Esma Marnewick vertel: My ma se familie hou vakansie op Stilbaai sedert sy ’n kind was, en daarom was dit ook ons eerste vakansieplek. Stilbaai het allerlei strande om van te kies: die hoofstrand met die visvywerkrale, die strande langs die Goukourivier en Lappiesbaai met sy lekker branders aan die oostekant.

My oom en tannie se strandhuis, Daheim, is naby die hoofstrand. Van my vroegste herinneringe is my nefie wat my en my suster, Karen (op die foto onder, ek is hierbo) strand toe vat om te gaan klipvisse vang in die poele in die visvywerkrale – die krale is deur die Khoisan in die tussengetysone gebou om vis aan te keer.

Hier was hordes poeletjies waar jy slakke van die rotse af kon loswikkel en met ’n klip vermorsel vir aas om klipvisse mee te lok. My neef het selfs eenkeer ’n seekat gevang!

Siestog, my niggie en nefie was heelwat ouer as ons en is waarskynlik aangesê om die kleintjies besig te hou, want daarna is ons gewoonlik hawe toe vir ’n draairoomys.

Die dae langs die Goukourivier was net so salig. Ons kinders het heeldag in die son baljaar terwyl die grootmense onder die sambrele gedut of gelees het.

Jy kon ure lank probeer “surf” in die vlak brandertjies op een van daai goedkoop lyfplanke gemaak van ’n soort harde spons. Soms sou my pa ons in die rivier rondtrek terwyl hy motorbootgeluide maak.

Teen tienertyd wou ons al hoe minder saam met die ooms en tannies uithang en eerder ons eie vriende maak op Lappiesbaai. Die kampterrein was langs Lappies, en dis natuurlik ook waar die menseredders op hulle hoë rooi staalstoele gesit het.

Soms sou my pa ons in die rivier rondtrek terwyl hy motorbootgeluide maak.

En touchies is elke jaar gehou op die groot sandplaat om die draai van Lappies. Die stamina van ’n tiener is ongelooflik. Jy kon heeldag in die son kuier tot Miss Touch laatmiddag aangewys is én dan nog die laataand sokkie-sokkie in die Drie Ankers-dansplek!

In daai dae het ons met mening ge-tan (soms selfs met babaolie!) sodat jy goed bruin was wanneer skool weer begin het.

Maar soos die jare aangestap het, het touchies na al hoe meer van ’n deurmekaarspul begin voel en jy het net met een te veel sweterige seun gedans op Bad Boys Blue se “Queen of Hearts”.

Ons het weer al hoe meer by die strandhuis begin kuier. Dae verwyl op die stoep met ’n goeie boek (sonder babaolie) en in die aande Balderdash saam met die ooms en tannies gespeel.

En voor ek my kom kry, is ek en my twee dogtertjies – Emilie en Bella – weer terug in die vlak water van die Goukourivier.


Lees die ander skrywers se stories oor hul gunsteling-seevakansies hier.

Wil jy ook die storie van jou gunsteling-vakansieplek deel? Stuur jou storie en kiekies na Suzaan.Hall@media24.com.