FOTO'S: SVEN HUGO (tensy anders vermeld)

Vir die grootste deel van die jaar dra Nieuwoudtville nie sy josefskleed nie. Nee, dié dorp dra eerder two-tone-kakie; die kleur van droë grond en vaalgroen bossies wat onder jou voete knars. Die riviere vloei nie en die Nieuwoudtville-waterval se sluier lê in ’n vlak poeletjie onder in die kloof.

Maar ná die winterreën is dit ’n ander storie. Hardgebakte rivierlope loop, watervalle val, verlate strate woel van toeriste en rook dwarrel bo kosstalletjies. En talle blomroetes vertak soos ’n spinnerak veld-in.

Die meeste besoekers probeer die hele blomstreek – van die Weskus tot Namakwaland – in ’n week inprop. Maar blomme is wispelturig, en as jy van ’n plaat blomme hoor, moet jy jaag. Op die ou end bring jy die meeste van jou tyd in ’n kar deur.

Doen dinge anders vanjaar. Bly op een plek. Leer ken die mense en die stiller paadjies. Nieuwoudtville het van die mooiste blomme en ’n klomp netjiese gasteplase met roetes. Bespreek ’n huisie waar jy uit die bed kan rol en sommer met ’n koppie koffie in die hand die blomme kan beleef.

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi

Papkuilsfontein-gasteplaas

(Weg! se keuse)

Op pad na die drie gastekothuise ry jy verby die geraamte van ’n ou olienhoutboom langs die pad, stokstyf en witgrys gebrand. “Dit staan al op die plaas vandat ek kind was,” vertel Willem van Wyk

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
Willem van Wyk, Papkuilsfontein- gasteplaas.

Die Van Wyks boer al ses generasies met skape op Papkuilsfontein. Deesdae boer Willem se oudste seun, Jaco, hier. En Jaco se vrou, Alrie, bedryf die kothuise.

Sy lag uit haar maag toe ek vra watter soort blomme op Papkuilsfontein voorkom. Te veel om op te noem!

Willem en sy vrou, Mariëtte, bly op Matjiesfontein, ’n plaas ’n paar kilometer noord, nader aan die dorp. Willem wil gou die rotstekeninge gaan wys. Ons ry in sy Land Rover, Oubaas, op die 6 km-sandpad wat verby die drie kothuise loop. Gaste het toegang tot dié pad en dagbesoekers word soms toegelaat, afhangend van hoeveel mense en voertuie op die plaas is. Dié pad loop tot by ’n uitkykpunt oor ’n kloof, en verby die parkeerterrein vir die Papkuilsfontein-waterval. Die waterval is nog sowat 300 m se stap van die parkeerterrein af.

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
Rotstekeninge, Papkuilsfontein.

Op pad terug ontvangs toe trek hy af in die veld en beduie na gate in die grond. Dis die werk van ystervarke en bokke wat agter bolle aan grawe. Willem druk sy vingers diep in die droë grond en grawe ’n vars bol uit en vergelyk dit met die droë dop van een wat brekfis was.

“Hiér lê honderde bolle,” sê Willem, “hier reg onder ons voete.” Dis dié onopvallende bolle wat kort ná die Kaapse winter die landskap met verfspatsels kleure versier.

“Die blomme is ’n wonderwerk,” sê Alrie later. “Mense meen ons is seker al gewoond aan die skouspel, maar jy raak dit nooit gewoond nie.”

Sy lag uit haar maag toe ek vra watter soort blomme op Papkuilsfontein voorkom. Te veel om op te noem! Volgens Nieuwoudtville se webwerf kom daar in uitsonderlike gevalle op sommige kolle tot 25 000 bolplante in net 1 m² op. Dan lyk dit asof hier kleurstrooisels oor die landskap gesprinkel is. Kalkoentjies, koringblomme, katsterte, spinnekopblomme... ritsel Alrie die name af.

Voor ek ry, bel sy omtrent elke persoon op Nieuwoudtville – Wessie van der Westhuysen van die Nedersetting-restaurant, Eugene Marinus van die botaniese tuin, Okkie Steenkamp om die kerk te kom oopsluit – om te hoor of hulle kan help met ’n ete by die restaurant, inligting, raad... Natuurlik kan hulle.

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
Foto: Mande Kotzé

Geriewe

Die drie selfsorg-sandsteenhuise – De Hoop, Rondekraal en Gert Boom – staan elk op sy eie en het ’n kaggel, ’n stoep met ’n braaiplek en ’n mooi uitsig. Die huise het gas en sonkrag – hier is geen kragpunte nie. Rondekraal het slaapplek vir 2 mense, en ’n swembad. Hier is ook ’n rotspoel wat vol is ná die winterreën. De Hoop het slaapplek vir 4 mense. Hier is ’n buitestort as jy al fresco wil was. Gert Boom het slaapplek vir 4 en is die privaatste van die lot. Op die plaas is ook ’n boskamp met 4 staanplekke vir maksimum 8 mense; geen elektrisiteit nie; die ablusieblok het warm water en ’n spoeltoilet.

Die plaaspad na die poele, waterval en kloof gaan jou sedan opdraande gee, maar Willem en sy Landie is beskikbaar, of jy kan die 12 km-sirkelroete tot daar stap.

Kom honger: Reël vir ontbyt en aandete in jou huisie. Hulle dek jou tafel. Dis van die beste lamskenkel en groente diékant van die ewenaar. Ontbyt is R180 p.p., aandete R300 p.p.

Koste: Kamp: R160 p.p. Huisie: vanaf R600 p.p. Waar? Die plaas is 24 km suid van Nieuwoudtville op die Suidbokveldpad.

Kontak: 072 555 1416; 027 218 1246; papkuilsfontein.com

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
NG Kerk

Kyk hier blomme
Papkuilsfontein se Noord- en Suidroete – albei 4 km – is rybaar met ’n gewone sedan en oop vir dagbesoekers teen R30 per voertuig. Langs die Suidroete sien jy harlekyn-aandblomme, gousblomme en bergmagrietjies. Op die Noordroete kom onder meer pienkaandblomme, die Blou Trots van Nieuwoudtville en Karoosatynblomme voor.

Elandsvoetpad-gasteplaas

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
Elandsvoetpad-gasteplaas

Terwyl ek by die plaas inry, is dit net trekkers, aartappels en mense aan’t beweeg.

“Dis aartappelseisoen en twee weke gelede was dit rooibos se beurt vir oes,” verduidelik Lizette Nel en beduie na die rooi streep op die teebaan.

Haar man, Japie, kom groet, maar moet kort-kort ’n selfoonoproep antwoord. Dinge is regdeur die jaar bedrywig op die Nels se plaas: Buiten aartappels en tee boer hulle ook met skape. “Sodra die aartappels klaar is, gaan ons vir ’n maand weg met vakansie,” sê Lizette. “Daarna is dit blomseisoen.”

As Nieuwoudtville op die rand van die Bokkeveldplato lê, dan hang Elandsvoetpad met sy voete oor die rand se kant. Die uitkykpunt van die platorand oor die Knersvlakte met sonsondergang alleen is genoeg rede om ’n paar aande op die gasteplaas te slaap. Daar lê die Knersvlakte soos die bodem van ’n diep see voor jou.

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
Lizette & Japie Nel

Op Nieuwoudtville bepaal die afstand van jou plaas van die platorand af die hoeveelheid reën en die soort grond.

In die Tafelbergsandsteen rondom die platorand groei hier fynbosspesies, en in die somermaande is die landskap minder kaal as verder noord, waar dit amper net grond en sand is. So ook is die reënval op Elandsvoetpad byvoorbeeld twee keer meer as op Papkuilsfontein, ’n halfuur se ry suidoos van hier.

“In die blomseisoen staan die katsterte en sandveldlelies bont tussen die fynbos,” verduidelik Lizette. “Die bergmagrietjies verkies weer bewerkte grond en kleur die landerye mooi in.”

Geriewe

Die groot selfsorghuis het slaapplek vir 6 mense. Hier’s wel net 2 slaapkamers – die res van die beddens is in die leefvertrekke.

Enorme akkerbome staan op die groot grasperk voor die stoep – sommige oggende kom skuur die skape teen die boomstamme. Hier’s ook ekstra luukshede soos DStv en ’n skottelgoedwasser.

Koste: Vanaf R1 000 p.n.

Waar? Die afdraai na die plaas is sowat 7 km wes van Nieuwoudtville langs die R27.

Kontak: 083 645 6446; elandsvoetpad@hantam.co.za

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
Kokerboomwoud

Kyk hier blomme
Gaste kan enige van die plaaspaaie verken, mits jou voertuig behoorlike grondvryhoogte het. Net toeganklik vir gaste. Die sanderige pad (ongeveer 5 km) tot by die uitkykpunt kronkel verby plate geel bergmagrietjies en fynbosvlaktes waar sandveldlelies en katsterte kop uitsteek.

Brandkop-gasteplaas

Sowat 10 km buite Nieuwoudtville, op die R357 na Loeriesfontein, móét ek stilhou vir ’n foto: Dit lyk asof die Bokkeveldplato een trap laer word. Die koppies lê in verskillende dieptes van blou op die horison gestapel. Onder tussen dié koppe lê die Brandkop-gasteplaas.

Op pad na die plaashuis ry jy verby murasies. Dis waar die dorpie Brandkop eens was. Die TV-reeks Mannakwalanners is hier verfilm.

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
Uitkykpunt op Papkuilsfontein.

“In die 1940’s het gesinne nog in dié geboue gebly,” vertel Elizna Louw, wat saam met haar man, Pieter, hier boer met bokke, skape en graan. Die dons in die duvets is ook van die plaas se ganse af.

“Op ’n tyd was hier 40 kinders in die skooltjie,” sê Elizna. “Die ontvolking was weens droogte, ekonomiese druk en te veel mense op een plaas,” verduidelik sy. In later jare het plaaswerkers in die huise gewoon, maar die meeste van die mense is al oorlede.

Die plaas se naam kom van die nabygeleë koppie. (Ek is egter steeds oortuig die naam kom van die apokaliptiese sonsondergange wat saans agter ons gegloei het by Cottage 2.)

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
Cottage 2

Die plaas se groot trekpleister is die Brandkop-kothuis aan die voet van Brandkop en stapafstand van die kokerboomwoud af. Hier is dit net jy, die sterre en die blomme.

Die storie loop dat ene Koos van Taak in die 1920’s in dié huis gebly het, en dit was sy werk om die water uit die Driekopdam te reguleer na die kleiner damme op die plaas. In daai dae was dié dam, wat deesdae meestal droog staan, regdeur die jaar vol.

“Dis hiér waar jy daai poskaartfoto’s neem,” sê Elizna van die plate gousblomme.

Geriewe

Hier is 2 selfsorgkothuise met slaapplek vir 4 mense elk. Cottage 2 is op die werf en is verlede jaar opgeknap – die vloere blink nog. Hier’s ’n binnebraai en ’n buitebraai op die stoep met ’n uitsig oor die Doringrivier. (Onthou, buite seisoen is dit meer doring as rivier). Die gewilde Brandkop-kothuis, met slaapplek vir 4, staan op sy eie in die veld.

Op die plaaswerf, 300 m van ontvangs af, staan ’n groot plaashuis met slaapplek vir 8 mense. Al die huise werk met gas en sonkrag.

Koste: Vanaf R300 p.p.

Waar? Die plaas is sowat 20 km noord van Nieuwoudtville op die R357.

Kontak: 083 635 3147; brandkop.yolasite.com

Kyk hier blomme

“Jy kan so ver ry soos wat jou kar jou neem,” sê Elizna, en verduidelik dat Pieter soms tot 80 km ’n dag op die plaas aflê wanneer hy skape gaan kyk. Oral op die landerye staan plate oranje en wit gousblomme, salmpienk kewergousblomme en geel gansogies. Dagbesoekers moet aanmeld by die ontvangslokaal.

WENK: Baie van die blyplek in die omgewing het nie kragpunte nie; bring dus ’n battery- en ’n karlaaier vir jou slimfoon saam, anders gaan jou Instagram-vriende uitmis...

Grasberg-gasteplaas

“My hart kom affie plaas waar die wind en die son en die stilte my speelmaats was,” lees ’n geel emaljebord teen een van die huise se muur. “Liefde kosmos niks,” lees ’n ander een. Voor die muur op die vloer staan ’n halwe bad wat in ’n bank omskep is.

Coco, ’n klein, vriendelike skaaphond kom groet eerste en toe die eienaar, Mandie Kotzé. Ons bly in die groot Buhr-huis naby Mandie en Ernst Kotzé se huis. Die Buhr-huis is genoem na die Buhr-gesin wat die plaas besit het. Onder die laaste van die Buhrs wat hier gebly het, was die joernalis en skrywer Johann Jacob Buhr. Hy is in 1900 op Grasberg gebore en in 1940 op sy geliefde plaas oorlede. Ernst en Mandie boer van 2007 af hier.

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
Die Kotze's: Mandie, Ernst, Henré, Danelle en Coco, die hond.

“In ons albei se siel het die rus en tevredenheid van die horisonlose vlaktes gedring,” het Buhr destyds geskryf oor die Bokkeveld se uitwerking op ’n mens. Wanneer die son sak oor die vlakte by Grasberg met die swart van bloekombome se boomtoppe afgeëts teen die pers lug, verloor jy nogal jou hart oppie plaas. Die blomme is bloot ’n gawe ekstra.

Geriewe

Belladonna het slaapplek vir 2 mense en By-die-dam vir 3 mense – die 2 selfsorghuisies is langs mekaar. Die Buhr-huis het slaapplek vir 8 mense.

Mandie sorg vir vars melk in die yskas en dinge soos koffie en tee. Bring kontant saam vir lekkernye soos slaphakskeentjies wat jy in die “snoepiekas” in die huis kan kry; dit werk op ’n eerlikheidstelsel. Al die huise het krag.

Koste: Vanaf R320 p.p.

Waar? Die plaas is sowat 12 km noordwes van Nieuwoudtville. Volg die R357 vir 2 km. Afdraai na links.

Kontak: 083 772 2918; grasberg.yolasite.com  

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
Belladonna

Kyk hier blomme
Hier is ’n grondpad tot by die Grasbergrivier (1 km), en verskeie kort staproetes. Wees op die uitkyk vir die nege verskillende orgideespesies, sandveldlelies en witviooltjies. Gratis vir dagbesoekers.

NÓG BLYPLEKKE

Matjiesfontein

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
Matjiesfontein-gastehuis

Die De Lande-gastehuis (slaapplek vir 8), Jan Voorman se huisie (slaapplek vir 4), ’n pikante rooi huisie op sy eie in die veld, en die Matjiesfontein-gastehuis (slaapplek vir 2) word bedryf deur Papkuilsfontein; dus kan jy dieselfde vyfster-bederf hier verwag.

Koste: De Lande en Jan Voorman: R1 150 p.p.; Matjiesfontein: R1 335 p.p. Dit sluit ’n driegang-maaltyd en ontbyt in.

Waar? Sowat 14 km suid van Nieuwoudtville op die Suidbokveldpad.

Kontak: 072 555 1416; papkuilsfontein.com

Blomroete: Ry die Matjiesfonteinroete (13 km) verby plate gousblomme op die landerye en verskeie soorte bolplante soos aandblomme, satynblomme en katsterte verder veld-in. Oop vir dagbesoekers. Dit kos R25 p.p. en R150 vir ’n begeleide toer. Kontak vooraf vir Leana van Wyk as julle ’n groot groep is. 027 218 1217; 082 813 2805

Boereplaas

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
Boereplaas

Hier is drie eenhede na aan mekaar by die plaashuis. Boereplaas het slaapplek vir 4, en Hezimon en Soutbos vir 2. Net Hezimon is selfsorg. Boereplaas het nie daai afgesonderde gevoel van die ander nie, maar dis ’n netjiese plek vir ’n aand of twee se oorslaap.

Koste: Vanaf R1 000 p.n. vir 2; Boereplaas-kothuis: R1 900 p.n.

Waar? Sowat 14 km suid van Nieuwoudtville, oorkant die Matjiesfontein-afdraai.

Kontak: 082 784 7449; 027 218 1024; boereplaasbb.co.za

Groenrivier- gasteplaas

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
Groenrivier-ruïnes

Die selfsorgblyplekke kyk uit oor die Groenrivier-ruïnes wat vlak voor die plaas lê. Dis basies maar sentraal geleë. Die Soutstoor het slaapplek vir 2 mense en Daantjie se huis vir 4 mense. Elk van die 6 staanplekke in die oulike kampterrein het sy eie geriewe.

Hulle het ook ’n ou bus, die Flowerbus, omskep in 4 kamers, met sy eie ablusieblokkie buite.

Dis gewild onder motorfietstoergroepe.

Koste: Kamp en bus: R130 p.p. Blyplek: Vanaf R400 p.p.

Waar? Net suid van die dorp.

Kontak: 083 666 9905; groenrivier@kingsley.co.za

Blomroete: Die roete (2 km) wat verby die ruïnes loop, is gratis vir dagbesoekers.

Willemsrivier- gasteplaas

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
Willemsrivier

Die 12 basiese selfsorghuisies op die werf het slaapplek vir 2 tot 9 mense. Hier is ’n gesellige atmosfeer soos blomkykers kom en gaan.

Koste: Vanaf R600 p.n.

Waar? Sowat 12 km noord van Nieuwoudtville.

Kontak: 083 450 5939 (Erika); erikakotze@mweb.co.za

Blomroete: Wees op die uitkyk vir satyn- en aandblomme op die Trekpadroete (3 km) en vir katsterte op die Geelkatstertroete (1 km). Gratis vir dagbesoekers.

Gannabos-gasteplaas

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
Gannabos-gasteplaas

As jou huweliksherdenking in blomtyd val, oorweeg die luukse Gannabos B&B met slaapplek vir 2.

Die Kareeboom Farm Cottage het slaapplek vir 6. Dié blyplek voel meer soos ’n hotel as die plat-op-die-aarde-atmosfeer van die meeste ander blyplekke in die omgewing.

Koste: B&O: R650 p.p.; Kareeboom Farm Cottage R550 p.p.; Kareeboom Farm House R550 p.p. (slaapplek vir 10)

Waar? Ongeveer 33 km noord van Nieuwoudtville. Jy draai van die R357 af by die Kokerboomwoud-bordjie.

Kontak: 027 218 1249; gannabos.co.za

Vinknes

As jy genoeg blomstories gepraat het vir die dag, kom ontsnap uit die gewoel op die Kleinbegin-plaas. Hier is slaapplek vir 6 mense in ’n selfsorghuisie langs die plaasdam.

Koste: Vanaf R600 p.n. vir 2.

Waar? Ongeveer 45 km noordoos van Nieuwoudtville af.

Kontak: 027 218 1289; vinknes@hantam.co.za

Kuboesberg-wildplaas

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
Kuboesberg-wildplaas

Die 6 selfsorgeenhede staan aan die voet van die Noord-Bokkeveldberg. Bly hier as jy op jou eie in die natuur wil wees en stilte in oorvloed soek. Vier het plek vir 4 mense en twee vir 2 mense. Jy kan ook kamp.

Koste: Kamp vanaf R130 p.p. Selfsorg R185 p.p.

Waar? Sowat 40 km noord van Nieuwoudtville.

Kontak: 087 808 8854; 083 285 2083 (bel met WhatsApp, hier’s nie sein nie); carlv@telkomsa.net

Willem Van Wyk Flowers tour on Papkuilsfontein. Pi
Antjie Myburg, eienaar van Antjie se Eetplek
Nieuwoudtville. Pictures: MANDIE KOTZE. Copyrighte
Foto: Mandie Kotze

Waar kan ek eet?

Antjie se eetplek

Moenie vyfster-maaltye verwag nie; dis waarskynlik die kleinste eetplek op die dorp met net ’n paar tafels op die stoep en een of twee binne. Oorweeg gerus die steak roll: twee dik snye gebotterde brood met ’n stukkie steak tussenin.

Smidswinkel-restaurant

Die blomme doen eintlik eers sake ná 10 vm. as die son hoog sit; dus is daar tyd vir ’n behoorlike ontbyt op die dorp: eiers, worsies, spek en roosterbrood (R100 p.p.). Jy betaal ’n heffing om in die tuin te sit, maar binne heers ’n gawe atmosfeer met vlae wat uit die dak hang, saam met kuns en ou boeke teen die mure.

Kontak: 027 218 1535 1897

Nedersetting- gastehuis-en-restaurant

Smul aan ’n stuk wortelkoek terwyl die eienares, Wessie van der Westhuysen, jou meer van die blomme vertel. Of bestel die jaffels met maalvleis en groente – dit word bedien met ’n vrugteblatjang. Dis in die dorp.

Kontak: 082 496 7875; 083 229 6353

Die Waenhuis

Lê weg aan ’n sny koek of ligte etes soos hoenderpastei of burger met skyfies. Elke dag oop van 10 vm. tot 4 nm., in blomseisoen.

Kontak: 072 555 1416; papkuilsfontein.com

Matjiesfonteinpadstal

By die Matjiesfonteinpadstal kan jy onder meer smul aan tradisionele disse soos bobotie, afval en wildspastei (vanaf R110).

Kontak: 027 218 1217

Willemsrivier

Hier is ’n plaasrestaurant vir ontbyt (R50) en aandete (vanaf R80).

Kontak: 083 450 5939