FOTO’S LAWRETTE MCFARLANE
Kaart

1. Die Padstal

Jy kan nie ’n vakansie aanpak sonder goeie biltong nie. Gelukkig is Villiers nie te ver ná die wegtrekslag nie, want dis waar jy die beste biltong (R289 per kg) en droëwors (R289 per kg) langs die N3 kry, by Die Padstal.

Die Padstal is ook die plek waar jy jou koelboks vol lamstjops en boerewors (vars van die plaas) kan pak. Alles bewerk deur die eienaars, Flippie en Elize Lourens. Hulle handewerk en lekkernye sluit ook in gemmerbier, vrugtesappe, ingelegde produkte en Leka Hot-rissie-sous (hy is glo baie rof en Elize sê hy sal jou van jou stoel af piets). Hier is koekies, beskuit, konfyte, kuns en speelgoed vir die kinders. Jy gaan waarskynlik nie sonder een van die oulike opgestopte skapies – hulle lyk baie na Shaun the Sheep – ry nie. Kyk gerus hier vir Kersgeskenke vir vriende en familie.

En moenie ry voordat jy nie ’n geselsie aangeknoop het met die vriendelike personeel nie. Soos Jenny Webb, die bestuurder, sê, al wat ’n mens in hierdie lewe kort, is ’n bietjie vriendelikheid en lekker biltong.

Die beste deel van Die Padstal? Hier is een aan elke kant van die N3. Dus kan jy kan weer inswaai met die terugkomslag. Want lekker biltong raak vinnig op.

Waar? Aan albei kante van die N3 by die Engen-vulstasies noord van Villiers.

Oop? Die meeste dae 7 vm.-5 nm. en Saterdae net tot 2 nm.

Kontak: 082 859 3117 of soek “Die Padstal” op Facebook 

– Willem van der Berg

2. Bergview 1 Stop

Jip, die Wimpy is steeds hier. Plus ’n hand vol ander franchise-staatmakers soos Nando’s, Mugg & Bean, Ocean Basket... En maak ’n draai by die Guinea Fowl-plaasstal vir konfyte, ingelegde lekkernye en rou heuning. By Sparkles kan jy biltong vir padkos koop – hier is verskeie soorte om van te kies, vanaf R295 per kg.

Ruim ekstra tyd in sodat die kleingoed bene kan rek en die spannetjie diere in ’n kamp kan ontmoet (hier is tafels digby sodat jy ’n oog kan hou terwyl jy eet): Hier is die lamas Lenny en Lolly, asook Dudley, die donkie, Billy, die boerbok, en Edward, die kolgans.

Lus vir oorslaap? Die Mountain View Inn ( 058 623 0255; mountainviewinn@draadloze.co.za) op dieselfde terrein het netjiese dubbelkamers en ’n kampterrein onder hoë dennebome. En suite-dubbelkamer: vanaf R830 p.n. Kampplek: R220 per staanplek, plus R30/volwassene, R20 kinders 6-12 jaar. Die kampterrein het ’n elektriese heining.

Waar? Sowat 5 km voor Harrismith.

Oop: Maandae tot Donderdae en Saterdae van 8 vm.- 6 nm.; Vrydae en Sondae van 8 vm.-9 nm.

Kontak: 076 127 1675; 058 623 0255; bergview.co.za

PLAN B VIR BEKOSTIGBAAR 

3. Swinburne

Dié eenstraatdorpie aan die oewer van die Wilgerivier met sy hand vol huise is beslis die stop werd as jy moeg is vir Wimpy-koffie en pies.

Dit was eens ’n bedrywige plekkie met ’n treinstasie en poskantoor, maar sedert die verkeer na die N3 herlei is, is dit ongelukkig soos talle ander dorpe op die knieë gedwing.

Die spil van die dorpie is die Riverview Country Inn, ’n ouwêreldse oornagplek waarvan die losstaande kamers elkeen op die tuin uitloop.

Die Hound & Hare-restaurant-en-kroeg bedien lekker huiskos teen sakpas pryse (sop van die dag R35, hoenderschnitzel met tjips en slaai teen R60 en die ou gunsteling, mixed grill, teen R130).

Vang ’n dip in die swembad (vra net toestemming as jy ’n dagbesoeker is), snuffel deur die antiekware en tweedehandse boeke in die winkeltjie Nutty Meg oorkant die straat, pak ’n staptog (sowat 14 km uit en tuis en ’n maklike stappie) tot aan die voet van die Rensburgkop wat oor die omgewing uittroon en gaan staan op die ou brug wat uit 1884 dateer.

Die eienaars, Steve en Jenni Cleverly, vertel graag staaltjies oor die dorp. Troeteldiere is welkom.

Lus vir oorslaap? En suite-kamers: vanaf R450 p.p.p.n. en vanaf R750 p.n. vir ’n gesinskamer (drie beddens). Ontbyt is R60 p.p. by die restaurant.

Waar? Sowat 10 km voor Van Reenen, neem die Montrose Stop-afrit.

Oop: Maandag tot Saterdag van 7 vm.-10 nm.; Sondae van 7.30 vm.-8 nm.

Kontak: 058 672 1033; riverviewcountryinn.co.za

Nutty Meg, Swinburne
Jenni Cleverley, Swinburne

4. Green Lantern Inn

Op die Van Reenenspas is jy mooitjies halfpad en letterlik op die hoogste punt van die roete, 1 768 m bo seevlak, om presies te wees. Die pas self kan verraderlik wees wanneer dit mistig is of reën; lê dus maar ekstra geduld aan die dag. In die spitsseisoen ry nagenoeg 2 700 voertuie per dag oor die pas – te verstane as ’n mens in gedagte hou dat meer as 58 miljoen ton vrag per jaar oor die roete vervoer word.

Hokaai dus, rek die bene en rus ’n bietjie, want hier is oulike plekke om te ontdek in die poskaartklein dorp waarvan die pas sy naam ontleen. Die ingang na die dorp is ná die Star Stop Drakensberg; draai links in by die eerste straat.

Die dorp is genoem na Frans van Reenen, ’n boer wat in die middel 1800’s gereeld met sy vee van sy plaas aan die onderkant van die berg boontoe getrek het. In 1891 is die spoorlyn voltooi en was die treinstasie die middelpunt van al die bedrywighede.

Die Van Reenen Hotel het sy deure ’n jaar later oopgemaak en die tradisie is begin om ’n groen lantern in misweer te laat brand sodat reisigers kon weet hulle het die bopunt van die pas bereik. In 1948 is die hotel herdoop tot die Green Lantern Inn, wat vandag nog bestaan.

Hier vier rustigheid die botoon met kenmerkende plattelandse gasvryheid en hope plek vir kinders om te jol (jou vierbeenkinders ook!). Wees op die uitkyk uit vir Bo-Jangles, die donkie, wat soms ’n draai maak in The Halfway Noggin Pub.

Bel vooruit om ’n ete te bespreek (die spyskaart is op die webwerf).

Lus vir oorslaap? Hier is selfsorg, sowel as bed-en-ontbyt-opsies. Dubbelkamer met gemeenskaplike ablusies: R410 p.n.; R500 met ontbyt. Selfsorg: R445 p.p.p.n.; bed-en-ontbyt: R490 p.p.p.n.

Waar? Wraggstraat 7

Oop: Die kombuis is oop van 7 vm.-8 nm.

Kontak: 058 671 0027; greenlantern.co.za

Green Lantern Inn

5. Bompas-handelshuis

Net in die volgende straatblok van die hotel is dié skatkis. Dis ’n mengelmoes – van kruideniersware en meubels tot mandjies en klere. Raap ’n ou kandelaar op, of dalk ’n palmhandsakkie uit die jaar toet.

Waar? Wraggstraat

Oop: Elke dag van 9 vm.-5 nm.

Kontak: 058 671 0011; Facebook Bompas Trading

6. Llandaff Oratory

Aan die ander kant van die N3 is sekerlik die bekendste baken in Van Reenen, die piepklein Llandaff Oratory met sitplek vir slegs agt mense en die enigste Rooms-Katolieke kerk in die wêreld in private besit.

Die kerkie is gebou ter gedagtenis aan Llandaff Matthews wat in 1925 dood is toe hy van sy mynkollegas gered het in ’n mynramp in Dundee. Sy pa, Maynard, wou ’n gedenksteen vir Llandaff in die plaaslike Katolieke kerk oprig, maar dié versoek is geweier.

Maynard besluit toe, basta, dan bou ek ’n kerk. Hy is later as priester bevestig en het hom toegewy aan dié klein heiligdom. Vertoef ’n rukkie en kyk na die mooi loodglasvensters.

Reg langsaan is die Little Church-teetuin en antiekwinkel waar die eienares, Geraldine Johnson, regstaan – met tee en skons, ’n stewige sny koek of heerlike tuisgemaakte bredies én ’n magdom stories oor die geskiedenis van Van Reenen.

Oop: Elke dag van 9 vm.-4 nm. Hier is elke Sondag om 10.30 vm. ’n diens.

Kontak: 058 671 0106; thelittlechurch.co.za

Llandaff Oratory

7. Spioenkop

Die Slag van Spioenkop op 23 en 24 Januarie 1900 word as een van die hewigste gereken in die Tweede Anglo-Boereorlog. Verskeie monumente is op die terrein opgerig, en groot inligtingspanele vertel die verhaal van die vergissing en verwarring in slegte weerstoestande wat uiteindelik gelei het tot die dood van honderde soldate, van wie verreweg die meeste Brits was. Bronne verskil, maar sowat 320 Britte het gesneuwel en meer as 500 is gewond, terwyl 58 Boeresoldate dood is.

Mahatma Gandhi het in dié veldslag gedien, in die Indiese Ambulanskorps wat die gesneuweldes en gewondes moes vervoer.

’n Mens kan jou die tragedie daarvan goed voorstel terwyl jy oor die terrein stap.

Waar? Dis 50,7 km van Van Reenen af. Neem die Bergville-afrit (nr. 230), draai regs op die R616, draai links ná 4 km en volg die grondpad vir 9,3 km tot by die ingang.

Oop: Elke dag van 9 vm.-4 nm.

Koste: R35 per volwassene, R25 vir pensioentrekkers en studente, R20 per kind jonger as 12.

Kontak: 033 394 6543; heritagekzn.co.za

Gedenkteken vir Boeremagte, Spioenkop

8. The Midlands Kitchen

Dit maak nie saak hoeveel fiemies Saartjie en Boeta het nie, by dié stopplek behoort elkeen iets te kry wat die honger sal stil.

As dit ’n haastige stop-draailoop-eet is, kies koers na die Grab and Go wat bykans soveel keuses bied as The Food Shed, maar gereed is vir eet.

Kies by The Food Shed tussen hoendergeregte, Mediterreense falafels, Mexikaanse lekkertes, gourmetburgers, ’n verskeidenheid vars kos van die oestafel, hoërgraadpizzas (probeer die een met feta, gekaramelliseerde uie, avokado en mozzarella) en goeie koffie. En nog meer.

Wat dit so gerieflik maak, is dat elkeen sy kos kan bestel by die verskillende kombuiskiosks, maar die hele gesin saam kan sit en eet by die talle tafels in die vertrek waar al die kiosks is – hier is sitplek vir 400 mense.

Waar? Neem Nottingham Road-afrit (nr. 132).

Oop? Elke dag 6 vm.-4 nm. (The Food Shed). Die Grab and Go sluit om 8 nm.

Kontak: 033 266 7046; themidlandskitchen.co.za

The Midlands Kitchen


9. Linga Lapa

Oorkant die pad van Midlands Kitchen kan jy gou inhop by die Linga Lapa-slaghuis en ’n beleë steak koop vir daardie eerste vakansiebraai. Hier is ook ’n deli wat onder meer die plaaslike kaasmakery Indezi River se produkte aanhou (probeer die rissie-camembert), asook tuisgebakte beskuit en vars groente.

Oop? Elke dag van 8.30 vm.-5 nm.

Kontak: 033 266 7001; lingalapa.co.za

10. Blueberry Café

Daar is baie te sê van dié gesellige eetplek, maar die trone (ja, die kleinhuisies) vat beslis die koek! Groot vensters bied ’n uitsig tot doer oor die vlaktes, maar moenie bekommerd wees nie, dis slegs die trop ngunibeeste wat jou kan sien.

Die atmosfeer in die res van die restaurant en teetuin is eweneens rustig danksy die hoë plafonne, hope natuurlike lig en talle binnenshuise plante.

Klaarblyklik het die resep vir die groot gunsteling op die spyskaart – die bloubessiekaaskoek – onlangs verander, want dié keer was dit nie gebak nie – hopelik word dit reggestel! Gelukkig is die koffie tops, en die res van die spykaart belowend... wens daar was meer tyd.

Waar? Dis op die Netherwood Farm, 8 km van die N3 af op pad na Nottingham Road. Neem die Nottingham Road-afrit (nr. 132).

Oop: Elke dag van 8 vm. -4 nm.

Kontak: 033 266 7132; Facebook Blueberry Café

Blueberry Café

11. Peel’s Honey

Dis die oudste Suid-Afrikaanse heuninghandelsmerk wat in 1924 deur Jack Peel, ’n deeltydse byeboer, begin is. Tans word die heuning verkry van meer as 7 000 van hulle eie korwe waarvan die meeste in KwaZulu-Natal is en sommige in die Vrystaat.

By die winkel kry jy die ware jakob, en boonop ook in allerhande opwindende gedaantes soos makadamia- en avokadoheuning. Jy kan ook jou eie houer neem om volgetap te word.

Die kinders sal daarvan hou om na die byekorf agter glas te kyk en presies te sien hoe dit woel en werskaf.

Waar? Bostonweg 1, Howick. Neem die Zeeder­berg­weg-afrit (nr. 99), draai regs in Wilsonweg en weer regs in Bostonweg.

Oop: Elke dag van 8 vm.-5 nm.

Kontak: 033 330 3762; peels.co.za