Foto's: Erns Grundling

Ek bereik die Tlopi-tentkamp in die Marakele- nasionale park net voor sononder. Vanmiddag het ek in minder as drie uur van die Lanseria-lughawe af gery tot by Thabazimbi, 12 km buite die park.

Die park het nie ’n restaurant of winkel nie; dus moes ek eers op Thabazimbi inkopies doen vir my drie aande se verblyf.

Tlopi het tien gemeubileerde tenteenhede op die oewer van die Apiesrivierpoortdam. Elke eenheid het ’n ruim houtdek en ’n volledig toegeruste kombuis in ’n aparte vertrek.

Dis ’n weeksaand in die winter met die skoolvakansie op hande. Ek is klaarblyklik vanaand die enigste gas in die tentkamp. Ek sien geen ander liggies of tekens van lewe by die ander tente nie.

SIT RUSTIG. Van die Tlopi-tentkamp af kan ’n mens uitkyk oor die Apiesrivierpoortdam en die omliggende berge.

Die aandgeluide meld aan: ’n Naguil groet die dag, paddas begin ritmies kwaak en ek hoor in die verte ’n jakkals roep. Of was dit dalk ’n bruinhiëna se koggel? Die laaste lig weerkaats teen die roesbruin Kransberg, ’n prominente berg met ’n knoets wat oorkant die dam bo die bosveld troon.

Ek is nou in die hart van die Waterberg. Hierdie geweste was die skrywer en natuurkundige Eugène Marais se speelplek. Teen die hange van die einste Kransberg het hy ’n broodboomspesie ontdek wat sy naam dra: Encephalartos eugene-maraisii, ook bekend as die waterbergbroodboom. Die park het ’n diverse plantlewe met 765 verskillende spesies.

Die vuurtjie knetter reeds, en ek knak ’n Savanna Dry en gaan sit agteroor op ’n dekstoel. Ek twyfel sterk of jy hierdie vrede en privaatheid by enige van die groter en meer gevestigde nasionale parke sal ervaar.

Die park is in 1994 geproklameer as die Kransberg- nasionale park, maar kort daarna herdoop tot Marakele, ’n Tswana-woord wat “ ’n plek van toevlug” beteken.

Marakele is 90 000 ha groot en het een hoofingang, maar bestaan uit twee dele wat geskei word deur die Rooibergpad – jy ry deur ’n tonnel en maak ’n elektriese hek oop om tussen die dele te beweeg.

Die suidwestelike deel, waar die ontvangskantoor is, se plantegroei is bosveldsavanne met baie doringbome. Die Tlopi-tentkamp lê in die noordoostelike deel, sowat 17 km van die ontvangskantoor. Hierdie deel is meer bergagtig, met heuwels en valleie. Hier kom die Groot Vyf voor en kan jy die wildrypaadjies self verken.

Vroeër jare was die meeste wildrypaadjies slegs vir 4x4-voertuie, maar deesdae kan jy tot 80 km van die paaie in ’n sedanmotor ry. Goeie grondvryhoogte help altyd – daarom het ek ’n Renault Duster gehuur.

Ek wil ook graag die Lenong-uitkykpunt besoek, wat die beste plek is om Marakele se beroemde kransaasvoëls te sien. Met sowat 800 broeipare huisves Marakele die grootste kolonie kransaasvoëls op aarde.

Vroeg môreoggend wil ek op ’n begeleide stapsafari in die Groot Vyf-gebied gaan. Maar voordat ek die matras tref, is dit eers tyd vir vleis braai en om die stilte op die houtdek in te drink.

Op vrye voete in leeuwêreld

“Leeuspoor...” fluister Sidney Mikosi. ’n Paar meter weg hoor ek takke kraak. Ek versteen... Al waaraan ek dink, is Sidney se vermaning vroeër: “Maak nie saak wat gebeur nie, moenie hardloop nie.”

’n Leeuspoor bewys die groot karnivore is naby.

Gelukkig was dit nie ’n leeu nie, maar ons het binne vyf minute elk van die Groot Vyf se voetspore op ons staptog gesien.

Sidney en Tumelo Masoba is ons gidse. Elkeen dra ’n geweer oor die skouer – jy het nie veel meer nodig as ’n duidelike leeuspoor vir ’n dosis adrenalien én om te besef dat die mens nie hier baas is nie.

Die voëls is ook ons bondgenote, want hulle roep as daar gevaar of roofdiere in die omgewing is. Of soms groet ’n kwêvoël bloot die dag met sy kenmerkende “kwê-kwê”.

Ek doen die stapsafari saam met vyf ander gaste van uiteenlopende plekke soos Haenertsburg en Washington DC in Amerika. Ons stap in gelid, van lank na kort, op voetpaadjies in die digte bosveld.

Marakele se plantegroei is ruig, veral in die Groot Vyf-gebied, wat verklaar waarom jy nie noodwendig troppe grootwild en roofdiere maklik en gereeld uit jou motor sien nie. Selfs al is hier 27 leeus en sowat 200 olifante in die park.

Op ’n stapsafari kan jy met ’n bietjie geluk op die diere afkom en hulle van naby bekyk, sonder die risiko dat ’n paar kransaasvoëls later bo jou gaan sirkel.

Sidney (33) is die park se hoofgids en een van Sanparke se sterre – behalwe vir ’n lang lys ander toekennings is hy in 2010 en 2016 as die land se beste Sanparke-gids aangewys.

Sidney Mikosi, Marakele se hoofgids, is al twee keer as die land se beste Sanparke-gids aangewys. Sy geesdrif vir die park se wild- en natuurlewe is aansteeklik.

Hy het naby Thohoyandou in Venda grootgeword. As kind het hy voëls met ’n kettie geskiet, maar die kettie gou gebêre toe hy besef ’n lewende voël is veel meer interessant.

Sy belangstelling in die natuur is geprikkel toe hy op skool na natuurflieks gekyk het. Later het hy sy ouers oortuig om ’n televisie te koop, spesifiek omdat hy die natuurprogram 50/50 wou volg.

Hy werk sedert 2009 as ’n gids by Marakele. Ek kom gou op ons stapsafari agter waarom Sidney in die media en onder toeriste wêreldwyd “The Jungle Encyclopedia” genoem word. Sy kennis oor die geskiedenis, geologie, fauna en flora is verbysterend, of hy nou oor ’n duisendpoot se skelet, die ontstaan van die Waterberg, detail van ’n miershoop of ’n homp olifantmis gesels.

Ek kom gou op ons stapsafari agter waarom Sidney in die media en onder toeriste wêreldwyd “The Jungle Encyclopedia” genoem word.

Só leer ek dat ’n mierkolonie uit 40 000 miere bestaan. Elke mier het 250 000 breinselle en ’n mierkolonie se kollektiewe breinkrag is glo gelykstaande aan die van een mens.

Ons sien twee olifante deur die ruigtes. Hoewel die ander grootwild ons ontwyk, is Sidney en Tumelo se natuurlesse boeiend. By ’n blinkblaar-wag-’n-bietjie vertel hulle meer oor die boom se spirituele betekenis vir Vendas en Tswanas. ’n Takkie van hierdie boom word glo gebruik om die gees van ’n gestorwene te “versamel” en terug te bring huis toe.

Sidney het ook ’n goeie flair vir drama en weet hoe om afwagting by sy gaste te skep. “Ek is deel van die ekostelsel van die park,” vertel hy. “Mense noem my die renosterfluisteraar. Ek verstaan hulle die beste en hulle verstaan my ook baie goed.”

’n Begeleide staptog saam met twee gidse in Marakele se Groot Vyf-gebied in Marakele is ’n moet.

Na aan die einde van ons stapsafari gewaar ons ’n groot witrenosterbul. In die oopte. Ons stap gebukkend nader, tree vir tree, asof ons iets bekruip. Ons is skaars twintig meter weg... Dan verklik ’n kwêvoël ons posisie. Die renoster ruk homself op en storm – genadiglik in ’n ander rigting.

“Hy het op sy senuwees geraak,” sê Sidney, duidelik teleurgesteld dat ons nie nader kon kom nie. Maar vir my was twintig meter beslis naby genoeg, dankie Sidney. Ek was meer op my senuwees as die renoster!

Op pad terug na die ontvangskantoor word ons bederf met koedoes, rooibokke, sebras en ’n kameelperdgesin langs die pad.

Slegs drie van Suid-Afrika nasionale parke huisves die Groot Vyf: Die Krugerwildtuin, Addo-olifant- nasionale park en die veel kleiner Marakele.
Buiten die witrenoster en sy maats kan jy ook ’n Burchell se sebra teëkom.

Waar die kransaasvoëls sirkel

Ek oornag ook in een van die tenteenhede by die Bontle-ruskamp, sowat 2 km van die park se hoofingang af.

Die park se netjiese en ruim kampterrein met heelwat koeltebome is ook deel van die ruskamp. Die wild stap dikwels deur die kampterrein. Ek sien ’n paar rooibokke en wildebeeste en ’n vlakvark draf naby my verby.

Hier is net ’n hand vol woonwaens onder die koeltebome. Een van die kampeerders, Tertius Combrinck (80) van Centurion, staan nader. Hy was op sy dag hoofargivaris van die weermag. “Ek hou van papier,” sê hy laggend.

Dis sy vyfde besoek aan Marakele. Sy vrou is 18 maande gelede oorlede, nou is hy vir die eerste keer alleen hier.

Wat maak Marakele vir hom spesiaal? “Die rustigheid,” sê hy dadelik. “Ek was nou vyf weke in die Kruger...” Hy beduie rondom hom. “Waar kry jy dit? Hier het ek net drie buurmanne, jy kry mos nie dit in ’n park nie. Ek is verskriklik lief vir dié plek.”

Dit val hom by dat dit steeds ’n onbekende park is. “Wanneer mense hoor ek is op pad hierheen, vra hulle: ‘Waar is Babdekele?’”

Hy geniet dit om in die Groot Vyf-deel rond te ry. “Ag, jy sien nou nie 110 diere nie, want die park is ruig,” sê hy. “Maar ek het gister weer ’n trop olifante gesien. Ek was nog nie vanjaar by die Lenong-uitkykpunt nie, maar dis ’n wonderlike plek. Daar kan jy darem rustig raak soos nêrens anders nie.”

Ek verken die Groot Vyf-deel verskeie kere op my eie in die Duster. Die park is heerlik stil – op die ou end het ek meer witrenosters as ander voertuie gesien!

’n Hoogtepunt is om teen sononder, met die berge wat rooi glimmer in die laaste lig, twee witrenosters reg voor my in die pad aan te tref. Hulle wei ongeërg en begin eers na ’n paar minute in die pad af draf.

Die rit na die Lenong-uitkykpunt sorg vir omtrent ewe veel adrenalien as toe ek die leeuspoor gewaar het. Jy moet mooi kophou op die smal paadjie tot bo-op die bergkruin; die afgrond op linkerkant is duiselingwekkend. Ek is baie verlig dat daar geen aankomende voertuie teen die pas was nie.

Dié pad lei na die Lenong-uitkykpunt. Hy is smal, en jy moet mooi kophou, veral wanneer ’n olifant uit die ruigtes aanmeld.

Hier is die plantegroei heeltemal anders as in ander dele van die park. Op hierdie hoërliggende deel is proteas volop.

Ek gaan draai twee keer by die Lenong-uitkykpunt – die uitsig oor die berge, diep dongas en uitgestrekte bosveld is besonders.

Teen sononder is daar die eerste keer nie ’n enkele kransaasvoël in sig nie. Maar kort voordat ek die park verlaat, stop ek weer by Lenong en sien sowat dertig kransaasvoëls in die lug sirkel.

Ek probeer hulle met my zoemlens vasvang, maar die aasvoëls is net te ver. Dan, net nadat ek die lens weggepak het, sien ek die skaduwees oor die berghange en ek hoor hulle beweging in die lugstrome.

Eers wil ek begin spartel om my lens te vind, maar besluit dan om net stil te sit, te luister en te kyk. Ek voel die wind teen my gesig, hoor ander voëlgeluide uit alle rigtings en verkyk my aan die kransaanvoëls wat naby my met hulle wye vlerkspan op die lugstrome verby dryf... 

Weet voor jy waai

Hoe kom ek daar? Die park is 12 km noordoos van Thabazimbi, 250 km noord van Johannesburg en 220 km noord van Pretoria. Volg die R511 via Brits tot by Thabazimbi en dan aanwysings in die dorp tot by die park se hoofingang.

Hektye 6 nm.-6 nm. van 1 September tot 30 April. 6 nm.-5.30 nm. van 1 Mei tot 31 Augustus.

Beste tyd van die jaar? Die wintermaande en lente is ’n goeie tyd om Marakele te besoek. Van Desember tot Februarie kan dit baie warm raak en is dit die reënseisoen.

Koste Dagtarief R49 per volwassene, R25 per kind. Gratis toegang met ’n Wild Card.

Waar doen ek inkopies? Thabazimbi het ’n groot winkelsentrum en kettingwinkels waar jy inkopies kan doen – onthou, die park het nie ’n restaurant of ’n winkel nie. Kry ook hout op die dorp.

Hoe werk petrol? Maak vol op Thabazimbi, want daar is nie petrol in die park beskikbaar nie. Die dorp is darem net 12 km weg, sou jou petrolliggie begin brand.

Wat kan ek alles doen?

Oggendstap. Begeleide staptog van drie uur in die wildgebied saam met ’n gids. Daagliks om 6 vm.

Koste R350 p.p. (slegs vir volwassenes en kinders 12 jaar en ouer).

Oggend- of sonsondergangwildrit. Elke dag om 6 vm. en 4 nm. Twee uur lank. R260 p.p. (R120 vir kinders jonger as 12.)

Kyk voëls. Die Bollonoto-voëlskuiling is by ’n dam waar jy veral watervoëls kan sien. Onthou jou verkyker!

Hou piekniek. Die Ikhutseng-piekniekplek is ’n lekker plek vir braai of om padkos te geniet.

Ry 4x4. Die park se meerdaagse 4x4-roete is tans onder konstruksie. Jy kan egter ’n begeleide daguitstappie in ’n 4x4 doen in ’n konvooi van 3-5 voertuie, teen R1 000 per voertuig.

IKHUTSENG-PIEKNIEKPLEK

Waar slaap ek?

Bontle-kampterrein

38 staanplekke (plek vir tot 6 mense), kragpunte en ablusiegeriewe. Dis 2 km van die hoofhek af.

Koste R288 p.n. vir 2 mense. R89 vir ’n ekstra volwassene, R45 vir ’n ekstra kind.

Bontle-ruskamp

Tien gemeubileerde tenteenhede (slaapplek vir 4 of 6 gaste). Elke eenheid het braaiplek en ’n volledig toegeruste kombuis. Dis 2 km van die hoofhek af.

Koste Vanaf R1 337 p.n. vir twee gaste. R263 vir ekstra volwassene, R132 vir ’n ekstra kind.

BONTLE-RUSKAMP

Tlopi-tentkamp

Tien gemeubileerde tenteenhede op die oewer van die Apiesrivierpoortdam. Elke eenheid het ’n braaiplek en volledig toegeruste kombuis. Dis 17 km van die hoofhek af.

Koste Vanaf R1468 p.n. vir twee gaste. R263 vir ekstra ’n volwassene, R132 vir ’n ekstra kind.

SIT RUSTIG. Van die Tlopi-tentkamp af kan ’n mens uitkyk oor die Apiesrivierpoortdam en die omliggende berge.

Motswere-gastehuis

’n Ou plaashuis is in 2012 in ’n gastehuis omskep. Slaapplek vir tot 8 gaste. Volledig toegeruste kombuis, braaiplek en DStv. Dis 27 km van die hoofhek af; ry met ’n voertuig met goeie grondvryhoogte.

Koste R2 517 p.n. (vir tot 4 gaste). R434 per ekstra volwassene, R217 per ekstra kind.

Kontak 014 777 6928 (kantoor); 012 428 9111; sanparks.org