Jy kan ook hier kamp, maar hulle boomhuise is besonders: Elkeen staan met voete in die Okavangorivier! Die huisies is só ontwerp dat jy die son tussen jou tone sien opkom as jy op die bed lê.

Dié boomhuise is wel soms tussen bome gebou, maar staan eintlik op pale. Wanneer die Okavangorivier vol is, kabbel die water skaars ’n halfmeter onder jou houtstoepie! Ek is al hier wakker gekekker deur ’n reusevisvanger skaars drie meter van my bed af. Die roep van ’n visarend iewers naby is ook gewaarborg. Bring jou verkyker: Jy kan op jou stoep sit en voëls kyk, en selfs oorkant die rivier soms olifante, buffels en ander wild sien rondbeweeg.

Aan jou kant van die rivier is dit egter veilig om rond te loop. 

Geriewe: Stoele vir sit, bed vir lê, hangmat vir boeklees en muskietnet (baie belangrik!). Elke boomhuis het ’n stort en spoeltoilet. Die badkamers is redelik “opelug”, maar dis deel van die avontuur van Ngepi se boomhuise. Kragpunt (sonkrag).

Wat pla? Dis ver soontoe – maak dit deel van ’n groter Namibië-Botswana- toerprogram. 

Hoe kom ek daar? Dit is 15 km suid van die dorpie Divundu, aan die westelike punt van die Caprivistrook in Namibië. Die laaste 2 km is sandpad, maar die res is teerpad. Soms, wanneer die Okavango in vloed is, kan jy nie ry tot by Ngepi nie – maar hulle sal jou kom haal met ’n bootjie! 

GPS: S18.11686 E21.67027

Koste: R950 p.p. wat deel, ontbyt ingesluit. Hier is 13 boomhuise – sommige het slaapplek vir twee, ander vir drie en hier is ook twee gesinseenhede vir vier mense. Kinders 4-11 jaar betaal halfprys (3 jaar en jonger, gratis).

Kontak: 00 264 66 259 903; ngepicamp.com