die strand nie.

As jy jou tone in die see wil doop en ’n tent langs die strand staanmaak, móét jy met ’n viertrekvoertuig kom. Verlaag jou 4x4-voertuig se banddruk tot 1 bar en neem die eerste sanderige tweespoor (S31.47817 E18.01859) af strand toe. Die naam van die eerste baai waar jy mag tent opslaan, is Gert du Toit-se-baai.

Hier staan ’n ou Jurgens Fleetline sonder wiele, een van talle woonwaens aan die Weskus wat voltyds staangemaak is. Met dié mooi uitsig kan ’n woonwa beswaarlik op ’n beter plek kom aftree. Gert du Toit-se-baai is gewild onder Weskussers, en oral sien jy braaiplekke en skanse teen die wind wat plaaslike kampeerders oor die jare met klip gepak het.

As jy beplan om oor Paasnaweek of Desember hierheen te reis gaan jy waarskynlik sukkel om ’n private strandjie by Gert du Toit-se-baai te kry, want ’n hele paar mense het dieselfde idee as jy. Die goeie nuus is dat daar meer as 200 km se kus vir jou voorlê en jy gaan beslis iewers regkom.

As jy egter soos ons buite seisoen hierheen reis, is feitlik die hele kusstreek joune en daar is strande te kus en te keur. Die veld is lowergroen, en tussen die kleurryke veldblomme sien jy die wit-en-swart lywe van dorpers wat aan bossies peusel. Dis sekerlik die beste plek op aarde om ’n skaap te wees, want die weiding is geil en jy’t heeldag ’n uitsig oor die see.

Twee plaashekke verderaan met die pad is ’n omheinde diamantdelwery waar jy nie mag kamp nie; stryk aan met die grondpad tot waar die heining eindig en mik weer met ’n tweespoorpaadjie strand toe. Hier is tientalle beskutte baaie waar jy kan tent opslaan of sommer net ’n vinnige vuurtjie maak vir ’n middagbraai.

Sowat 14 km ná die delwerskamp kom jy by ’n padpredikant wat jou beduie na Brand-se-baai. Dié informele kampplek is deur mense uit die omgewing gebou, en hoewel hier ablusieblokke, braaiplekke en kombuise is, is dit buite seisoen gesluit.

Tegnies staan dit jou vry om hier te kamp, maar as die locals oor die groot dae hierheen opruk, sal jy moet skuif, want hulle wil immers langs hulle maters makietie hou op die staanplekke wat hulle self uitgelê het – dan word die geriewe wat hulle self opgerig het, ook oopgesluit. Los eerder vir Brand-se-baai en ry 10 km aan met die grondpad tot by die Soutrivier.

Hier draai die grondpad binneland toe om Brand-se-baai se mense by plekke soos Vredendal, Nuwerus en Garies uit te bring. Waar die pad regs draai binneland toe is ’n sanderige tweespoorpad wat jou na links tot by Malkopbaai neem (S31.22360 E17.82212). By Malkopbaai is talle beskutte inhamme tussen tamaai rotse waar jy rustig kan kamp.

Een só ’n plekke – agter ’n duin en teenaan ’n kort strandjie – het ons oog getref en dís waar ons tentpenne ingeslaan, ons slaapsakke oopgerol en ’n vuurtjie aangesteek het (S31.21661 E17.81674). Moenie skrik as daar in die donkernag ’n pikswart gedrog oor die sand na jou aangewaggel kom nie. Dis net ’n nuuskierige rob wat kom ondersoek instel.

By Malkopbaai kruip daar soms ‘n rob uit die see om by jou kampplek in te loer, maar hy verdwyn padlangs sodra hy mense sien.

In die volgende 50 km teenaan die see lê daar egter nog honderde versteekte baaie nes Malkopbaai, waaronder Jurg-se-kaja, Bruinklip, Gaatjiekamp, Blougat, Geelklip en uiteindelik Volwater- en Abraham Villiersbaai.

Laasgenoemde twee lê op munisipale grond, maar jy mag gratis hier kamp. Die munisipaliteit se kuslyn word ongelukkig versteur deur bamboesplase en seesandmyne. Dis hartseer om te sien hoe mense hele strande opgrawe en met vragmotors wegry.

By heelparty van hierdie baaie – hetsy op ’n plaas of op munisipale grond – staan ’n ou woonwa (sonder wiele, natuurlik) wat skynbaar geduldig wag dat sy baas volgende naweek weer kom visvang.

Die tweespoorpad loop soms gevaarlik naby aan die hoogwatermerk. Die wet sê voertuie mag nie op die strand kom nie en dis boonop ’n risiko om so na aan die getymerk te ry. Bly in die tweespoor en pasop vir vasval.

’n Entjie voor die monding tref jy die Groenrivier-vuurtoring (Admiraliteit-lignommer D5720) aan. Dié toring is betreklik onlangs opgerig (in 1988) en staan 17,2 m hoog. Dis ook hier waar jy die Namakwa- nasionale park se suidelikste punt binnery. Hier is ’n kampplek met 12 staanplekke, 6 ekotoilette en braaiplek vir dagbesoekers.

Jy mag die braaiplekke gratis gebruik – dit is dalk ’n goeie plan om jou bakkie se kappie hier oop te maak en ’n vroeë middagete aanmekaar te slaan.

Jy mag nie op die strand ry nie, maar sommige tweespoorpaadjies neem jou gevaarlik naby daaraan. .

Ry nou met ’n laagwaterbrug deur die Groenrivier en meld aan by die parkkantoor om jou bewaringstarief te betaal sodat jy dieper die park kan inry. ’n Veldwagter sal vra of jy jou voertuig se banddruk verlaag het voor hy die hek vir jou oopmaak.

Jy betree nou die Groen-Spoeg-kusgebied van die Namakwa- nasionale park. Hier is altesame 9 kampplekke in die Groen-Spoeg-kusgebied. Die eerste een, die delwerskamp, lê skaars ’n kilometer van die parkkantoor af, maar dis ’n tentekamp vir mense wat nie met hulle eie tent of boswa hier kom kamp nie.

Die polisieman-se-hoed

Die park is beslis beter opgepas as die kusstrook tussen die Groen- en Olifantsrivier wat jy reeds verken het. Hier is geen teken van rommel, mynbedrywighede of lukrake kuierplekke nie, maar die nadeel is dat al 9 kampplekke op die vlaktes en ’n ent weg van die see af uitgelê is.

Uit ’n bewaringsoogpunt maak dit sin, maar as jy hier kamp, gaan jy tog wens jy kon eerder in ’n beskutte baai skuil teen die immerteenwoordige wind. Die braaiplekke is nietemin netjies, die grond is gelyk en daar is toilette by al die kampplekke.

Die pad vurk 13 km anderkant die delwerskamp in twee parallelle bane. In teenstelling met ons land se verkeerswette beveel ’n padteken jou om regs te hou eerder as links.

Die sand is diep hier, en indien jy ’n boswa sleep, moet jy vet gee anders val jy dalk vas. Die sand hou sowat 2 km aan tot jy by die tweede kampplek, Kwass-se-baai, kom. Nou volg die kampplekke skaars 5 km op mekaar totdat jy die Bitterrivier bereik. Hier moet jy ’n duineveld oorsteek waar die sand selfs dieper en losser is as by Kwass-se-baai.

Die robbekolonie ruik soos nat hond.

Sowat 2 km nadat jy die sand verslaan het, sien jy ’n padteken met die woord “Robbe” (S30.55948 E17.42348) wat jou kus toe stuur. Hier lê honderde robbe op rotse en warm bak nes honde op ’n stoep.

’n Kort  entjie ná die robkolonie is ’n fontein waar water uit die aarde borrel. Dis egter brak en onaangenaam om te drink.

So 5 km verby die robkolonie is nóg ’n afdraai na die negende en laaste kampgebied in die Groen-Spoeg-kusgebied, die Boulder Bay-kamp, en 4 km hierna is ’n platterige rots wat die polisieman se hoed genoem word.

Ry verder noord tot by die Spoegriviermonding. Hier is ’n plankiesbrug wat na ’n skuiling lei waar jy watervoëls kan afloer wat in die Spoeg se poele bad.

’n Kort entjie oos is die Spoegriviergrotte wat eintlik maar net ’n groot bakkrans is, maar dis nietemin ’n besoek werd. Jy gaan die see hierna vir ’n ruk moet groet en met ’n sinkplaatgeryde grondpad binneland toe mik.

Jy kan lees oor die Namas by die Groenriviergrotte

Ons het eindelose lof vir Sanparke se toegewydheid tot die natuur, maar hygend hert, hulle moet darem af en toe hulle paaie laat skraap! Dis slegs 17 km tot by die park se hek, maar dit voel soos ’n ewigheid en jou trokkie dreig om uitmekaar te skud op die vuisvoos sinkplaatpad.

Die foltering is verby sodra jy deur die hek is en ’n breë streekpad jou weswaarts neem tot op Hondeklipbaai. Gaan kiek gerus ’n foto van die Aristea-skeepswrak (S30.34561 E17.27909) wat in 1945 hier op die rotse geloop het. Die verroeste wrak se agteruitgang is besig om te versnel en oor ’n paar jaar gaan daar amper niks oor wees nie.

Hondeklipbaai se woonwapark is basies maar skoon, en as jy eerder nie hier wil kamp nie, is daar permanente tente by die Skulpieskraal-lodge en kamers by die HonneHokke-oord.

Lekker slaap, want môre mik jy verder noord na die Richtersveld. Of dalk gaan jy blomme kyk by die Skilpad-reservaat... En as jy nog nie genoeg gekry het van die see nie, kan jy natuurlik verder noord met die kus langs ry tot op Port Nolloth en Alexanderbaai.

BLY HIER

Die kusgebied noord van Koekenaap en suid van die Groenrivier behoort gedeeltelik aan boere en die plaaslike munisipaliteit. Jy mag op feitlik enige plek aan die kus tent opslaan, tensy dit omhein is – soos die diamantkonsessies.

Geen besprekings word geneem nie en dis gratis om te kamp, maar die grondeienaars vra dat jy geen rommel agterlaat, hulle veld verniel of met hulle skape skoorsoek nie.

Binne die Namakwa- nasionale park noord van die Groenrivier-vuurtoring moet jy betaal om te kamp. Hier is 8 kampplekke langs die see, elk met tussen 2 en 12 staanplekke. Daar is ook 2 tentekampe: die delwerskamp langs die see en die luukse Skilpad-tentekamp in die Skilpad-reservaat.

Prys: R150 p.n. per staanplek (maksimum 6 mense per staanplek).

Kontak:  012 428 9111; sanparks.org

Die Skulpieskraal-lodge op Hondeklipbaai het 6 permanente tente waarvan 3 elk 3 enkelbeddens en die res 1 dubbelbed en 1 enkelbed het. Hier is ’n restaurant, die Rooi Spinnekop, en ook ’n volledig toegeruste kombuis as jy jou eie kos wil maak.

Waarna jy egter die meeste kan uitsien, is die ablusiegeriewe met warm storte, spoeltoilette en spieëls waar jy kan skeer of grimeer.

Prys: R500 p.n. per tent.

Kontak:  076 430 8300;  skulpieskraal.co.zaenquiries@skulpieskraal.co.za

Die HonneHokke-oord op Hondeklipbaai het 6 selfsorghuisies – oftewel “kennels” – met slaapplek vir 2 tot 5 mense elk. Die kamers is netjies en ontbyt is gratis.

Hier is ’n swembad, braaiplek, ’n pool-tafel en fietse om te huur. En ja, jy mag jou hond saambring.

Prys: Dit wissel van R700 tot R850 per kamer (in seisoenstyd R100 meer).

Kontak:  082 564 5471;  honnehokke.chalets@gmail.comhonnehokke.co.za

VINNIGE FEITE

Lengte: van die roete 235 km.

Aantal hekke wat jy oop- en toemaak: 11.

Beginpunt: Koekenaap.

Eindpunt: Hondeklipbaai.

Vuurtorings: Groenrivier (D5720) en Hondeklipbaai (D5704).

Selfoonsein: Hier is weinig sein. Soms sal ’n Whatsapp-boodskap onverwags deurkom, maar voor jy dit kan beantwoord, is die sein weer weg.

Brandstof: Hier is geen vulstasies op die roete nie. Die laaste een voor jy die roete pak, is op Lutzville, en jou volgende geleentheid om vol te maak is op Koiingnaas, 265 km van Lutzville af en 22 km anderkant Hondeklipbaai.

Mag ek op die strand ry? Die kusgebied tussen die laagwater- en die hoogwatermerk op alle Suid-Afrikaanse strande is in staatsbesit en jy mag nie sonder ’n permit daarop ry nie. Volgens Art. 28 in die akte van geïntegreerde kusbestuur, 2008 (akte nommer 24 van die nasionale Omgewingsbestuurwet, 2008) kan jy tot R500 000 beboet word of twee jaar tronkstraf opgelê word as jy sonder ’n permit met ’n voertuig op die strand betrap word.