Lees ook hier meer oor die Wahls se avonture in die onbekende noorde van Mosambiek.


Waar het alles begin? Ons het by die Stellenbosch Universiteit ontmoet. Ons het nog altyd gedroom van reis en het ná universiteit vir vier jaar gewerk om geld te spaar (Johan as ingenieur en Jana as arbeidsterapeut.) Ná ons troue in Maart 2017 het ons die pad gevat. Jana doen plek-plek liefdadigheidswerk met gestremde kinders terwyl Johan foto’s neem. 

Wat is onontbeerlik op so ’n reis? ’n Slimfoon, MAPS.me (’n app wat jou toegang gee tot kaarte wanneer jy sonder internet sit) en ’n Kindle maak die lewe aansienlik makliker. 

Jana in ’n goedkoop hotelkamer in die stad Jammu in Indië.

Waar bly julle? Ons probeer sover moontlik tent opslaan. Ons het die afgelope paar maande baie tyd in stede deurgebring en dan raadpleeg ons www.couchsurfing.com, ’n webruimte waar jy gratis blyplek kan kry in iemand se huis.

Maar meestal bly ons in ’n goedkoop kamer in hotelle of gastehuise –
naby busstasies is gewoonlik die goedkoopste. As jy geld wil spaar, gaan jy jou fiemies moet laat staan. Ons kry gewoonlik ook gratis verblyf by die plekke waar Jana liefdadigheidswerk doen. 

Hoe spaar julle geld? Die mense is baie gasvry. Vreemdelinge het al male sonder tal vir ons kos gegee en blyplek aangebied, of ons genooi vir tee en lekkernye. Ons eet byna nooit in restaurante nie, en amper altyd vegetaries (vleis is altyd duurder). Ons eet by straatwinkeltjies en waar moontlik koop ons kos in markies en berei dit self voor. Ek dra ’n klein MSR-petrolstofie saam waarmee ons eiers kook of hawermout gaarmaak.

Ons ry slegs met openbare vervoer. Treine (veral in Indië) is spotgoedkoop – in Indië kan jy vir R50 byna 1 000 km ver reis en jy slaap op die trein. 
Ons het al honderde rande gespaar deur te stap eerder as om saam met kansvatters te ry. 

Ons beplan ons aktiwiteite op grond van wat vir ons interessant lyk en nie noodwendig wat gewild is nie. Ons vermy dit ook om dinge saam met ’n gids te doen. 

In Ladakh in die noorde van Indië kry jy maklik ’n stil plekkie om jou tent (gratis) op te slaan.

Hoe werk julle begroting? Ons het vooraf rofweg geskat dat ons gemiddeld sowat R150 p.p.p.d. sal bestee aan verblyf, R100 op kos, en R100 op vervoer (vlugte uitgesluit).

Ons het intussen geleer jy kan baie goedkoper regkom – ons lewe nou op R150 p.p.p.d. wat alles insluit. Sodoende spaar ons geld vir vlugte en nou en dan ’n bederf soos ’n ou vleisie of iets.

Wat eet julle? Ons probeer graag nuwe kossoorte, maar moes al krieke en sprinkane van die hand wys (in Malawi). In Indië kies jy ’n lewendige hoender wat hulle slag en skoonmaak.

Ek moes ewe terugstaan dat die bloed nie op my spat nie! Ná vyf minute stap ek huis toe met louwarm hoendervleis toegedraai in koerantpapier! Ons gunstelinge is Indiese lekkergoed wat jy in byna elke straat raakloop – sommiges proe soos fudge en ander meer soos koeksisters. Ons mis wel steak en kaas.

Hier stap ons in die verlate landskap rondom die dorp Ladakh in die noorde van Indië. Sonder gidse of pakdonkies is so ’n staptog byna gratis, behalwe vir die proviand wat ons by die markies gekoop het.

Wat lol soms? Johan dra omtrent ’n kilogram se elektriese drade en laaiers – dit neem basies die helfte van sy rugsak se plek! Jana verpes koudkry en vuilwees. Jana het altyd gedink sy is die een van die twee met die meeste fiemies, maar word keer op keer verkeerd bewys. Johan trek sy neus op vir kos en sal selfs honger gaan slaap eerder as om vir die honderdste maal lensies met Maggi-geursel te eet.

Word julle ooit siek? Die vreemde kos, klimaat en die opwinding en uitputting van reis kan ’n mens se gesondheid ’n knou gee. Ons het baie medisyne saamgebring het, maar koop meestal pille by plaaslike apteke of medisyne stalletjies. Ons het ’n rukkie terug ’n vyfdagdosis-antibiotika gekoop vir R2,50! Ons eet straatkos en drink kraanwater, dus gee ons mae maar nou en dan in, maar ons probeer genoeg slaap en oefening kry en eet baie vrugte. Nie almal kan sê hulle het al vir R100 ’n stopsel gekry by ’n tandarts in Indië nie. 

Is julle al ooit beroof? Nee, maar een noue ontkoming was toe ek (Johan) my gunsteling- (en duurste) kameralens in ’n taxi in Mosambiek vergeet het. Dit was in die stad Nampula met duisende taxi’s wat presies dieselfde lyk. Om ’n lang storie kort te maak: Iemand het dit die volgende dag weer opgespoor.

Wat sou julle anders doen? Reël ’n visum vir Amerika voor jy vertrek. Ons volgende bestemming is Sentraal-Amerika, maar dis byna onmoontlik om soontoe te vlieg sonder ’n verbindingsvlug van ’n Amerikaanse lughawe af. Ons kon nie die visum in Indië gereël kry nie, en moes toe baie duur betaal vir vliegkaartjies wat Amerika systap.

Ons slaapplek vir die aand, ’n verlate strand langs Noord-Mosambiek se kus.
Hoe baie het julle vooraf beplan? Ons het op ons hoofbestemmings besluit, naamlik Oos-Afrika, Indië, Sentraal- en Suid-Amerika en ’n basiese tydlyn uitgewerk. Jana het ook vooraf gereël om by sommige plekke liefdadigheidswerk te doen, dit bepaal dus grootliks ons skedule. 

Besoek julle enigsins toeristetrekpleisters? Ons vermy meestal die gewilde plekke – ons was wel in Zanzibar en by die Taj Mahal en Everest-basiskamp. Daar is ’n rede hoekom daardie plekke bekend is, maar doen jou eie ding, loop ’n ekstra draaitjie en moenie net die groot groep te volg. Probeer om niks vooraf te bespreek nie. Gaan ontdek en verken self. 

Enige raad aan reisigers? Moet asseblief nie lekkers en geld uitdeel aan kinders nie. Skenk eerder geld aan plaaslike nie-regeringsorganisasies.

Johan en Jana reis nou deur Nepal. Volg Johan op Instagram by @a.whale.away of facebook.com/a.whale.away. 

Lees hier meer oor die Wahls se avonture in die onbekende noorde van Mosambiek.