Hoekom dierkunde?

Ek is sedert my kinderjare lief vir die natuur – veral diere en reptiele. Ek het langs die Nelspruit-natuurreservaat grootgeword en baie tyd saam met my hond, Chunky, daar deurgebring op soek na slange en ander gediertes.

Ná skool het ek ’n B.Sc.-graad in biodiversiteit en ekologie aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. En daarna ’n meestersgraad in dierkunde met my hooffokus in herpetologie – die studie van reptiele en amfibieë – gedoen. Dit was ’n groot voorreg om die gedenkmedalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir my meestersgraadtesis te ontvang.

Vertel ons van die tesis.

Ek het die genetiese struktuur van drie woudreptiel-spesies wat langs die ooskus van Suid-Afrika voorkom, ondersoek: die natalse swartslang (Macrelaps microlepidotus), die pondo-platgeitjie (Afroedura pondolia) en die woudwurmslang (Leptotyphlops sylvicolus). Suid-Afrika se woudgebiede is gefragmenteer (klein kolle woud kom wydverspreid voor) en word beskou as die kleinste biome in die land.

Wanneer ’n natuurlike gebied só verbrokkel, raak die populasies van mekaar geïsoleer en mettertyd maak hulle soveel aanpassings dat hulle as verskillende spesies geklassifiseer kan word. Ek het onder meer probeer om dié genetiese verskille aan te teken.

Wat het jy ontdek?

Ek kon uit die genetiese data sien dat die bevolkings baie van mekaar verskil sedert hulle isolasie. My studie het getoon dat dié fragmentasie van woude langs die ooskus tussen vyf en tien miljoen jaar gelede begin het toe die aarde se klimaat koeler en droër geword het.

Daar is tot 14 spesies wat tot nou toe nie in dié woude geklassifiseer is nie. Ons woude is dus meer biodivers as wat ons gedink het. Ter wêreld ontdek ons nog elke dag nuwe spesies.

Vertel ons meer van jou veldwerk?

Die spesies waarna ek op soek was, kom voor van Hogsback en Oos-Londen in die Oos-Kaap tot by Kosibaai in die noorde van KwaZulu-Natal. Ek het my veldwerk rondom plekke beplan waar mense reeds die spesifieke spesies gewaar het. Ek het in backpackers, navorsingshuisies of kampplekke naby die betrokke woude en natuurreservate gebly.

Daar is min reservate langs dié kus waar ek nog nie was nie. Soms moes ek ’n reservaat tot vier keer besoek om ’n monster te kry. Ek het op die koop toe ook op twee nuwe krapspesies afgekom.

Was dit moeilik om die kreature op te spoor?

Ja, nogal! Dit kan van ’n uur tot ’n paar dae vat om ’n reptiel op te spoor. Geitjies is makliker, want hulle hang snags in ou geboue rond. Daarenteen bly die woudwurmslang meestal onder die grond. Ek moes honderde klippe en boomstompe omdop! Natuurlik het hulle altyd onder die grootste en swaarste klippe en stompe weggekruip.

Die natalse swartslang was verreweg die moeilikste kalant om te kry. Soms was dit net blote geluk dat ek op een afgekom het. Hulle bly onder die leemgrond en blaartapyt in die woud en kom net bogronds as die reën. Sodra ek een gekry het, neem ek die GPS-koördinate en ’n weefselmonster. ’n Mens kry die genetiese materiaal van ’n klein stertpuntjie, ’n maagskubbetjie of twee of ’n stukkie slangvel af.

Wat is jou gunstelingwoud?

Baziyawoud, sowat 30 km wes van Mtatha in die Oos-Kaap. En die woude in die noorde van Zoeloeland, tussen die Tugelarivier en die dorpie St. Lucia. Baziya is onvergeetlik – nie net oor die mislike weer en die talle reënbuie nie, maar ook omdat die klein inheemse woude jou asem wegslaan.

Die woude is tussen die plantasies weggesteek, en dis moeilik om hulle te kry. Maar as jy by een van dié kolle instap, sien jy alles deur ’n filter van groen lig terwyl bergstrome in die agtergrond kabbel. Dit het gevoel asof ek in ’n National Geographic- dokumentêre fliek is.

Wat het jou die meeste verras?

Suid-Afrika het soveel versteekte skatte! Langs die Wildekus het ek plekke besoek waarvan ek nog nooit gehoor het nie: Mazeppabaai, Koffiebaai, Port St. Johns en die Mbotyi-, Mkambati- en Dwesa-natuurreservaat. Hoewel die woudgebiede baie potensiaal het, word dit nie altyd goed bestuur of bewaar nie.

Die woude lyk mooi en ongerep, maar ek het dikwels ontstellende tekens gesien: gestroopte boombas, oeroue geelhoutbome wat afgekap word, strikke en selfs groot groepe jagters met honde.

Wat is áltyd in jou rugsak?

’n Veldhaak waarmee ek klippe oplig en slange hanteer, ’n sterk flits, kamera, selfoon, vellies, waterbottel en iets om aan te peusel. As ek die veld moet invaar met net een ding, sou dit beslis my slimfoon wees. Dis ’n GPS, notaboek, kamera en selfs ’n flitslig in geval van nood.  

Wat is volgende?

As alles volgens plan verloop, begin ek in September met my doktersgraad aan die Universiteit van New York. Dit gaan waarskynlik handel oor die aanpasbaarheid van woestynreptiele.


Volg Theo op Instagram @bush_cow

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook