Waarom is gedenkplekke belangrik? 

Die grafte en standbeelde van spesifieke individue herinner ons aan mense uit die verlede met wie ons dalk ’n emosionele of biologiese verbintenis het. Monumente kan ‘n mens opnuut laat besin oor jou identiteit.

Waar het jou belangstelling in gedenkplekke ontstaan? 

Ek was van kleins af en is steeds geïnteresseerd in geskiedenis – nie net Suid-Afrikaanse geskiedenis nie, maar alle geskiedenis. Van my oudste herinneringe was toe ek nog ’n kleuter was en saam met my gesin die Vrouemonument in Bloemfontein besoek het.

Sou ’n landsreis na gedenkplekke werk?

Absoluut, maar dit sal vanweë die grootte van ons land heelwat ryery behels. Begin in Kaapstad en ry dan na Stellenbosch, Swellendam, Mosselbaai,Port Elizabeth, Grahamstad, Cradock, Graaff-Reinet, Colesberg, Bloemfontein, Winburg,Bethlehem, Ladysmith, Pietermaritzburg, Durban, Kwadukuza, Ulundi, Dundee, Newcastle, Heidelberg, Johannesburg, Pretoria, Polokwane en laastens Musina. Maar pak só ’n reis eerder in ses of sewe skofte aan.

Wie behoort jou boek te geniet en wie moet eerder verby hou? 

Lesers wat lief is vir rondry en wat belang stel in die bloed, sweet en trane van mense uit die verlede waaruit ons unieke maar omstrede reënboognasie gebore is, sal die boek geniet. Maar as mense historiese bouvalle as nuttelose hope klippe en monumente as politieke hindernisse beskou, moet hulle liewer verby hou.

Watter gedenkplek het jou die meeste verras? 

Die gedenkplek aan Aia Jana in KwaZulu-Natal – haar graf op die plaas Umvotipoort naby Greytown en haar gedenkplaat langs die Geloftekerk in Pietermaritzburg. Waarom? Ek was voordat ons op haar graf afgekom het, glad nie van Aia Jana bewus nie. Dat hierdie Matabelevrou wat die Bloukrans-bloedbad gedurende die Groot Trek as sewejarige dogtertjie oorleef het só prominent in herinnering gehou word, was vir my ’n riem onder die hart.

Hoe was dit om dikwels saam met jou gesin te reis? 

In my vrou het ek iemand wat, indien ons nie seker was presies waar ’n monument is nie, kon aanwysings vra. Ek kon ook tydens en ná die besoek met haar oor die monumente se betekenis praat. Dit was soms ’n uitdaging vir ons kinders, wat graag eerder by die bestemming (byvoorbeeld die see) wou uitkom as om met ’n “Ag nee, nog ’n monument?” by een stil te hou.

Jy het al vantevore boeke gepubliseer wat gefokus het op Afrikanergedenkplekke. Wou jy graag met dié boek die net wyer gooi?

My vorige drie boeke handel meestal oor “Afrikanermonumente” en is bloot gidse met inligting. Met hierdie boek wou ek besin oor die waarde en betekenis van monumente en ook vertel van die stryd om sommige op te spoor. En ek wou die geleentheid gebruik om die wye spektrum van gedenkplekke van die hele Suid-Afrikaanse nasie uit te lig. 

Met hierdie boek wou ek besin oor die waarde en betekenis van monumente en ook vertel van die stryd om sommige op te spoor.

Wat dink jy is die bekoring van gedenkplekke? Oorsee word daar selfs van dark tourism gepraat.

Dark tourism dui op besoeke aan plekke waar bloed gestort het, soos Auschwitz, Ground Zero en Hiroshima. Dit interesseer mense omdat hulle identifiseer met onskuldige slagoffers. Ons weet ook dat oorlog, moord en doodslag gewilde onderwerpe is vir rolprente, TV-programme, boeke, skilderye, ensovoorts. Dalk is dit bloot ’n geval dat geweld, rampe en die dood die mensdom oneindig boei.

Watter plaaslike gedenkplek ontroer jou die meeste?

Die oorspronklike grafstene van kinders wat slagoffers was van die konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog. Dit geld veral daardie leiklipsteentjies waarop ’n bedroefde pa of ma die grafskriffie met ’n skerp voorwerp uitgekrap het, soos by Irene: “Hir rust myn gelief dochtrje Jacomina Hendrina Pieterse. Geboren 2 Febreari 1898 Overleeden 18 Jily 1901”.

Hoe gaan ons gedenkplekke aanhou beskerm?

Plaaslike mense moet self verantwoordelikheid neem. Dit klink eenvoudig om net iemand op elke dorpie te kry wat gereeld gaan kyk dat alles wel is, maar dit is ’n uitdaging, want dit verg ’n verbintenis. Dis vir my hartseer dat Suid-Afrikaners in die algemeen skynbaar nie besonder lojaal is aan hulle erfenis nie.

Waar wil jy nóg gedenkplekke soek?

Ek was nog by veels te min gedenkplekke van die Khoisan-gemeenskappe, waaronder rotstekeninge en gravures; te min ou sendingstasies en te min letterkundige erfenisterreine, om net drie te noem. Die Noord-Kaap roep: Postmasburg, Griekwastad, Boegoeberg, Kenhardt, Brandvlei, Loeriesfontein, maar veral die Richtersveld. Daar is nog so baie in hierdie wye, droewe land van ons om te ontdek.* Oor berge en dale word uitgegee deur Jonathan Ball.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook.