Die Weg-leser Werner Winterboer het van Strandfontein af tot op Elandsbaai gery met kamele, of altans hy het probeer... Ons vra die velskoenmaker én ongewone avonturier ’n paar vrae. 

Hoekom met kamele reis? Dit het begin waar die meeste maltrap idees begin – om ’n kampvuur. Ek en ’n paar vriende was besig om ons volgende avontuur te beplan. Ons laaste reis was met ’n trein deur Zimbabwe. Dié keer wou ons iets meer sinvol doen, vir ons land of vir die droogte. Terwyl ons so gesels steek ek ’n Camel plain aan net toe Jack Parow en Dawid Kramer sing “Ek is ’n Weskusklong”. Toe ek weer kon kry, onderhandel ons in Krugersdorp met Karel Kameel van Camel Friend vir twee van sy kamele, Pilot en General. Ons eerste opsie was die kameel in die Pretoria-dieretuin, maar die arme ding was te depressief, want almal kyk eerder na die 300 flaminke. 

Hoe maklik is dit om te leer kameelry? Ek en my reismaat Michael (Mike) van der Spuy het ons kameelryvaardighede op Stilbaai geslyp. Dit was nie baie suksesvol nie. Thabong Redebe, een van die kamele se hanteerders, het gesê “koes” is die bevel wat ’n kameel sal laat sit. Ons het vergeefs geroep: “Koes, koes, ko-o-o-es!” Pilot het gaan sit, maar General was beslis nie hier om te luister nie. 

Ek het later vir Thabong op luidspreker gekry om vir General te “koes!”. Maar helaas. Plan C was om met ’n lat te maak of jy gaan piets, aldus die kameelmense. Dit het genadiglik gewerk, en ons kon in die saals klim. Maar binne sekondes was ek weer karplaks op die grond. 
Sowat 10 minute later was ons albei uiteindelik bo-op die kamele. Ek het Pilot vergeefs probeer wegstuur, maar hulle het reguit na die bome gemik en ons gou weer afgegooi. Ons het toe maar handdoek ingegooi vir die dag. Ons het onsself getroos dat daar mos nie juis bome langs die Weskus is nie.  


Hoe gretig was die kamele vir die avontuur? Min tot glad nie, sou ek sê. Die oggend toe ons op Strandfontein afklim en uiteindelik op die kamele sit en wil begin stap, draai die kamele om en mik vir die sleepwaentjie wat hulle gebring het! Ons het toe maar afgeklim en hulle met die hand gelei tot by die eerste oornagkol. 


Wat was die beste deel van die avontuur? Beslis die mense langs die pad – ons en die kamele is oral vriendelik ontvang. Die Du Toit-gesin naby Strandfontein het ons bederf met potbrood en bier en ’n lusernbaal vir die kamele. En die Van Zyl-broers van Lambertsbaai het vir ons en die kamele lekker kos gegee en by die Muisbosskerm het (net) ons die lekkerste oesters geëet! 


Was daar enige noue ontkomings? Om van ’n kameel se rug af gegooi te word, is nie pret nie. Maar die bangste wat ons was, was seker toe die kamele hasepad gekies het op ’n dienspad naby Lambertsbaai en ons toe ’n lift gekry het saam met ’n ou wat ’n rollie en boksies dagga-zolle in sy kar het. Hy’t nogal ewe gesê hy’s ’n undercover cop... Nodeloos om te sê ons het so gou moontlik uit daai kar probeer kom.


Waar is Pilot en General nou? Verlang jy enigsins na hulle? Pilot en General is terug na hulle “gewone lewe” besig om by kinderpartytjies die “jol vol te hou” met Thabong wat hulle om die parkeerterrein neem, die een kind na die ander. Dié twee moet baie emosies hanteer, van Jannie wat huil, Sannie wat lag en tant Marie wat bekommerd is oor die groot dier wat haar kind ronddra. Ten spyte van al die moeilikheid het ons tog ’n band gebou met die twee drommels. 


Wat is jou volgende avontuur? Ek en ’n vriend Koos Roos, ’n man met swak hamstrings en ’n sensitiewe maag, gaan tot by die Everest-basiskamp in Nepal stap. Daar gaan beslis ’n storie wees om te vertel. 

Voetnota: Tegnies is Pilot en General drommedarisse; dis die regte naam vir ’n kameel met een boggel. 

Lees Werner en Mike se volle storie in Weg se Oktober-uitgawe wat tans op die rakke is, of bestel een hier