foto’s Evan Naudé
4x4-bestemming
4x4-bestemming

Die lot van bykans die hele Namibiese kuslyn het op ’n dag in 1908 ingrypend verander. Dit was die dag toe die spoorwegwerker Zacharias Lewala ’n blink klippie in die sand naby Lüderitz opgemerk het. Daardie diamant wat Zacharias opgetel het, het verrykende gevolge vir dié lappie aarde gehad.

Vir die grootste deel van die 20ste eeu was die kuslyn van die Oranjeriviermonding tot ’n klompie kilometer suid van Walvisbaai tot ’n beperkte gebied verklaar en bekend as die Sperrgebiet. In die laat jare sewentig het die mynbedrywighede begin afskaal en ’n groot deel van die Sperrgebiet, bekend as Diamond Area 2, is ingesluit by wat die grootste wildreservaat in Afrika sou word – die Namib-Naukluftpark.

DIE WOESTYN IN: Die konvooi tref laaste reëlings voor hulle Lüderitz verlaat en koers kies woestyn toe.

Teen ongeveer 50 000 km2 is die reservaat groter as Switserland, maar groot dele van dié ongelooflike landskap is steeds nie vir die algemene publiek bereikaar nie: Jou enigste opsies is eintlik maar daguitstappies na Sossusvlei en Sandwich Harbour of ’n vlug oor die gebied.

Jy kan egter ook ’n reis van ses dae tussen Lüderitz en Walvisbaai onderneem. Hiervoor het jy ’n 4x4-voertuig, ’n gids met ’n konsessiepermit, ’n gesonde skeut avontuurlus en heelwat vasbytvermoë nodig. Ons het saam met Route Africa Expeditions ingeklim en gaan soek na skeepswrakke, robkolonies, reuseduine én ’n bietjie afsondering in een van die vasteland se grootste wildernisse. 

Die woestyn het dié bouval oorgeneem en die mure is besig om te steier.

Die son het pas opgekom, die lug is helderblou en die windjie byt effens terwyl die toergroep vroeg op ’n Sondagoggend uit Lüderitz vertrek. Ons toerleier, Simon Wearne, vat ons na die verlate myndorp Kolmanskop waar ons ’n register teken en die bestuurders in ’n pompie moet blaas. Die rede hiervoor is omdat die eerste 70 km of wat ons deur die noordelikste deel van die laaste oorblywende beperkte myngebied gaan neem. Dit loop van hier tot by die monding van die Oranjerivier.

Kort voor lank vertrek ons in konvooi. Ons steek die B4-teerpad oor en ry verby die Lüderitz-lugstrook voor ons by die oorblyfsels van een of ander myngebou stilhou. Die woestyn het dié bouval oorgeneem en die mure is besig om te steier onder die gewig van ’n verroeste staalkonstruksie. Dit is die eerste bewys dat die mensdom se impak op dié gebied eintlik kortstondig is.

Ons vorder tot by Agate-strand waar ons stilhou om bande af te blaas vir die sandry wat voorlê. Voor ons weer in die pad val, roep Simon gou die groep bymekaar om die roete en roetine van die reis te verduidelik en ’n klompie sandrywenke en reëls te deel. “Die eerste reël,” sê hy vinger in die lug, “is bly op my spoor. Die tweede reël... bly in my spoor. En die derde reël?” Hy hou nou drie vingers in die lug. “Bly in my spoor. As almal dit doen, sal ons ’n groot klomp kopsere vermy.”

Die groep knik soos een man kop.

Met Lüderitz wat in ons truspieël verdwyn, ry ons in die rigting van die duine.

OOR DIE KRUIN Die duine in die Namib raak geleidelik al hoe groter namate jy verder die woestyn in vorder. Die geheim is om stadig in ’n lae rat na onder te ry en jou ryding se enjin die remwerk te laat doen.

Hoe verder noord ons vorder, hoe hoër raak die duine. Dis ’n geleidelike leerproses en dit gee die bestuurders die geleentheid om gewoond te raak aan die omgewing. Momentum is ’n subtiele en bedrieglike vaardigheid om in die sand baas te raak. Jy het dit nodig om jou voertuig deur die los sand te kry, maar as jy te veel daarvan het, kan jy in die moeilikheid beland. Ons bereik die eerste glyvlakke – die lykant van die duine waar die los sand teen ’n hoek van meer as 30° staan.

Hier moet jy jou ryding se enjin die remwerk laat doen deur ’n baie lae rat te kies. As jy die rempedaal trap, kan dit die kar sywaarts trek... en dit is ’n resep vir ’n ramp. Gelukkig is die glyvlakke aanvanklik klein, en teen die middel van die middag het almal genoeg vaardigheid en selfvertroue om duine van hoër as 30 m aan te durf.

Sowat 70 km noord van Lüderitz verskyn ’n groot vaartuig in die seesproei op ’n strand voor ons. Dit is die wrak van die vragskip die Frotamerica, wat in 2013 onderweg was na Indië om geskrap te word, maar hier gestrand het. Hoewel die Namibwoestyn as een van die mees ongenaakbare wildernesse ter wêreld beskou word, is die aangrensende oseaan ewe woes. Die Namibiese kus is oortrek met verskeie skeepswrakke en die meeste van hulle lê langs die roete wat ons volg. 

Laatmiddag steek ons weer ’n klompie duine oor voor ons ons kampplek vir die nag bereik. Die dowwer lig kleur die duine om ons in met skakerings van goud, oranje en pienk terwyl ons kamp opslaan naby Hottentotbaai.

Hier is nie enige geriewe nie, maar die Route Africa-span is voorbereid met ’n opslaankombuis, windskerm en toilet. Ons volg ook ’n streng “geen besoedeling”- beleid, wat beteken al ons vullis moet saam met ons verder ry.

Vanaand, met die Melkweg wat helder in die nagruim bo die kampvuur glinster, besef jy skielik hoe bevoorreg jy is om op hierdie spesiale plek te wees.

Ná ontbyt die volgende oggend ry ons deur ’n golwende duinegordel. Die bestuurders is merkbaar gemakliker en ons vorder teen ’n goeie spoed noordwaarts. Waar die roete dit toelaat, lei Simon ons tot op die strand waar die harde sand ons selfs vinniger laat vorder. Hierdie dele op die strand hou hulle eie potensiële gevare in. Die sagte sand langs die water kan jou motorbande in ’n japtrap insluk, en daar is oral rotse met skerp rande waarvoor jy jou oë moet oophou.

Maar dis die gety wat die gevaarlikste is. As jou tydsberekening verkeerd is, kan jy binne ’n oogwink vasgekeer wees tussen die inkomende gety aan een kant en die steil, onklimbare duin aan die ander.

HEELTYD NOORDWAARTS: Die roete volg, waar moontlik, die kuslyn. Maar selfs hier moet jy op jou hoede wees vir die gety wat inkom, die sagte sand langs die water en skerp rotsriwwe wat onder die sand wegkruip.

Ons ry verby ’n plek naby Saddle Hill South wat op die kaart aangedui word as ’n begraafplaas vir voertuie. Hier sien ons die verroeste oorblyfsels van mynmasjinerie wat hier gestort is nadat mynbedrywighede in die jare sestig hier gestaak is.

Wanneer ons verby Saddle Hill North ry, raak die omgewing meer rotsagtig en ons sien ’n ander gesig van die Namib. Op plekke ry ons verby donker ysterklipriwwe wat oor die berge strek. Dit is ’n dorre landskap met pragtige kontraste.

Die middag hou ons stil by Spencerbaai. Sowat 800 m van die kus af is Mercury-eiland, waar guano voorheen gemyn is. Die eiland is vandag ’n beskermde gebied en word as een van Namibië se belangrikste broeiplekke vir voëls beskou. Ongelukkig sien ons nie enige van die duisende pikkewyne, malgasse of kormorante van ons posisie op die strand nie.

Hier is darem ’n ander attraksie naby Spencerbaai. Die Otavi was ’n stoomsleepboot wat in 1945 met ’n vrag guano in ’n klein baai net suid van Spencerbaai gestrand het. Die wrak se ligging is waarskynlik die skouspelagtigste van al die skeepswrakke aan die Namibiese kus. Die strand word omring deur kranse wat hoog die lug in troon en word dikwels gehul in ’n dik en onheilspellende misbank.

Die verbrokkelende Otavi, wat soos ’n makaber ornament op die strand uitgestal is, word deur duisende robbe bewaak. Hulle lê weerskante van die wrak en hulle kollektiewe massa is só donker dit lyk amper of die Otavi olie lek op die sand.

Ons slaan kamp op naby Easter Point, maar dit voel vanaand net soos ’n naam op ’n kaart.

In hierdie sanderige rustigheid kan ons net sowel op ’n ander planeet wees.

Die volgende oggend hang daar ’n dik misbank wat vir die grootste deel van die dag by ons bly. Elke dan en wan ontstaan ’n gaping in die wolke waardeur die son vir ’n oomblik breek, maar dit hou nooit lank nie en die konvooi is telkens binne minute weer in mis gehul. Dit sorg vir ’n aardige gevoel in ’n landskap wat al klaar intimiderend genoeg is. Boonop kan ons niks verder sien as ons onmiddellike omgewing nie. “Hierdie deel van die wêreld is eintlik baie mooi,” sê Simon, “maar julle moet vandag julle verbeelding gebruik.” 

Vóór middagete hou ons by die wrak van die United Trader stil, maar sien gou hier is nie veel oor van die wrak nie. Dié vragskip het in 1974 hier gestrand met nagenoeg 700 t springstof aan boord. Volgens oorlewering het die skip se eienaar besluit om nie die vrag te probeer red nie, maar die springstof net hier te laat ontplof. Vandag is hier net stukke verwronge metaal en ’n klompie ysterkettings waar die skip ontplof het, maar daar lê stukke metaal tot 5 km weg.

Ons ry af strand toe en maak ons reg vir een van die reis se taaiste hindernisse: Die Duiwel se werkswinkel. Dié duingordel, met sy steil hellings, glyvlakke en stywe draaie, is ’n groot uitdaging. Die wêreld lyk meer omgekrap as ’n kleuter se speelkamer, en boonop veroorsaak die mis dat ’n mens nie ordentlik kan sien nie.

Ons druk nietemin deur, en met goeie spanwerk vorder ons teen ’n skaflike pas. Soos die kop van ’n slang soek Simon ’n roete wat die res van die konvooi kan volg. Die instruksies oor die radio word ook mettertyd beperk tot kort bevele: “Volg my”, “Wag ’n bietjie”, “Draai skerp hier” of “Hier’s nog ’n glyvlak”. Elke bestuurder dra die boodskap aan die een agter hom oor.

Amper drie uur – en verskeie herwinnings – later ontsnap ons uit die Duiwel se werkswinkel en ry strandlangs tot by ons kampplek naby Easter Point. Hier sorg die natuur vir nog ’n skouspel: die plankton wat blou flits in die branders wat breek.

LEWE IN DIE NAMIB: Die wrak van die Otavi en die oorblyfsels van mynvoertuie naby Saddle Hill South en selfs die beperkings van moderne voertuie herinner ’n mens hoe moeilik dit is om in die Namib te oorleef. Maar die skouspelagtige uitsigte oor die kuslyn, die groot robkolonies en klein gediertes soos die Namakwa-verkleurmannetjie wys hier is inderdaad lewe.

sonop ry die konvooi weer eens noordwaarts op ’n koue, grys strand. Kort voor lank dwing die inkomende gety ons om terug die duine in te draai en ons kies koers na Sylvia Hill. Op pad daarheen ry ons verby ’n klomp klipsirkels in die sand. Dié sirkels is glo vroeër jare deur nomadiese stamme as tydelike verblyf gebou.

Ons hou stil by Sylvia Hill en stap teen ’n koppie op. Dan ruik ons hulle, lank voor ons hulle sien: Duisende robbe op die rotse, strand en duine. Hulle is ’n lawaaierige spul wat blaf en snork terwyl elkeen die beste lêplek in die son soek. Die dorre Namibiese kuslyn is ’n relatiewe veilige plek vir die Kaapse pelsrob en daar word geskat dat hier meer as ’n miljoen van hulle is.

Die res van die dag vleg ons tussen die duine deur en word bederf met al die verskillende soorte wat jy in die Namib aantref. Ons ry meestal deur lineêre duine, wat soms “duinstrate” genoem word. Soos een enorme sinkplaat vorm die duine ’n reeks riwwe met plat valleie tussenin. Dit sorg vir aansienlik minder spanning agter die stuur en gee jou die kans om die omvang van die landskap te waardeer.

Simon kies ’n kampplek met ’n prentjiemooi agtergrond van sagte sandduine. Teen skemer trek die son lang skaduwees oor die duine, en wanneer dit uiteindelik donker is, word ons weer deur digte mis toegevou.

Die volgende oggend is die kampplek oortrek met wat lyk soos hondespore tussen elkeen van die tente en die kampkombuis. Dan sien ons wie daarvoor verantwoordelik is: ’n swartrugjakkals. Hier kom verbasend baie van dié vasberade diere langs die Namibiese kus voor. Hulle vreet hoofsaaklik seevoëls en robwelpies, maar hulle het ook geen skaamte nie en sal nie vir ’n oomblik huiwer om te kyk wat hulle in ’n kampterrein kan aas nie.

Later die oggend neem die roete ons verby ’n reeks duine wat as “rollercoasters” bekend staan, omdat jou maag omtrent draai wanneer jy deur hulle ry. Hierdie steil duine het ronde rande aan albei kante en die sand is glad aan die onderkant – iets wat jou in staat stel om met gemoedsrus meer as genoeg spoed op te bou om dit oor te maak. Op sommige plekke het die voertuie teen tot 100 km/h teen die afdraande afgejaag. Reg aan die onderpunt druk swaartekrag jou plat in jou sitplek, en wanneer jy die opdraande tref, sien jy net blou lug voor jou.

Dit is ’n ongelooflike ervaring.

Ons volg die kuslyn verby die visvangkamp by Meobbaai en vorder tot by ’n strand waar duisende songebleikte bene bo die sand uitsteek.

“Hierdie is wat hulle ’n walvisbegraafplaas noem,” verduidelik Simon. Vroeër jare was hier baie walvisvangers in die gebied en hulle het die slegte gewoonte gehad om die karkasse sommer oorboord te gooi...

Teen middagete bereik ons die bekendste skeepswrak in Namibië: die Eduard Bohlen. Dié 94 m lange vragskip was onderweg na Tafelbaai, maar digte mis (waarmee ons teen die tyd al goed vertroud is) het seker gemaak die skip nie sy bestemming bereik nie. In die eeu sedert die skip gestrand het, is dit deur die woestyn ingesluk – en die gevolg is ’n lang duin teen die skip se boeg.

Noord van Conceptionbaai ry ons verby die wrak van die Shawnee waar dit in die branders lê.

Die hele toneel word nóg meer skouspelagtig gemaak deur die feit dat die skip 400 m van die watermerk af lê omdat die woestyn deur die jare al hoe verder die see in gekruip het. “Dit is ’n goeie voorbeeld van ’n dinamiese kuslyn,” sê Simon.

Noord van Conceptionbaai ry ons verby die wrak van die Shawnee waar dit in die branders lê soos iets wat eerder in ’n spookverhaal hoort.

Nadat ons deur ’n laaste stel duine is, bereik ons uiteindelik ons kampterrein in Sandwich Harbour.

Sandwich Harbour word gereken as een van Namibië se belangrikste moeraslande. Van al die maskers wat die Namibwoestyn kan aantrek, is hierdie een van die mooistes. Van die hoë duine aan die noordekant van die baai af kan jy sien hoe die lang, sanderige skiereiland die Atlantiese Oseaan weghou en ’n hawe skep vir voëls soos flaminke, pelikane, damarasterretjies, swaeltjies en geelborsstrandkiewiete. Hier is ook groter diere soos swartrugjakkalse, bruinhiënas en selfs gemsbokke.

Simon kies ’n kampkol in een van die vele beskutte baaie. Dit is ’n voorreg om ons laaste kamp hier te hê.

Die volgende oggend skiet ons deur Walvisbaai toe waar ons die Namib groet. Op pad vleg ons vir oulaas deur die ikoniese duine wat vir soveel opwinding en wonderlike herinneringe gesorg het.

Skeepswrakke
Skeepswrakke
Wat jy moet weet

Kan ek die roete op my eie ry? Nee, hierdie roete loop deur ’n konsessiegebied en is net bereikbaar met ’n permit op ’n begeleide 4x4-toer.

Hoe lank? Die Skedelkus-skeepswrakekspidisie duur 6 dae en 5 nagte. Dit begin in Lüderitz en eindig in Walvisbaai.

Waarmee moe t ek ry? Jy kan dit net met ’n 4x4-voertuig met ’n goeie grondvryhoogte, laestrek en minstens ’n agterste ewenaarslot doen. Maak seker jou voertuig het herwinpunte voor en agter.

Hoeveel brandstof het ek nodig? Beplan vir minstens 700 km in 4x4-toestande – dus minstens 220 l vir dieselvoertuie en 250 l vir petrolenjins.

Watter toerusting moet ek pak? Bring ’n banddrukmonitor, kompressor, ’n bandherstelstel en basiese onderdele vir jou voertuig saam. Jou gids gaan jou dalk ook vra om hout en water vir die kampkombuis saam te bring.

Mag ek sleep? Nee, woonwaens of sleepwaens word nie toegelaat nie.

Prys: R12 800 p.p.

Wat is ingesluit in die prys? Ontbyt en aandete, parktariewe en permit, tweerigtingradio’s en ablusiegeriewe, waaronder ’n warm kampstort. Jy bring jou eie kamptoerusting, drinkwater en peuselgoed.

Kontak: Stuur e-pos na Simon Wearne by simon@routeafricaexpeditions.com