Van waar die liefde vir die buitelewe en stap?

My wortels lê in die inkangala (hoëveld) naby my tuisdorp, Piggs Peak, in Swaziland. Dis heuwelagtig hier, en ek het as kind oral heen gestap – en ek is steeds fiks! Ek het ook tyd in Bulembu deurgebring, ’n dorp aan die voet van Swaziland se hoogste berg en waarskynlik die heuwelagtigste dorp in die land!

Ek het tot ’n paar jaar gelede nie veel geleentheid gehad om te reis nie. Maar toe het ’n vriend wat die Otter-staproete wou doen, my saamgenooi. Dit was die eerste keer dat ek met ’n rugsak gestap het, maar danksy die hutte is die roete heel gemaklik. En dis skouspelagtig mooi! Ek het ’n stapdagboek gehou en dit later in ’n storie omskep.

Daarna wou ek ook ander staproetes probeer in parke soos iMfolozi en die Krugerwildtuin – ek is altyd besig om my volgende roete te beplan!

Wat behels jou werk?

Ek skryf voltyds, onder meer vir Sanparke se Wild-tydskrif, die Sunday Times, Travel Africa en vliegtuigtydskrifte.

Ek het laasjaar ’n kort e-boek oor Swaziland uitgegee – dis gemik op besoekers wat die land oorkruis tussen die wildtuin of Mosambiek en KwaZulu-Natal en sowat een tot drie dae hier deurbring. My tweede boek het dié jaar verskyn – ’n gids tot die Krugerwildtuin se verskillende staproetes.

Die skryfwerk is egter ’n klein deel van wat my besig hou: Navorsing en die beplanning van reise neem baie tyd in beslag.

Wat is die beste deel van jou werk?

Ek geniet die vryheid om van die huis of enige ander plek af te kan werk. En ek is mal daaroor om buite te wees en te kamp, en om te weet my werk bevorder toerisme.

En die slegste?

Dis sleg as publikasies jou werk afkeur – of my net glad nie antwoord nie!

Die internet is noodsaaklik vir my werk, maar op Piggs Peak kan die verbinding soms swak wees en oproepe is ook besonder duur.

Hoe het jy ’n kenner oor staproetes in die wildtuin geword?

Die Krugerwildtuin is die naaste park aan Piggs Peak – selfs nader as die Swaziland-parke – en ek was dus al ’n hele paar keer daar. Toe ek al hoe meer in stap en staproetes begin belang stel, was dit natuurlik om die Krugerroetes te ondersoek, en ek het gou verknog geraak aan die opwinding daarvan om tussen groot diere te stap, en veral om in ’n tent in die wildernis te slaap.

Ek het gesien hoe moeilik dit is om inligting oor al die stap-opsies te kry en die geleentheid vir ’n e-boek hieroor gesien. Die Sanparke-personeel en -gidse en ander ervare stappers het my baie gehelp.

Wat is jou gunstelingstap in die wildtuin en hoekom?

Hulle is almal puik! Dis veral die groep stappers en jou gids wat een onvergeetlik maak. Ek het laasjaar op die Lonely Bull-roete wonderlike stapmaats gehad. Ek sou net daar wou omdraai en weer terugstap soos die gidse gemaak het, maar moes aanbeweeg na ’n ander bestemming!

Die Pafuri-streek is ook spesiaal. Ek hou in die algemeen van die noorde, want dit is so verlate, en het kremetartbome én die wonderlike koorsboomwoud.

Ek hou ook daarvan om by die ereveldwagters se twee boskampe te bly – baie mense weet nie van dié kampe nie.

Ek hou ook daarvan om by die ereveldwagters se twee boskampe te bly – baie mense weet nie van dié kampe nie. Dis ideaal vir groepe van tot agt vriende en die Sandrivierkamp is maklik om by uit te kom – nie ver van Skukuza af nie. Die veldwagters maak kos en lei staproetes. (Nog inligting: bushcamps@honoraryrangers.org)

Enige wenke vir iemand wat ’n wildtuin-rugsakroete doen?

Dra net wat nodig is: Tel elke ete en peuselhappie af en sit dit in ’n Ziploc-sakkie. En onthou jou hoed!

Watter reiswenke het jy vir Suid-Afrikaners wat ’n draai in Swaziland wil maak?

Bulembu lê na aan my hart. Die Bulembu Lodge is ’n lekker bly- en eetplek en daar is ’n interessante museum oor die dorp se myngeskiedenis.

Klim Emlembe, Swaziland se hoogste bergspits – dit behoort ’n halwe dag te neem en gee jou ’n wye uitsig oor die landskap.

Die Mlilwane-reservaat is ook ’n goeie blyplekopsie. Die tradisionele hutte bied goeie waarde vir geld (vanaf R470 p.p.p.n.; biggameparks.org) en jy kan die reservaat te voet, te perd of op ’n fiets verken.

Daar’s ’n oulike restaurant en dis ’n kort uitstappie – sowat 20 minute per motor – na die kunsvlytwinkels Gone Rural, Swazi Candles en Baobab Batik.

Gunstelingplek in Suid-Afrika waar jy al moes draai vir werk?

Die Blyderiviercanyon. Daar is soveel goed om te sien in ’n klein deel – die canyon, watervalle én grotte.

As ek die Lotto wen… koop ek dadelik my eie motor – ek het pas my rybewys gekry!

Vir ’n vakansie pak ek dié motor met kamptoerusting, kos, appelbier en houtskool en val in die pad vir ’n road trip na êrens.

My droombestemming is… ’n Woestyngebied soos die Namib of Kalahari. Ek hou nie van die stadsgedruis nie; ek dink dis hoekom die uitgestrekte dor landskappe vir my aanloklik is.

Hlengiwe se boeke is beskikbaar by amazon.com; soek vir Guide to Walking in the Kruger National Park (e-boek en sagteband) en Kruger to the Coast via Swaziland (e-boek)