Foto’s: Cyril Klopper
Lekoa-lodge
Die Lekoa-lodge is op die suid-westelike grens van Mpumalanga, maar die wêreld hier is pure Vrystaat.

Lekoa-lodge is op die plaas Wolwefontein,sowat ’n uur en ’n halfse ry suid van Johannesburg.As jy dié lodge besoek, is dit waarskynlik om ’n familielid se troue of ’n sakekonferensie by te woon. Dis ’n luukse kompleks met lowergroen grasperke, ’n groot swembad en netjiese rietdak-chalets.

Lekoa-lodge bemark hom nie as ’n 4x4-bestemming nie, maar een van die doendinge hier is inderdaad ’n 4x4-hindernisbaan – jy kan dus met jou bosbakkie hierheen kom as jy genooi is om jou niggie se troue by te woon, maar nie kans sien om heeldag in jou chalet te wag terwyl tannie Justine van die skoonheidsalon die bruid se gesig verf nie.

Die roete het geen aanwysers nie en die personeel by die ontvangsgebou het ook geen kaart wat wys hoe jy moet ry nie. As jy vra waarlangs die roete loop, kyk die mense agter die toonbank jou onseker aan en beduie jy moet maar die spoor volg en na goeddunke ry.

Die roete begin by ’n hek in die grensdraad agter die lodge. ’n Grondpad loop vir ’n kort entjie noordwaarts, verby ’n familiebegraafplaas, tot by ’n hindernisbaan. Dié baan is eintlik vir quads ontwerp en jou bakkie gaan nie in die spoor pas nie. Daar is egter geen reël wat jou verbied om die moddergate en grondwalle met jou trokkie te trotseer nie, maar wees gewaarsku: Jou voertuig moet ’n goeie oorbrug-,nader- en vertrekhoek hê.

BULTE EN GATE. Die trouplaas se lekkerste speelplek lê langs die Watervalrivier suid van die lodge. Dis nie besonder uitdagend nie en die kans dat jou voertuig gaan seerkry, is gering. Die roete is egter baie méér pret as jy hom met ’n quadfiets pak, want dis ’n bietjie té mak vir ’n ware veldryvoertuig.

Die grondpad loop verder noord na ’n landingstrook vir ligte vliegtuie, maar ons het eerder ooswaarts uit die quad-hindernisbaan gery en een van talle smal paadjies gevolg tot by ’n plaasdam. Ry oor die dam se wal, teen ’n vlak heuwel uit, tot by ’n kruising in die pad. Hier draai jy regs en steek die hoofgrondpad oor wat die plaas bedien. Buiten die quadbaan was daar tot nou toe geen noemenswaardige uitdagings nie, en jy sal die tweespoorpad waarskynlik met ’n gewone sedanmotor kan baasraak.

Nadat jy oor die Wolwefonteinpad gery het, begin die roete afwaarts loop tot by die Watervalrivier. Dit is hier waar dinge meer tegnies raak, want skielik loop die pad loodreg teen ’n bult langs die rivier uit. Die oppervlak van die tweespoorpad hier is besaai met klippe so groot soos aartappels, en jy gaan beslis nie met gewone tweewielaandrywing regkom nie. Selfs allewielaandrywing sal hier sukkel en jy gaan dalk ’n ewenaarslot moet inhaak.

Ná die losgemaal bly daar een hindernis oor: ’n moddergat teenaan die Watervalrivier. Met ons besoek was die gat droog genoeg sodat ons nie juis gesukkel het nie, maar die tekens van ’n onlangse desperate gespartel is in die droë klei vasgevang. Nou keer die pad terug na die Wolwefonteinpad.

Oorkant dié pad ry jy teen ’n pragtige koppie bokant die lodge uit – van hieraf kan jy die wye aarde rondom die koppie bespied. Nou is dit afwaarts tot by die plaasdam en terug na die lodge.

Die roete is geensins uitmergelend nie, en die enkele uitdagings kan omseil word met ontsnaproetes. Dit is dus nie die moeite werd om al die pad van Johannesburg af Lekoa-lodge toe te ry bloot om die 4x4-baan te besoek nie. Dis wel lekker om te weet jy kan hier met jou bostrokkie kom speel as die troue verby is. Of ’n spanbounaweek met quads reël vir jou werknemers.

Blyplek

As jy nie in die selfsorgchalets wil bly nie, kan jy jou tent of woonwa hierheen bring. Hier is ’n groot grasperk met ablusiegeriewe, ’n braaiplek, elektrisiteit en trampoliens vir die kinders.

Buiten die groot swembad is daar ’n verhitte binnenshuiseswembad én ’n restaurant en kroeg.

Wat jy moet weet

4x4, laestrek, ewenaarslot? Jy het viertrek en ’n goeie grondvryhoogte nodig as jy die uitdagendste dele van die roete wil aandurf, maar jy behoort reg te kom sonder ’n ewenaarslot en laestrekratte as jy jou ry kén of die hindernisse wil vermy.

Maksimum getal voertuie: Onbeperk.

Kry ek ’n kaart? Nee.

Sal my voertuig krap? Nee.

Moet ek ’n kompressor saamneem? Nee.

Kan ons langs die pad braai? Nee, maar daar is geriewe by die kampplek.

Kan ek halfpad omdraai? Ja.

Is daar selfoonsein? Ja.

RONDOM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan? Heeljaar.

Kan ek my gesin saamneem? Ja.

Net vir die dag of die naweek? Naweek.

Is daar ablusiegeriewe? By die lodge en kampplek, ja.

Aanwysings

Neem uit Johannesburg die N3-snelweg in die rigting van Villiers. Sowat 6 km vóór Villiers neem jy die R547-afdraai ooswaarts en ry 10 km. By die eerste kruising wat jy teëkom, draai jy regs, ry oor die Hexspruit en neem die Wolwefonteinpad tot by Lekoa-lodge.

GPS: S26.95436 E28.72105 (hek) S26.95133 E28.72084 (begin van roete)

Wat kos dit? Gratis vir gaste (geen dagbesoekers word toegelaat nie).

Kontak: 087 802 0822; lekoalodge.com; info@lekoalodge.com