Van stof tot steenhuis

Dis pikdonker behalwe vir my kar se hoofligte; die N1 lê eindeloos en leeg voor my. Dis Junie 2019 en ek’s op pad Colesberg toe. Ek was vier jaar gelede daar. Die dokumêntere fliek, The Lost Carts of the Karoo, wat ek in 2012 begin skiet het, is uiteindelik voltooi.

Die Louw-familie is die hart van die fliek. Hulle het intussen getrek van ’n tweekamersinkhuis in Plakkerskamp, ’n township teen die noordwestelike randjie van Colesberg, na hulle eerste baksteenhuis op Riemvasmaak, ’n uitgestrekte Hop-huisbuurt met meer as 2 000 strukture waar eers net ’n stuk dor veld was.

Die Louw-huishouding bestaan uit oupa Lodewyk Slinger, ouma Sina Louw, hulle twee seuns, Salman en Isak Louw, Isak se vrou, Hanneline, en hulle drie kinders, Celeste, Hayno en Lizandre. (Oupa en Ouma het nooit wettig getrou nie, daarom het die seuns Ouma se van.)

Oupa Lodewyk en ouma Sina was eens karretjiemense – hulle het die grootste deel van hulle lewe die Karoo op ’n donkiekar deurkruis; van plaas tot plaas, en hulle dienste aangebied as skaapskeerders en draadwerkers.

Al hulle besittings was op die donkiekar. Ook honde, hoenders en swaar sinkplate waarmee hulle ’n tydelike huis waar ook al sou opsit. Die meeste van hulle 12 seuns – waarvan net 6 nog lewe – is op die pad gebore. Party, soos Isak, het weggetrek uit die Karoo op soek na ’n beter tuiste.

Al hulle besittings was op die donkiekar. Ook honde, hoenders en swaar sinkplate waarmee hulle ’n tydelike huis waar ook al sou opsit.

Ek wil graag vir die Louws my dokumentêre fliek wys. Ek wonder wat hulle daarvan gaan dink, tob ek terwyl ek staar na die pikdonker nag alkante van die N1. Stel jou voor hoe dit eeue gelede hier gelyk het, toe die vlaktes oortrek was met groot troppe springbokke – trekbokke – met die /Xam-San wat hulle spoor volg.

Baie van die karretjiemense is afstammelinge van die /Xam-San, die Karoo se oorspronklike inwoners.

Europese setlaars het in die 1700’s in die Karoo aangekom. Daar was gedurig skermutselings met die inheemse bevolking. Dit het later jare gelei tot ’n beleid gerig op die uitwissing van die San.

Die “wilde” San het moedig geveg, maar kon nie die moderne aanslag teenstaan nie. Die mans is meestal doodgemaak terwyl die vroue en kinders na plase geneem is as “mak”. Húlle was die voormense van die Louw-familie.

Colesberg het in 1830 ontstaan en stadig in ’n ekonomiese spilpunt ontluik danksy die bloeiende internasionale wolmark. Die “mak” San het plaaswerkers geword, geleer om skaap te skeer en draad te werk.

Vanweë die onstabiele aard van die werk moes hulle heen en weer oor die uitgestrekte landskap trek. Hulle het bekendgestaan as karretjiemense. Tussen die 1950’s en 1990’s het duisende karretjiemense die Karoo deurkruis.

Intussen het boerdery in die Karoo verander. In onlangse dekades het boere hulle grond aan die buurman verkoop, en masjiene doen van die werk. Sommige boere het byvoorbeeld georganiseerde skeerspanne uit Lesotho laat kom, wat elektriese skeermasjiene gebruik pleks van handskêre.

Deesdae het byna geen karretjie-families donkies of karre nie. Hulle het dorp toe getrek as ’n laaste uitkoms, die meeste werkloos. Sedert die laat jare negentig het hulle lewenstyl heeltemal verdwyn. Daar’s niks meer vir hulle langs die ooppad nie...

Hierdie veranderinge het ook die Louws beïnvloed. My fliek vertel hulle storie.

‘Die masjienskeerders het gekom. Veral van Lesotho af. Hulle het só baie skape op een dag geskeer dat ons nie meer hoef te getrek het nie. Daar was nie meer werk vir my pa nie. Daai masjiene het baie vinniger geskeer as Oupa.’
– Isak Louw, 2012

Ouma Sina en oupa Lodewyk geniet die winterson buite hulle sinkhuis in Plakkerskamp, Julie 2012

’n Jaar voor Oupa se dood

Die Riemvasmaak-behuisingsontwikkeling met Coleskop in die agtergrond, Mei 2014. Foto: Russell Bruns

27 Mei 2014

Ons braai by Isak se huis. Sy vriend, Rufus Pienaar, braai saam. “Dis hartseer om oor dié dinge te praat,” sê Rufus terwyl hy ’n tilapia (gekoop by OK) oor die kole draai. “Veral oor hulle karretjietrekkery – dit maak hulle hartseer. Veral ’n ma soos Ouma met 12 kinders wat byna haar hele lewe op ’n karretjie deurgebring het.”

Rufus kyk na Ouma, ’n sterk vrou, toe 84 jaar oud. “Ouma, wat moes jy saamdra? Jou dompas (pasboek)?”

“Ja, ek het dit saamgedra as ons trek, want sonder daai ding kon jy nie op die pad wees nie,” onthou ouma Sina.

Rufus kyk na my. “Kyk, sy’t ’n nuwe naam gekry. Haar ma en pa het haar Sina genoem, maar dis verkeerd in die dompas as ‘Sara’, en dis steeds só in haar ID.”

“Ek wou nie so ’n naam hê nie!” roep Ouma uit. “Sara, Sara, Sara… Maar wat maak ’n mens, baklei? My naam moet Sina wees, ek moet my pa se huisnaam hou, want dis die naam wat hy my gegee het. Ek’s gebore met daai naam, en het daarmee grootgeword.

“Die owerhede het ook gesê ek moet in ’n kerk trou, maar ek het geweier. Ek gooi nie my van weg nie. Dis my familienaam! Ek’s ’n Louw, en my kinders is Louws. Ek vat nie ander name nie. Ek en Oupa het getrou op die pad, agter ’n bos. En dis waar ons ons kinders gemaak het!”

Almal giggel. Oupa, 100 jaar oud, sit doodstil. Sy glimlag verlig deur die glim van die vuur.

“Ag, ek’s nog net so verlief op Oupa,” sê Ouma stralend.

‘Ons het in klein sinkhuise gebly. As dit reën, het ons mure rondom gebou sodat die water kan wegbly. Ek sê vir die kinders dankie dat ons weg is uit die wind wat waai en die stof... Nou sit ek my kop neer op ’n plek waar ek kan rus. Ek kan rus soos ’n grootmens moet rus.’
– Ouma Sina Louw, 2014

Plakkerskamp
Isak, Hanneline, Celeste en Hayno toe hulle nog in Plakkerskamp gebly het, Julie 2012
Francina
Francina Booysen by die Garings-uitspanning, 50 km buite Colesberg, Mei 2014.
Colesberg
’n Arendsoogfoto van Colesberg geneem van die omringende koppies af, Julie 2012

Oupa se dood

10 November 2015

Oupa Lodewyk Slinger – karretjiemens, pa van 12 seuns, lewenslange nomade – is oorlede. Ek jaag van Kaapstad na Colesberg vir die begrafnis.

Twee dae voor die diens ontmoet ek die familie by ’n begraafplaas. ’n Ry sipresbome hou wag langs ’n veldjie bestrooi met plastieksakke. Ons staan rondom die gat in die grond.

Oupa Lodewyk se ses oorlewende seuns is hier; ek ontmoet die meeste van hulle die eerste keer. Sy jongste seun en naamgenoot kom ook van die Kaap af, waar hy op ’n wynplaas werk.

“Dié is sy laaste trek,” sê Klein-Lodewyk. “Ons het op die eerste dag die gat gegrawe en die volgende dag die graf opgebou met stene en sement.”

Van al die Louws ken ek Isak die beste. Hy’s ’n sleutelfiguur in die dokumentêr. Isak het die laaste dekade na Oupa omgesien en verduidelik waarom die stene in die graf belangrik is. “Hy moet ’n steengraf kry! Van sy steenhuis na sy steengraf. Ek het seker gemaak die ouman lewe in ’n steenhuis vir die res van sy lewe. Nou moet ons net ’n grafsteen kry.”

Een van Oupa se ander seuns, Piet Louw, voeg by: “Ons begrawe hom met sy skoene sodat hy nog kan trek...”

Later, op pad na die begrafnis-ondernemer, loer ek in by Pep Stores saam met Salman Louw, Oupa se oudste lewende seun. Ons kies Oupa se laaste uitrusting. Ek kry ’n netjiese wit kraaghemp met ’n das in die kinder-afdeling, ouderdom 11-12. Voor sy dood het Oupa skaars 35 kg geweeg. Die das het klein snorre op. Ons betaal en neem dit na die begrafnisondernemer.

Op pad vertel Isak en Salman hulle weet nie waar hulle grootouers begrawe is nie; hulle het nog nooit die grafte van hulle voormense besoek nie.

“Soms sou mense langs die pad doodgaan,” sê Salman. “Ons sou hulle in die veld begrawe of vir ’n boer vra of ons ’n graf op hulle plaas mag grawe.”

Dis hoekom die begrafnis hier op Colesberg só belangrik is: Oupa gaan vir altyd naby wees.

begrafnisprosessie
Oupa se begrafnisprosessie gelei deur die apostel Wilby Pienaar, November 2015
familie
Oupa se uitgebreide familie by sy begrafnis, November 2015
Karoo
’n Dramatiese Karoo-sonsondergang geneem op Tim se eerste reis na Colesberg in Julie 2012

Die weersiens

15 Junie 2019

Riemvasmaak se strate is onlangs geteer en die bome in die agterplase staan ’n paar meter hoër. Ek hou stil by no. 4416.

Drie mense staan buite die klein baksteenhuis. Ek herken een van hulle, Poppie Swarts, ’n niggie wat naby bly. Sy hou ’n baba vas. Langs haar staan Isak en Hanneline se oudste dogter, Celeste. Sy hou ook ’n baba vas. Sy was nog ’n kind toe ek haar laas gesien het.

Die derde mens wat ek nie van ver af herken het nie, is Isak, die persoon by wie ek kom kuier.

Ek het deur die jare kontak behou met die familie en ’n paar jaar gelede gehoor Isak is siek. Hy’s bedlêend en sukkel om te praat. “Dit het begin toe Oupa gesterwe het,” sê Hanneline.

Voor my staan ’n skaduwee van die man wat ek eens geken het.

Uitgemergel deur swaarkry en vermoeienis, ’n leeftyd van hande-arbeid, stof en son het hom uiteindelik ingehaal. Rokerige vure in ’n shack vir ’n bietjie warmte en die ysige Karoo-winteroggende het skade gedoen.

Ná jare se onsekerheid is diabetes onlangs by Isak gediagnoseer. Hoewel hy medikasie gebruik, is hy ’n gans ander mens. Isak lyk nou byna net soos sy pa op sy sterfbed destyds: stil en tenger.

Ons groet en gesels in die fris winterson. Later kom ouma Sina ook kamma skel-skel buitentoe oor dat ek so lanklaas kom kuier het.

Ek stap saam met Hanneline na die spazawinkel – die gesin het gevra vir Coke. Hulle is lus vir die regte ding, sê Hanneline, en moeg vir die Twizza wat hulle gewoonlik drink.

“Hanneline,” sê ek, “ek sal graag die fliek aan almal wil wys, maar dis baie hartseer. Ek wil nie vir Ouma of enigiemand anders ontstel nie. Veral nie vir Isak nie. Hy’s nie homself nie.” “Ek sê vir jou!” antwoord Hanneline. “Hy staan heeldag buite, wieg net vorentoe en agtertoe. Praat soms met homself. Ons verstaan hom nie aldag nie.” Hanneline is ’n toegewyde Christen. Die apostel wat Oupa begrawe het, is haar geestelike berader – ’n man genaamd Wilby Pienaar. Wilby hoor van my besoek en wil ook die fliek sien en bied aan dat ons dit in die kerkgebou kyk. Die Louw-gesin kom saam, maar Hanneline besluit dat Ouma eerder by die huis moet bly.

Ek ontmoet die apostel. Hy is ’n ernstige man, met status in die gemeenskap. Hy’s trots op sy wortels en ondersteun die karretjiemense, die armste lede van ’n baie arm gemeente.

Almal gaan sit. Ek gee ’n kort bekendstelling en waarsku dat die fliek maar hartseer is. Ek is senuweeagtig. Die fliek is die hoogtepunt van sewe jaar se werk. Sewe jaar waarin ek ’n hegte verhouding met die Louw-familie gesmee het.

Ek druk play en gaan sit langs Isak.

sinkhuis
’n Baie jonger Isak Louw buite sy sinkhuis in Plakkerskamp, Julie 2012.

Die vertoning

15 Junie 2019

“Die karretjiemense is dood. Hulle bestaan nie meer nie,” sê ’n jonger Isak op my rekenaarskerm.

Isak het die Karoo verlaat as ’n jongman. Hy het werk gekry op ’n plaas naby Franschhoek, waar hy Hanneline ontmoet het. Dit was in 1990.

In 2005 het hulle Colesberg toe gekom om Oupa en Ouma te versorg. Isak het steeds ’n hegte verbintenis met die landskap waar hy grootgeword het.

“Daar is iets baie special in hierdie land! Mense se name kom uit die land uit, hulle vanne kom uit die land uit. My nawel lê hierso. Hulle sê waar jou naelstring lê, sal jy nie vergeet nie. As ek dood gaan, moet hulle my hier begrawe. Dit is my land.”

Hanneline en Poppie giggel wanneer hulle hulleself op die skerm sien.

Dan kom die hartseer deel: Oupa se begrafnis. Hanneline, Poppie en Celeste se oë begin traan, maar hulle hou aan kyk. Isak lyk gelate dog geïnteresseer.

Die fliek is klaar.

Net apostel Pienaar het iets te sê. Hy lewer kommentaar oor die erfenis van die omgewing en hoe die fliek daarin slaag om van die aspekte vas te vang.

Ons mik later winkel toe. “Jy moet sê as iets verkeerd is met die fliek, asseblief, Poppie,” sê ek.

“Daar is niks verkeerd daarmee nie, Tim,” antwoord sy, “dis net ongelooflik hartseer.”

Mense se name kom uit die land uit, hulle vanne kom uit die land uit. My nawel lê hierso. Hulle sê waar jou naelstring lê, sal jy nie vergeet nie. As ek dood gaan, moet hulle my hier begrawe. Dit is my land.

Die begrafnis

12 November 2015

Op ’n windverwaaide ooptetjie tussen honderde stowwerige grafte staan apostel Wilby Pienaar met sy een hand in die lug en ’n Bybel in die ander. “Die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet…” lees hy Genesis 3:18.

Hy laat sak sy arm in sy maroen mantel, buk af en tel ’n hand vol grond op. Hy hou dié hand bo die graf.

“Stof is jy… En jy sal weer stof word…” Hy maak sy hand oop.

Die apostel bid klaar, en die familielede gooi grawe vol grond die graf in.

Die toneel verdwyn in ’n stofwolk tot ’n hoop gruis uiteindelik in die winderige middag verskyn; ’n bossie plastiekblomme word liefderik bo-op neergesit. En só keer een van die laaste karretjiemense terug na die stof wat hy só goed geken het.

Oupa Lodewyk Slinger is in die ouderdom van 101 jaar en 9 maande in sy slaap oorlede. Dit het 100 jaar geneem vir hom om intrek te neem in sy eerste steenhuis.


KYK DIE DOKUMENTÊR
Kyk The Lost Carts of the Karoo gratis op wagtale.co.za/lost-carts. Indien jy die gemeenskap in Colesberg wil help, kontak Tim by tim@wagtale.co.za.