FOTO’S: DOLF ELS

Laatmiddag gewaar ons die boonste punt van die lang sandeiland in die verte. Die visfabrieke se hoë pypskoorstene breek eerste die plat seelyn. Op die horison het die son onder die lae wolkbank uitgesak en hang ’n handbreedte bo die water. Ons kan nou die pastelkleure van die kerk en huise op die geel sand uitmaak. 

Onder ons ploeg die Dawn se 15 m lange dubbelromp deur die deining, wat die laaste paar uur sterk van voor deur die wind aangejaag word. Ek en Paul Jonker, die skipper, is vanoggend met ligdag weg by die Flamingo Lodge, net suid van Namibe in Angola. Dit was amper 10 uur en 73 seemyle (sowat 135 km) gelede. 

Ons is op pad na die eilanddorpie São Martinho dos Tigres, eens ’n bedrywige vissersgemeenskap wat in die vorige eeu aan die woestynkus ge?oreer het. Maar 42 jaar gelede, in Oktober, het almal padgegee en nooit weer teruggekom nie. São Martinho met sy veelkleurige huise en mooi kerk het feitlik oornag ’n spookdorp geword. Sedertdien is bittermin spore in die dorpie se twee straatjies getrap. Net ’n hand vol besoekers waag dit elke jaar tot hier. 

TOEKA SE I&J. Oorblyfsels van die visfabriek op die heel noordelikste punt van die eiland. Ver agter steek die skoorstene van die ander drie visfabrieke uit met die dorpie sowat ’n kilometer verder.

Dis my tweede besoek aan die eiland. Oor die dorpie se verwaarloosde kleurrykheid hang ’n weemoedigheid wat my vier jaar gelede met my eerste besoek aan die hart gegryp het. Hiér het ’n hardwerkende gemeenskap eens in uiterste omstandighede geleef, en ’n kaal woestynstrook in ’n mooi plek omtower. Met groot sorg en min water selfs bome en struike in die sand laat gedy. 

Ek wou terugkom om weer in die breë hoofstraat af te stap, verby die geel kerk, verby die huise met verbleikte pastelkleure wat vergeefs wag op inwoners wat nooit gaan terugkeer nie. Ek wou agter die oop deure en hol vensters gaan kyk, ’n eertydse unieke vissersgemeenskap se asem soos die klam seemis teen my vel voel. Dié keer wou ek daar oorbly, die aand saam met die dorpie gaan slaap. 

Die eiland strek soos ’n dik sandvinger 37 km al langs die Namibwoestyn se kuslyn en is 11 km op sy breedste punt. Aan die landkant lê Baía dos Tigres, die “Baai van die Tiere”, só genoem oor die swart strepe wat metaaldeeltjies teen die Namib se massiewe duine trek. Hier is die water warmer, wat ’n ryk seelewe tot gevolg het. Dit het die eerste vissers in die 1850’s hierheen gelok. 

Tot 56 jaar gelede was die sandstrook nog aan die land vas voordat ’n woeste storm dit feitlik oornag afgesny en in ’n eiland omskep het. Die Foz do Cunene, waar die Kunenerivier in die see loop en die grens met Namibië vorm, is net 90 km suid hiervandaan. 

Die naaste dorpie aan die eiland is Tombua, wat op sy beurt sowat 100 km noord hiervandaan lê. Van Tombua af ry jy strandlangs suid tot halfpad in die Doodsakker, daardie verraderlike dun kusstrook teenaan die onherbergsame Namib wat net met laagwater begaanbaar is. Vang die inkomende gety jou hier, vat die see jou voertuig en al jou goed, vandaar die naam. ’n Gesonde avontuurlus en ’n bekwame gids is nodig om veilig op die eiland uit te kom. 

Nadat ek en Paul per boot weg is, het die res van ons groep Suid-Afrikaners onder leiding van Voetspore se Johan Badenhorst kuslangs gevolg. 

Rico Sakko, Flamingo Lodge se eienaar wat die wêreld hier goed ken en verstaan, het voor gery. 

Die groep kamp vanaand in ’n kom tussen die hoë duine, regoor die eiland. Paul gaan hulle môreoggend haal – ’n vaart van sowat ’n halfuur. 

Ek het die Doodsakker al ’n paar keer gery en het besluit om dié keer eerder saam met Paul te gaan en ’n dag vroeër op die eiland aan te kom en die aand daar oor te slaap. (Lees hier hoe Dolf Els die Doodsakker aangedurf het)   

Die sproei trek wit spoegstrepe oor die golwe toe ons verby die eerste fabrieksgeboue met lang rooi skoorstene vaar. Voor ons strooi die son se laaste strale ’n fyn goudlaag oor die water terwyl die grys wolke bo in grou patrone rondmaal. 

Aan die bakboordkant kan jy net-net die Namibwoestyn se massiewe duine teenaan die kuslyn uitmaak. Ons stuur al langs die eiland af na waar die kerk se hoë kloktoring teen die grys lug uitstaan, met die dorpie se groot watertenk op sy drie lang sementbene skuins agter. 

Die plan is dat Paul my voor skemer op die strand a?aai voordat hy in die baai anker gooi, maar dis gou duidelik dat dit nie gaan werk nie. Die lang houtkaaie wat op dun swart paaltjies see-in loop, is lankal nie meer veilig nie. Ek sal dus ’n ent van die strand af in die vlakker water moet afklim, maar daarvoor is die see nou te rof. Paul stuur die Dawn na dieper water en gooi anker in die sterk skemer, boeg teen die wind. Ons maak ’n vuurtjie in ’n kolehouer wat oor die boot se kant hang en braai ’n paar tjops. Later sleep ons twee matrassies op die beskutte agterdek uit. Ek raak aan die slaap op die wiegende dek met die gedruis van die wind en die see rondom my. 

RYKMANSBUURT. Die dorp se meer gesiene inwoners het in die hoofstraat in groter huise soos dié gewoon terwyl die vissermanne en hulle gesinne in ’n ry huisies in ’n agterstraatjie gebly het. Heelwat moeite is gedoen om plante met die min water in die woestynsand aan die groei te kry, soos dié bome getuig.

Die volgende oggend lê ons ’n paar honderd meter verder soos die wind ons deur die nag gesleep het. Rondom ons is gisteraand se onstuimige see nou die spreekwoordelike plat spieël – die boot roer nie eens nie. ’n Ent weg lê ’n klompie robbe luilekker op hulle rug, pootvinne bo die water, en wag die eerste sonstrale in. 

Teenaan die boot sprei ’n groot jellievis homself kort-kort soos ’n sambreeltjie oop, maroen strepe egalig oor die deurskynende koepel. ’n Skool piepklein vissies swem in gelid styf teen hom. 

Paul laai my tussen die kaaie af voordat hy die ander in die Doodsakker gaan haal. Ek stap in helder heupdiep water tot op die strand, versigtig om nie op die groot krappe te trap nie. Dis ’n kilometer of wat oor die sand na die bopunt van die breë hoofstraat, wat eintlik ’n landingsbaan vir ligte vliegtuie is. Dit streep deur die dorp tot by die statige Rooms-Katolieke kerk aan die onderpunt. Aan weerskante is ’n ry pastelkleurige geboue op pilare. 

Soos met my eerste besoek, is dit die doodse stilte tussen die verlate geboue wat my opval. Hier’s nie ’n enkele geluid nie, geen voëls wat kwetter nie, geen honde wat blaf nie, nie eens sonbesies wat die hitte laat suis nie. Ek is al mens op die hele eiland, maar terwyl ek in die verlate hoofstraat afstap, wil ek kort-kort oor my skouer loer of iemand my nie dalk uit die leë geboue dophou nie. 

Die helder songeel waarin die kerk eens getooi was, het verdof en plek-plek tot op die donkervaal sement afgeskilfer. Op die breë wit boog oor die ingang staan in blokletters “HIC – DOMUS – DEI” (die Huis van God) met ’n bonkige sementkruis bo teen die toring. Van die purperrooi waarmee die hele kruis eens bedek was, is net ’n donker skynsel op die onderste gedeelte oor. Die donkergroen deure lê windskeef. Vandale het hulle merk gelaat. Met Rico se eerste besoek 18 jaar gelede was die kerk se glansende donker houtbanke nog heel – nou is daar niks oor nie. 

VAN VLIEGTUIG NA KERKBANK. Die kerk van São Martinho, die groot Rooms-Katolieke kerk waarna die dorpie genoem is. Die aanloopbaan, wat ook die hoofstraat is, begin ’n ent bokant die kerk en loop tot onder by die skool. Die vliegtuig het gewoonlik in die skadu van die kerk geparkeer.
KERKDIENS VIR EEN. Vandale het die imposante kerk geplunder en onder meer die mooi donker houtbanke en klok weggedra, maar tog bied die gebou nog steeds ’n rustige en gewyde atmosfeer.

Ook die klok bo in die toring is intussen as skrootmetaal verkoop, glo deur iemand wat dit met ’n tou aan sy visserskuit vasgemaak en dit uit die toring geruk het. Die weerhaan bo-op die spits, in die vorm van ’n Portugese karveel, het darem behoue gebly. 

Die hart van die dorp was naby die kerk, waar die pienkbruin bioskoop, ’n ontspanningsklub, die hospitaal, poskantoor, skool, winkeltjie en bakkery en van die maatskappykantore was. Die geboue rus op grysblou pilare wat boë vorm. Waar die Duitsers by Kolmanskop in Namibië ’n voortdurende stryd gehad het om te keer dat sand hulle huise verswelg, was die Portugese slimmer. Al die geboue is sowat 2 m bo die grond op pilare gebou sodat die sand onderdeur kan waai. 

Die hospitaal met sy pienk mure, lang stoep en ’n rooi kruis onder die gewel is skuins oorkant die kerk. Hier was ’n permanente verpleër, maar ’n dokter het gereeld per vliegtuig van Moçâmedes (vandag Namibe), gekom. As daar ernstige gevalle was, het hy hulle saamgeneem. 

Die vervalle skoonheid van die eiland herinner aan ’n vergange era toe die dorpie ’n versameling helderpienk, geel, blou en groen spatsels op die woestynsand was. In die hoofstraat is ook ’n paar groot geel en pienk woonhuise met hoë stoepe en die oorblyfsels van bome en struike wat ondanks die beperkte varswatervoorraad verbasend goed aan die groei gehou is. Dis duidelik dat die meer gegoede maatskappybase hier gewoon het. 

In die agterste straatjie staan ’n ry bottergeel huisies soos eenderse boksies op hulle grysblou pilare, elkeen met ’n steil trap na die voordeur. Hier het die vissers en hulle gesinne gebly, gewone mense soos Herculano Dolbeth Costa, wat tot op tienjarige ouderdom hier skoolgegaan het, en Carlos Relva, wat twaalf was toe hulle die eiland verlaat het. Albei se pa was ’n visserman. 

Waar die Duitsers by Kolmanskop in Namibië ’n voortdurende stryd gehad het om te keer dat sand hulle huise verswelg, was die Portugese slimmer. Al die geboue is sowat 2 m bo die grond op pilare gebou sodat die sand onderdeur kan waai.

Die dag voor my vertrek na die eiland het ek Herculano in Namibe ontmoet waar hy en sy vrou woon. Hy is 64 en het as ’n generaal afgetree ná ’n lang loopbaan in die Angolese weermag. Vir Carlos het ek met behulp van die internet opgespoor waar hy en sy familie in Sine woon, sowat 130 km suid van Lissabon, Portugal. Albei vertel van hulle sorgelose kinderdae op die eiland waar die visserybedrywighede die middelpunt van alles was. “Die viswaters was ons kinders se speelplek. Ons het klein bootjies gemaak en in die wind leer roei,” vertel Herculano. Carlos vertel weer dit was ’n “paradys waar ek die beste jare van my jeug deurgebring het”. 

Hulle het sakresies gehou, sokker of tafeltennis gespeel of in die bioskoop gaan ?iek. Daar was drie vertonings per week, sê Herculano. Hy onthou nog ?ieks soos Rin Tin Tin (oor ’n seun en sy hond), Tarzan en Joselito (’n beroemde singende kinderster van die 1950’s). “Maar ons ouers het ?ieks gaan kyk wat ons nie mag gesien het nie.” In die winkeltjies op die dorp was daar nooit ’n tekort aan roomys, koek en lekkers nie. Van die kinders het papegaaie aangehou en byna almal het honde gehad, vertel Herculano. Sy hond se naam was Massarico (genoem na ’n strandloperseevoël). Carlos vertel hoe hy en Sultan, sy Rhodesiese rifrug, op die strand gespeel en seevoëls gejaag het. 

Op die eiland was ’n laerskool met net twee klaskamers. Die onderwyser het soggens vir kinders in graad 1 en 3 klas gegee en in die middae vir dié in graad 2 en 4. Dié wat nie klas gehad het nie, moes solank huiswerk doen. “Ons was elf kinders in graad 3 en net een het nie die eksamen deurgekom nie,” vertel Herculano. Hy is in 1963 ná voltooiing van graad 4 na Moçâmedes, sowat 170 km daarvandaan, waar hy verder skoolgegaan het. Die jonger Carlos is tien jaar later, in 1973, ook na Moçâmedes se hoërskool. 

Ek klim versigtig met die stukkende trap op na die ruim klaskamer waar hulle skoolgegaan het. Die groot swartbord is nog teen die muur en in die middel van die leë vertrek lê ’n ou staalkabinet omgedop. Hier het Herculano en Carlos jare gelede gesit terwyl die onderwyser op die einste swartbord geskryf het. 

Nadat die aanloopbaan in 1957 voltooi is, het ’n ligte vliegtuig ’n dokter, priester, pos en voorraad na die eiland gebring. “Daar was groot op winding as hy langs die kerk inswiep en naby die skool tot stilstand kom,” vertel Carlos. 

Op 17 Junie 1967 was daar ’n noodlottige ongeluk toe die Beechcraft Bonanza wat op Dinsdae en Vrydae ingevlieg het, in digte mis in die woestyn regoor die eiland neergestort het. Die vliegtuig sou om halftien die oggend land, maar toe daar ’n uur later nog geen teken van hom was nie, het die dorpenaars ’n soektog begin. Die bemanning van ’n vistreiler het laat die volgende dag die uitgebrande wrak teen ’n hoë duin gesien. Geeneen van die passasiers, onder wie die 31-jarige dokter en vier kinders wat op Moçâmedes op skool was en vir die vakansie huis toe gekom het, het oorleef nie. 

Die twee vertel ook dat storms, mis en die berugte ooswind hulle by tye geteister het. Herculano was al daar toe die lang sandvinger nog aan die land vas was en onthou die storm waarin dit afgesny is baie goed. Woeste golwe van tot 10 m hoog, aangedryf deur ’n stormsterk suidwestewind, het die landengte op 14 Maart 1962 getref. 

Die waterpypleiding waarin vars water sedert 1958 van die pompstasie by die Kunenemond na die dorp gepomp is, is op die smal stuk teenaan die land stukkend geslaan. “Vier dae lank het die water uitgespuit en saam met die ruwe see die sand weggespoel. Só is ons heeltemal van die vasteland afgesny,” vertel hy. Vandag is die gaping tussen die eiland en die vasteland al meer as 10 km en dit word jaarliks groter. 

’n Ruk lank was daar ’n waterskaarste omdat hulle op die vars water in die groot opgaartenk aangewese was, maar daarna is water van die pompstasie aangery en met trekskuite na die eiland gebring. 

Die eiland het ook ’n donker kant. Angolese politieke gevangenes is eens hier aangehou. Hulle het in die visfabrieke gewerk. Later is gewone misdadigers gestuur nadat die politieke gevangenes na ’n tronk by Bentiaba oorgeplaas is. 

Van die bopunt van die dorp af loop ’n straat met ’n kronkeldraai verby die begraafplaas met sy kapelletjie tot by die fabrieke op die verste punt van die eiland. In die begraafplaas is net hier en daar nog ’n houtkruis sigbaar – die res van die grafte lê onder sand. 

KRAAINES. Uit die kerk se kloktoring het ’n mens ’n mooi uitsig oor die dorpie. Voor is die hospitaal en verder die skoolgebou. Agter is die visfabrieke waar onder meer duisende ton vismeel vervaardig is.

Hier was vier visfabrieke op die eiland wat vismeel en visolie vervaardig en seekat geblik en vis gedroog het. Dis na onder meer ander Afrikalande en Japan uitgevoer. In die laat jare vyftig en die vroeë sestigs het tot 25 skepe per jaar Baía dos Tigres aangedoen om die derduisende ton vismeel in te skeep. Veral sardyne, stokvis en seekat was volop, vertel Herculano. Albei seuns se pa het vir die maatskappy Santos & Cabeça gewerk. Carlos se pa, Antonio Simao Lopes, was die skipper op die vistreiler Star Dalva. 

In 1970, vier jaar voordat almal padgegee het, was daar volgens ’n sensus 1 300 mense op die eiland – sowat 90 Portugese en die res Angolese. Maar São Martinho dos Tigres se einde sou skielik kom. Portugal het hom in 1974 feitlik oornag aan Angola en sy ander kolonies onttrek. ’n Bloedige burgeroorlog het uitgebreek om beheer van die land en vrees en paniek het geheers. Feitlik al die Portugese het gevlug, sommige na Suid-Afrika, die meeste terug na Portugal. 

Onder dié op die eiland was daar sowat 50 mense van Olhão in die Algarvestreek in Portugal, vertel Carlos. Hulle het daardie Oktober saam met duisende ander die land haastig verlaat. Net die nodigste en kosbaarste goed is saamgeneem. Die res is noodgedwonge agtergelaat, onder meer baie van die kinders se honde – Sultan een van hulle. 

Carlos is nooit weer terug na die eiland toe nie, maar Herculano was al twee keer weer daar. “Dit het wonderlike herinneringe aan my kinderjare op die eiland gebring,” sê hy. “In 1995 was ek verstom om nog ’n enkele boom te sien wat nog tekens van lewe toon – en dit was naby die huis waarin ek destyds gewoon het.” 

Die Angolese regering het al verskeie planne met die eiland gehad. In 2002 was dit ’n groot tronk. In 2009 het die regering planne aangekondig om ’n groot vissershawe, lughawe en ontsoutingsaanleg te bou, asook ’n aanleg vir die opwekking van windkrag. In ’n stadium wou die goewerneur van die Namibe-provinsie ’n “soort Angolese Las Vegas of ’n luukse oordkompleks” op die eiland bou. Gelukkig het niks van dié planne gekom nie. 

Ondanks die vervalle verlatenheid gryp São Martinho dos Tigres jou steeds aan die hart. En as jy  verby die verweer en agteruitgang kyk, sal jy steeds die eertydse prag van dié dorpie op die geel woestynsand sien. 


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 150 (April 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.