Die eerste keer toe ek ’n sloephaai gewaar, vat ek ’n haastige hap suurstof en sit hom dadelik agterna. Ek duik onbeholpe in die kelpwoud agter die groot grys fatsoen van die haai aan. Maar dié flik moeiteloos sy stert – en verdwyn.

Terug bo die water babbel ek opgewonde terwyl my meer ervare duikmaats hulle oë agter hulle duikbrille rol.

’n Paar weke later, in dieselfde baai, kruis ek paaie met ’n kortstert-pylstert. Weer sit ek hom agterna met ’n geleende GoPro in die hand, maar dis tevergeefs... Die pylstert gly soos ’n duikboot oor die sand en verdwyn. Ek jaag ook streephaaie, rooi romans, robbe, seekatte... Ek “jag” met my kamera, ploeter deur die kelp, my vingers dom van die koue.

Ek is ’n tipiese wally – ’n groentjie wat nie weet wat sy doen nie.

Dis nou vier jaar dat ek dié stokperdjie beoefen en ek het intussen baie geleer. Dit verg meer as net op die oppervlak ronddobber met ’n snorkel en duikbril. Jy duik áf, bodem toe. Jy hou jou asem la-a-ank op en bly met behulp van gewigte (’n duikgordel) onder om vir langer meer te kan sien. Snorkelduik is soos meditasie – dit verander jou hoe langer jy dit doen.

Jy moet bewus wees van jou omgewing terwyl jy jou ten volle daarin begewe. Jy moet jou asem ophou al wil jou liggaam instinktief die teenoorgestelde doen. Jy moet kalm bly in soms onstuimige waters. Jou liggaam moet beheer word terwyl jou gedagtes vrye teuels kry.

Snorkelduik is soos meditasie – dit verander jou hoe langer jy dit doen.

Hiervoor is die gehalte van die Kaap se waters goed. Op ’n perfekte dag is die Skiereiland se water glashelder en as die son in die lugruim gloei, wapper die waaierkelpfrille soos goue linte en lê die rotsgleuwe diggepak met glinsterende anemone. In só ’n oomblik kan jy bloot aan ’n kelpstam vashou en roerloos in die water hang en kyk en kyk totdat jy amper vergeet waar jy is. Totdat die knop in jou keel en die verlange in jou borskas jou herinner: Haal asem.

Jellievisse dryf naby die water-oppervlak
Robbe swem in gelid by Sandy Cove naby Oudekraal.
Sloephaai
’n Sloephaai patrolleer die seebodem

Op die oppervlak kan jy dan ’n paar minute lank dryf en jou sinne weer bymekaarhark. Jy kan weer afwaarts tuur na die goue amfiteaters doer onder, waar die sonlig karteldanse maak op die sand. Dan sal jy wéér wil afduik om van nader te gaan kyk. Net nog een keer. Om te kan wegsink in stilte met net die krikgeluidjies van die garnale in jou ore, en die verbasend harde vinwoer van visse wat verbyswem...

In teenstelling met KwaZulu-Natal en sy warm water en koraalriwwe, is die Kaap se waters nie juis ’n gewilde duikbestemming nie. Maar dít is aan die verander, want ál meer duikers (ek gebruik die term losweg, want dié tydverdryf sluit in snorkelduik – op die oppervlak – en vryduik, dieper af) vaar die Skiereiland se koue waters in, en ’n paar maatskappye bied selfs begeleide snorkelduiktoere en -lesse aan.

Dis kóúd. Jou gesig voel soos ’n bevrore visdam. Die gevoel in jou vingers verdwyn. Jou voete raak lam van die koue. Die Atlantiese Oseaan aan die Kampsbaai-kant van die Skiereiland kan by 9 °C draai terwyl die Valsbaai-kant gemiddeld 15 °C is. Maar hierdie koue onderwaterklimaat bied ’n tuiste vir ’n verskeidenheid diere en plante, waarvan talle nét hier voorkom.

Die meeste mense waag dit net in hierdie waters met ’n duikpak, maar ander – soos ek – verkies die koue aan die boud. Die koue is deel van die ervaring. Dit maak die warm word ná die tyd – in die kar met koffie en sjokolade-éclairs – soveel lekkerder. Trouens, ek dink my vermoë om die koue te trotseer het te make met die éclairs van The Sweetest Thing in Simonstad... dit gee my ’n bietjie spekbeskerming.

Byna 1 000 km² se oseaan lê binne die grense van die Tafelberg- nasionale park se mariene beskermde gebied. Hierdie waterdeel van die park strek van Mouillepunt tot by Muizenberg. Die Kaap se onderwaterwêreld word dus beskerm. Daarby is dit toeganklik: Jy hoef nie Jacques Cousteau te wees om dit te beleef nie.

Keri Muller skep asem by Water’s Edge, Simonstad

Ek kan my asem maar so goed ophou soos ’n salamander met sigaretlonge. En ná ’n insident met ’n rots in woeste water – wat my bebloed gelaat het – vat ek nie meer kanse nie. Ek weet nou van beter. Wanneer die see onstuimig lyk, bly ek weg. Ek het al dieper geduik; tussen blouhaaie, selfs getango met robwelpies en in die oopsee met makohaaie geswem, maar van my beste ervarings in die see was enkele meter van die strand af.

In die vlak water het ek gesien hoe ’n sebrahaai ’n inkvis jaag totdat die inkvis op ’n klip gaan lê en homself soos seewier kamoefleer.

Ek het in ’n rotspoel gestaan terwyl ’n paar trekduikers rondom my induik en visvang, hulle lywe wat soos koeëls deur die water flits met ’n silwer borrelstreep agterna. Een middag laat, terwyl ek terug kus toe swem, gewaar ek ’n kortstert-pylstert op die sand tussen die kelp. Hy was mooitjies geparkeer soos ’n sluimerende oorlogskip – met die bleek bene van baaiende toeriste daar naby.

Op ’n ander grou laatmiddag dryf ek in stilte in die donker water, omgeklits deur die sterk suidooster en hou ’n groototter dop wat vis jag. Ek kyk hoe sy dik stert hom soms voortdryf en ander kere bo hou soos ’n boei totdat hy later iets vang en rots toe swem om aan sy aandete te knabbel.

Hottentotvisse en strepies dartel rondom rooiaas in die kleurryke kelpwoud by Windmill in Valsbaai.

Daar’s soveel om te sien aan die “vlak kant” van die see – jy moet net fyn kyk. Kyk daar, teen daai rots! Dis ’n naakseeslak, reënboogkleurig soos ’n karnavaldanser in ’n uitrusting vol blinkers. Oe, en daar! Kyk daai stapel streephaaie wat bo-op mekaar lê en sluimer in ’n rotsgleuf. En daar! ’n Seekat wat uitloer van agter ’n hoop leë mosselskulpe; ’n skool strepies wat lyk soos ’n vloot van resieskarretjies; ’n tapyt van alge so blou soos die vlerke van ’n vlinder...

Wanneer die water troebel is, kan jy op een plek bly en na die klein goedjies soek. Party naakseeslakke is só klein jy kan hulle skaars met die blote oog sien. Maar bekyk hulle deur ’n makrolens en dis so goed jy kyk na ’n ruimtewese, ongewoon in vorm en kleur.

Kolonies hidroïede lyk soos ’n blombedding, maar is eintlik diere. Eendmossels wuif hulle ragfyn “armpies” om plankton te vang. Jy sien dalk viseiers weggebêre in die voering van kelpblare, die silwer ogies van die embrio’s wat loer na die waterwêreld wat wag.

Namate die wêreld verswelg raak deur mense en hulle dinge – karre, sekerheidskomplekse, slimfone, slímmer virusse – het die see die afgelope paar jaar ’n toevlug geword. ’n Plek waar ek makliker kan asemhaal, selfs wanneer ek dit ophou.

Ek was nie altyd tuis in die water nie. Die see het my broer gevat en jare lank het ek die water vermy. Wanneer ek verby die plek ry waar hy verdrink het, sou ek die radio harder stel en anderpad kyk.

Daarom het elke herdompel – byna elke dag – ’n dieper betekenis: Ek wil die see tem, sy tande stomp skaaf, sy gevaar neutraliseer.

Goue lig spoel oor ’n onderwaterhoekie vol seewaaiers, seepampoentjies en seesponse by Water’s Edge.

Maar dis nie al nie. Die see gee my meer as wat ek ooit kon droom. Wie’t geweet jy kry jellievisse wat lyk soos reënboogkleurige rugbyballe wat pols? En hoe sonderling is ’n perlemoen wat met sy oë op stokkies onder sy valletjiesromp uitloer? Hoe is dit moontlik dat ’n seekat kan verkleur van rooi na groen na bruin na wit? Hoe kan ’n klipvis so voor op die wa wees dat hy hom op my skouer kom tuismaak soos ’n glibberige papegaai, en ek is die seerower? Ek giggel sommer!

Ek het deesdae ’n beter kamera. Ek verstaan my plek in die oseaan beter. My hart klop steeds vinniger as ek ’n sloephaai of pylstert gewaar, maar ek weet nou dat hulle nie net hier is om my te vermaak nie. Die see is hulle tuiste. Hulle eet, loop ’n draai en gooi flikkers... En ek moet my plek ken, ek is bloot ’n besoeker, ’n toeskouer. Ek mag nie inmeng of pla nie.

Op ’n onlangse uitstappie dryf ek in die kelpwoud rond. Ek kyk na my vingers, wit van die koue. En toe gewaar ek ’n sloephaai, en nog een. Hulle sweef onder my verby.

Toe hulle verby is, trek ek ’n long vol asem en swem stadig af tot op die bodem. Daar op die sand lê ek en wag. Toe, van agter ’n rots, verskyn ’n groot sloephaai en swem reguit na my, onbewus van my teenwoordigheid. Nog drie volg hom. Hulle kom tot téén my, sentimeters van my gesig af. Ek sien die grys fluweel van hulle vel, die blink rondom hulle neusgate, die goud van hulle oë.

“Daar’s julle,” sê ek. “En hier is ek.”

Toe hulle wegswem, swem ek stadig na bo, terug na die son en die rumoer van die mense op die strand; ’n balkende pikkewyn wat waghou op ’n rotspunt.

Dis altyd moeilik om die see te verlaat. Op pad terug kus toe duik ek vir oulaas af om na die knoets rooi anemone te kyk wat ek weet teen ’n spesifieke rots klou, die rots net regs van waar die swart-en-wit gestreepte wildeperde hou.

Ek draai om en kyk terug na die kelpwoud. In ’n baan lig hang ’n skool hottentotvisse soos ’n silwer kandelaar.

Môre sal alles nog hier wees. En oormôre. Ek moet net stadiger beweeg, en nie ’n wally wees nie. 

HOE BEGIN EK SNORKELDUIK?

Wild Blue Adventures

Dié maatskappy bied snorkelduik-uitstappies aan in Valsbaai se getypoele. Dis ’n goeie begin as jy skrikkerig is vir die oopsee. Yvette Oosthuizen wys jou al die wegkruipplekke van geheimsinnige diertjies wat in dié ekostelsel floreer. Jy sien dalk naakseeslakke, klipvisse, inkvisse, seekatte, anemone, seesterre, skaamhaaie en seewier en alge.

’n Begeleide uitstappie kos R550 p.p. of R850 p.p., afhangend van hoeveel mense saamgaan en watter toerusting jy nodig het. Dit duur sowat ’n uur en jy kry ná die tyd onderwaterfoto’s van jouself.

wildblueadventures.co.za

Cape Town Freediving

Die Adventure Freediver-kursus (internasionaal gesertifiseer deur Pure Apnea) is gepas vir beginners. Binne twee dae leer jy om gemaklik te voel in die oopwater, hoe die “buddy system” werk en om iemand te help wat in die moeilikheid is. Jy leer ook asemtegnieke sodat jy langer onder die water kan bly.

Koste: R2 500 p.p. (dit sluit toerusting, ’n gidsboekie en verversings in.)

Daar is ook halfdag- begeleide snorkelduik-avonture in die kelpwoude. Jy hoef nie ’n ervare snorkelduiker te wees nie, maar moet redelik goed kan swem. Enigeen ouer as 12 is welkom (kinders ouer as 12 moet steeds deur ’n ouer vergesel word). Koste: R750 p.p. (dit sluit toerusting, verversings en ’n gids in).

capetownfreediving.com; 072 879 0772

Gidsboeke

Hierdie boeke sal jou help om visspesies uit te ken:

A Field Guide to the Marine Animals of the Cape Peninsula deur Georgina Jones (SURG)

• Two Oceans: A Guide to the Marine Life of Southern Africa deur George Branch, Charles Griffiths, Margo Branch en Lynnath Beckley (Penguin Random House)

• Nudibranchs of the Cape Peninsula and False Bay deur Guido Zsilavecz (SURG)

Weg sê: Helen Walne skryf in haar roerende memoir The Diving (R240, Penguin Random House) oor haar broer, Richard. Die boek is uit druk; laai dit af as e-boek.

DUIKPLEKKE

DUIKPLEKKE VIR BEGINNERS

Long Beach, Simonstad

Wanneer die suidooster Valsbaai wiks, is Long Beach gewoonlik beskut, en die water helder. Daar lê ’n klein skeepswrak 20 m van die strand af – hier is baie vissies om te sien, asook groot anemone. Kyk fyn: Jy sien dalk ook ’n paar elegante seeslakke.

Windmill Beach, Simonstad

Dis maklik om by hierdie duikplek uit te kom van die strand af, en dis vlak. Dit het iets van als: kelpwoud, riwwe, oorhange en oop sandkolle. Jy sien dalk ’n rooi roman, seekat, langsnoet-pypvis, streephaai, jellievis, seeslak, inkvis en dalk ’n rob of twee. As jy gelukkig is, selfs ’n pylstert of otter.

Water’s Edge, Simonstad

Dis nie so beskut soos Windmill nie; dus moet jy die see verstaan. Hier is dieper water, met helder hoekies en gaatjies, kelp en wildeperd. Hier’s ’n kol vol naakseeslakke en soms swem ’n pylstert verby. In die somer hou sloephaaie hier. Dis ook by die pikkewynkolonie – gehoorsaam die bordjies en moenie nie tot by die kolonie probeer swem nie.

DUIKPLEKKE VIR GEVORDERDE DUIKERS

A-Frame, Simonstad

Dis ’n paar kilometer suid van Simonstad. In dié duikkol staan ’n groot rots bedek met waaiers, anemone en seewier. Wanneer die sigbaarheid goed is, lyk die water turkoois bo die sanderige kolle – amper tropies.

Castle Rock, Simonstad

Dié plek is verder suid, verby Miller’s Point. Dis ’n duikkol propvol kleur en diere. Die komiese janbruinvisse hou hier. Die deinings kan groot raak – maak seker van die seetoestand voordat jy duik.

Sandy Cove, Oudekraal

Hier is ’n klein kolonie pelsrobbe by Strawberry Rocks, en omdat hulle nuuskierige agies is, kom speel hulle dalk saam terwyl jy snorkelduik. Moenie die robbe pla of rondjaag nie, en gee pad sodra een aggressief raak. Sandy Cove is aan die westekant van die Kaapse Skiereiland en die water is dus ékstrakoud, maar die helderheid van die water (op ’n goeie dag) vergoed vir die koue


Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook