Van waar die liefde vir die natuur?

Ek was voorheen ’n liggaamlikeopvoeding-onderwyser by ’n hoërskool in Londen, Engeland. Ek het min met wilde diere te doen gekry, buiten op ’n paar safari-vakansies. Op ’n 2004-vakansie het ek besef die lewe gaan oor veel meer as skoolhou en besluit om iets anders te doen. Ek het in 2006 na Suid-Afrika gekom om as vrywilliger by bewaringsorganisasies soos die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) te werk en ’n loopbaan in bewaring na te streef.

Ek het saam met navorsers gewerk en vir leeus en luiperds radiohalsbande aangesit sodat ons hulle bewegings en gedrag kon dophou en leer verstaan.

Om saam met ander bewaringsgesindes en navorsers te werk het my laat besef wilde diere is my passie. Mense sê “Afrika klim onder jou vel in” en dis beslis waar – ek het nooit teruggegaan huis toe óf teruggekyk nie.

Wat behels jou werk by EWT?

Toe ek by die organisasie begin help het met karnivoornavorsingsprojekte, het ek gesien hoeveel diere vrek omdat hulle op paaie raakgery word. Ek het my eie tyd en hulpbronne gebruik om padvrektes te begin ondersoek en gesien hoe sleg dit vir biodiversiteit is. Ek het in 2013 my MSc-graad aan die Rhodes-universiteit gekry vir werk oor dié onderwerp en het ook artikels in verskeie wetenskapsjoernale hieroor gepubliseer.

Ek bestuur tans EWT se projek oor wild en vervoer waar ek verskeie navorsingsprojekte koördineer wat die impak van vervoer op die natuur in Suid-Afrika ondersoek om uiteindelik oplossings vir die padvrektes te probeer kry. Dit gaan nie daaroor om nuwe paaie te keer nie, maar eerder om ’n beter balans tussen natuurbewaring en ’n funksionerende vervoerstelsel te kry.

Ek gaan ons werk verder uitbrei om ook te kyk na die impak van ander vervoermiddels en infrastruktuur op die natuur – soos spoorweë en grensdrade op land en groot vragskepe ter see.

Wat is van die moontlike oplossings vir die padvrektekwessie?

Gepaste spoedbeperkings en duidelike padbordjies maak ’n verskil (as dit gehoorsaam word). Ons kon ook bewys dat lae heinings wat kleiner spesies (soos reptiele en amfibië) lei na bestaande duikslote onderdeur groot paaie werk, en padvrektes verminder.

Wat is die beste deel van jou werk?

Om my passie vir “in die bos werk” met wetenskap te kombineer. Elke dag is anders – party dae is ek by my lessenaar om data te ontleed en verslae te skryf en ander dae werk ek buite langs die studente waaroor ek toesig hou – hoewel ek deesdae minder in die veld is as in my beginjare as vrywilliger. Ek hou van dié balans: Dit gee my kans om tyd saam met my man, Pierre Jonker, ons ses honde en twee katte deur te bring!

Ek gebruik my onderwyservaring wanneer ek met die studente werk nadat ek aanvanklik gewonder het hoe ek dít in my nuwe loopbaan gaan toepas. Ek is mal daaroor om dinkskrums saam met hulle te hou en om nuwe planne te moet maak as die navorsing nie uitwerk soos beplan nie.

Ek het die beste werk in die wêreld!

En die slegste?

Dis moeilik as jy navorsing doen wat gaan oor ’n negatiewe uitwerking op die natuur. Dit breek jou hart om ’n dier te sien wat doodgery of (nog erger) beseer is. Ek voel ná al die jare steeds hartseer as ek dit sien – maar ek weet ook ons maak ’n verskil.

Kan lede van die publiek help?

Ja! Mense kan ons help om padvrektedata in te samel (sien kassie hier onder) deur te laat weet as hulle ’n dooie dier sien. Skryf die ligging, datum en tyd neer, identifiseer die spesie so goed moontlik, en maak notas oor die soort habitat op dié deel van die roete (byvoorbeeld grasveld, vleiland of rotsagtig). Neem ’n foto indien dit veilig is.

Help Wendy en haar span
 Stuur enige inligting oor ’n padvrekte na roads@ewt.org.za doen dit deur EWT se Road Watch-app (laai dit op jou slimfoon af vir iOS of Android).

Watter ander bewaringskwessie lê jou besonder na aan die hart?

Die gebruik van plastiek. Ons afhanklikheid daarvan het groot probleme geskep, soos oorvol vullisterreine, grondwaterbesoedeling en vullis in die see wat geslagte ná ons gaan moet opruim. Ek probeer my bes om minder plastiek te gebruik. Deur net herbruikbare sakke saam te vat as ek winkel toe gaan, maak ek reeds ’n klein bydrae.

As my skip inkom… koop ek grond wat die mens én die natuur kan bevoordeel. Ons het bewareas nodig om die natuur te beskerm en te bewaar en dis belangrik om daar volhoubare werk te skep vir mense, spesies te bewaar, hulpbronne doeltreffend te gebruik en volhoubare energie-alternatiewe te soek. Baie mense doen dit reeds, maar as ek die geld kry, kan ek ook!

Vir ’n ontspannende vakansie… hou ek van kamp of om saam met my man en honde na ’n afgesonderde plek te gaan sonder ontvangs of e-posse, met vrede, stilte, wyn en die natuur – plekke soos die Weskus, die Namakwa- nasionale park en die Anysberg-natuurreservaat.

My droombestemming is… Antarktika. Daar’s min ongerepte plekke oor op aarde én die vasteland se afgeleë ligging en geskiedenis het nog altyd tot my gespreek. Ek het baie respek vir die eerste ontdekkers van die pole en wat hulle moes deurmaak – sonder moderne toerusting.

Gaan na ewt.org.za vir nog inligting oor EWT se werk.