Foto’s: Leon Botha
Oudtshoorn
Kaart

Oudtshoorn is nie net die grootste dorp in die Klein-Karoo nie, maar ook die hoeksteen van dié uitgestrekte streek. Die R62, een van die wêreld se langste wynroetes, loop tot op die dorp; die grootste volstruisbevolking ter wêreld kry jy hier; en ons land se grootste grotte, die Kangogrotte, is net buite die dorp geleë.

En dié tyd van die jaar verwelkom Oudtshoorn natuurlik duisende gaste van reg oor die land vir die jaarlikse Klein-Karoo Nasionale Kunstefees.

Wat die seisoene betref, is dit waarskynlik beter om in die herfs – Maart en April rond – te kom kuier. Dan is dit aansienlik koeler as tussen Desember en Februarie, wanneer die kraaie selfs in die koelte gaap met dagtemperature wat anderkant 30 ºC draai.

Maar as jy in die eerste skoolvakansie van die jaar hier wil kom kamp, moet jy gou spring: Met die KKNK en Paasnaweek kort daarna is die kans goed jy gaan teleurgestel word as jy laat slaap.

Ons saal by drie uiteenlopende kampplekke in en om Oudtshoorn af. Ons ontmoet ook volstruise, stap in die grotte rond, ry oor een van die mooiste passe in die land én vind die weggesteekte kleinboet van die Laeveld se Mac Mac-waterval. 

KLEINPLAAS-VAKANSIEOORD

Baron van Reede-straat 171

Kleinplaas is op die dorp, aan die hoofstraat, Baron van Reedestraat. Die straat is genoem na baron Pieter van Reede van Oudtshoorn, die nuutaangestelde goewerneur van die Kaapkolonie in die laat agtiende eeu wat ter see gesterf het terwyl hy op pad was na Suid-Afrika. (Ja, ook die dorp is na hom genoem.)

Die ingang na Kleinplaas is egter in Noordstraat. Voor in die tuin hang vlae van onder meer Brittanje, Duitsland en Nederland, met ’n klein Suid-Afrikaanse vlag by die elektroniese beheerpaneel van die valboom op pad na die staanplekke.

Die mense in die kantoor ken ’n spesifieke staanplek aan jou toe, en saam met jou staanpleknommer kry jy ook ’n badkamersleutel en elektroniese skyfie vir die valhek.

Koelte is koning

Oog op die sleutel. Elke groep kampeerders per staanplek kry ‘n eie badkamersleutel. Dis gaaf, want ‘n mens weet die geriewe gaan skoon wees omdat mense nie sommer net kan kom en gaan nie. Selfs die blommerangskikking in die badkamer sorg vir daardie bietjie meer spesiale afronding.

Die teerpad anderkant die valboom loop tussen chalets deur tot 90 m verder by die badkamergebou. Hier hou ’n mens links of regs afhangend van waar jou staanplek is. Die pad loop nou in ’n groot U met die twee bene weerskante van die badkamers en die draaipunt sowat 140 m weg.

Die staanplekke is aan weerskante van die pad uitgelê, en aan die ligging van die koeltebome – groot ou witkareebome – kan ’n mens sien die plek is oorspronklik as ’n kampplek ontwerp. Die bome is in rye geplant en skort die staanplekke af. ’n Duidelike staanpleknommer dui jou kampkol aan. Die koelte is gaaf, maar dit beteken ook die gras groei plek-plek nie welig nie.

Die staanplekke is lekker groot – ongeveer 15 x 15 treë – en jy gaan ’n groter woonwa met sy voltent én jou sleepvoertuig maklik inpas. Daar sal selfs nog plek wees om al jou kampstoele onder die blou lug uit te pak as jy ’n bietjie onder die stoeptent wil uitkom.

Hier is nog ses staanplekke eenkant op ’n grasperk van 20 x 30 m, ook met koeltebome. Dis vreedsaam as jy alleen hier kan staan, maar dinge gaan gou beknop raak as daar nog mense intrek.

Kleinplaas het gewone huiskragproppe, en as daar nie ’n kraan op jou staanplek is nie, is daar een langsaan óf by die oorkantse bure – darem nog gerieflik naby. Hier staan ook ’n paar los staalbraaiers met wieletjies rond as jy een nader wil stoot. Daar’s egter nie een vir elke staanplek nie – bring dus veiligheidshalwe jou eie een saam. Die oordeienaars het darem ’n plan B... tussen die middelste staanplekke is twee gemesselde rye gemeenskaplike braaiplekke met roosters.

Was en swem

Die omheinde swembad is van 7 vm. tot 10 nm. oop, en die badkamers se ingang is digby die heining. Die geriewe is vir kampeerders se gebruik, maar ’n mens kry net een badkamersleutel per staanplek – as Sus dus al weg is om tande te borsel, moet Kleinboet maar staan en trippel en knyp tot sy terug is.

Die badkamers is silwerskoon, en in die manskant was daar met ons besoek selfs ’n blommerangskikking. Rondom die versonke wasbakke is genoeg pakplek, en die ry storte is teen die oorkantste muur af. Maar moenie sommer by die eerste hokkie instorm nie, want dié een is eerder vir kinders en erg beknop vir grootmense.

Die res is ruim en daar is bankies en klerehake. Die bad is in die laaste hokkie, maar het ook ’n stort bo-oor waarvan die kop se hoogte kan verstel. Die skottelgoedwasbakke is in dieselfde gebou, maar die ingang is om die hoek. Hier is ook plek om jou kassettoilet leeg te maak en ’n waskamer met outomatiese masjiene. Die ruilmunte (R10 elk) en waspoeier is by die kantoor beskikbaar. 

Kortliks | Kleinplaas

Kampplek: 44 gelyk staanplekke. Die meeste is ruim met ordentlike koelte.

Ablusiegeriewe: 1 netjiese badkamergebou in die middel van die oord. Elke staanplek kry sy eie sleutel.

Prys: Afhangend van die seisoen R320-R390 per staanplek vir tot 4 mense. Daarna R65-R78 p.p.p.d. ekstra (hoogstens 6 mense per staanplek).

Aankoms- en vertrektyd: 2 nm. en 10 vm.

Kontak: 044 272 5811  kleinpls@mweb.co.za; kleinplaas.co.za

Hoe ver van Oudtshoorn af? Op die dorp.

Hoe lyk die pad? Teer tot voor jou staanplek.

GPS: S33.575665 E22.205490

Weg Ry & Sleep sê: Agter die kantoor is hokke met ’n klompie kalkoene, eende, ensomeer. Hier is ook ’n volstruis en sy voerplek is teen die heining. Jy kan dus die langnek hier in die oë kom kyk.

DE HOEK-BERGOORD

Uit ’n ánder hoek

Met die Swartberg wat rondom jou uittroon, is net die ligging van De Hoek genoeg om dit ’n uitsonderlike kampplek te maak. Dié oord behoort aan die Tuinroete-streekraad en jy ry met ’n kronkelpad van 2,3 km van die R328 af tot hier. Dis egter ver genoeg om vir die omliggende selfoontorings weg te kruip.

In die kampplek is daar weinig tot geen sein nie. Loodregte kranse troon skuins voor die hek links van die pad die lug in, en as jy mooi kyk, sien jy dalk ’n spikkeltjie mens wat teen die hange opklouter. Met ons besoek was hier kampeerders wat die loodregte hoogtes aangedurf het.

By die hek is ’n oudmodiese baksteenstruktuur wat amper soos ’n tweeverdiepingwoonstelblok lyk – die ontvangskantoor is ook hier. Die pad loop onderdeur die gebou en dan tussen ’n ry aalwyne deur tot net voor die kampplek. Hier hou jy regs na die staanplekke toe.

De Hoek
De Hoek

Die bo- en onderdorp

Die staanplekke is op twee terrasse uitgelê wat ’n mens laat dink aan die inryteaters van toentertyd. Maar hier kyk jy pleks van die skerm vas teen die berge rondom jou. Die boonste terras is vir woonwaens, terwyl tentkampeerders op die onderste terras nesskop, hoewel dit lyk of dié reël buigsaam is: Met ons besoek was ons die enigste woonwa onder al die kampeerders (en die kampplek was so te sê vol).

’n Reguit grondpad loop in die middel van elke terras, met die staanplekke weerskante daarvan. Langs die pad is straatlampe wat die kampplek saans verlig. Die staanplekke is nie afgebaken nie, maar die geboude braaiplekke aan die agterkant van elke staanplek gee jou min of meer ’n idee waar jy kan kamp opslaan.

Net die boonste terras het kragpunte (gewone huissokke), en hulle is skaars. Bring dus veiligheidshalwe ’n verlengkoord saam.

Hier is welige groen gras op die gelyk staanplekke, maar nie veel koelte nie. Hier ís ’n paar groot bome, maar die res maak nie eintlik skaduwee nie. Die kans is dus goed jy gaan op jou staanplek geen koelte hê nie.

Hier is twee swembaddens in lyn met die onderste terras. Hulle lê regs van die pad waar jy afdraai na die staanplekke.

De Hoek se krane staan deur die kampterrein versprei (elkeen is langs ’n wit paaltjie), maar hulle is baie na aan die grond en jy moet laag buk om die ketel vol water te kry.

Stortkraal

Op die onderste terras is twee eenderse ablusiegeboue. Die een is omtrent in die middel van die staanplekke en die ander een op die punt die verste van die inrykant. Laasgenoemde lyk ook nuwer.

Die geboue het lekker hoë plafonne, en saam met die groot vertrekke voel dit heerlik ruim. Die wasbakke staan op ’n ry in een vertrek, die toilethokkies in ’n volgende, en dan wag die stortvertrek.

Die mure tussen die storthokkies is net heuphoogte en jy het dus nie eintlik privaatheid nie – én die wêreld raak nat as al ses die hokkies beset is. Jy moet dus jou droë goed buite die stortvertrek los.

In die ouer gebou is daar ’n bankie buite die stortvertrek, maar die storte hier is nukkerig: Nie al die stortkoppe lewer dieselfde sterk stroom water nie (en dit sluit warm water in).

Die skottelgoedwasbakke is aan die agterkant van die badkamergeboue.

Swem in die rondte

Hier is twee swembaddens in lyn met die onderste terras. Hulle lê regs van die pad waar jy afdraai na die staanplekke. Albei is rond en die een die naaste aan die pad vlakker sodat kinders daarin kan baljaar.

’n Mens sien gereeld poelnoedels by oorde, maar hier lê sommer ’n hele hoop van hulle langs die swembad wat enigiemand kan gebruik. Met ons besoek was hier selfs ’n menseredder aan diens, maar teen sononder is swem verbode.

Die klouterraam met sy swaaie en glyplank is langs die vlakker swembad. 

Dis die Kiewitz-, Williams-, Fredericks- en Maart-gesin se eerste besoek aan De Hoek. Hulle is almal van Eersterivier in die Kaap.
Kortliks | De Hoek

Kampplek: Plek vir ongeveer 20 woonwaens en 20 tente. Die staanplekke is gelyk, op gras, met min tot geen koelte.

Ablusiegeriewe: Oud, skoon en oop storthokkies.

Prys: Afhangend van die seisoen R365-R400 per woonwastaanplek, en R305-R375 per tentstaanplek.

Aankoms- en vertrektyd: 2 nm. en 10 vm.

Kontak: 044 272 8214;  dehoek@edendm.gov.za;  dehoekmountainresort.co.za

Hoe ver van Oudtshoorn af? 34 km. Hoe lyk die pad? Teer tot in die oord met ’n grondpad voor jou staanplek.

GPS: S33.371095 E22.176547

Weg Ry & Sleep sê: Pak eerste ’n verlengkoord in, en moet ook nie ’n rooster vergeet as jy nie jou eie braai saambring nie.

OPPI DAM

Plaasgerus

Oppi Dam se naambord staan lewensgroot langs die pad wat van Oudtshoorn af na die Kangogrotte toe loop, en al lê die kampplek reg langs die pad, sien jy dit nie. Jy draai af (van die grotte se kant af vorm dit ’n haarnaalddraai) en ry dan bult-af tot by die kampplek ’n entjie verder.

Hier is jy heelwat laer as die pad en jy weet omtrent nie van die verkeer nie. Die kantoor is net ná die draai, regs, met sy eie parkeerplek, maar moenie met jou sleepkombinasie hier intrek nie. By die indraai is ’n bordjie wat wys woonwaslepers moet links hou en parkeer.

Met die inboekslag kry jy ’n sleutel vir jou eie badkamer op jou staanplek. Die sleutelhouer het ook jou staanpleknommer en ’n afstandbeheer wat die skuifhek oopmaak.

Langs die kantoor is ’n kwekery en heel op die ander punt ’n drankwinkel waar jy ook volstruisvleis kan koop.

Van hier af moet ’n mens verder teen die bult af ry, en 70 m verder wag die volgende haarnaalddraai – hou maar wyd as jy ’n lang sleepkombinasie het. Die skuifhek is net om die draai. Net anderkant die hek is ’n kleinerige (en omheinde) swembad links.

Die pad loop verder reguit op die wal van ’n 300 m lange dam. Tussen jou en die water is ’n lieflike groen grastapyt met palmbome. Op die water dryf ’n kano of twee en ’n klompie binnebande. Net verby die dam lê die laaste skuinste met nog twee haarnaalddraaie nou voor.

Jy kan kies met watter een jy wil af, want albei loop uit op die pad wat voor die staanplekke verby loop. Die eerste een is 50 m ná die hek by die dam, maar aan sy onderpunt is die draai só skerp dat jy nie met ’n wa jou draai sal kry as iemand op die staanplek langs die draai kamp nie.

As jy sowat 70 m reguit verby die laaste draai ry, draai die pad ’n laaste keer skerp terug kampplek toe. Hier sukkel jy nie.

spogbuurt ’n Mens kan maar net na die netjiese tuin van Oppi Dam kyk, dan weet jy wat om van die oord te verwag. Die ouer staanplekke het heerlike koeltebome, maar by die nuwe staanplekke moet jy jou eie koelte maak. Jy het darem ’n afdak waaronder jou bankies en tafel staan, asook die aparte badkamer.

Ou en nuwe buurt

Die oudste staanplekke by Oppi Dam staan in ’n ry links van die geplaveide pad, en dié agt afdakke met houtpaalstrukture staan sowat 10 m ver uitmekaar. Tussen die pad en die geboue is ’n netjiese grasperk waarop jy jou woonwa kan trek.

Onder die dak is dit geplavei en hier is ook ’n betontafel en twee bankies plus ’n skottelgoedopwasplek met koue water. Die 220 V-kragsokke is naby. Die een hoek is tot op kophoogte met houtpanele toegebou.

Die toilet, wasbak en oop storthokkie is hier, met ’n gasgeiser wat vir warm water sorg. Die krane vir die stort sit buite die hokkie. Die dak bo jou is hoog en in die badkamer voel dit omtrent soos ’n buitevertrek. In die ooptes tussen die afdakke staan witstinkhoutbome wat koelte gooi – net die plek as jy dalk ’n koepeltent wil opslaan.

Jou geplante staalbraai met sy verstelbare swaairooster staan ook hier.

’n Laning keiappelbome loop agter teenaan jou staanplek verby, en in Desember hang die soet reuk van die geelryp vruggies in die lug.

Die nuwer staanplekke is ’n entjie verder waar twee rye afdakke – nege in elke ry – op ’n enorme grasperk staan. Hulle is soos die ouer staanplekke, maar die afdakke is effens kleiner.

Die linkerkantse ry se kantafskortings is gemessel en die regterkant is met sinkplaat toegebou. Die dakke is ook laer en die badkamers is meer toegebou as die ander. Hier staan reeds ’n paar klein witstinkhoutbome, maar hulle het ’n paar jaar nodig voor hulle noemenswaardige skaduwee sal gooi.

Hier is los staalbraaiers, elk met sy eie rooster. Links agter van waar ’n mens inry, is nog ’n – heelwat groter – swembad. Hier is selfs ’n aparte vlak kant vir die jonges, en aan die kopkante is skadunet gespan vir diegene wat op die kant sit en boeklees. 

Kortliks | Oppi Dam

Kampplek: 26 staanplekke, elk met sy eie badkamer en 8 met ordentlike koeltebome. Staanplekke word toegeken.

Ablusiegeriewe: Jou eie stort, wasbak en toilet.

Prys: R350 p.n. per staanplek vir 2 volwassenes. Daarna R105 p.p. (R55 vir kinders 5-10 jaar; R75 vir kinders 11-15 jaar; gratis vir o.5’s).

Aankoms- en vertrektyd: 2 nm. en 10 vm.

Kontak: 044 279 1082 of 082 252 2630;  schoempa@mweb.co.zaoppi-dam.co.za

Hoe ver van Oudtshoorn af? 15 km.

Hoe lyk die pad? Teer tot by die kantoor.

GPS S33.474801 E22.249382

Weg Ry & Sleep Die vis wat jy in die dam vang, moet weer terug water toe.

Tyd vir rondloop

In die omgewing van Oudtshoorn is genoeg te doen om ’n mens ’n hele paar dae besig te hou. Geen van dié plekke is verder as ’n uur se ry nie.

Kangogrotte

Dié bekende grotte is werklik groots, en elke keer as ’n mens hier kom, voel dit soos ’n nuwe ervaring, selfs al is dit nie jou eerste keer nie. Dis vogtig in die grotte – selfs meer as in Durban, maar ’n mens kom dit nie regtig agter nie.

Jy kan kies tussen twee toere, met die makker een wat ’n uur duur. ’n Mens sien dan genoeg, maar as jy lus voel om op plekke deur gange en skeure verder te kruip, kan jy by die avontuurtoer aansluit.

Die gids vertel ’n mens weer van die stalagmiete en stalaktiete... met die gebruiklike grappie wat volg. Op een punt staan ons groep by ’n rotsformasie wat lyk soos tientalle voelers wat afstrek grond toe. Dis die Treurwilgeboomformasie, en die gids bied R200 aan vir die een wat die ouderdom kan skat. ’n Mens se kop duisel behoorlik as jy hoor die antwoord is 1½ miljoen jaar.

Prys: R120 p.p. vir die gewone toer (R75 vir kinders). Die avontuurtoer kos onderskeidelik R180 en R110.

Hoe ver van Oudtshoorn af? 29 km.

GPS: S33.392851 E22.214668


Highgate-volstruisskouplaas

Highgate

Hier is verskeie volstruisplase in die Oudtshoorn-omgewing, maar Highgate is glo die oudste volstruisskouplaas ter wêreld. Die volstruistoere begin by ’n peperboom waarvan die stam se omtrek digby 3 m is.

Die gids, Jean Samboer, vertel jou oor die vier bene waarop die volstruisbedryf staan: vleis, vere, vel en kuikens. Jean verduidelik ook volstruisvere is hoogs staties, wat een van die redes is waarom dié voëls nie kan vlieg nie.

’n Mens stap deur die broeikamer tot by Mervin Mei, wat al drie dekades by Highgate werk en vir jou wys hoe om binne ’n japtrap ’n verestoffer te maak. Terwyl hy dit doen, verduidelik Jean mense gebruik ’n volstruisverestoffer verkeerd: Jy moenie daarmee vee asof dit ’n besem is nie, maar dit eerder teen ’n statiese materiaal vryf en dan net oor die stofdeeltjies hou.

Siedaar, die verestoffer tel al die stof op!

Ná die tyd kan jy ’n sakkie mieliepitte vir R2 by die winkel koop en die voëls voer.

Prys: Die standaardtoere kos R187 p.p. (R110 vir kinders 6-12 jaar; gratis vir o.6’e).

Hoe ver van Oudtshoorn af? 12 km.

GPS: S33.657869 E22.135989


Rust en vrede-waterval

Die afdraai na die waterval is 7 km voor die Kangogrotte as jy van Oudtshoorn se kant af ry. Dan is dit nog 11 km tot by die waterval – die eerste 3 km is ’n smal teerpaadjie wat neffens die Klein-Lerouxsrivier kronkel tot by die munisipale Cango-bergoord.

Daarna is dit ’n klipperige grondpad wat die berge inskiet. (Te oordeel na al die mense wat kom en gaan, kan jy dit met enige voertuig ry.) Die toegangshek is 2,5 km voor die waterval, en die pad loop dood in ’n klein parkeerterrein vir ongeveer 6 voertuie. Die waterval is skaars 300 m verder, maar die verrassing wag net enkele meters van die parkeerplek af: Die voetpaadjie loop omtrent dadelik ’n klein oerwoud binne en is plek-plek van beton gebou, maar smal staalvoetgangerbrûe neem jou kort-kort oor klipgedeeltes en hoogtes, tot jy naderhand by ’n betonkeerwal kom.

Hier is ’n bordjie wat vra ’n mens moenie die water besoedel nie, want dis drinkwater vir Oudtshoorn.

Naderhand neem die voetpad jou tot teenaan regop kranse, van waar twee stroompies parallel teen ’n 40 m hoë rotsbank afloop tot in ’n groot poel aan die onderkant. Die water is kristalhelder en die twee watervalle langs mekaar laat ’n mens dink aan die bekende Mac-Mac-waterval in die Laeveld.

Prys: R61 vir tot 6 mense in een voertuig.

Hoe ver van Oudtshoorn af? 35 km.

GPS: S33.396109 E22.356501


Swartbergpas

As jy die omgewing van ’n hoogte af wil bekyk, kry jy beswaarlik beter as die Swartbergpas. Dié grondpad van 27 km loop oor die berg van De Hoek se kant af na Prins Albert.

Die pas is een van die laaste projekte van die befaamde bergpasbouer Thomas Bain en is vandag ’n nasionale gedenkwaardigheid. ’n Mens staan verstom oor hoe hy in die laat negentiende eeu ’n pad oor dié berg kon bou.

Dis ’n gewilde pas – ons het selfs ’n klomp fietsryers raakgeloop.

Soos ’n mens klim, word die uitsig oor die Klein-Karoo in Oudtshoorn se rigting al hoe beter, en wanneer jy oor die nek ry, lê die Groot-Karoo in Prins Albert se rigting wyd voor jou. Al is dit grondpad, kan jy dit met ’n gewone kar ry, maar swaarvoertuie en woonwaens is verbode.

As ’n mens kyk na al die haarnaalddraaie, verstaan jy hoekom. By die hoogste punt van die pas is ’n bordjie wat met ’n klomp plakkers beplak is – ’n mens kan skaars die woorde “Die Top” daarop lees. Dit gaan jou omtrent ’n uur neem om die pas te ry.

Prys: Gratis.

Hoe ver van Oudtshoorn af? 50 km (die bopunt).

GPS: S33.352374 S22.046117


Wilgewandel-waterglybaan

Water is sinoniem met vakansiepret, maar in dié droë wêreld verwag ’n mens dit nie. Daarom is die 7 helderkleurige waterglybane langs die pad (skaars 1,6 km van die Kangogrotte af) ’n gawe verrassing.

Dis deel van die Wilgewandel-vakansieplaas waar jy boonop met enigiets van ’n donkiekar tot ’n kameel kan ry. Die glybane het verskillende steiltes. Een van die eerste reëls is dat jy dadelik uit die water moet klim aan die onderpunt sodat die volgende glyer nie per ongeluk die een voor hom uithaal nie.

Jy moet ook regop sit en geen aapstreke word toegelaat nie. Die bane is oop van 11 vm. tot 5 nm.

Prys :R40 vir 30 minute, R50 vir 60 minute en R60 vir 90 minute.

Hoe ver van Oudtshoorn af? 27 km.

GPS: S33.403569 E22.217124