GASTEPLAAS HARTEBEESFONTEIN

Jou eie kampplasie

Dis nie aldag dat ’n mens ’n hele kampplek net vir jouself en jou mense kan bespreek nie. Hartebeesfontein, net anderkant Mookgophong, is so ’n plek – en dan kamp jy nog teenaan ’n dam.

Die Bad se Loop-stroom ontspring op die plaas van 800 ha en die eienaars het ’n hele paar keerwalle in die stroom gebou waar die water opdam. Soos jy aangery kom, kan jy langs een van die heel linkerkantse damme kamp. Dié dam stroomaf is sowat 40 jaar oud en het ’n oppervlakte van 7 ha (afhangend van die watervlak).

’n Mens slaan op die westelike oewer van die dam kamp op. Agter jou is ’n sitrusboord, en tussen die waters en die boord is ’n paar lieflike koeltebome en ’n netjiese grasperk. Jy kan jou staanplek inrig waar dit vir jou gerieflik is, want hier is nie afgebakende staanplekke nie. Maar as jy afhanklik is van krag, hou naby die grasdaklapa wat omtrent in die middel van die grasperk staan.

Hartebeesfontein
Hartebeesfontein
Hartebeesfontein
Hartebeesfontein
Hartebeesfontein
Hartebeesfontein

Die kombuis is ook deel hiervan en het ’n opwasgedeelte, yskas en gasstoof (bring jou eie gassilinder). Verder is die badkamers met geriewe soos ’n stort, bad, toilet en wasbak ook hier. As jy net vinnig ’n draai wil loop of afspoel, kan jy die buitetoilet of -stort gebruik.

Tussen die lapa en die waters is ’n ronde betonblok waar jy veilig jou lekker groot vuur kan stook – jy is immers nou op ’n plaas. Jy mag ook van die braaigeriewe met hulle roosters gebruik as jy nie jou eie saamgebring het nie.

Die damme se visgetalle word jaarliks aangevul, maar dít wat jy vang, moet weer terug water toe – wat beteken jy het ’n beter kans om een van die groter menere aan wal te kry. Vir die hengelaars wat dit rustig wil vat, kan jy jou karpstokke uitpak, maar hier is ook kurpers en swartbaars wat ’n groter bohaai maak as hy ’n hoek in die bek kry. As dit voel jy het ’n dooie gewig gehaak, wees maar rustig, want die damme het ook babers.

Al is hier nie ’n swembad nie, is jy welkom om ook in die water af te koel.

Hartebeesfontien is veral gewild in vakansietye en oor langnaweke. Maar jy sal vroeg moet spring vir plek. Die kampplek is ruim genoeg vir 30 kampeerders, maar as jy bespreek, word die plek vir jou en jou mense uitgehou.

Hartebeesfontein
Hartebeesfontein

Kortliks | Gasteplaas Hartebeesfontein

Vis: Karp, swartbaars, baber en kurper.

Kampplek: Plek vir tot 30 mense op 1 groot grasperk met koelte teenaan ’n dam.

Ablusiegeriewe: ’n Netjiese badkamer, kombuis en grasdaklapa – alles bymekaar.

Prys: R100 p.p.p.n. (R50 vir laerskoolleerlinge; gratis vir die voorskoolse outjies). Afhangend van die seisoen geld ’n minimumtarief van R400-R1 000 p.n. en ’n minimum van 4-10 mense. Jy moet ook vir minstens 2 nagte bespreek.

Aankoms- en vertrektyd: Die tye verskil na gelang van die seisoen en hoe besig dit is. Tref reëlings met die plaas se mense.

Kontak:  073 041 4353; denemuller2@gmail.com

Naaste dorp Mookgophong: 22 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 15 km is grondpad, maar ’n mens kan ’n gewone padwa sleep mits jy dit stadig vat.

GPS: S24.543154 E28.558207

Ry & Sleep Onthou, die damme se watervlak is afhanklik van die reënseisoen. Hier is wel al ’n hele paar knewels uitgetrek, waaronder ’n karp van 15 kg en ’n swartbaars van 3,6 kg.

Klein generaal

Daar is nie sommer ’n seevis wat sy neus sal optrek vir ’n kleingarnaal nie. Dit is dus logies om ’n kleingarnaal te gebruik as jy jou oog op ’n vis vir die pan het, en wat beter as ’n kunsaas, wat jy sommer meer as een keer kan gebruik?

Livetarget se Fleeing Shrimp is een so ’n kunsaas, en nader aan die ware Jakob kan dit nie. ’n Kleingarnaal is ’n tengerige seediertjie en hy gebruik sy swempootjies om vorentoe te swem, maar die outjie se gevaarontduikstelsel werk in die teenoorgestelde rigting.

Sodra moeilikheid sy pad kruis, skiet hy soos blits agteruit, vandaar die “Fleeing” in die aas se beskrywing. As hy dus teen ’n spoed wegskiet, trek dit eerder aandag, net die ding vir ’n honger roofvis.

Die stertgedeelte van die aas is ’n gewiggie wat as ’n jig head bekend staan. Dis hier waar jy die vislyn vasknoop, en dit vorm ook die basis waar die hoek deurkom. Die aas het ’n silikoonrokkie aan die teenoorgestelde kant van die stert – net onder die antennas, wat selfs wanneer dit stillê, in die gety rondbeweeg – net soos die regte kêrel.

Die aas is in verskeie kleure beskikbaar en dit het ’n ingeboude glasratel om die aandag te trek. Die aas het selfs die reuk van ’n regte kleingarnaal.

Sodra jy die aas ’n pluk gee, skiet dit deur die water – en dit is wanneer jy maar kan gereed staan om vas te maak. Staan ook reg met die net, want jy het dalk ’n knorder, steenbras of kabeljou aan die hoek.

Die aas is in twee groottes beskikbaar: 7 cm lank (gewig 7 g) of 8,5 cm (gewig 11 g).

Prys: R175 elk – en dit sluit ’n ekstra garnaallyf in. Die aas is ook beskikbaar in Namibië.

Kontak: Adrenalin Importers & Distributors (invoerders)  021 982 1510; catches@4adrenalin.co.zaadrenalinfishing.co.za

GEVULDE VIS IN PARMAHAM

Varkie om die lyf

As jy dalk nie ’n geelbek, geelstert, kabeljou of koningklip in die hande kan kry nie, werk drie kleiner visse saam net so goed.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 1 groot heel vis (of die 3 kleiner visse) oopgesny
  • 6-8 velle parmaham

VIR DIE VULSEL

  • 1 eetlepel olyfolie
  • ½ ui, fyngekap
  • 2-3 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 2 teelepels fyn kaneel
  • ½ koppie bruinrys
  • 1½ koppie water
  • ¼ koppie korente
  • 2 eetlepels elk gekapte dille, ment en pietersielie
  • ½ koppie dennepitte, gerooster
  • ½ koppie gekrummelde fetakaas

Só maak jy

1. Maak die vulsel Verhit die olyfolie in ’n  pan. Braai die ui, knoffel en kaneel daarin tot die ui sag is. Voeg die rys by en roer die mengsel tot al die korrels met olie bedek is. Voeg die water by en kook dit tot gaar. Haal dit van die hitte af en roer die korente, kruie en dennepitte by. Laat staan dit eenkant om af te koel. Roer die gekrummelde kaas deur.

2. Skep die vulsel in die oopgesnyde vis, druk dit toe en draai die vis dan styf toe in die ham.

3. Bind die vis met tou vas en braai dit oor matige kole tot gaar. Die vis is gaar sodra die vis se vleis nie meer deurskynend is nie en maklik vlok (ongeveer 30 minute, afhangend van die grootte van die vis en die kole se hitte).

Ry & Sleep sê
Die bereidingstyd is ongeveer ’n driekwartier, wat beteken dit neem net ’n raps langer as ’n uur vóór julle lekker kan weglê.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook